SKRIFLESING: Psalm 150
Daar is nie een mens op hierdie aarde wat nie een of ander tyd van sy lewe nagedink het oor die sin van die lewe nie. ’n Mens dink daaroor in die krisistye van die lewe, en tydens wonderlike ervarings, met die geboorte van ’n kind, wanneer huweliksklokkies lui of by die kluitklap op die kis.

Is ek maar net ’n klein stukkie plasma in die groot heelal? ’n Klein asemteugie wat kom en gaan? Dan is dit ’n kwessie van fluit-fluit, ou kêrel, maar jou storie is uit. Die digter van Psalm 150 het gelukkig die antwoord op die vraag: “Hoekom leef ek?” Hoekom het die Here my gemaak, verlos en die ewige lewe aan my geskenk? Psalm 150 wil vir my sê: “Wie geleer het om te loof, het geleer om te leef.” Dit beteken dat jy van kop tot tone ’n halleluja moet wees. Die Psalmis eindig met die Halleluja-koor! In elkeen van die dertien sinne waaruit hierdie Psalm bestaan, kom die woord Halleluja (“loof Hom” in 2020-vertaling), wat “Prys die Here” beteken, voor.
Alles wat was – die verlede, alles wat is – die hede, alles wat nog kom – die toekoms, is daar net om een goeie rede, naamlik om God te prys en God te loof.
God is die middelpunt van al ons lofprysing.
God is nie daar ter wille van jou nie. Nee, jy is daar ter wille van God. Jy is daar om God te prys en te loof.
Dit is die sin van die lewe!
Dit is waarom jy leef!
Luther praat van die TEATRUM GLORIA! Alles in die skepping wys na Hom.

Die massas materie in die donkerste uithoeke van die heelal. Die sonnestelsels, die melkwegstelsels, die planete, die komete, ruimte, tyd en energie. Die kleinste wurmpie en die kleinste miertjie op een van die kontinente, wys na God. Die herfsblare en die lentebloeisels vertel van God. Die koraalriwwe in die see en die blou pieke van die berge wat hulle vingers in die lug steek, getuig van God. Die glorie van die sonsondergang, die gekwetter van voëls en die gebruis en gebreek van die branders is God se werk. Die eerste skree van ’n pasgebore baba en die rustigheid van ’n bejaarde is alles daar ter wille van God. Alles is daar om God te loof en te prys.
Die doel van die uitverkiesing is nie om mense se baste te red nie. Dit is om akteurs vir God se vrolike blyspel van die nuwe hemel en nuwe aarde te kies.

Die Duitse skrywer Wilhelm Fischer vergelyk die skepping met ’n magtige pyporrel. Die groot pype met die basklanke het hulle unieke dreungeluid. Die klein pypies, sommiges so groot soos ’n stopnaald, het piepfyn klankies.
As hulle op hul eie sou speel, sou dit bra eentonig wees; as hulle egter saamspeel, is dit ’n magtige simfonie. So is die skepping.
God is die groot Meester wat voor die magtige pyporrel sy plek inneem. Mensekind, jy is daar ter wille van God. Jy is daar om deur God bespeel te word. Die bladmusiek is die Woord van God. Die dirigent is die Heilige Gees, wat ons opnuut vars, nootvars en nootvas, laat sing.

Prys ons nog die Here? Nie ’n vlietende oomblik of ’n los gedagte nie – maar is ons ganse lewenstyl gekenmerk deur hierdie lofuiting aan God?
Hierdie vraag “Of ons nog die Here prys?” word spesifiek aan die kerk gevra. Trouens Psalm 150 begin by die volk van God as die digter sê: “Prys God in sy heiligdom.” Die heiligdom is die tempel van ouds, waar die volk van God bymekaar gekom het.
Ons – die kerk van die Here Jesus Christus – kan God nog sinvoller as die digter van Psalm 150 prys. Vir ons is vers 2 ’n profetiese vers: Ons prys God oor sy kragtige daad in Jesus Christus, want Hy het Sy Seun vir ons gegee.
Psalm 146 tot Psalm 150 is die vyf lofprysingspsalms in die Psalmboek. Ons gelese gedeelte is die hoogtepunt en die afsluiting van die vyf lofprysingspsalms.
In die kerk moet ons so speel, so sing, so bly wees dat ons die wêreld aantrek. Die wêreld moet aangetrokke voel tot die kerk. Dit moet wees soos metaal wat na ’n magneet aangetrek word. Ja, die kerk is ’n prysende gemeenskap en nooi so ander om mee te doen.
Lofprysing veroorsaak dat die persoon vergeet van hulself, hul persoonlike belange, en om jou aandag te vestig op God, om Hom met jou hele hart te prys, om jou dankbaarheid, jou bewondering vir sy goedheid en barmhartigheid te betuig.

Miskien sê u dat u eers ’n bietjie moet wag totdat u omstandighede beter is. Miskien dink u: Op die oomblik ly ek nog te veel en lyding en lof pas nie bymekaar nie. Lyding en lof kan mos nie onder een dak woon nie. Dan moet u van die volgende kennis neem. Die Psalmdigter sing Psalm 150 nadat hy die Godverlatenheid van Psalm 22 beleef het, nadat hy deur die donker dieptes van Psalm 23 gegaan het en nadat hy geskreeu het na God soos die dorstiges waarvan Psalm 42 praat. Hy sing hierdie psalm “ten spyte van …”
Psalm 150 kan vergelyk word met die negende simfonie van Beethoven – musikaal verskil dit hemelsbreed. Maar albei sing lof vanuit die dieptes … ten spyte van lyding en smart. In die eerste bewegings van die negende simfonie hoor ’n mens Beethoven se droefheid oor sy doofheid – maar uit dieselfde musiek kom lof aan God.
Daar is ’n mooi aanhaling: “ Two persons look through the bars of a jail. The one sees the stars, the other the mud.”

Iemand het as volg opgemerk: “Ek wonder of ons nie eerder soos molle is nie? Ons doen alles, behalwe om God te prys. Ons maal in die modder rond. Ons soek sin en betekenis in die lewe. Ons oë het blind geword vir die wêreld van lig en lof. Ek sou eerder ’n voëltjie wil wees wat kan vlieg en die blou lug, en die skitterende son, tegemoet wou loop. Wat kan kwetter en kan sing. ’n Voëltjie vry om God te prys, om God te loof, om God te bewonder, om God te geniet.”
Ja, ons moet ’n halleluja van kop tot tone wees. AMEN
(Ek gee erkenning dat ek meer as 30 jaar gelede aantekeninge geneem het van ‘n preek van ‘n prediker wie se naam ek vergeet het, wat ek ryklik in dié preek gebruik het. )
Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)