Die krag van diep wortels

SKRIFLESING: Ps 1: 1 – 6

Op hierdie dag word Annamarie du Preez gedoop en word so deel van die heilige verbond wat alreeds in Gen 15 tussen die Here en Abraham gesluit is.

Die Here het vir Abraham gesê sy nageslag sal wees soos die sand van die seestrand en die sterre van die hemelruim. Daarmee het Hy nie bedoel die fisiese Israel soos ons dit vandag ken nie, maar die geestelike Israel. In die Ou Testament was die teken van die verbond die besnydenis en in die Nuwe Testament is dit die heilige doop, die teken van die verbond. Daarom is ons deur die goue lyn van die verbond almal kinders van vader Abraham, soos die bekende kinderliedjie lui.

De Here belowe in die heilige doop dat Hy ons hemelse Vader en ons Verlosser sal wees en dat Hy wil hê ons moet Sy kinders wees. Deur die doop word jy as kind van die Here deel van die Here se kerk op aarde. Annamarie du Preez word vandag deel van die Christelike kerk wêreldwyd, maar ook in die besonder lidmaat van Fort Beaufort-gemeente.

Ek het besluit om Psalm 1 te gebruik by die doop van Annamarie. Daar is baie soorte mense in die wêreld. Daar is kortes en langes. Daar is slimmes en minder slim mense. Daar is maer en vet mense. Daar is goeie mense en slegte mense. Daar is wit en swart mense. Daar is linkerbreinmense en regterbreinmense. So kan ’n mens aangaan. Maar in God se oë is daar net twee soorte mense, naamlik die regverdiges en die goddeloses.

Dan vergelyk die Psalmdigter die regverdiges met ’n boom en die goddeloses met kaf.

Regverdiges is soos ’n boom wat by ’n waterstroom, in die Here, geplant is en groei en ’n reusagtige boom word. Regverdiges is geregverdig deur die bloed van Christus wat op Goeie Vrydag gestort is. Hulle dra vrugte van bekering op hulle tyd. Hulle blare, hulle lewe, verwelk nie in die somerson of in die winterkoue nie. Regverdiges is lief vir die Wet van God en vir die pad van God. As jy op die regte pad bly, dan is jy ’n regverdige. Dan groei jy soos ’n boom wat by waterstrome geplant is.

Waarom word regverdiges vergelyk met ’n boom? Die sukses van ’n boom hang nie af van sy stam, takke of blaredos nie. Nee, die sukses van die boom hang af van dit wat jy nie kan sien met jou blote oog nie. Die wortels en in die besonder die diepte van die wortelstelsel bepaal die sukses van die boom. In Psalm 1 word ook gemeld dat die regverdiges soos ’n boom is wat by ’n waterstroom groei. Hierdie waterstroom simboliseer om in die teenwoordigheid van die Here te lewe. Daarom moet Coenie en Nandie hulle kinders, Coenraad en Annamarie grootmaak in die teenwoordigheid van die Here. Godsdiensoefening by die huis, tafelgebed, stiltetyd met kinders wat die Bybel leer ken en leer om te bid voor hulle gaan slaap, asook gereelde kerkgang, en kategese is alles voorbeelde waar kinders se geloofswortels  ontwikkel word. Ouers en grootouers moet deur hulle lewe ’n voorbeeld stel van hoe ’n Christelike lewe lyk.  Ons kinders moet diep sterk geankerde geloofswortels ontwikkel wat in Jesus Christus geanker is.

’n Boom met ’n swak wortelstelsel word maklik deur ’n tifoon, soos verlede Maandag en Dinsdag, omgeruk deur die wind. Die lewe is ook vol teleurstellings en rukwinde. Maar as jou geestelike geloofswortels sterk ontwikkel is, kan jy die rukwinde van die lewe trotseer.

Sterk geloofswortels word gevorm daar waar daar baie water is. Die gedoopte kind moet in die teenwoordigheid van die lewende Water, naamlik Jesus Christus, leef. Hoe nader aan die water, hoe vinniger groei die boom. Hoe nader jy aan die Here Jesus groei, hoe vinniger sal jou lewe (jou boom) vrugte dra.

Die goddelose is egter soos kaf. In die antieke tyd het hulle gewag vir ’n winderige dag. Dan is die koringkorrels met ’n vurk die lug in opgegooi. Die koringkorrels wat swaarder is, het op ’n hoop geval, maar die kaf het weggewaai. So is die goddelose ook, hulle waai eenvoudig weg en hulle lewe kom tot niks. Al waarvoor dit deug is om aan die brand gesteek te word, as vuurmaakmateriaal.

Daarom sê vers 1 en 5 dat die goddeloses se byeenkoms, die byeenkoms is van mense wat God en ander mense spot. Dink maar hoe kan ongelowiges met God spot en ander mense verkleineer. Maar die byeenkoms van die regverdiges loop goed af en die Here sorg vir die pad van regverdiges.

Respek ’n eienskap van regverdiges. Onthou goddeloses spot met God en met mekaar.  Maar regverdiges respekteer God en ander mense. Ja, hulle respekteer selfs die geringstes in die samelewing. Jy sal ’n groot boom word, as jy elke dag God in jou lewe respekteer.

Die teenoorgestelde van die woord “spot” wat in die Psalm gebruik word, is om “respek” te hê. Jy moet absolute respek en vrees vir die Here hê. Jy moet ook alle mense respekteer. Dit is juis waarmee die meeste onderwysers op skool sukkel. Kinders word nie meer geleer om respek vir God of vir hulle maats of volwassenes te hê nie.

Daarom is die woonhuis waar die kind grootword die kweekhuis, waar die verbondskinders  gevorm word, water gegee word, asook somtyds gesnoei word.

Annamarie moet leer om haar ouers, haar grootouers en eendag alle mense wat oor haar pad kom, te respekteer. Eendag moet sy ook haar huwelik respekteer en alle gesagsinstansies wat bestaan. Regverdiges spot nie God of hulle medemens nie, hulle respekteer almal.

Ons moet ook onthou dat wat jy ook al sê of doen ander mense se lewe en jou lewe beïnvloed. Elke dag moet jy keuses maak en elke keuse het ’n gevolg. Daarom moet jy so lewe dat jou lewe betekenisvol vir ander is. Jy moet ander mense se lewe betekenisvol beïnvloed. Dit is die diepste roeping van die lewe, naamlik om betekenisvol vir ander te lewe. Wat ook al jou keuses is, jy moet die gevolge van jou keuses dra.

Annamarie moet wees soos ’n vrugteboom wat by ’n waterstroom geplant is. Sy sal groei en deur die loop van haar lewe die respek van haar omgewing en gemeenskap verdien. Sy moet strewe daarna om ook   ’n Godsvrou te word. Eendag moet onder haar boom haar man, haar kinders en haar kleinkinders kan kom koelte soek. Hulle moet eendag by haar raad en wysheid kom soek. Annamarie het wonderlike ouers en ook wonderlike oupas en ’n ouma wat haar lewe positief kan beïnvloed. Seer sekerlik sal sy ook eendag wonderlike onderwysers en wonderlike dosente en vriende hê, wat haar lewe positief beïnvloed. Sy moet dan dankbaar wees vir hierdie kosbare mense wat haar lewe gevorm het. Maar eendag moet sy weer ander mense se lewens vorm.

In vers 3 se laaste gedeelte staan daar dat alles wat ’n regverdige aanpak, gedy. Met ander woorde dit word ’n sukses. As jy wil hê dat jou lewe suksesvol en vol betekenis is, moet jy leef soos ’n regverdige. Annamarie se kinderjare, skooljare, haar studies, haar huwelik, haar ouerskap, haar professionele werksloopbaan en haar lewe lê voor. As sy soos ’n boom groei by die watervore van die Here sal sy gedy en daarvan ’n sukses maak. Sy sal word soos die vrou van Spreuke 31: 10 – 31. Daarom moet Annamarie geleer word om op die vaste fondamente van haar ouers en grootouers voort te bou.  Sy moet bou op die fondament wat hulle vir haar gaan lê.

Die Here het die volle prys betaal vir ons lewe. Waarom sal ek my duur gekoopte lewe vermors om soos kaf te leef. Waarom sal ek verder spot met God, soos wat die soldate rondom Jesus se kruis gespot het? Ja, Herodus het ook gespot met Jesus. Die Jode het gespot met Jesus. Die goddeloses leef daarvan om van alles ’n spottery te maak.

 Nee, ek is losgekoop om ’n boom by waterstrome te wees. Jesus het aan ’n kruishout gehang, sodat ek ’n lewende boom kan wees wat geplant is by watervore.

Annamarie du Preez moet dit doen en sy sal gedy. Sy sal ’n boom word en  haar nageslag sal in haar koelte sit. Sy sal genoem word ’n Godsvrou, veranker in Jesus Christus met ’n sterk wortelstelsel. Sy sal bly staan selfs in die tifone, winde en rukwinde van hierdie lewe.

Annamarie en Coenraad is geseënde kinders, want hulle het ouers en grootouers wat die Here ken. Wat meer kan ’n kind begeer?             AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Moenie op jouself verlief wees nie

SKRIFLESING: Rom. 13: 8 – 14

Die HAT beskryf die woord “narcissisme” as ’n “sieklike verliefdheid op jouself.”

Die woord kom uit die Persiese mitologie van bykans 2000 jaar gelede in die tyd voor spieëls. Daar word vertel van ’n jongman wat eendag sy eie spieëlbeeld vir die eerste keer in die water gesien het. Dadelik het hy op homself verlief geraak, want hy was baie aantreklik. Elke dag het hy na sy eie spieëlbeeld in die water gekyk. Hy was verslaaf aan homself. Eendag het hy weer afgebuk en probeer om homself in die water te soen. Hy het in die water geval en omdat hy nie kon swem nie, het hy verdrink. Die watergode het hom egter jammer gekry en hom in ’n narsing verander. ’n Narsing is ’n bolgewas met geurige blomme. Vandaar die naam narcissisme, vir iemand wat ’n sieklike selfliefde het vir hom- of haarself.

Eintlik maak ons elkeen onsself heel dikwels skuldig aan narcissisme. Dit is soos die vroutjie wat teenoor haar man gekla het oor die derde persoon wat hulle huwelik verwoes. Toe ontken hy heftig dat daar ’n derde persoon is. Sy sê toe daar is, want “ek is op jou verlief en jy is ook op jouself verlief”.

Ons is op onsself verlief en daarom is ons gedurig met dagdrome besig.

Kinders droom om te wees soos Superman, Rambo, Spiderman en Tarzan.

Grootmense droom net groter drome oor wat hulle eendag wil besit, soos materiële goed, status en eer. Baie vroue droom om te lyk soos die vroue op die voorblaaie van die glanstydskrifte. Mans droom daarvan om dinge te kan beheer en hul merk in die lewe te maak. Daarom praat hulle van die manlike ego. Eva het weer gedroom om soos God te wees. Eintlik is dit maar net die simptome van ’n sieklike selfbeeld. Juis omdat ons so op onsself verlief is, sukkel ons so met die tien gebooie.   

Peterson het ’n gedig geskryf waarin hy sê: “Die jare gaan, die jare kom, ons mors die tien gebooie om.” Juis omdat ons so verlief is op onsself, mors ons die tien gebooie so op.

In die fisika en die sterrekunde leer ons van middelpuntvliedende krag. Dit is ’n krag wat wegbeweeg van die kern. Daarom stort die aarde nie in die son in nie. Middelpuntvliedende krag verseker lewe. Ons wêreld en ons verhoudinge stort egter in duie omdat ons met middelpuntsoekende krag besig is. Ons is met onsself besig. Ons is met ’n sieklike selfliefde besig. So beland ons op ’n ego-trip, want ons is op onsself verlief. Met ons middelpuntsoekende, egoïstiese selfliefde mors ons elke dag met die tien gebooie.

Die vyfde gebod handel oor gesag. Vandag word gesagsfigure uit die oude doos  beskou. Die individuele vryheid moet vandag seëvier.

Die sesde gebod handel oor lewe. In plaas van lewe pleeg ons karaktermoord, ons maak karikature van mekaar, ons spot met mekaar en skinder dat die byle huil. Ek moet tog asseblief net beter vertoon as my medemens.

Die sewende gebod handel oor die sedelike en seksuele lewe. Vandag is alles geoorloof, solank ek dit net geniet. Genot staan voorop. Sedeloosheid word die norm.

Die agtste gebod handel oor eiendomsreg. Ons is afgunstig en jaloers op mekaar se besittings. Ons praat van “groen van jaloesie” wees. Hoe beveg ’n mens jaloesie? Jy beveg jaloesie deur dankbaar te word vir wat jy het.

Die negende gebod handel oor die naam van my medemens. Ons maak ons medemens die vroteier, sodat die sieklike selfliefde kan triomfeer.

Die tiende gebod handel oor die begeertes van die hart. Ons begeer egter alles vir onsself en niks vir ’n ander nie.

So mors ons met die tien gebooie, want ons is verlief op onsself. 

Wie sal ons tog wakker skud uit hierdie egoïstiese dagdromery van onsself oor onsself? Vers 12 sê ons loop nog in ons pajamas rond. Ons droom sulke mooi drome oor onsself, soos iemand wat in die nag droom.

Vers 14 sê ons moet ophou droom oor onsself en opstaan en ons beklee met Jesus Christus (ou vertaling).

Hou op droom oor jouself, staan op en beklee jou met Jesus Christus. Wie vir Jesus Christus aantrek, word ’n volgeling van Jesus Christus. Hy of sy doen die dinge wat by die daglig hoort.

Dit is soos ’n jongman wat sy hele gedrag verander sodra hy ’n militêre uniform aantrek. Hy moet anders optree as ’n civvy. Hy moet sy meerderes salueer; sy skoene moet te alle tye blink. Hy mag nie meer teen goed lê nie. So verander ’n mens se hele lewe as jy vir Jesus Christus aantrek. Skielik kan ek nie meer egoïsties optree nie. Skielik verdwyn selfliefde, want ek volg nou Jesus se voorbeeld.

Jesus was nooit egoïsties of vol liefde vir homself nie. Nee, Hy het voete gewas, kos uitgedeel, siekes verpleeg, moedeloses opgebeur en vir sondaars gesterf. Hy het “middelpuntvliedend na ander” vir ons geleer.

Die suiwerste vorm van liefde is seker moederliefde. Wanneer ’n moeder deur die pynlike geboortepyne gaan en die pasgebore babatjie word teen haar bors geplaas, word ’n band gevorm wat nooit gebreek kan word nie. Die moeder sal alles opoffer vir haar kind. ’n Vrou sal weghardloop vir ’n spinnekop of reptiel, maar sy sal haar liggaam gebruik as ’n buffer teen masjiengeweerskote om haar kind te beskerm. Die moeder lewe nie meer vir haarself nie, maar vir haar kinders. So moet ons, soos moeders, met liefde ander mense aanraak. Soos ’n moeder drome het vir haar kinders, moet ons drome vir mekaar en vir ander hê.

Die Here word in Mat 23: 37 en Luk 13: 34 beskryf as ’n hen wat haar kuikens onder haar vlerke bymekaar maak – egte moederliefde. Selfs wanneer haar kind haar soms teleurstel, sal sy nog steeds by haar kind staan. Dit is onvoorwaardelike moederliefde, na buite – na haar kind toe.

Want sien, as jy Jesus aangetrek het, is die basis van jou verhouding met ander mense die liefde. Die regte soort liefde wat Jesus vir ons verbeeld het. Jy begin so ’n bietjie van jouself en jou probleme, en jou sieninge en jou opvattings, vergeet en jy gee God ’n kans.

Hy / sy wat homself / haarself met Christus beklee het opregte komplimente vir ander, sê nooit iets slegs van ’n ander, gebruik nooit skeldname nie, bedek ander se foute, verdra ander mense met geduld, is opreg bly saam met ander se vreugdes en treur opreg saam met ander se teenslae. Snaaks: nou dat jy nie meer op jouself verlief is nie, kan jy baie beter met jouself saamleef. Jy voel goed oor jouself. Jy leef in die werklikheid van die helder daglig. Jy mors nie jou lewe op met sê-nou-maar fantasieë en drome nie. Jy het Jesus aangetrek en jy leef nou in Hom en Hy in jou.

Dit is soos ’n man wat baie goed is met die bou en vlieg van vlieërs. Hy leer dan ’n seun om ook mooi vlieërs te bou en hulle hoog te laat vlieg. Uiteindelik kry die seun dit reg om mooier vlieërs te bou as die man. Hy kry dit ook reg om die vlieërs hoër as die man te laat vlieg. Die vreugde van die man is dat hy die seun geleer het om beter met vlieërs te wees as hyself. Hy is nie jaloers op die seun nie, maar bly saam met die seun. Sulke mense moet ons ook wees. Ons moet ander mense beter laat vertoon as onsself. Dan is ons werklik kinders van God.

Die nuwe mens in Christus droom oor God.

Die nuwe mens in Christus droom oor sy medemens.

Die nuwe mens in Christus droom oor watter mens God wil hê hy of sy moet wees.

Die nuwe mens in Christus droom oor wat God se plan vir hom of haar is.

Die nuwe mens in Christus droom van die nuwe hemel en ’n nuwe aarde. Amen     

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)