SKRIFLESING: Ps 1: 1 – 6
Op hierdie dag word Annamarie du Preez gedoop en word so deel van die heilige verbond wat alreeds in Gen 15 tussen die Here en Abraham gesluit is.

Die Here het vir Abraham gesê sy nageslag sal wees soos die sand van die seestrand en die sterre van die hemelruim. Daarmee het Hy nie bedoel die fisiese Israel soos ons dit vandag ken nie, maar die geestelike Israel. In die Ou Testament was die teken van die verbond die besnydenis en in die Nuwe Testament is dit die heilige doop, die teken van die verbond. Daarom is ons deur die goue lyn van die verbond almal kinders van vader Abraham, soos die bekende kinderliedjie lui.

De Here belowe in die heilige doop dat Hy ons hemelse Vader en ons Verlosser sal wees en dat Hy wil hê ons moet Sy kinders wees. Deur die doop word jy as kind van die Here deel van die Here se kerk op aarde. Annamarie du Preez word vandag deel van die Christelike kerk wêreldwyd, maar ook in die besonder lidmaat van Fort Beaufort-gemeente.
Ek het besluit om Psalm 1 te gebruik by die doop van Annamarie. Daar is baie soorte mense in die wêreld. Daar is kortes en langes. Daar is slimmes en minder slim mense. Daar is maer en vet mense. Daar is goeie mense en slegte mense. Daar is wit en swart mense. Daar is linkerbreinmense en regterbreinmense. So kan ’n mens aangaan. Maar in God se oë is daar net twee soorte mense, naamlik die regverdiges en die goddeloses.
Dan vergelyk die Psalmdigter die regverdiges met ’n boom en die goddeloses met kaf.

Regverdiges is soos ’n boom wat by ’n waterstroom, in die Here, geplant is en groei en ’n reusagtige boom word. Regverdiges is geregverdig deur die bloed van Christus wat op Goeie Vrydag gestort is. Hulle dra vrugte van bekering op hulle tyd. Hulle blare, hulle lewe, verwelk nie in die somerson of in die winterkoue nie. Regverdiges is lief vir die Wet van God en vir die pad van God. As jy op die regte pad bly, dan is jy ’n regverdige. Dan groei jy soos ’n boom wat by waterstrome geplant is.

Waarom word regverdiges vergelyk met ’n boom? Die sukses van ’n boom hang nie af van sy stam, takke of blaredos nie. Nee, die sukses van die boom hang af van dit wat jy nie kan sien met jou blote oog nie. Die wortels en in die besonder die diepte van die wortelstelsel bepaal die sukses van die boom. In Psalm 1 word ook gemeld dat die regverdiges soos ’n boom is wat by ’n waterstroom groei. Hierdie waterstroom simboliseer om in die teenwoordigheid van die Here te lewe. Daarom moet Coenie en Nandie hulle kinders, Coenraad en Annamarie grootmaak in die teenwoordigheid van die Here. Godsdiensoefening by die huis, tafelgebed, stiltetyd met kinders wat die Bybel leer ken en leer om te bid voor hulle gaan slaap, asook gereelde kerkgang, en kategese is alles voorbeelde waar kinders se geloofswortels ontwikkel word. Ouers en grootouers moet deur hulle lewe ’n voorbeeld stel van hoe ’n Christelike lewe lyk. Ons kinders moet diep sterk geankerde geloofswortels ontwikkel wat in Jesus Christus geanker is.
’n Boom met ’n swak wortelstelsel word maklik deur ’n tifoon, soos verlede Maandag en Dinsdag, omgeruk deur die wind. Die lewe is ook vol teleurstellings en rukwinde. Maar as jou geestelike geloofswortels sterk ontwikkel is, kan jy die rukwinde van die lewe trotseer.
Sterk geloofswortels word gevorm daar waar daar baie water is. Die gedoopte kind moet in die teenwoordigheid van die lewende Water, naamlik Jesus Christus, leef. Hoe nader aan die water, hoe vinniger groei die boom. Hoe nader jy aan die Here Jesus groei, hoe vinniger sal jou lewe (jou boom) vrugte dra.

Die goddelose is egter soos kaf. In die antieke tyd het hulle gewag vir ’n winderige dag. Dan is die koringkorrels met ’n vurk die lug in opgegooi. Die koringkorrels wat swaarder is, het op ’n hoop geval, maar die kaf het weggewaai. So is die goddelose ook, hulle waai eenvoudig weg en hulle lewe kom tot niks. Al waarvoor dit deug is om aan die brand gesteek te word, as vuurmaakmateriaal.
Daarom sê vers 1 en 5 dat die goddeloses se byeenkoms, die byeenkoms is van mense wat God en ander mense spot. Dink maar hoe kan ongelowiges met God spot en ander mense verkleineer. Maar die byeenkoms van die regverdiges loop goed af en die Here sorg vir die pad van regverdiges.

Respek ’n eienskap van regverdiges. Onthou goddeloses spot met God en met mekaar. Maar regverdiges respekteer God en ander mense. Ja, hulle respekteer selfs die geringstes in die samelewing. Jy sal ’n groot boom word, as jy elke dag God in jou lewe respekteer.
Die teenoorgestelde van die woord “spot” wat in die Psalm gebruik word, is om “respek” te hê. Jy moet absolute respek en vrees vir die Here hê. Jy moet ook alle mense respekteer. Dit is juis waarmee die meeste onderwysers op skool sukkel. Kinders word nie meer geleer om respek vir God of vir hulle maats of volwassenes te hê nie.
Daarom is die woonhuis waar die kind grootword die kweekhuis, waar die verbondskinders gevorm word, water gegee word, asook somtyds gesnoei word.

Annamarie moet leer om haar ouers, haar grootouers en eendag alle mense wat oor haar pad kom, te respekteer. Eendag moet sy ook haar huwelik respekteer en alle gesagsinstansies wat bestaan. Regverdiges spot nie God of hulle medemens nie, hulle respekteer almal.
Ons moet ook onthou dat wat jy ook al sê of doen ander mense se lewe en jou lewe beïnvloed. Elke dag moet jy keuses maak en elke keuse het ’n gevolg. Daarom moet jy so lewe dat jou lewe betekenisvol vir ander is. Jy moet ander mense se lewe betekenisvol beïnvloed. Dit is die diepste roeping van die lewe, naamlik om betekenisvol vir ander te lewe. Wat ook al jou keuses is, jy moet die gevolge van jou keuses dra.

Annamarie moet wees soos ’n vrugteboom wat by ’n waterstroom geplant is. Sy sal groei en deur die loop van haar lewe die respek van haar omgewing en gemeenskap verdien. Sy moet strewe daarna om ook ’n Godsvrou te word. Eendag moet onder haar boom haar man, haar kinders en haar kleinkinders kan kom koelte soek. Hulle moet eendag by haar raad en wysheid kom soek. Annamarie het wonderlike ouers en ook wonderlike oupas en ’n ouma wat haar lewe positief kan beïnvloed. Seer sekerlik sal sy ook eendag wonderlike onderwysers en wonderlike dosente en vriende hê, wat haar lewe positief beïnvloed. Sy moet dan dankbaar wees vir hierdie kosbare mense wat haar lewe gevorm het. Maar eendag moet sy weer ander mense se lewens vorm.

In vers 3 se laaste gedeelte staan daar dat alles wat ’n regverdige aanpak, gedy. Met ander woorde dit word ’n sukses. As jy wil hê dat jou lewe suksesvol en vol betekenis is, moet jy leef soos ’n regverdige. Annamarie se kinderjare, skooljare, haar studies, haar huwelik, haar ouerskap, haar professionele werksloopbaan en haar lewe lê voor. As sy soos ’n boom groei by die watervore van die Here sal sy gedy en daarvan ’n sukses maak. Sy sal word soos die vrou van Spreuke 31: 10 – 31. Daarom moet Annamarie geleer word om op die vaste fondamente van haar ouers en grootouers voort te bou. Sy moet bou op die fondament wat hulle vir haar gaan lê.
Die Here het die volle prys betaal vir ons lewe. Waarom sal ek my duur gekoopte lewe vermors om soos kaf te leef. Waarom sal ek verder spot met God, soos wat die soldate rondom Jesus se kruis gespot het? Ja, Herodus het ook gespot met Jesus. Die Jode het gespot met Jesus. Die goddeloses leef daarvan om van alles ’n spottery te maak.
Nee, ek is losgekoop om ’n boom by waterstrome te wees. Jesus het aan ’n kruishout gehang, sodat ek ’n lewende boom kan wees wat geplant is by watervore.
Annamarie du Preez moet dit doen en sy sal gedy. Sy sal ’n boom word en haar nageslag sal in haar koelte sit. Sy sal genoem word ’n Godsvrou, veranker in Jesus Christus met ’n sterk wortelstelsel. Sy sal bly staan selfs in die tifone, winde en rukwinde van hierdie lewe.
Annamarie en Coenraad is geseënde kinders, want hulle het ouers en grootouers wat die Here ken. Wat meer kan ’n kind begeer? AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)
