Woestynervarings is verrykende ervarings.

SKRIFLESING:  Eks 16: 1 – 18

Die woord “woestyn” wek by die meeste mense ’n negatiewe konnotasie op. Dit word geassosieer met sand, min water, min kos, sonsteek, verdwaling, lugspieëlings en uiteindelik die dood.

Ons lees hoe die volk Israel hier in Eksodus 16 letterlik deur ’n woestyn gaan, met al die gepaardgaande ontberings.

Figuurlik gesproke gaan ons elkeen van tyd tot tyd deur ’n “woestyn” – die woestyn van persoonlike krisisse. ’n Woestyn kan wees: ’n siekbed, dood van ’n geliefde, bekommernis oor ’n kind, droogte, finansiële probleme, werkloosheid of emosionele probleme. Hierdie dinge kan vir ’n mens soos ’n “woestyn” voel.

Die gevaar is nou natuurlik dat ’n mens net negatiewe konnotasies aan ’n woestyn toedig. In Eksodus word die woestyntyd van Israel as ’n baie besondere tyd, trouens ’n ideale tyd in die geskiedenis van Israel beskou. By terugskoue sou dit altyd blyk dat daar min tye in die geskiedenis van Israel was dat dit, geestelik beskou, so goed gegaan het met die volk as juis tydens die jare in die woestyn. Waarskynlik was dit, meer as enige ander tyd, die stadium waarin die Here en sy volk werklik na aan mekaar was.

Gelowiges wat deur diep krisisse gegaan het, stem gewoonlik saam dat hulle “woestyne” besondere tye was in hulle verhouding met God.

Baie gelowiges in die Bybel het hulle letterlik in ’n woestyn bevind. Dink aan Elia en Johannes die Doper. En dan natuurlik ook die Here Jesus Christus met Sy versoekinge in die woestyn vir 40 dae. So het “woestyne” met verloop van tyd simbool geword vir die moeilike tye in die lewens van gelowiges.

Eksodus 16 wil vir ons leer: Woestyntye is verrykende ervarings.

Die Sinai-woestyn het Israel letterlik van alles gestroop. Hulle is gestroop van hul huise, hul wingerde, hul tuine, hul veetroppe en hul geliefdes (’n hele geslag het in die woestyn omgekom.) Hulle het nomadies geword – hulle het net-net oorleef.

Elke krisis stroop ’n mens ook van selfvertroue, of besittings, van sekuriteit en soms ook van geliefdes. In ’n krisis het jy minder van iets oor as voor die krisis.

Maar ’n woestyn maak jou ook broos, afhanklik en naak. In die woestyn is jou sekerhede en waarborge tot die absolute minimum beperk. Alles word onseker. In ’n woestynsituasie sien ’n mens jou weerloosheid, menslike swakheid en verganklikheid helder voor die oë.

Jou maskers en jou bravade val heeltemal weg. Jou uiterlike beeld waaroor ’n mens tog so bekommerd is, val weg, sodat net die egte mens na vore kom. ’n Mens kan dus sê ’n woestyn stroop ’n mens van jou “image” en maskers. In ’n woestynsituasie word ’n mens rondgeslinger tussen hoop en wanhoop – ’n regte wipplank van emosies.  Dit maak jou huilerig, bekommerd, angstig en depressief. ’n Mens kan dus sê dat ’n woestynsituasie jou stroop van lewensgeluk.

’n Woestynsituasie stroop jou van alles wat jy besit, van jou maskers en van jou lewensgeluk. Dit laat my dink aan die herfs in die natuur. In die herfs word die bome gestroop van hulle groen blaredos – sodat uiteindelik net die kaal takke oorbly.

Moet ons nie ook bid:

Soos ’n boom in die winterkoue gestroop word van sy blare, wil u my nie ook stroop van my valse ydelheid, my hoogmoed, my “image” en my maskers, nie, sodat ek net nakend, broos en afhanklik kan oorbly, soos die takke van ’n boom in die winterkoue.

’n Mens leer die heel beste deur ervarings. Israel het ook deur ervaring daar in die woestyn geleer om met ’n nuwe toewyding aan God te leef.

Hulle het God se versorging ervaar in die bitter water wat soet geword het, in die daaglikse kwartels en manna en in die wolk- en vuurkolom.  Hulle het God se stem ook ervaar.

Ons kan so rondjaag in die gewoel van hierdie wêreld, dat ons niks meer kan hoor nie. Ons het bang geraak vir stiltes. Ons skakel liewer die radio of televisie aan. Maar die woestyn is net ’n plek van stilte – sodat ’n mens gedwing word om ’n slag weer na die stem van God te luister.

Die woestyn kan ’n harde plek wees, maar ook ’n wonderlike plek van ongelooflike eenvoud en skoonheid en stilte. Die woestyn is die plek waar jou oë weer kan oopgaan om die wonder van gewone dinge in die lewe te waardeer.

Maar die heel beste van die woestyn – so het Israel ontdek – was God. Dit was die heel grootste verrassing. In die woestyn het Israel nie net hulleself beter leer ken nie, dit was die plek waar hulle ook die Here op ’n nuwe manier leer ken het. Daar het hulle ervaar dat God veral ook in die woestyn by hulle is. Daar het hulle ontdek dat God nie net ’n God is wat beweer dat Hy die onmoontlike kan doen nie.  In die woestyn het die volk Hom dit síén doen. In die woestyn het Israel die Here op ’n nuwe, dieper manier leer ken.

Wonderlik bevrydend is dit as ’n mens God in jou lyding leer ken.

Deur die eeue het Christene gevra of woestyne regtig nodig is? Hoekom moet daar woestyne wees? Is dit nodig dat ons deur al hierdie swaarkry iets moet leer? Sou ons nie ook daarsonder iets kon leer nie?

Ons het reeds gesê dat ’n mens eers in die woestyn jou dieper, werklike self leer ken – in jou swakheid, jou broosheid en afhanklikheid. Dit is sekerlik nie maklik om jouself so te leer ken nie, maar dit is nog altyd twintig keer beter as die verskriklike moontlikheid om oud te word en dood te gaan, sonder om jouself te leer ken soos jy werklik is.

Maar veel belangriker is die feit dat ’n mens ook vir God in die woestyn op ’n nuwe manier leer ken. Die waarheid is dat daar kante van God is wat ’n mens net in die woestyn kan leer ken. Dat Hy regtig kan troos, regtig kan sorg, regtig liefhet en kan voed en verkwik – dit leer ’n mens net as jy nood ken en dit regtig gesien het.

Ons sou kon sê dat die Here vir Israel in die woestyn eintlik ’n tweede keer vrygemaak het. Na die vlug uit Egipte en die wonderbaarlike verlossing by die Rietsee, was Israel vry van die gevare wat van buite gedreig het. Maar dit was in die woestyn waar die Here begin het om hulle ook van binne vry te maak: vry van hulleself, vry om regtig in God te glo en Hom te vertrou met hulle lewens.

Mag ons in ons “woestyne” van ons krisisse gestroop word, sodat ons God kan ontdek en vir Hom kan begin leef.

God gebruik “woestyne” in die lewens van Sy kinders. In Hosea 2 lees ons hoedat God sy volk in die woestyn die hof maak, en mooi dinge vir hulle sê, omdat God hulle liefhet.

Leer iets daaruit! Haal iets positiefs daaruit.

Ons het dus gesien dat die woestyn twee pluspunte het: Dit is ’n plek van stroping en ’n oefenskool vir nuwe toewyding aan God.

Mag dit ook u ervaring wees.                                            AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Maak vrede met die bure.

SKRIFLESING:  1 Kor 13

Dr Johan Pienaar skryf die volgende.

Hy vertel dat net buite die ingang van die Golden Gate Hoogland Nasionale Park daar in die veld ’n klein en baie ou begraafplaas is. Hy het die begraafplaas besoek en op twee interessante grafstene langs mekaar afgekom. Een is van ’n Johan (gebore 1911) en langs hom lê Valerie (gebore 1910). Lees ’n mens verder, staan op albei grafstene: “Deur ’n weerligstraal gedood op Mount Aux Sources op 18 Desember 1932”. Beide was in hulle twintigs en is deur dieselfde weerligstraal doodgeslaan.

Terug in die dorp daar naby sou hy die volle verhaal hoor. Hulle was van buurplase en het mekaar liefgehad. Hulle ouers was egter in ’n jarelange ou rusie gewikkel en daarom moes hulle mekaar in die geheim ontmoet …. so ook op daardie noodlottige dag toe hulle met perde na Mount Aux Sources gery het.

Die rede vir die ouers se rusie is vandag onbekend. Was dit waterlei-beurte of beeste wat grensdrade gebreek het? Was dit politieke – of kerkgeskille? Dalk was dit ’n misverstand by die koöperasie. Wat ook al die rede was, die ouers het besluit om mekaar ten alle koste te vermy.

So het dit aangegaan tot op daardie noodlottige dag toe hulle kinders saam sterf. Dit het die ouers tot rede geruk, hulle het vrede gemaak en die paartjie langs mekaar begrawe.

So het elke plattelandse of stedelike gemeenskap talle gevalle waar bure of mense van dieselfde gemeenskap moeilik met mekaar oor die weg kom. Dikwels is daar familie-rusies of onenigheid. Gewoonlik is kwaai vriendskap van daardie onbenullige sake wat amper te gering is om met rede aan te voer.  Dit kan ontwikkel in jarelange vetes, wat sleg is vir die gemeenskap. In maatskappye of kleinsakeondernemings kan mense met mekaar in onvrede leef en so oneffektief vir die sakeonderneming word. Die gemeente kan oor kerksake baklei, met die gevolg dat mense hulle vertroue in die kerk verloor.

Daar word vertel van die man wat geantwoord het op ’n vraag of hy en sy vrou soms baklei: “Soms sê ek ’n woord waarvan my vrou nie hou nie, of my vrou sê  of doen iets waarvan ek nie hou nie; maar as ons begin stry, skud ons hande, maak die deur toe en gaan bid. So word vrede weer herstel.” Dit is kosbare raad om te volg.

Jaco Thom skryf dat 1 Kor 13 as’t ware die bladmusiek is wat vir ons kom leer wat liefde is. As die gemeente die bladmusiek volg, is daar eenheid en samehorigheid in die gemeente.  Soos daar verskillende musiekinstrumente is, so het elke lidmaat ’n unieke bydrae tot die orkes se liefdesimfonie. Maar ons moet die dirigent, die Here Jesus Christus, volg sodat ons nie die liefde vals speel nie. Wanneer die liefde vals gespeel word, kom daar onenigheid tussen bure en tussen mense wat voorheen vriende was.   Daarom staan daar in 1 Kor 13: 1b  “ …. maar ek het nie liefde nie, dan het ek ‘n weergalmende ghong of ’n kletterende simbaal geword.

Dikwels ontstaan sonde met die bure en kwaai vriendskap met ander mense of familie met dié dinge wat 1 Kor 13 uitlig, naamlik ongeduld, jaloesie, verwaandheid en liggeraaktheid of die gewoonte om boek van die kwaad te hou. Hierdie gesindhede is die oorsaak van onvrede met die bure of iemand in die gemeenskap.

Ons elkeen het ’n boekie van die kwaad waarin ons alles in ons geheue neerskryf wat ander mense teen ons doen. Die Here begin elke dag met ’n skoon bladsy vir ons. Maar ons boekie van die kwaad vir ander mense word elke dag dikker.

1 Kor 13:7 lees: “Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verduur alles.” Die liefde bedek alles. Jy gooi die sondes van ander mense toe, soos wat jy ’n doekie gooi oor vuil skottelgoed wat jy eers later wil was. Die liefde het geloof in ander mense se potensiaal om te verbeter. Jy skryf nie mense af nie. Die liefde het hoop dat mense kan verbeter. Die liefde verduur alles, met ander woorde is verdraagsaam met ander se foute, wetende dat jyself ook baie foute het.

Slegte verhoudinge met bure, familie of ander mense tap jou energie. Jy kan nie jou potensiaal bereik as daar ’n klomp negatiewe energie in jou sit nie. Jy tob dan oor die negatiewe, in plaas van die positiewe te bedink. Slegte verhoudinge bring spanning in jou lewe en is swak vir jou gesondheid. Slegte verhoudinge versuur jou lewe en geluk.

Daarom is verGIFnis so belangrik in die liefde. As jy nie ’n lewe van verGIFnis kan lewe nie, gaan die gif jou doodmaak. Dit is so goed jy bind ’n lyk aan jou vas (die mens wat jy nie kan vergewe nie), en sterf later van lyksiektes.

In verse 8 – 9 word beskryf dat alles sal verbygaan, maar die liefde sal ewig staan. Profesieë, tale en kennis sal verbygaan. Dit is verganklik. Die liefde staan vir ewig.

In vers 11 beskryf Paulus dat toe hy ’n kind was, hy nog op ’n kinderagtige manier met mense omgegaan het. Ons almal weet hoe wreed kinders kan wees op die speelgrond. Maar nou is Paulus volwasse. Hy is klaar met dié dinge, die kinderagtigheid van liefdeloosheid.  Hy is nou volwasse in die liefde. Die vraag vanmôre is: is ons nog kinderagtig in die liefde of openbaar ons volwassenheid in die liefde?

Vers 12 sê ons staar nog in ’n “geheimenisvolle beeld, soos in ’n spieël”. Antieke spieëls was van gepoleerde metaal, maar die spieëlbeeld wat hulle gereflekteer het, was nooit heeltemal helder nie.1 Ons verstaan nie die lewe met al die goed wat konflik gee nie. Somtyds weet ons ook nie of ons of die ander party reg is nie. Maar eendag sal ons weet. Daarom moet ons nou vrede najaag, want ons ken nie ten volle nie. Ons ken nie die volle storie nie. Ons verstaan nie die ander party ten volle nie. Daarom is liefde die enigste oplossing om konflik op te los.

1 Kor 13: 13 sluit af met: “En nou bly geloof, hoop en liefde, hierdie drie –  maar die grootste hiervan is die liefde.” Al is jy ’n geloofsreus, wat elke Sondag in die kerk sit … of al is jy die mees positiewe, hoopvolle mens wat ander inspireer … , maar jy het nie liefde nie, is jy NIKS. Die liefde is die belangrikste.

Die vraag vanmôre met die Nagmaal is, met watter buurman, of familielid of mens in die gemeenskap moet jy dinge gaan regmaak?

Onthou die twee grafte by die Golden Gate Hoogland Nasionale Park. Moenie dat dit te laat word nie.                                                    AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

VERWYSINGS

  1.  Bible Society of South Africa; Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition) (p. 3843). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.

Van pitte na springmielies.

SKRIFLESING:  2 Kor 5: 11 – 21

’n Jakkals verander van hare, maar nie van snare nie. Mense laat staan nie sommer hulle sondige gewoontes nie. Mense verander nie maklik nie. Hulle leer nie maklik verkeerde gewoontes af nie. Vir kinders moet ’n mens tot vervelens toe sê om die regte ding te doen en die verkeerde te laat staan en dan doen hulle nog steeds die verkeerde.

Die Bybel en die Gereformeerde Leer sê dat die mens so verdorwe is, dat daar nie eers in die mens die moontlikheid bestaan om ten goede te verander nie. Daar bestaan nie eers ’n vonkie in die mens om te verander nie. Net Christus Jesus kan my verander. Ja, die Heilige Gees werk deur die Woord om mense se lewens te verander.

Kom ek verduidelik dit vir julle aan die hand van springmielies. Neem ’n bietjie ’n mieliepit in jou hand. Ons kan so ’n bietjie met die kêreltjie gesels. Sê vir die mieliepit dat hy moet verander en sagter en eetbaar word. Byt ’n bietjie die mieliepit. Hoe smaak hy? Vir my smaak hy nie juis na iets nie. Hy is maar redelik hard en oneetbaar. ’n Mens kan moontlik selfs jou tande op hom breek. Soos hierdie mieliepit, so is die mens in wie se lewe die Here Jesus nog nie is nie. Die Bybel sê so ’n mens is ’n ou mens. Sy lewe is smaakloos en hard soos hierdie pit. So ’n mens hou daarvan om sonde te doen. So ’n mens baklei nog, is ongehoorsaam aan die Here en doen allerhande lelike dinge.

Maar wat gebeur as ek nou vir hierdie mieliepit hitte gee? Ja, hy spring en word ’n springmielie. Nou is hy wit, sag en eetbaar. Die mieliepit het van gedaante verander. Net so werk die Heilige Gees deur die Woord om ook ons lewe te verander en nuwe mense te word. Ons word ook nuut en sag en aangenaam vir die wêreld. Ja, mielies word springmielies, as gevolg van die hitte. Ja, ou sondige mense word nuwe mense deur die liefde van die Here Jesus Christus. Luister wat staan in 2 Kor 5: 17 – “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ’n nuwe skepping. Die ou dinge het verbygegaan – kyk, hulle het nuut geword.” Met ander woorde soos mieliepitte “pop” en springmielies word, so word ons deur die Gees in Jesus Christus nuut gemaak.

Sonder die hitte kan die mielies nie verander nie. Net so kan die mens nie verander sonder die kragtige werking van die Heilige Gees nie. Die Heilige Gees werk deur die Woord om ons lewens te verander.

Somtyds bly daar aangebrande pitte in die pot agter. Hoe smaak daardie pitte? Ja, hulle is nog steeds hard en smaak baie bitter. So kan daar ook in die kerk onbekeerde mense wees wat elke Sondag onder die geklank van die Here se Woord sit, maar nooit verander nie. Hoekom verander hulle nie? Omdat God nog nie in hulle hart gewerk het nie. Daarom moet ons bid dat die Here ons almal se harte sal verander om aan hom gehoorsaam te wees.

Ons kan nie ons eie lewe verander nie, ook kan ons nie ’n ander een se lewe verander nie. Maar ons kan bid dat die Here dit sal doen deur die werking van Sy Gees en Sy woord.

Is jy vandag nog ’n klipharde pit, dalk al selfs aangebrand, bid dat die Heilige Gees jou lewe mag verander deur Sy Woord. Daar was in die vroeër eeue ’n man met die naam Augustinus. Hy het ’n wilde en roekelose lewe gelei. Hy was soos ’n klipharde mieliepit. Maar sy moeder Monica het gereeld vir haar seun Augustinus gebid. Toe op ’n dag, “spring” Augustinus deur die genade van die Here en hy verander in ’n springmielie, in ’n Christen. Hy en sy buite-egtelike seun word op dieselfde dag gedoop. Hy word een van die grootste kerkvaders van alle tye.

Kom ons bid vir mekaar, soos Monica vir haar seun Augustinus gebid het. Ons bid gedurig vir goed wat God vir ons moet gee of moet doen. Die belangrikste is om te bid dat die Here ons harte mag aanraak en ons harte mag sag maak soos springmielies. Dat ons so sal verander in ons gedrag dat ons aangenaam vir mekaar sal smaak.

As u vanoggend daardie oortuiging het dat die Heilige Gees u alreeds laat “spring” het, dank God daarvoor. Dit beteken die Here het die bekering en die wedergeboorte in jou hart laat plaasvind. Dit is God wat jou gekies het uit genade om ’n nuwe mens te word. Jy is ’n voorwerp van die Here se ontferming.

’n Mieliepit kan nie sonder hitte spring nie. ’n Mens kan ook nie uit homself verander nie. Die Dordtse Leerreëls sê dit is vir die mens onmoontlik om uit homself te verander. Ek verander alleen maar na ’n nuwe mens danksy die genadige verkiesing van die Here. Omdat die Here my in Sy genade kom aanraak het, kan ek verander en ’n nuwe mens word. Marelize, net die Here kan jou verander. Jouself kan jy nie verander nie. ’n Mens kan jouself verbeter, maar net die Here kan jou verander. Wat ’n wonderlike wete is dit nie.

Is jy ’n aangebrande mieliepit of ’n springmielie?

Is jy ’n ou mens of ’n nuwe mens?

As jy ’n aangebrande ou mens is, bid dat die Here jou sal verander! As jy reeds ’n nuwe mens is, dank God dat Hy jou laat “spring” het na Hom toe. Jy is ’n nuwe mens omdat God jou verander het. 

Marelize, jy verklaar vanoggend dat jy nie maar net ’n mieliepit is nie, maar een wat “gespring” het. Jy bely vanoggend dat die Here Jesus in jou gewerk het om  van jou ’n nuwe mens te maak. Jy verklaar dat jy antwoord op die Here se doopbelofte jare gelede toe jy ’n babatjie was. Deur die jare het pa Eli en ma Melissa en jou grootouers jou van die Here geleer. Toe jy gedoop is, het jy ’n lidmaat van die kerk geword. Nou, 17 jaar later, aanvaar jy verantwoordelikheid om ’n getroue lidmaat van die kerk te wees.

’n Persoon wat “in Christus geheilig” is, is soos die waterspinnekop, wat ’n baie eienaardige insek is. Die waterspinnekop woon op die bodem van modderige poele en het die kenmerkende krag om na die oppervlak van die poel op te klim en homself daar met ’n klein borreltjie lug te omring.

So omhul deur lug, sak dit af na die slyk en modder en oorlewe daar totdat die lug opgebruik is. Dan styg dit weer na die oppervlak en die proses word herhaal. Diegene wat “geheilig is in Christus” vind dus geestelike verjonging in daaglikse Bybellees en Christelike gemeenskap, onbesmet en ongebonde deur die vyandige omgewing rondom hulle.

Marelize, mag jy ook elke dag geestelike verjonging ervaar in jou Bybelstudie, Bybel lees en bid. Ons word ouer in ons liggame. Die enigste plek waar ons kan verjong is in ons geestelike lewe. Iemand wat in Christus is, is geestelik jonk en veerkragtig. Versorg elke dag jou geestelike lewe.

Net soos jy gedissiplineerd is met jou perdry, net so moet jy getrou wees in jou daaglikse wandel met die Here.

Marelize, mag die Here vir jou die pad gelyk maak. Mag jy die seën van die Here ervaar op jou lewenspad. AMEN

(Die beeld van die springmielies het ek by iemand raak gelees.)

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

In ’n chaotiese wêreld roep die Here ons om te volhard.

SKRIFLESING:  Mat 24: 1 – 14

Wie is in beheer van hierdie wêreld – God of Satan? Dit lyk so dikwels of God beheer verloor het oor Sy skepping – so asof God ’n afwesige God geword het.

Ja, asof hierdie skepping van God soos ’n wekker besig is om af te wen. Eens op ’n tyd het God die skepping goed en mooi gemaak, as’t ware die skepping opgewen. Maar nou ….. nou is die skepping besig om af te wen, soos ’n wekker (volgens die Leer van Deïsme).

Want Gemeente, hoe later, hoe kwater. Tereg vergelyk die kerkvader Augustinus dan ook die menslike wil met ’n perd, wat reageer op die ruiter wat hom stuur. Dan vra Augustinus, is God die ruiter van hierdie wêreld of is Satan die ruiter?

Maar meer persoonlik, is God in beheer van u lewe, is Hy die ruiter van u lewe? Of is Satan in beheer van u lewe, is hy die ruiter van u lewe? Wanneer God die ruiter van u lewe is, dan stuur Hy u op die regte pad. Maar wanneer Satan die ruiter is, dan stuur hy u altyd waar daar geen pad is nie. Hy dwing ’n mens in die klowe in, daar waar geen pad is nie. Ja, hy spoor u aan tot koppigheid en strydlustigheid.

Voel u vandag bevrees in 2022? Dit lyk asof Satan die ruiter is van hierdie wêreld se geskiedenis. Dan is die boodskap: IN ’N CHAOTIESE WêRELD ROEP DIE HERE ONS OM TE VOLHARD.

Ons gaan vanmôre na drie sake kyk:

  • Chaos rondom die kerk
  • Chaos teen die kerk
  • Chaos in die kerk

Kom ons kyk na die eerste saak, naamlik chaos rondom die kerk. Ons lees daarvan in verse 6 en 7. Vandag lewe ons in ’n samelewing van geweld, seksuele losbandigheid, materialisme, en magsmisbruik. Verder tref siektes en finansiële asook ekologiese rampe die mensdom. Ons lees elke dag op NETWERK24 van transito-rooftogte, moorde op boere, moorde in die samelewing, bendegeweld, korrupsie, gewapende rooftogte en diefstal, verkragtings, droogtes, oorstromings, inflasie en soveel meer. Hier op ons dorp het ons in die onlangse verlede ’n poskantoor-roof en ’n OTM-rooftog gehad. Covid-19 het die hele wêreld in ’n ramptoestand gedompel.

In verse 9 en 10 is geskryf van die chaos wat teen die kerk, teen die etiek van die kerk, geloods word. Mense word so selfstandig, dat hulle God nie meer nodig het nie. Daarom word die kerk afgemaak as outyds en verkramp as die kerk sy stem dik maak oor sake soos aborsie, pornografie, prostitusie, dobbelary en ander etiese sake. Christene en kerke word al meer op die kantlyn geplaas.

In verse 4 en 5 staan daar dat daar baie dwaalleraars chaos binne-in die kerk sal skep. En Gemeente, chaos in die kerk is wanneer die suiwer Evangelie verduister word deur allerhande slim praatjies van mense. Wanneer die suiwer Evangelie verlaat word, ter wille  van dwalings. Vandag is daar die dwaling dat Jesus Christus nie ’n maagdelike geboorte gehad het nie. Daar is die dwaling dat Jesus nie regtig uit die dood opgestaan het nie. Daar is die dwaling wat die Bybel as die Woord van God ontken. Dwaallering kan ook wees wanneer die algenoegsame verdienste van Jesus Christus verloën word en daar verkondig word dat die mens ook ’n aandeel in sy verlossing het. Hierdie dwaalleraars skep verwarring en ’n gees van twyfel onder gelowiges. So word die ware Evangelie verkrag – so word die chaos binne-in die kerk ingedra.

Maar nou kan u vra, ons praat so van chaos rondom die kerk en chaos teen die kerk en van chaos in die kerk. Maar wat is nou die troosboodskap? Wat kan vrede in my gemoed bring?

Dan staan daar in vers 8: “Al hierdie dinge is die begin van die geboortepyne.” Op Golgota het Christus die Satan, die slang, nek omgedraai. Het u al gesien wat gebeur as ’n slang onthoof word? Die oomblik wat hy onthoof word, is hy onmiddellik dood, maar tog gaan die laaste doodsroggeling voort. Heen en weer swaai die lyf en eers na ’n lang ruk kom die hele lyf tot stilstand. Geliefdes, dit is presies wat met Satan gebeur het. Op Golgota is Satan onthoof, ja, gedood. Hierdie laaste tye voor die Wederkoms, is Satan in sy laaste doodsroggeling. Terwyl hy heen en weer beweeg in sy doodsroggeling, skep Satan chaos in hierdie wêreld. Maar gemeente, die groot vreugde is natuurlik dat Satan klaar oorwin is, hy is klaar dood. Dit is net die laaste doodsnikke, wat hy met sy stert uitvoer. Satan is soos ’n afkop-hoender wat rondhardloop. Jy sien net vere en bloed.

Gemeente, alle pyn voorspel die dood, behalwe geboortepyn wat die enigste pyn is wat nuwe lewe voorspel. Die baie seer van die lewe is soos geboortepyne. Dit wil sê: Satan is oorwin, Christus het gesterf, maar het opgestaan en Hy kom weer om alles nuut te maak.

Daarom moet ons volhard tot die einde.

’n Treinbrug is altyd fassinerend. ’n Treinbrug staan vir baie jare; elke dag kom swaar lokomotiewe, met hul swaar-gelaaide waens en beweeg oor die brug. Elke dag hou die brug, dit hou, dit hou, keer op keer. Dit, Geliefdes, is volharding. Wanneer die aanslae van die lewe kom, die pyn, die seer van die chaos in hierdie wêreld, maar ook in my persoonlike lewe, dan moet ons volhard in geloof, liefde en hoop.

Wat beteken dit om te volhard in die geloof? Ek gaan ’n beeld gebruik: ’n Man is besig om oor ’n vasgeysde meer  te kruip. Soos wat hy kruip, tok-tok hy met sy kierie. Te bang die ys gaan hom nie ondersteun nie. Skielik hoor hy ’n vreeslike geraas. Toe hy omkyk, sien hy ’n span van twaalf perde met ’n wa in volle galop oor die ysmeer aangegalop kom. Die man hou die perde in toe hy by die kruipende figuurtjie verbykom. Die kruipende man vra: “Is jy nie bang nie?” “Nee, wat – ek weet uit ervaring van baie winters hierdie ys sal my dra.” Geliefdes, om te volhard in die geloof is om te spring en te weet jou hemelse Vader sal jou vang.

Om te volhard in liefde is om altyd die “eie ek” te kruisig. Om altyd die minste te wees. Liefde wil altyd orde in chaos skep. Dit roep ons op om 1 Kor 13 uit te leef.

Om te volhard in die hoop is om te weet die Wederkoms is op hande. Kyk, die vyeboom se takke begin sag word, die somer is hier – die wederkoms is op hande. Vir die Here is een dag soos ’n duisend jaar. Satan is soos ’n afkop-hoender, hy is klaar oorwin. Die chaos van hierdie lewe is maar net die doodsroggeling van Satan. Dit is soos die geboortepyne vir ’n vrou – ’n pyn tot die lewe.

Daarom moet ons volhard in geloof, liefde en hoop. Genadiglik skenk God ons deur Sy Gees die genade om te volhard tot die einde.

Daar is iets hartseers in die verhaal van die skip Francis, van New Bedford, Massachusetts, wat aan die New Jersey-kus gesink het. Die skip het ’n  goeie voorspoedige reis van vier maande gehad, en die kaptein en bemanning was hoopvol om die aangename reis binne ’n dag of twee af te sluit. Die skip het toe skielik, binne sig van die land, en amper in sig van die hawe,  aan die brand geslaan as gevolg van ’n menslike nalatigheid en beide die skip en die vrag is vernietig. Die bemanning het slegs met hul lewens ontsnap. Dit is hartseer om te sink in die sig van die hawe. Daar is baie sulke wrakke van die morele en geestelike soort – manne en vroue wat eerbare loopbane gevolg het, maar wat hulle getuigskrif van ’n goeie karakter verbeur deur een of ander hartseer verval in sonde wanneer hulle amper in die sig van die hawe van “ouderdom” is. Die middeljariges en die oues, sowel as die jonges, moet waaksaam wees. Dit is die een wat volhard tot die einde toe wat beloon sal word.

God is die ruiter in die saal. God is in beheer – Hy is geen afwesige God nie. Wanneer u bevrees is vir die chaotiese kragte wat u lewe bedreig, weet dan God is in die saal. In Sy hand is ’n oorwinnaarskroon. Christus het klaar oorwin, daarom kan ons maar ontspanne volhard tot die einde.               AMEN   

(Sommige van die preek se verdelings het ek gekry by Dr Tienie Strydom wat ‘n groot mentor in my lewe gewees het.)

Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.