Die stofmannetjies en die stofvroutjies in die Here se kerk.

SKRIFLESING: 1 Tes 2: 1 – 12 en 1 Petrus 2: 9 – 10

Wanneer ‘n mens ernstig siek is, wil ‘n mens graag die mening van ‘n spesialis hê. ‘n Spesialis is ‘n kenner op daardie bepaalde liggaamsdeel wat siek is. Of as ’n mens ‘n nuwe kar het, neem jy dit gewoonlik na die agente, omdat hulle die beste weet. Ja, ons maak eerder van ‘n spesialis of ‘n kenner se hulp gebruik as ons sommer enigeen te vra.

Tog wanneer God sy werk op aarde gedoen wil hê, maak Hy nie van spesialiste, van engele gebruik nie. Nee, Hy gebruik mense, stofmannetjies en stofvroutjies om sy werk te doen. Die begrip “stofmannetjie” het ek in een van Prof Willie Jonker se preke gelees en daarom gebruik ek die uitdrukking ook in dié preek. Stofmannetjies beteken Hy gebruik doodgewone mense soos u en ek om sy werk te doen. Dit is eenvoudig wonderlik. God vertrou vir ons soveel, dat Hy sy kosbare werk aan mense opdra om dit vir Hom te doen. Daarom het die Here in die paradys vir Hom stofmannetjies en stofvroutjies gemaak en hulle na Sy beeld geskape. Hy het gesê dat hulle vir hom verteenwoordigers op hierdie aarde moet wees.

Ons moet God se stofmensie-verteenwoordigers wees in die landbou, die veeteelt, die ekonomie, die politiek, die regswese, die geneeskunde, die administrasie, die tegniese wetenskappe en elke ander terrein. Die Here gebruik stofmensies op skaapplase om hom te eer. Wat ‘n voorreg is dit nie om te weet dat God my elke dag in alles wil gebruik om oor sy skepping te heers. Daarom het ons elkeen verskillende talente en gawes, sodat God ons ten beste kan gebruik.

Maar die heel wonderlikste is dat God ook stofmannetjies en stofvroutjies gebruik in Sy kerk op aarde. Ewigheidswerk word deur stofwesentjies gedoen. Hy plaas hulle in die amp van leraar, ouderling, diaken en gelowige. Daarom bestaan God se kerk nie uit engele nie, maar uit stofmensies. God kommunikeer met die mens deur mense. Daarom het sy Seun mens kom word om vir die mensheid redding te bring. Daarom gebruik Hy mense om vir ander mense van Sy liefde te vertel.

Daarom het die kerk vandag so baie foute, omdat die kerk uit stofmensies en nie uit engele bestaan nie. Maak ‘n kerkleier ’n fout dan haal dit die hoofopskrifte van die Rapport. Daarom moet ons nie in die kerk sit en wonder wie is skynheilig nie, want sien die kerk is juis vir goddelose mense bedoel. Die kerk is nie van vlekvrye staal gemaak nie, maar van verganklike stof. Daarom moet ons nie aan die kerk bo-menslike eise stel nie. Die kerk is juis swak, sodat die Here sy kerk in swakheid kan gebruik.

Die wonder is egter dat die kerk met al sy foute en al nie doodloop nie. Hoekom? Omdat God sy kerk self instand hou deur sy Gees en sy Woord. Die krag van die kerk lê nie in die mensies in die kerk nie, maar in die God van die kerk. Ook ons gemeente bestaan al meer as 131 jaar en daar word al 159 jaar vanuit hierdie gebou kerk gehou vir Adelaide se gelowiges. Te midde van baie foute en gebreke bestaan hierdie gemeente omdat God self die kerk instand hou. Daarom mag ons nooit die Here se gemeente liefdeloos kritiseer of afmaak nie, want God se kerk en gemeentes het Hy met sy kosbare bloed gekoop.

Die Here gebruik stofmannetjies en stofvroutjies met al hul gebreke, byvoorbeeld die hakkelende Moses, die vlugtende Jona, die depressiewe Elia, die owerspelige Dawid, die humeurige Petrus, die ongelowige Thomas, Paulus met sy doring in die vlees en so kan die lysie aangaan. God bring deur hierdie stofmensies groot dinge tot stand. Stofmensies word sy boodskappers.

Ek het die voorreg om Adelaide se twaalfde predikant te wees. Vir 131 jaar lank al het God 12 swakke stofmannetjies gebruik om sy gemeente te bou. Hy gebruik die leraar om herder, priester en profeet vir sy gemeente te wees. Leraars moet soos ‘n pa en ‘n ma na God se gemeente omsien. Beide vaderlike en moederlike eienskappe moet hulle teenoor die gemeente openbaar.

Oor die afgelope 131 was daar honderde ouderlinge wat soos konings in die naam van die Here geregeer en gelei het.   Hulle moet soos ‘n pa bemoedig en aanspoor en die gelowiges op die hart druk om tot eer van God te leef. Daarom moet ‘n ouderling altyd vaderlik optree.

Die afgelope 131 jaar was daar honderde diakens wat getrou soos priesters gedien het. Hulle het gesorg dat die gemeente en die armes en siekes versorg is. Hulle het die offers versamel. Hulle moet soos ‘n moeder optree en seker maak dat almal in die gemeente genoeg kos het. Hulle het gesorg en gedien en seker gemaak dat die gemeente ook wat aardse middele betref oorleef.

Oor die afgelope 131 jaar was daar duisende lidmate wat in hierdie gemeente in die amp van gelowige gestaan het. Dit was hulle wat soos skape agter die Here se Woord aangeloop het. Dit was hulle wat hulle geloof elke dag prakties uitgeleef het in die gemeenskap. Baie dikwels het sommiges ook afgedwaal soos skape dikwels doen. Natuurlik groei die onkruid saam met die koring. Maar Goddank in die afgelope 131 jaar kon die onkruid nog nooit die koring toegroei nie.  Natuurlik is die gemeente soms bidloos en ontrou soos die dissipels in Getsemané. Natuurlik is die gemeente soms onwillig as dit kom by sending, ja dan hardloop ons weg soos Jona vir die Here weggehardloop het. Natuurlik is die gemeente soms nie gewillig om barmhartig te wees nie, soos wat die dissipels die 2 vissies en 5 brode vir hulself wil hou. Baie dikwels is ons soos die priester en Leviet wat verby die man stap wat langs die pad beroof en vir dood agtergelaat is.

Op die stukkie aarde (waar ons kerk staan) aanbid geslagte al vir 159 jaar. Eers het daar donkiekarre en perdekarre buite die kerkgebou gestaan. Toe kom die ou Fords wat jy met die slinger draai. Deesdae staan daar moderne voertuie in die kerkerf. Eers is daar uit die Hollandse Bybel gelees, toe die 1933 Afrikaanse vertaling, toe die 1953 Afrikaanse vertaling en toe die 1983 vertaling. Sedert verlede jaar gebruik ons die 2020 Afrikaanse vertaling. Vir soveel geslagte het duisende lofliedere vanuit die kerkruimte verrys. Soveel babatjies is gedoop. Soveel paartjies is in die huwelik bevestig. Soveel trane is hier met begrafnisse gestort, soveel duisende preke is vanaf Adelaide se kansel gelewer.

In die kerkkantoor se kluis is die vergeelde bladsye van die argiewe, wat vertel hoe God stofmannetjies en stofvroutjies gebruik het om die kerk te regeer. Die debatte het deur die jare verander. Daar was die kelkie stryd, die manelle, die vergroting van die kerk in 1951 en so kan ons nog talle debatte byvoeg, waarmee die kerkraad en gemeente moes geworstel het. Sommige was krisisjare. Tog het God sy kerk bewaar deur elke kerkraadsvergadering.

Daar was finansiële maer jare en finansiële beter jare vir die gemeente Adelaide. Tog het God nog deur alles heen sy kerk bewaar. God wil ook hê dat ons voortdurend moet planne maak sodat die kerkopbou en die kerkuitbou op Adelaide kan voortgaan. Ons moet Sy getuie wees. Ons moet missionêr en diakonaal betrokke wees in die wêreld rondom ons. Wat ‘n heerlike taak.

Die kerk is nie in die hande van stofmensies nie, maar in die hande van die lewende God.

Sias Reyneke het ‘n pragtige liedjie geskryf met die woorde: “ Ek wens jy kon jou deur my oë sien.” Ek wens u kon deur God se oë na hierdie gemeente kyk. Ek wens u kon in God se hart sien hoe lief hy hierdie stofmannetjies en stofvroutjies het. Dat Hy stofmannetjies en stofvroutjies gebruik, met al hul foute om te vertel van Sy groot dade.

Hy gebruik nie spesialiste, die engele nie. Nee, Hy gebruik stofmensies. Is daar ‘n groter wonder?

Die Here wil vir jou en my gebruik! Hy wil vir ons ook in sy gemeente op Adelaide gebruik. Dank God daarvoor.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Die “gemeenskap van gelowiges” is ’n heerlike troos.

SKRIFLESING: Prediker 4: 9 – 12 en Johannes 17: 21 – 23

Spanwerk is die geheim van alle sukses. Oorwinning kom deur spanwerk.

Spanwerk is die geheim van rugby. As elkeen net vir eie eer speel, sal die span verloor. Ons land se leuse in die ou bedeling was “Eendrag maak mag.” In my dienspligjare is soldate geleer om namekaar te kyk. Eers wanneer die laaste man in die peloton die doelwit bereik het, is die oefening voltooi. Daarom help die soldate mekaar om saam die oefening te voltooi. Dit is ook die geheim van ‘n geslaagde militêre operasie. In die natuur werk bye in die korf saam. Bokke bly in ‘n kudde om te oorleef. Leeus jag in troppe om suksesvol te wees. In die kerk bely ons ook dat ons glo “in die gemeenskap van gelowiges.”

Prediker sê ook baie duidelik, dat die mens wat net vir homself leef, kom tot niks. Prediker sê as’t ware dat die indiwidu nie alleen kan oorleef nie.

Die mens wat in ‘n span saam met sy mede – gelowiges leef, sal sterker wees. So iemand verheerlik God.

 Prediker 4: 9 – 12 beskryf dit duidelik: “Twee is beter as een, omdat daar vir hulle ‘n ruim beloning is vir hulle inspanning. Ja, as hulle val, kan die een sy maat ophelp; maar wee die een wat val sonder dat daar ‘n tweede is om hom op te help! Ook as twee by mekaar lê, kry hulle warm; maar as daar net een is, hoe kan hy warm word? As iemand die een wil oorweldig –  twee kan teen hom standhou. ‘n Driedubbele koord   word nie maklik gebreek nie.”

Ter wille van fisiese en emosionele ondersteuning, oorlewing en veiligheid is mense op mekaar aangewese. Ons is so geskape – ons is as wesens geskape wat alleen in ’n groep saam met ander kan oorleef. Daarom gebruik Prediker die beeld van ‘n driedubbele tou. ‘n Driedubbele tou is tog sterker as ‘n enkele tou.

Ons leef deesdae in ‘n tyd waarin die regte van die indiwidue meer gewig dra as die regte van ‘n gemeenskap. Dit is nie meer “een vir almal en almal vir een nie. Die verhale van die drie musketiers is hierin ‘n voorbeeld van saamstaan. Ongelukkig is dit deesdae: Elkeen vir homself en die duiwel vir die res.

Ons rysmier die huwelik en die gesin deur selfsug en deur eie belange voorop te stel. So word die huwelik en die gesinslewe verswak. ‘n Huwelik word versterk deur spanwerk, kamaraadskap en ‘n gees van offervaardigheid.

Ons rysmier die gemeenskap waarbinne ons lewe deur ‘n gees van onbetrokkenheid, kritiek, skinder en eie voordeel soek. Alle gemeenskappe in die wêreld beleef sekere fases. Daar is die groeifase van samehorigheid, die stagneerfase van onbetrokkenheid en die sterwende fase, waar ons mekaar beveg. In watter fase is Adelaide en Suid Afrika?

Ons rysmier die Christelike gemeente deur te dink ek kan my geloof op ‘n eiland beleef. Ek leef nie mee aan die gesamentlike byeenkomste van die gemeente nie, want ek wil my geloofslewe privatiseer. As ‘n mens alleen bid, word ‘n mens gou moedeloos. Maar as twee of drie saambid, kry jy die krag en geloofsmoed.

As jy op ‘n sneeudag na buite kyk en die skoonheid van die landskap bewonder, moet jy onthou dat daar nog nooit twee sneeuvlokkies dieselfde gelyk het nie. Tog is elke individuele sneeuvlokkie slegs ‘n druppel bevrore water as dit op die aarde val. Baie sneeuvlokkies bedek egter die grond en kan die gang van dinge en mense verander. As jy jou beste doen en die beste by die pogings van ander Christene aansluit, sal jy verbaas wees oor wat God met julle gesamentlike “beste” kan doen.

Haal een kooltjie uit ‘n vuur en kyk hoe gou dit doodgaan. Die kooltjie het ander kooltjies nodig om warm te bly. Ons het die gemeenskap van gelowiges nodig om te volhard. By die kerk en by die wyksbyeenkoms en by die bybelstudie het ek geestelike vriende om my te dra. Hulle kan vir my bid en ons kan vir mekaar omgee. God het die kerk en die gemeenskap van gelowiges as ‘n gawe aan sy kinders gegee.

Om eengesind te wees, om as ‘n span saam te werk is ‘n heilige opdrag aan die kerk. So dikwels rysmier ons die kerk en verswak as’t ware die kerk. Ons skeur die kerk, deur dwarstrekkery.

Daarom    roep Christus ons in Johannes 17 op om eensgesind te wees – om ‘n span te wees. God self stel vir ons daarin die voorbeeld in Johannes 17: 20 -21 met die woorde: “Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat deur hulle woorde in My glo, dat hulle almal een kan wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, en dat hulle ook in Ons kan wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.” Die heilige God-Drie-Enig vorm ‘n onlosmaaklike eenheid. Daarom word daar van die heilige “Ons” gepraat. Daarom roep Johannes 17: 22 – 23 ons ook op om eensgesind te wees, om ‘n span te wees ….. omdat die geloofwaardigheid van die kerk daarvan afhang.

Skinder, dwarstrekkery, hardkoppigheid en selfsug kan die eenheid, die spanwerk van die kerk bedreig en sodoende die geloofwaardigheid van die kerk in gedrang bring.

Jou bydrae kan ‘n verskil maak aan jou geloofsfamilie se welsyn. Die volgende verhaal illustreer dit. Op ‘n warm dag het Herman Trueblood, nadat hy afgekoel deur ‘n lekker swem in die see, gesien hoe ‘n swetende man en sy twee seuns op ‘n warm dag probeer om dié se stukkende motor teen ‘n helling op te stoot. Twee stemme het binne-in hom met mekaar begin gepraat. Een het gesê: “Daar is ‘n geleentheid vir diens; jy moet hulle help om die motor te stoot.” Die ander stem het geprotesteer: “Dit is nie jou saak nie. Jy sal net warm en vuil word. Laat hulle hul eie probleem hanteer.” Hy het uiteindelik toegegee aan sy beter impuls. Hy help toe stoot aan die motor. Die motor het beweeg en aanhou beweeg, totdat die motor se enjin begin loop het . Toe sê die man iets wat Trueblood nooit vergeet het nie. Die man steek sy vuil hand uit, en Trueblood steek sy vuil hand uit. Die man het gesê: “Ek is baie bly dat jy saamgestoot het. Jy het net genoeg krag bygevoeg om die enjin aan die gang te kry.”

Daar is het jare verloop sedert daardie warm dag, maar Trueblood kan nog steeds die man hoor sê: “Jy het net genoeg krag gehad, bygevoeg aan ons s’n, om die enjin aan die gang te kry.” Dit het  Trueblood laat nadink: “Daar is duisende mense wat sukkel om hulle swaar vrag probleme oor die heuwel te kry, en ek kan waarskynlik net genoeg krag bygevoeg om hulle probleem op te los. ” Deur my emosionele ondersteuning het ek vir iemand gehelp met sy of haar probleem.

Kom ons bid dat God ons eensgesind sal hou in die huwelik, in die gemeenskap en in die kerk. Omdat die geloofwaardigheid van die kerk daarvan afhang.

‘n Driedubbele tou breek nie maklik nie.                        AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

God kyk na die innerlike en nie na die uiterlike nie.

SKRIFLESING: 1 Samuel 16: 1 – 13

Wanneer ons na leiers soek, is ons geneig om na uiterlike kwaliteite te kyk. Voorkoms, intelligensie, agtergrond, rykdom, kwalifikasies, gewildheid, prestasies en vele ander uiterlike dinge speel ‘n rol as ons leiers kies. Dit is dalk die rede hoekom ons land oor die algemeen sulke swak leiers het. Ons leiers vertoon uiterlik goed, maar innerlik is hulle nie eg en betroubaar nie. Daarom is ons land vasgeval in staatskaping, korrupsie en morele verval.

As die Here na leiers soek, kyk Hy na innerlike opregtheid van die hart. Die Here soek nie noodwendig volmaakte, sondelose mense nie, maar vir Hom is opregtheid van groot belang.

In ons gelese gedeelte lees ons hoedat ‘n nuwe koning gesoek word, om vir Saul op te volg as koning. Saul as eerste koning van Israel het goed begin, maar algaande ‘n swak koning geword. Saul het die swaardmag gehad en Samuel het die Woordmag gehad. Saul was veronderstel om by Samuel navraag te doen oor God se wil, maar hy het eerder die heks van Endor geraadpleeg. Algaande het die Gees van God van Saul gewyk. Ons lees in 1 Samuel 15: 35 dat Samuel getreur het oor Saul en dat God bedroef was dat Hy vir Saul koning oor Sy volk gemaak het.

Dan lees ons hoedat God ‘n nuwe begin maak. Die teks in 1 Samuel 16: 1 lees as volg: “Die Here het vir Samuel gesê: “Hoe lank gaan jy nog treur oor Saul? Dit is Ek wat hom verwerp het as koning oor Israel. Vul jou horing met olie en vertrek. Ek stuur jou na Isai van Betlehem, want tussen sy seuns het Ek vir My ‘n koning gesien.”

Samuel was hoogs ontsteld gewees. Hy het gevrees as Saul daarvan hoor, dat hy hom sou doodmaak. Die Here beveel egter vir Samuel om vers saam te neem en vir die mense te sê, dat hy in vrede kom om ‘n offer te bring. Hy moet dan vir Isai ook nooi na die offer toe.

Samuel het vir Isai en sy seuns gereinig en hulle na die offer genooi. Toe hulle inkom het Samuel vir Eliab gesien en gedink die gesalfde van die Here staan voor hom. Eliab was mooi en sterk gebou met ‘n buitengewone lengte. Hy sou ‘n goeie teenvoeter vir Saul wees. Maar dan sê die Here in vers 7 vir Samuel:    “Moenie na sy voorkoms en sy rysige gestalte kyk nie, want Ek het hom afgekeur. Dit gaan immers nie oor wat die mens sien nie, want: “Die mens kyk na wat hy sien, maar die Here kyk na die hart.”

Samuel was as profeet ook ‘n “siener”, maar nou het hy as “siener” verkeerd gesien. Hy het gesien wat die mens se oog opval, en nie wat vir God tel nie. Uitdruklik word daar in die teks genoem: “ Die mens kyk na wat hy sien, maar die Here kyk na die hart.”

Die vader Isai het toe vir Abinadab voor Samuel verby laat gaan en Samuel het gedink die Here het ook nie hierdie een gekies nie. Toe het Samma verby gekom en ook vir hom het die Here nie gekies nie. Nadat Isai sewe van sy seuns voor Samuel laat verby gaan sê Samuel vir Isai dat die Here nie een van dié seuns uitverkies het nie. Toe Samuel vir Isai vra of hy nog seuns het, het hy geantwoord nog een seun, die jongste, maar hy pas skape op. Toe het Samuel opdrag gegee dat  hy gehaal moet gaan word. Isai het hom laat haal.

Die jongste seun het rooi gelaatstrekke gehad, mooi oë en ‘n goeie voorkoms. Toe gee die Here opdrag vir Samuel om op te staan en vir hom te salf, want hy is die gesalfde. Die seun se naam was Dawid. Samuel het die horing met die olie gevat en hom voor sy broers gesalf. Dan lees ons van daardie dag af het die Gees van God kragtig in Dawid gewerk.

Die Here het Dawid nie gekies omdat hy volmaak was nie. Inteendeel later in sy lewe sou hy owerspel pleeg met Batseba en haar man Uriah laat vermoor. Maar ten spyte van sy baie tekortkominge het hy ‘n rein en opregte hart gehad. Ons lees van sy opregte hart in die Psalms wat hy gedig het. Lees die aangrypende Psalm 51 waar hy sy skuld teenoor die Here bely en vrees dat die Here se Gees van hom sal wyk. In Ps 51: 12 – 13 staan daar: Skep ‘n rein hart vir my, o God, vernuwe ‘n bestendige gees in my binneste. Moet my tog nie wegdryf uit u teenwoordigheid nie; en moet u heilige Gees nie van my wegneem nie.”

Die Here het Dawid se opregte hart raakgesien en hom laat salf as toekomstige koning oor Israel. Opregtheid is vir die Here belangrik. Dawid skryf in Psalm 25: 21 die volgende: “Mag onskuld en opregtheid oor my wag hou, want ek wag op U.”

In 1 Kronieke 29: 17 skryf Dawid die volgende: “Ek weet, my God, dat U harte toets en vreugde vind in opregtheid. Ek, met opregtheid van hart het ek dit alles vrywillig gegee. En nou het ek met vreugde gesien hoe u volk wat hier teenwoordig is, vrywillig vir U gee.”

As ons staatsleiers maar net opreg was, het dit met ons land baie beter gegaan. ‘n Leier, kan baie foute hê, maar as hy of sy opreg is, is die leierskap met integriteit en eerlikheid.

Baie Bybelfigure het hulle foute en tekortkominge gehad. Moses het gehakkel, Petrus het die Here verloën, die dissipels het weggehardloop op die aand voor Goeie Vrydag, Paulus het ‘n doring in die vlees gehad en so kan ‘n mens aangaan. Maar die Here kan met ‘n krom stok ‘n reguit hou slaan. Maar jou hart moet reg wees. Dit moet opreg wees.

Ons almal is leiers op een of ander manier. Ek kan die leier van my huis, of van my onderneming of van my boerdery wees. Ek is dalk ‘n leier op die kerkraad of ‘n boerevereniging. Maar leiers met slegs uitwendige sigbare gawes alleen sal nie deug nie. My hart moet suiwer en onberispelik opreg wees. Dan eers is ek in die Here se oë ‘n regte leier.

Alle leiers speel ‘n rol. Ek speel die rol as vader, moeder, onderwyser, boer, sakeman of wat dit ook al mag wees. Maar ek speel dit nie vir altyd nie. Daarom moet ek vir die tyd wat ek die rol moet speel, my toelê op opregtheid en reinheid van hart. Dan sal ek ‘n goeie leier wees, ten spyte van my foute en tekortkominge.

Ons kyk na die uiterlike vir leierskap. Die Here kyk na die hart van ‘n leier.

(Ds. Paul Odendaal is die leraar van die NG Kerk Adelaide.) 

Leë blikke maak die meeste lawaai.

SKRIFLESING: 1 Samuel 8: 3 – 9 en Rigters 9: 8 – 15

Dit is interessant dat die  wat  niks het om te bied nie, wil graag baasspeel.

Dit is soos die Afrikaanse spreekwoord wat sê: “Leë blikke maak die meeste lawaai.” Die mense wat die minste na die tafel toe kan bring, maak die meeste lawaai. Dit is soos boelies. Hulle onder presteer, maar is meesters daarin om ander te boelie.    

 In Rigters 9: 8 – 15 kom ‘n interessante fabel van Jotam voor, wat vertel van die bome wat ‘n koning wou kies. Die bome wou vir hulle ‘n koning salf.

Heel eerste word die olyfboom gevra of om oor die bome koning te wees. Die olyfboom sê egter “Moet ek my olie prysgee, waarvoor gode en mense my prys, en dan oor die bome heen en weer gaan swaai?”

Tweedens word daar aan die vyeboom gevra om oor die bome koning te wees.  Die vyeboom sê egter: “Moet ek my soetheid en my goeie opbrengs prysgee, en dan oor die bome heen en weer gaan swaai?”

Derdens word daar aan die wingerdstok gevra om oor die bome koning te wees. Die wingerdstok antwoord: “Moet ek my nuwe wyn prysgee wat gode en mense verheug, en dan oor die bome heen en weer gaan swaai?”

Dan ten laaste, sonder enige sukses, staan daar in vers 14: “Oplaas sê al die bome toe vir die steekdoring, ‘Kom jy, wees koning oor ons!” Dit was die laaste uitweg. Onthou wat ek aan die begin van die preek gesê het, naamlik die  wat  niks het om te bied nie, wil graag baasspeel. Toe sê die steekdoringbosse, dat hy koning sal wees. Dan staan daar in vers 15: “As dit met eerlike bedoelings is dat julle my wil salf om koning oor julle te wees, kom skuil dan in my skaduwee. Maar as dit nie so is nie, sal vuur uitgaan vanuit die steekdoring en die seders van die Libanon verteer.”

Die steekdoringbosse het geen waarde nie, as om vuur te stig en vernietiging aan te blaas.

Die probleem van Suid Afrika die afgelope 25 jaar is dat swak leiers die politiek oorheers het.

Hulle is soos steekdoringbosse wat Suid Afrika aan die brand gesteek het en die land brand nog steeds fisies en figuurlik. Suid Afrika is heeltemal bankrot bestuur. Al die staatsidentiteite soos die Lugdiens, Eskom, Transnet, Prasa, SABC en nog vele ander is leeg besteel en tot ondergang bestuur. Staatsdepartemente soos die Weermag bestaan amper nie eers meer nie. Vyf-en-twintig jaar gelede was die SANW onder die 10 sterkste weermagte in die wêreld en die sterkste op die Afrika kontinent. Nou bly net ‘n skaduwee daarvan oor. Mediese dienste in die staatsdiens, polisiëring, onderwys en munisipale dienslewering het in die stof gebyt. Dorpe het verval tot algehele chaos. Grondpaaie en teerpaaie het onrybaar geword op die meeste plekke. Swak leiers, wat niks kan bied soos steekdoringbosse kan niks instand hou nie. Hulle is in posisies geplaas om oor ander bome heen en weer te swaai, maar hulle het nie die gawes om dit te doen nie.

Van steekdoringbosse sal daar ‘n vuur uitgaan, wat alles sal verswelg. Taxi geweld die afgelope week in Suid Afrika het honderde voertuie, staatsvoertuie, busse en swaarvoertuie uitgebrand en beskadig. Studente onluste, vakbondstakings en openbare oproerigheid kom weekliks in Suid Afrika voor. Misdaad het buite beheer geraak en korrupsie vreet soos kanker aan alles waaraan die staat of munisipaliteite vat.   

Die vorige regime, die apartheidsera, het ook met magsmisbruike gepaard gegaan. Dit was net so korrup. Slegs witmense is bevoordeel en die ander rassegroepe is minderwaardig geag en is soos slawe behandel en is ingeprop in lokasies sodat ons nie hulle ellende en swaarkry te hoef aanskou nie.

Elke land het ‘n geskiedenis van magsmisbruike wat soos steekdoringbosse ‘n vuur laat uitgaan en ander mense vernietig.

Eli, die profeet het ook twee steekdoringbosse as seuns gehad. Hulle was korrup en het tempelprostitusie bedryf. Eli word gelukkig opgevolg deur Samuel wat ‘n Godsman was. Onder sy leiding was daar goeie tye. Ongelukkig was Samuel se twee seuns, Joël en Abia ook steekdoringbosse.  Hulle was korrup, het omkoopgeld aangeneem en het die regspraak verdraai.

Daarom kan ‘n mens verstaan dat die volk eerder deur ‘n koning regeer wil word, as deur Samuel se twee korrupte seuns. In plaas egter daarvan dat die volk wag dat God eerder self die nuwe rigter vir hulle aanwys, wil hulle vir God voorskryf om vir hulle ‘n koning te gee soos die omliggende volke. God gee toe aan Israel se versoek om ‘n koning. Die koningskap van Israel is gekenmerk in die daaropvolgende eeue met goeie konings en slegte konings. Saul se koningskap het goed begin en het al slegter geword, totdat hy in sy eie swaard val. Dawid en Salomo was weer twee goeie konings. Die Here het Dawid beskryf as ‘n “man na aan my hart”, omdat hy so opreg was, ten spyte van sy persoonlike foute en sondes. In Dawid het die volk Israel die hoogtepunt in hulle geskiedenis gehad. Koning Salomo het weer gevra vir “wysheid” voor sy koningskap begin het. Dawid en Salomo het gawes gehad, wat hulle bekwaam gemaak het. Hulle was nie steekdorings gewees nie. Hulle gawes het van hulle staatsmanne gemaak.

 Ons vergeet maklik dat elke stelsel sommige mense bevoordeel en ander benadeel. Alle politieke stelsel dra die kiem van die sonde. Dit kan wees, monargie, feodale stelsels, sosialisme, kommunisme en kapitalisme – almal dra die kiem van onderdrukking en selfverryking. Iemand skryf: “Elke hervorming is ook vervorming. Dit is maklik om eiebelang as “die algemene belang” voor te hou.” Dit is die mensdom se probleem.      

Gedeeltes soos Psalm 72 skets hoe die ideale koningskap moet lyk. Daar staan onder andere die land floreer, die reg word gehandhaaf, die armes word beskerm en vrede heers. ‘n Goeie koning of leier  moet as “herder”, “skild” of “hervormer” kan optree, wat kan instaan ook vir die swakkes en weerloses in die samelewing. Konings en mense in leierskapposisies is altyd beskermers van die swakkes. In Esegiël 34 vaar die profeet Esegiël uit teen die staatsleiers en godsdienstige leiers van Israel wat soos sterk vet skape met hulle horings die swakkes wegdryf. Dan voorspel Esegiël dat daar ‘n Herder sal kom, wat die swak, sieklike en weerlose skape sal optel en lei na veiligheid.

Talle leiers het ‘n belowende begin, maar later tree verval in. Almal misbruik later hulle gesag. Soos een filosoof gesê het: “Mag korrupteer en absolute mag korrupteer absoluut. Al koning wat onveranderd eg bly, is die Koning met die doringkroon aan ’n kruis.

Die probleem is dat dit ons makeer aan God se barmhartigheid, genade en liefde. Hoor die duidelike opsomming van die wet van die Here in Mat 23: 23:  “Wee julle, skrifkenners en Fariseërs, skynheiliges! Want julle gee tiendes van kruisement en vinkel en komyn, maar julle het die gewigtigste van die wet nagelaat – die reg en die barmhartigheid en die trou. Hierdie dinge moes julle gedoen het sonder om die ander na te laat.”

Die Bybel veroordeel by uitstek maghebbers. Konings moet kan “servant-leaders” wees. Servant -leaders, is in die eerste plek diensknegte en dan leiers. Hulle regeer nie met mag, soos vuur wat uitgaan by die steekdoring nie. Nee, hulle regeer as dienaars van ander mense. Ook by my huis is ek nie die “baas” wat met mag regeer oor my vrou en kinders nie, maar ‘n “servant-leader.”

En tog is ons vir koningskap gemaak. Die Here het gesê in Genesis 1: 26:    “Laat Ons mense maak na ons beeld, as ons afbeelding,  sodat hulle kan heers oor die visse van die see, die voëls van die hemel, die diere en oor die hele aarde, en oor al die kruipende diere wat op die aarde rondbeweeg.”

Daarom wil die Here dat ons as “servant-leaders” die volgende onthou: “We rise by lifting others.” Dit is wat die Suid Afrikaanse leiers in post Apartheid nog nie besef nie. Hulle lig nie die land op deur leierskap nie. Nee, hulle verryk hulself met korrupsie. Hulle bevorder net hulle eie belange en nie die van hulle mede Suid Afrikaners nie. Hulle baklei onder mekaar deur faksie geweld, om net meer mag te bekom.

Ek moet ander mense optel en beter laat lyk as ekself. Ek moet ander mense optel en in ‘n beter posisie as ek plaas. Eers dan is ek ‘n leier. Eers dan verstaan ek wat koningskap beteken. Ek moet met my gawes vir ander dien.

Mag die Here ons land seën met swartmense, bruinmense, witmense en Indiërs om ons land op politieke, op maatskaplike, op ekonomiese en op alle ander vlakke van leierskap op te tel. Dit beteken leiers sal moet kniel om op te tel, voor hulle kan optel.

Dit deug nie as steekdoringbosse (sonder gawes) met mag, alles wil afbrand en vernietig nie.

Die Here Jesus het gekniel en die kindertjies opgelig. Hy het gekniel onder die kruis en ons opgelig vanuit ons sondes en ellende.                     AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)