OM GOD AF TE SKEEP
Daar bestaan altyd die gevaar dat as daar nie aan ‘n huwelik of vrienskap gewerk word nie, so ‘n huwelik sy vuur kan verloor. Die sprankel kan uit so ‘n huweliksverhouding verdwyn en dit kan iets alledaags word. Wanneer ‘n jongman en ‘n jongmeisie mekaar die hof maak, dan gee hulle die beste gedeelte van hulle tyd, energie en kragte vir mekaar of vir die vriendskap. Hulle is bereid om groot opofferings vir mekaar te maak. Niks onder die son is vir hulle moeite nie, solank hulle alleen maar vir mekaar gelukkig maak. Hulle maak voorts ook die mooiste beloftes aan mekaar.
Nou gebeur dit dikwels dat so ‘n verhouding met verloop van tyd alledaags word. Dit verloor sy opwinding en sprankel. Al minder aandag word aan mekaar gegee – die swakste deeltjie van die dag. In plaas van opofferings begin hulle mekaar nou te manipuleer om elkeen sy eie sin te kry. Alles word moeite en die eens mooie troubeloftes vervaag in vergetelheid. Ja, so ‘n huwelik word alledaags en gewoon. Ja, jou huweliksmaat word alledaags.
Die gevaar is nou net dat ons God ook alledaags kan maak. Die volk Israel het in die 5 de eeu voor Christus, God ook alledaags gemaak. Hulle het nie meer eerbied en respek vir Hom gehad nie. God het vir hulle gewoon en alledaags geword.
Het die gemeente Adelaide, nog eerbied en respek vir God? Het God nie miskien ook alledaags en gewoon hier op Adelaide geword nie? Is ons nie ook besig om God af te skeep nie?
In die boek Maleagi het God gevoel dat Hy afgeskeep word. God voel dat Hy gewoon en alledaags behandel word. Daarom Het God in die persoon van Maleagi kom huisbesoek doen by die pastorie en die gemeente van Jerusalem. Ja, Hy het die priesters en die volk gaan besoek daar in Jerusalem.
Die eerste vraag wat Maleagi tydens huisbesoek gevra het, lees ons in Maleagi 1: 6 “ ‘n Seun eer sy vader en ‘n slaaf sy eienaar, As Ek dan Vader is, waar is die eer wat my toekom? En as Ek Here is, waar is die eerbied vir my dan?”
U sien God is ontevrede oor Hy gewoon en alledaags behandel word. God word nie met die nodige respek en eer behandel nie. In vers 8 vra God of ons ook so sonder respek en eer sal optree teenoor ‘n belangrike persoon wat ons dorp sou besoek. O nee, dan word daar weke vooruit ‘n ontvangs gereël en net die beste aangebied. Tot in die fynste detail word alles beplan. Maar as aangekondig word dat God sy volk, Sy gemeente gaan ontmoet in Welshstraat, daar waar die kerkgebou staan, dan berei niemand hom voor nie.
Die volk Israel het in die volgende vier opsigte God gewoon en alledaags gemaak.
In die eerste plek het hulle God afgeskeep. Hulle het verontreinigde spyse, halwe offers, gebreklike diere vir offers gebring. Hulle het die houding, dit maak nie saak wat ons vir die Here gee nie. Dit maak nie saak hoe min tyd ons aan die Here afstaan nie. Dit maak nie saak as ons nie ons deel vir die Here doen nie.
Maak ons, onsself nie maar ook hieraan skuldig nie. Die Here word ‘n bysaak in my lewe. Ek het nie werklik die tyd en die energie om die Here te dien nie. Hy moet maar kry, wat ek Hom kan bied. Hy moet die oorskiet tyd, geld en energie kry. Die Here maak nie regtig saak nie. Ons sê: Iets is beter as niks nie. Maar God sê: Alles of niks. Met jou hele hart of glad nie.
In die tweede plek het die volk Israel God probeer manipuleer. Die volk Israel, maar ook ons het dikwels die vermetelheid om te dink ons kan God manipuleer of omkoop met die tyd, geld en energie wat ons aan God se saak bestee. In vers 9 lees ons hoedat die volk God se goedgesindheid wou koop met hulle offers. God het vir hulle so gewoon en alledaags geword, dat hulle Hom wou omkoop. God het vir hulle ‘n onder een dak inkopiesentrum geword, wat al hulle behoeftes moes bevredig.
In die derde plek het hulle godsdiensbeoefening vir hulle moeite geword. Lees ‘n bietjie vers 13: “En julle sê” Kyk wat ‘n moeite.” ‘n Mens kry daar niks uit nie. Die godsdiens bring geen profyt nie. Ek kan nie beter leef daarvan nie. God is moeite. Ja, godsdiens word vir ons moeite. Snaaks hoe baie R20 is as jy dit kerk toe neem en tog so min as jy supermark toe gaan. Snaaks hoe lank ‘n uur is, as jy die Here dien en hoe kort 60 minute is, as jy ontspan. Snaaks, hoe moeilik dit is om ‘n hele hoofstuk van die Bybel op een slag te lees en hoe maklik dit is om ‘n hele roman deur te lees. Snaaks hoe ons nie weet wat om te sê as ons bid nie – en tog kan ons ure lank oor nietighede gesels. Snaaks, hoe ‘n mens te moeg is na die week om biduur toe te gaan, maar hoe verfris jy voel as daar partytjie gehou word. Snaaks, hoe daar nie tyd is om die Here te dien nie, maar hoe ‘n mens ure lank TV kan kyk. Snaaks hoe verveel mens kan wees wanneer die dominee 15 minute lank preek, maar ‘n hoe interessant ‘n vollengte rolprent kan wees. Snaaks hoe onbekwaam ‘n mens is om vir die Here te werk, maar hoe op hoogte van sake jy kan wees oor die politiek van die dag. Snaaks hoe moeilik ‘n mens 30 km op ‘n Sondag kerk toe ry, maar sommer gou-gou ‘n funksie op ‘n Saterdagaand bywoon.
Dit is alles simptone dat ‘n mens godsdiens as moeite sien, dat ‘n mens jou neus daarvoor optrek sê Maleagi.
In die vierde plek het hulle hul geloftes en beloftes nagelaat. Ja, hulle het ook by hulle voorstelling geloftes en beloftes aan God gedoen, dat ons wil U needrig wy ons lewe.
Maar dan besluit ons tog om nie die geloftes voluit te betaal nie. Daarom bring hulle in plaas van ‘n manlike, dit wil sê volmaakte dier, liewer nou maar die verminktes. Bring daardie ou ooi met die afbeen, dié gaan saam tempel toe. Ek het ‘n gelofte om te betaal, maar dit is geen duur gelofte nie.
Het ons lidmaatskapbeloftes, doopbeloftes en ampsbeloftes nie maar ook gewoon en alledaags geword nie. Ons het eenmaal belowe om aktief aan die kerk se werksaamhede deel te neem, maar dit was sommer ‘n lieg. Die Here het vir my so onbelangrik geword dat ek Hom selde of nooit in die kerk besoek nie. Daardeur sê ons eintlik: Wie is u nou eintlik, Here? Kerkbywoning word vir ons ‘n las, nie ‘n vreugde nie.
Maak ons God nie goedkoop en alledaags nie? As ons lidmaatskapbeloftes vir ons so min beteken, hoe seer maak ons God nie.
Wanneer ons God en godsdiens so gewoon, goedkoop en alledaags maak, dan moet ons maar liewer die kerk sluit. God wil alles of niks hê nie. Niks tussen-in nie. En daarom skrei dit in God se stem in vers 10 as Hy moet sê: “ Ag, was daar maar iemand onder julle wat die deure wou sluit, dat julle nie verniet vuur op my altaar kan aansteek nie!” Wat ‘n verskriklike ding vir God om te sê: Ag, as iemand onder julle, as die koster tog maar liewer die kerkdeure wou toemaak, as die kerkklokke dan maar liewer nie op ‘n Sondag gelui het nie. As die orrelis dan maar liewer nie die introïtus gespeel het nie, as die dominee dan maar liewer voor die kanseltrappies omgedraai het en as die kerkraad maar liewer in die konsistorie agtergebly het. Dat die gemeente maar eerder voor dooiemansdeur gekom het. Kan ‘n mens jou dit ooit indink wat dit God gekos het om so vér te gaan. Hy wat met Sy liefdesaanbod voor die wêreld staan, word so beledig. Wat is dit dan wat God so ver bring?
God wil nie gewoon en alledaags behandel word nie. God sê in vers 14b dat Hy die Grootkoning is vir wie die nasies ontsag het. Dit was ‘n gelade woord in die Ou Nabye Ooste. Dit was ‘n eretitel by uitstrek.
Die Grootkoning. Die Heer. Die Heer van onderdane. Die Koning wat ‘n verbond, ‘n ooreenkoms, met sy volk het. Onthou tog dit, wil God met die titel aan hulle sê: Ons het ‘n ooreenkoms. En die ooreenkoms lui dat Ek julle uit Egipte uit gelei het en dat julle daarom die gebooie van God noet nakom. Julle hoef God nie met julle offers te manipuleer of om te koop nie. Julle offers is nie daar dat sodat God julle kan seën nie, maar omdat Hy julle geseën het. Omdat Hy julle eerste liefgehad het. Julle offers moet liefdesoffers wees. Uit julle offers moet dit duidelik word hoe lief julle God het en hoe belangrik Hy vir julle is. Julle offers is ‘n blyk van dankbaarheid: Here, die beste wat ek het vir die beste wat U my gegee het: U Seun.
En watter offers is daar nie alles waarmee ‘n mens jou liefde teenoor God kan bewys nie! Jou offers sal aantoon hoe belangrik God vir jou is. Daar is die reukwerk, die lofoffer, die dankoffer en die brandoffer.
In die eerste plek is ons die reukwerk. Soos die priesters van Jerusalem reukwerk voor Jahweh gebrand het, so noem Paulus ons die reukwerk van God. My lewe moet ‘n erediens wees. My liggaan ‘n wandelende tempel. Ons is reukwerk van God, ons is God se parfuum op aarde.
In die tweede plek is ons ‘n lofoffer. Met ons gebede en ons sang loof ons God. Ons loof Hom oor al sy weldade aan ons.
Derdens is daar die dankoffer, naamlik om goed te doen aan ons naaste, om ons naaste lief te hê.
Vierdens is daar ook die brandoffer, om mededeelsaam te wees. Want daarvoor is die brandoffer gebrand, sodat ek self nie meer tel nie. En so kan ek kom tot mededeelsaamheid. Maar voordat die brandoffer nie uitgebrand is nie, kan die geur nie versprei word nie. Jesus Christus, was die brandoffer wat Homself op Golgota uitgebrand het, sodat Hy ‘n lieflike geur vir die hele wêreld versprei.
Wie so erns maak met sy reukoffer, lofoffer, dankoffer en brandoffer aan God, sal aan God ‘n ereplek gee. Hy erken dat God die Grootkoning is.
(Die preek is gebaseer op preek wat ek eenmaal gelees het. Die skrywer het ek vergeet.)
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)