GEBED KAN DIE GESKIEDENIS VERANDER
In 1 Samuel 1 lees ons van ‘n man met die naam Elkana, wat twee vrouens gehad het. Die een was Pennina en die ander was Hanna. Penninna het kinders gehad en Hanna geen kinders nie. Dit was vir Hanna ‘n baie swaar las om te dra. In Bybelse tyd was dit ‘n skande as ‘n vrou nie kinders gehad het nie. Penninna het dan ook gereeld vir Hanna gespot oor haar kinderloosheid. Veral seuns was belangrik gewees, want die Joodse mammas het gehoop dat die Messias uit hulle sou voortkom.
Elka jaar het Elkana en sy twee vroue en Pennina se kinders van Rama waar hulle gebly het gereis na Silo om by die tenttabernakel te gaan offer. As die offervleis uitgedeel is het almal ruim gekry, maar Hanna moes tevrede wees met haar enkelporsie, omdat sy kinderloos was. Dan het Penninna vir Hanna gespot. So het dit gegaan jaar na jaar. Een jaar kon Hanna dit net nie meer hou nie. Sy het biddend die tempel ingevlug en saggies, prewelend en huilend gebid dat die Here tog vir haar ‘n seun moet gee. Sy het ‘n gelofte afgelê, dat sou die Here vir haar ‘n seun gee, die kind aan die Here gewys sal wees. Die hoëpriester Eli het eers gedink Hanna is dronk en het haar streng berispe. Hanna het egter haar hart uitgestort voor die priester. Eli bevestig toe aan haar dat die Here haar gebed sal verhoor. Sy het toe gemeenskap gehad met Elkana en toe is die seuntjie Samuel gebore.
Toe Samuel opgeskote was het Hanna haar gelofte nagekom en hom oorgegee aan die hoëpriester Eli, om hom op te lei as ‘n priester. Samuel was die punt van God se hart, want die seun Samuel het die Here geken. Dit teenoor Eli se twee priesterseuns, Hofni en Pinehas wat onsedelikheid en oneerlikheid bedryf het. Samuel was die uitverkorene wat gekies is om vir Eli eendag op te volg. Tydens Samuel se bedieningstyd sou daar ‘n einde gekom het aan die Rigtertydperk van 500 jaar en sou die tydperk van konings in Israel se geskiedenis begin. Samuel sou beide Saul en Dawid as konings inseën. So het die geskiedenis van Israel onherroeplik verander.
Somtyds dink ons net groot massa gebedsgeleenthede soos die van Oom Angus Buchan of van bekende charismatiese geestelikes het die krag om sake te verander. Tog vergeet ons dat Hanna ‘n eenvoudige vrou was, wat stammelend en sukkelend gebid het. Tog het die Here haar eenvoudige gebed gebruik om die geskiedenis van Israel onherroeplik te verander.
Jy hoef nie grasieus soos ‘n vegvliegtuig te bid nie, Jy kan maar sukkelend bid soos ‘n twee motorige klein vliegtuigie wat sukkel om van die grond te kom. In Openbaring word gesê dat die Here die swakke gebede van sy kinders verander in wierook wat vir die Here aanneemlik is.
As ons geen toekoms sien vir ons land se toekoms nie, kan die gebed van ‘n enkeling rimpels veroorsaak vir ‘n nuwe toekoms. Daar is plek vir massa – gebedsgeleenthede, maar daar is ook verseker plek vir die gebed van ‘n enkele mens wat sukkelend bid. Daarom moet elke indiwidule gelowige ‘n bidder wees. Nie ‘n geleentheidsbidder nie. Gebed is ‘n stuurwiel, nie ‘n noodwiel nie.
Daarom moet ons versigtig wees om die feit mis te kyk, dat God ook deur jou persoonlike intieme gebede, die toekoms van die land en jou lewe kan verander.
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)