SKRIFLESING: Johannes 19:30
Meestal spog mense oor hoeveel jare diens hulle gehad het by ’n firma of ’n onderneming. Party het 20, of 30, of 45 jaar diens gehad. Elkeen wat aftree, kry gewoonlik ’n groot feestelike afskeid. Jesus se bedieningstyd was ’n skrale drie jaar. Daar was hoogtepunte en laagtepunte. Uiteindelik is Hy uit Sy diens ontslaan deur aan ’n kruis van skande te hang, om die skande van die mensdom weg te neem.

In die oorspronklike Grieks word die drie Afrikaanse woorde “Dit is volbring” in een woord saamgevat naamlik “Tetelestai”. Die woord is in Jesus se tyd algemeen gebruik.
“Tetelestai” is die sesde kruiswoord, wat oorwinning beklemtoon. Dit is die hoogtepunt van die kruisiging, want hiermee sê Jesus dat Sy werk afgehandel is. Hy het betaal vir die sonde van die mensdom.
Ds Jean Strydom en Weila-Marie Strydom het in hulle boek Sewe kruiswoorde van die Here, wat in 2010 verskyn het, ’n interessante verdeling gemaak van die gebruik van die woord “Tetelestai”. Hulle pragtige verduideliking word hieronder opgesom.
“Tetelestai” was gebruik deur:
- Kunstenaars
- Diensknegte
- Priesters
- Handelaars
Kom ons kyk na die vier gebruike.
- Kunstenaars
Wanneer ’n kunstenaar sy kunswerk voltooi het, het hy teruggestaan en gesê: “Tetelestai” – dit is voltooi! In die Ou Testament leer ons dat God net praat deur beelde, simbole, die verskyning van engele, die Tien Gebooie, wette, profetiese voorspellings en wysheidsliteratuur. Maar ons ken God net gedeeltelik deur die Ou Testamentiese Openbaring.

In die Nuwe Testament ontdek ons God in Johannes 1 as die vleesgeworde Woord, wat die menslike natuur aangeneem het. Hierdie vleesgeworde Woord is Jesus Christus. In Jesus word die kunswerk van God se openbaring voltooi. God se hart vir die mensdom word geskilder in Jesus se sewe kruiswoorde aan die kruis. God het so lief gehad, dat Hy sy Seun aan die kruis laat sterf het. Dit was die finale kwasstrepe, wat openbaar hoe groot en wyd God se liefde strek. Die kunswerk van die Godsopenbaring is voltooi – “Tetelestai”.
2. Diensknegte
Wanneer ’n meester aan ’n dienskneg ’n opdrag gee en die taak is voltooi, sal die dienskneg vir sy meester sê: Tetelestai – dit is afgehandel. Die opdrag is voltooi.

So het die Vader ook Sy Seun met ’n opdrag na die wêreld gestuur. Die opdrag was om die wêreld te red van sonde en die nuwe Koninkryk te vestig. Vir die Here Jesus Christus het dit gevra om ’n lydenspad te stap. Jesus Christus was die groot dienskneg wat Sy dissipels se voete gewas het. Die lydenspad het geëindig met ’n wrede dood aan ’n kruis vir die wêreld se sonde. Aan die kruis kon Jesus uitroep: Tetelestai – dit is afgehandel. Die opdrag is voltooi.
3. Priesters
Die Jode moes eers hulle offerandes na die priesters bring om seker te maak daar is geen foute of gebreke aan hulle offers nie. Nadat die priesters die offer deeglik ondersoek het en geen fout kon vind nie, het hy die Hebreeuse ekwivalent vir die Griekse woord “Tetelestai” gebruik, wat beteken “die offer is perfek.” Jesus aan die kruis was die perfekte en volmaakte sondelose offer. Selfs sy vyande het erken Hy het geen foute nie. Pilatus het bevestig dat hy geen skuld in hierdie man sien nie (Luk 23:4). Judas het ook in Mat 27:4 erken dat hy ’n onskuldige man verraai het. Toe Jesus aan die kruis uitroep: “Tetelestai”, was dit die bevestiging dat die perfekte offer gebring is.
4. Handelaars
Vir die handelaars het die woord “Tetelestai” verwys na die betaling van iets wat geskuld word.

As jy iets koop, sou die handelaar jou geld neem en aan jou ’n bewys van betaling, ’n kwitansie, uitreik. Op die kwitansie sou staan: “Tetelestai – ten volle betaal.” Tetelestai is dus ’n rekenkundige term wat op ’n rekening aangebring word om aan te toon dat die rekening volledig vereffen is. Dit beteken dat die rekening van ons opgestapelde sonde nou ten volle deur Jesus betaal is. Ons het geen skuld meer nie. The slate is clean! Toe Jesus aan die kruis uitroep: “Tetelestai”, het Hy bedoel al ons sondes is ten volle betaal.
Vir die dissipels en volgelinge was die Vrydag van Jesus se kruisiging ’n swart Vrydag. Christus het gesterf. Eers later, na Paassondag, sou die vroeë kerk in perspektief die dag waarop Jesus gesterf het as ’n Goeie Vrydag beskou.
In die sestiende eeu het Oliver Cromwell beveel dat ’n Engelse soldaat vir ‘n lafhartige misdaad geskiet word. Die teregstelling sou met die aandklok plaasvind. Maar op die vasgestelde tyd het geen geluid uit die kloktoring gekom nie. Ondersoek het aan die lig gebring dat die meisie wat verloof was aan die veroordeelde man, in die kloktoring geklim het en aan die bel van die reusagtige klok vasgeklou het om te keer dat dit slaan. Hulle het haar daar gekry met haar hande bloeiend en aan flarde geskeur. Die Engelse soldaat is toe uit genade vrygelaat, vanweë die dapper optrede van sy verloofde.
Almal van ons is sondaars onder die doodsvonnis. Maar Christus het namens ons ingegryp. Kyk na Sy gekneusde en bloeiende spyker-deurboorde hande aan daardie kruis.
Die doodsklok lui nie vir ons nie. Ons is vrygespreek.
Tetelestai – Dit is volbring!
AMEN
BRONNELYS
Strydom, Jean & Strydom, Weila-Marie, 2010. Sewe kruiswoorde van die Here.
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)