Skaakmat!


SKRIFLESING:  Rom 4: 25, 1 Kor 15: 54 – 58

’n Groot teoloog het eenmaal opgemerk: “Al was Jesus ’n duisendmaal gebore in Betlehem en al het Hy ’n honderdmaal gesterf op Golgota, maar Hy het nie een keer opgestaan nie, was ons geloof tevergeefs”. Toe Jesus op Goeie Vrydag aan die kruis gehang en later gesterf het, het dit gelyk of die Satan gewen het. Dit het gelyk of Jesus verloor het.

Maar wag, daar was nog ’n laaste skuif. Niemand het die skuif verwag nie. Die dissipels en die vroue het geglo dat Jesus weg is, dood is en nooit weer terugkom nie. Daarom het die vroue die Sondagoggend vroeg gegaan om sy liggaam te salf met olies. Hulle vind die groot steen weggerol en die graf leeg. Hulle het gedink  die tuinier het die liggaam verskuif. Hulle dink die dood het oorwin. Die bose het oorwin.

Dit lyk so asof die duiwel die uitklophou gegee het. Dit lyk asof Jesus verloor het teen die dood. Maar dan plaas die Here Jesus die duiwel in die SKAAKMAT-posisie. Die Here Jesus oorwin die dood, die bose en die duiwel. Die Here Jesus het opgestaan uit die dood en Hy lewe. Hy verskyn aan die vroue, later aan die dissipels en nog later aan vele ander mense.

Dit was die gebruik om in die vroeë kerk die Paasdiens met ’n Paasgrap te begin – deur te spot met die dood en met die duiwel wat verslaan is.

Jesus se opstanding was moontlik, omdat Hy die perfekte Lam van God was. Op Goeie Vrydag – toe Jesus gekruisig is – was duisende paaslammers geslag vir die pasga. Elkeen is deur die priesters ondersoek om seker te maak hulle is perfek. Terwyl die proses aan die gang was, is Jesus (as die Lam van God) ook ondersoek deur Pilatus. Drie keer het Pilatus verklaar dat hy geen skuld in die Man vind nie. Daarom word Hy die perfekte Lam van God genoem. Die priesters het nooit die sondaarmense ondervra oor hulle sonde nie. Op grond van die paaslammers se perfeksie is hulle sonde weggeneem. Netso kyk God ook nie na ons sondaars se sonde nie, maar na die perfekte Lam van God wat geslag is. Toe Jesus in Sy sesde kruiswoord sê: “Tetelestai” – Dit is volbring, is ons regverdig verklaar. Omdat Jesus onskuldig gesterf het, kon Hy op die derde dag opstaan uit die dode en kon Jesus se onskuld ook ons onskuld word. Daarom staan daar in  Rom 4:25 die volgende: “Hy is ter wille van ons oortredings oorgelewer, en ter wille van ons regverdigmaking opgewek.” Na aanleiding van bogenoemde verduideliking van Pieter Scholtz, skryf hy verder: “Ons sondes het Sy dood tot gevolg gehad. Ons regverdigmaking het Sy opstanding tot gevolg gehad. Sy opstanding was die kwitansie van jou verlossing. Sy opstanding maak jou onskuld bekend.”

Geliefdes, u moet onthou, as Jesus net aan ’n kruis gesterf het en nie opgestaan het uit die dood nie, was ons sondes nie vergewe nie. Sy opstanding is die kwitansie dat die sonde en die dood oorwin is.

Jesus het die sonde en die dood oorwin. Maar ’n mens kan vra, as die Here dan die sonde oorwin het en ’n nuwe begin aangekondig het, hoekom is daar so baie geweld, ellende en swaar in die wêreld oor. Hoekom is daar oorlog in die Oekraïne?

Karl Barth kon aangrypend hieroor skryf : “Pase is die verkondiging van ’n oorwinning wat reeds behaal is. Die oorlog is verby. Daar is natuurlik nog hier en daar troepe wat aan die skiet is, maar dit is omdat hulle nog nie gehoor het van die oorgawe nie. Die spel is gewen, al kan die verloorder nog ’n paar skuiwe maak. In werklikheid is hy reeds in die skaakmat-posisie. Die horlosie het afgeloop, al kan die pendulum nog ’n paar keer heen en weer swaai. Dit is in hierdie tussenperiode dat ons leef: Die oue het verbygegaan, kyk, alles het nuut geword. Die Paasboodskap sê vir ons vyande – die sonde, die vloek en die dood  is oorwin. Op die lange duur kan hulle geen onheil meer teen ons loods nie. Hulle tree wel nog op asof die spel nie beslis is nie, asof die oorlog nie reeds gewen is nie. Daarom moet ons met hulle rekening hou, maar wesenlik kan ons maar ophou om hulle te vrees.”

My ouma op Strydenburg het altyd hoenders aangehou vir eiers en slag. As klein seuntjie het ek altyd gesien hoe sy die slaghoenders se koppe afkap met ’n byl op ’n stomp hout. As die kop afgekap is, hol die hoender nog so sonder sy kop vir ’n kort rukkie rond. Ek het altyd aardig gevoel. Maar net so is dit met die duiwel. Hy is ’n afkophoender wat rondhardloop, maar eintlik is hy alreeds dood. Die duiwel is soos ’n afkopslang wat nog vir minute lank met sy lyf ’n doodsroggeling uitvoer.

In een van die dorpies van Noord-Indië het ’n sendeling in ’n saal gepreek. Toe hy klaar maak, het ’n Moslem na vore gekom en gesê: “Jy moet erken ons het een ding wat jy nie het nie, en dit is beter as enigiets wat jy het.” Die sendeling het geglimlag en gesê: “Ek wil graag weet wat dit is?” Die Moslem het gesê: “Julle weet, wanneer ons na Mekka gaan, kry ons ten minste ’n kis. Maar wanneer julle Christene na Jerusalem gaan, wat julle Mekka is, vind julle niks anders as ’n leë graf nie.” Maar die sendeling het net geglimlag en gesê: “Dit is net die verskil. Mohammed is dood; Mohammed is in die kis. En valse sisteme van godsdiens en filosofie is in hulle kiste, maar Jesus Christus, wie se Koninkryk alle nasies en stamme insluit, is nie hier nie; Hy het opgestaan. En aan Hom is alle mag gegee in die hemel en op aarde. Dit is ons hoop.” ’n Lewende Christus! Dit is ons hoop. Hy is nie dood nie, maar lewe vir ewig.

Die Nederlander, Jan Willem Stam, skryf dat beide die sondeval en die verlossing uit die sondeval, in ’n tuin plaasvind. Adam en Eva het gesondig in die tuin van Eden en is uit die tuin verjaag. Jesus het met sy opstanding in die tuin van Josef van Arimathea, ’n einde kom maak aan die sonde van die mens. Daarom is daar vergifnis in Jesus se bloed.

Die Here Jesus het die duiwel in SKAAKMAT gesit. Die Here Jesus het oorwin. Daarom is ons saam met Hom oorwinnaars oor sonde en dood. Jesus se opstanding is God se “amen” en die mens se “halleluja.”                 AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s