Die dissipline van eenvoud


SKRIFLESING:  Luk 12: 33 – 34

Eenvoud is mooi. Ons maak die lewe ingewikkeld deur baie onnodige weelde en besige agendas. Foster beskryf die Christelike dissipline van eenvoud as ’n innerlike werklikheid, wat in ’n uiterlike lewenswyse tot uiting kom. Jy moet eers in jou hart en ingesteldheid eenvoudig dink oor die lewe, voordat dit in die uiterlike gesien kan word.

Kierkegaard het die kern van die Christelike eenvoud raak beskryf in sy boek, “Purity of heart is to will one thing.” Ons ervaring van innerlike eenvoud maak ons uiterlik vry. Die hunkering na status, rykdom en posisie in die samelewing verdwyn, omdat ons dit nie meer nodig het nie. Ons morele kompas is nou innerlike eenvoud en om met die eenvoudige dinge in die lewe tevrede te wees. Richard E Byrd het uit die barre Antarktika  geskryf: “Ek is besig om te leer … dat ’n mens diep kan lewe sonder hope dinge.”

Dikwels koop mense dinge waarvan hulle nie eers hou nie, en wat hulle nòg nodig het nòg geniet, maar bloot omdat hulle mense wil beïndruk. Status, geld, besittings en geldgierigheid is die dryfvere van mense se bestaan en dit laat die wêreld-ekonomie tik. Hebsug word ambisie genoem, opgaring noem ons verstandigheid en gierigheid noem ons ondernemingsgees.

Vir ryk mense het die mensdom agting en op hulle wat eenvoudig lewe word neergesien. As ons maar besef dat alles tot niks kom. As ’n mens jonk is, koop jy ’n huis; jy bou aan; maak alles groter, en koop meer meubels, want jy het kinders. As die kinders eers die huis verlaat, is die algemene wet dat mense weer wil kleiner gaan. Die huis is te groot om te onderhou en skoon te hou. Dan gaan mense weer kleiner en gee hulle besittings vir hulle kinders of verkoop dit en gaan bly in ’n kleiner wooneenheid. Later as jy heelwat ouer geword het, beland jy in ’n ouetehuis met net ’n bed, tafel en stoel. As jy heeltemal te oud is en nie meer veilig kan bestuur nie, dan neem die kinders jou motor ook van jou af weg. So baat al ons ywer en versameling van goed deur die jare niks. Alles kom tot niks. Aan die einde van ons lewe beland ons in die nissie in die kerkmuur, met regtig niks nie, behalwe die inskripsie op die steen, dat jy eenmaal geleef het.

Psalm 62: 11 (b) lees: “Rykdom, as dit toeneem –  moet julle hart nie daarop sit nie.” Rykdom en die versameling van goed is nie verkeerd nie, maar jy moet nie jou hart daarop sit nie. Jou besittings moet nie vir jou ’n Mammon word nie, want ’n mens kan nie vir twee base tegelyk werk nie. Jy kan nie die Here en Mammon dien nie. 

In Spreuke 11: 28 (a) staan daar: “Wie op sy rykdom vertrou, val self.” ’n Mens moet rykdom en besittings in die regte lig sien. Die volgende twee stellings is verkeerd, naamlik om “’n oormaat vertroue in besittings te stel”, asook “totale asketisme, wat met armoede gepaardgaan.” Die Here wil nie een van die twee hê nie. ’n Oormaat vertroue in besittings, maak dat ons Mammon dien, maar ewe verkeerd is om uit vrye keuse in totale armoede te lewe.  Gedwonge armoede is ook uit die bose. Die Here wil nie hê ons moet gebrek ly en onsself verneder nie. Asketisme doen afstand van besittings. Eenvoud plaas besittings in die regte perspektief. Asketisme laat geen ruimte vir “’n land wat oorloop van melk en heuning” nie. Eenvoud is tevrede met armoede sowel as met oorvloed. (Fil 4: 12) Die Here wil vir ons genoeg gee en hê dat ons daarmee tevrede moet wees.

Daar is niks verkeerd daarmee om besittings te hê en dit te geniet nie. Die aartsvaders soos Abraham en Jakob was ook baie ryk. Lot in die Bybel was ook baie ryk. Maar die Here het Lot se hart getoets om te bepaal of hy die Here net dien oor die besittings. Maar toe God al die besittings van Lot af weggevat het, het hy nog steeds die Here gedien. Sy liefde vir die Here het nie verkoel toe sy besittings en geliefdes weggeval het nie. Lot het die Here gedien en nie vir Mammon nie. Daarom het die Here later vir Job tienvoudig teruggegee wat van hom af weggevat is.

Wanneer rykdom en goed jou te na aan die hart lê, kan jy moeilik in die koninkryk van God kom. Daarom sê die Here dat dit vir ’n ryke net so moeilik is om in die koninkryk van God te kom as wat dit vir ’n kameel is om deur ’n naald se oog te gaan. Jesus het gesien watter houvas rykdom op ’n mens kan hê. Hy het geweet waar jou skat is, sal ook jou hart wees. Daarom het Hy sy volgelinge beveel om nie vir hulle skatte op aarde bymekaar te maak nie.

In Luk 12: 33 – 34 staan daar: “Verkoop julle besittings en gee vir liefdadigheid. Maak vir julle beursies wat nie vergaan nie, ’n onuitputlike skat in die hemel, waar ’n dief nie kan bykom en geen mot kan verniel nie. Want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.” Dit beteken dat as die Here vir jou ryklik gee, jy nie suinig moet wees om vir die armes te gee nie. Daardeur sal jy bewys lewer dat Mammon nie jou god is nie. Foster skryf: “Eenvoud stel ons vry om die voorsiening van God te aanvaar as ’n gawe wat nie vir onsself gehou moet word nie, maar vrylik met ander gedeel moet word.”

Belangrike beginsels is: Koop dinge omdat hulle nuttig is, nie oor hulle status nie. Veral motors moet oor hulle nuttigheidswaarde gekoop word en nie oor die status wat dit vir jou gee nie. Moenie elke seisoen die nuutste modes in klere najaag nie. Modes is daar sodat modehuise kan geld maak. Verwerp alles wat jou kan verslaaf. Kweek die gewoonte aan om dinge weg te gee. Gee byvoorbeeld jou tweedehandse klere vir Agapé Winkel. Hulle verkoop dit goedkoop aan die armes. Die opbrengs word gebruik om projekte by Huis Corrie Dreyer te finansier. In die proses help jy die armes en die Ouetehuis.

Geniet dinge, sonder om dit te besit. Jy kan parke, strande en openbare ruimtes geniet sonder om dit te besit.

Vermy finansiële praktyke waar jy moontlik ander mense kan onderdruk. Betaal ’n regverdige loon. Jou weegskaal moet reg ingestel wees as jy dinge verkoop. Moenie mense finansieel uitbuit nie.

Minimalisme behoort die gelowige se wagwoord te word as dit by eenvoud kom. Strewe na die minimum. Oortollige goed vergader net stof en roes. Raak ontslae van goed wat jy opgegaar het deur die jare. Jy sal ’n stuk vryheid in minimalisme ontdek. Koop die goed wat jy werklik nodig het. Geniet ook jou besittings, want dit is gawes uit die hand van God.

Leef in eenvoud en jy sal God sien.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

BRONNELYS:

Foster, R. 1992. ’n Tyd vir toewyding. Kaapstad, Struik Christelike Boeke (Edms) Bpk.

Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.   

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s