SKRIFLESING: Gal 5: 16 – 25
Die broken windows teorie is in 1982 bekendgestel deur James Wilson en George Kelling. Dit is begin toepas in die 1990’s deur die New Yorkse polisiekommissaris William Bratton en majoor Rudy Giuliani.

Kom ek verduidelik vir u wat die broken windows teorie kortliks beteken. As daar ’n verlate gebou in ’n woonbuurt staan en iemand gooi een venster stukkend, klink dit nie so erg nie. Dit kon ’n ongeluk ook gewees het. As die venster nie dadelik reggemaak word nie, lok dit egter ander kriminele om ook vensters stukkend te gooi, omdat hulle agterkom daar is geen toesig nie. Wanneer die meeste ruite uitgeslaan is, sien die kriminele hier is geen polisiëring en toesig nie. Dan kom die dwelmsmouse om die gebou te begin gebruik vir dwelmhandel. Dan word die gebou en omgewing die teelaarde van al groter misdade.

Die broken windows teorie impliseer as jy klein misdade (petty crime) nie aanspreek nie, word die omgewing die teelaarde van al groter misdade. Vandalisme, publieke gebruik van drank, rommelstrooi, doellose rondlopery, graffiti, openbare urinering, die speel van harde musiek en vele ander klein misdade, wat nie aangespreek word deur die polisie nie, ontaard later in groot misdade soos moord, diefstal, gewapende roof, verkragting en so meer.
Maak gebreekte vensters reg, verwyder graffiti, spreek petty crime betyds aan en jy skep nie ’n teelaarde vir misdaad nie. Moenie ’n ongesonde habitat kweek wat misdaad-elemente laat floreer nie. So kan jy misdaad voorkom en ’n gesonde samelewing van wetsorde kweek.
In ons gelese gedeelte, naamlik Gal 5: 16 – 25, word “Gees” teenoor “vlees” gestel. Die vlees met al sy begeertes skep ’n habitat vir satan en die bose. Die habitat of teelaarde vir die satan en die bose word as volg beskryf in Gal 5: 19 – 21: “Die praktyke van ons vlees is goed bekend, naamlik onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloesie, woede, selfsug, tweespalt, skeuring, afguns, dronkenskap en gefuif.” Bogenoemde sondes is die broken windows van die gelowiges. Wie die praktyke van die vlees beoefen, sal al meer verwyderd raak van God en sy/haar medemens. Die een sonde lei tot groter sondes. As iemand skinder, dan bring hy skeuring en tweespalt. Skeuring lei weer tot twis. Twis lei tot vyandskap. Vyandskap lei weer tot afguns. Afguns lei tot bitterheid en onvergewensgesindheid. So word my geestelike lewe stukkend gegooi met die sondes. Dit word die teelaarde waar die satan heerskappy voer. Later lei die “kleiner sondes” tot groter sondes.
Daarom moet gelowiges die klein jakkalsies van sonde betyds doodmaak. Ek moet nie die jakkalsies (sonde) aan my boesem hou nie. Hulle word groot en sal my verslind. Wanneer ek vir die een versoeking val, val ek makliker vir ’n tweede en erger versoeking. Versoekinge en sonde sneeubal in die sondaar se lewe. Daarom moet sonde nie ’n vashouplek aan my kry nie. My geestelike lewe kan stukkend geslaan word deur die vandalisme van sonde, soos die vensters van ’n groot gebou. In Christus Jesus kan ek die krag kry om die vlees met sy hartstogte en begeertes te kruisig.
Waar die sondes van die vlees die vensters stukkend gooi, plaas die Gees nuwe vensters in ons geestelike lewe. Wanneer die Gees in my lewe werk, word die werke van die vlees doodgemaak. Luister ’n bietjie watter nuwe vensters deur die Gees in my lewe gesit word. Ons lees daarvan in Gal 5: 22 – 23, wat as volg lui: “Maar die vrug van die Gees is: liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.” Deur hierdie nuwe vensters kan ek makliker vir God en my naaste raaksien.
Vers 25 roep ons op om in pas te bly met die Gees. As ons in pas bly met die Gees, sal ons gerehabiliteer word van ons sondes. “Om in pas te bly” verwys na soldate wat in ritme en pas moet bly as hulle marsjeer. Om in pas te bly, beteken jy moet konsentreer op elke bevel wat gegee word. Jy moet jou laat lei deur die werking en ritme van die Gees.
Wanneer jy jou deur die Gees laat lei, maak jy die gebreekte vensters heel, en keer groter sondes in jou lewe.
’n Netjiese gebou of fabriek trek nie sommer misdadigers nie. Misdadigers weet hier is mense wat kyk na die gebou. Maar ’n verwaarloosde gebou trek misdadigers.
Ons kan baie moeite doen om ons huis, ons tuin, ons voertuig en ons werksplek netjies te maak. Ons hou ons liggame skoon en ons kleredrag netjies. Maar die Here wil hê dat ook ons geestelike lewe netjies moet wees. My taal moet netjies wees sonder vloekwoorde en skinder. My gedrag moet netjies wees, sonder sondige dade. My gedagtes moet netjies wees, sonder sonde. My menseverhoudings moet netjies wees, sonder om in twis en tweedrag te lewe.
As my geestelike lewe netjies is, kan die duiwel nie ’n vatplek aan my kry nie. Die duiwel sal nie floreer in my lewe nie. My geestelike lewe sal bestand wees teen groot sonde, omdat ek in die klein dingetjies aan God gehoorsaam is.
Daarom moet ek die gebreekte vensters (die sonde) in my lewe herstel. Ek moet die sonde-graffiti in my lewe doodverf. Dan sal die satan weet dat die Gees in my lewe is en dat dit vir hom baie moeilik is om my in sonde te laat val.
Wanneer die groot duiwel vir die klein duiweltjies leer hoe om mense te versoek, dan leer hy hulle om die mense geleidelik te kondisioneer. Wanneer ’n mens ’n padda onmiddellik in warm water gooi, sal hy dadelik uitspring. Maar as die water waarin die padda is, normale temperatuur is en jy verhoog die temperatuur geleidelik, sal die padda nie agterkom dat die water verhit nie, en sodoende sal die padda doodbrand in die kokende water. Net so konfronteer die duiwel ons nie onmiddellik met groot sondes nie. Hy maak ons stadig maar seker aan sondes gewoond. Eers moet jy aan kleiner sondes gewoond raak en dan val jy later vir groot sondes. Eers ’n ligte flirtasie, wat later egbreuk en owerspel raak. Die diefstal van ’n paar rand word later bedrog op groot skaal. ’n Toevallige vloekwoord kan later ’n gewoonte van vloek word, sodat jy soos ’n matroos vloek. Daarom ook, as jy die gewone padreëls gehoorsaam, sal jy heel waarskynlik ook in die groot dinge van die lewe getrou wees. ’n Mens leer sondige gewoontes aan wat klein begin en later lelike gewoontes word.
Augustinus het gesê sonde is “privatio boni” – ’n berowing van die goeie. Sonde teer op die goeie. Sonde leef na aan die goeie. Sonde volg die goeie soos ’n skaduwee. Sonde misbruik die goeie. Sonde beroof die goeie. Sonde lewe van die goeie. Sonde is soos ’n parasiet. Daarom is dit moeilik om sonde te herken. Die bose doen hom voor as ’n engel van die lig.
Daarom moet ons “coram Deo” mense wees. Dan lewe jy voor die aangesig van God.

Dan lewe jy so deursigtig dat jy nie ’n kamera vrees nie. Waarom vrees ons spoedkameras? Omdat ons bang is ons word gevang. Omdat ons die spoedgrens oortree, lewe ons in vrees vir spoedkameras. As ons binne die spoedgrens bestuur, vrees ons nie ’n spoedkamera nie. Wees in die klein dingetjies getrou, dan sal jy ook in die groot dinge getrou wees.
Kom ons onthou die les van die broken windows teorie. Klein dingetjies, soos gebreekte ruite wat nie dadelik vervang word nie, kan aanleiding gee tot groter misdaadprobleme. As ek in die klein dingetjies van die Here ontrou is, sal ek ook in die groot dinge ontrou wees. Geestelike dissipline beteken om sonde in my lewe sommer aan die beginstadium uit te roei. Ek moet nie vir die sonde ’n vatkans in my lewe gee nie.
Dan sal ek ’n oorwinningslewe leef voor die Here. Dan sal my lewe netjies en vrugbaar wees voor God.
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)
BRONNELYS:
Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.