SKRIFLESING: Luk 12: 35 – 48
Die Kerk moet verander, maar dan altyd ten goede. Die kerk moet voortdurend bekeer na die wil van God. Net soos daar by elke mens, voortdurende bekering moet wees. Die kerk het die afgelope 50 jaar baie verander.
Die Afrikaanse susterskerke en veral die NG Kerk het vir baie jare ’n heerskap funksie in die Suid-Afrikaanse samelewing vervul. Die NG Kerk was ’n gerekende en gerespekteerde kerk. Die Broederbond het in ’n groot mate aan die Suid Afrikaanse geskiedenis rigting gegee. ’n Baie groot persentasie NG Kerk predikante was lede van die organisasie. ’n Paar dekades gelede kon ’n getuigskrif van ‘n NG Kerk – dominee, vir jou deure oopmaak. Die NG Kerk was as’t ware die NP-party in gebed. Die NG Kerk het feitlik kritiekloos teenoor die regering van die dag gestaan.
Die baie ouer mense sal onthou, die kerklike stryd om tydens die Nagmaal uit die beker of die kelkie te drink.

Daar was die stryd om weg te doen met die vrouens se hoede. Met stryd is daar afstand gedoen van die manelpak en wit dasse. Mense het gestry oor hulle sitplek in die kerk en daar was jaarliks ook ’n heffing om jou sitplek in die kerk te bespreek. Met groot moeite is daarvan afstand gedoen. Daar was die stryd of vrouens met ’n langbroek mag kerk toe gaan.

Daar was die stryd om vir vrouens toe te laat in die ampte en selfs op die kansel. Daar was die stryd of die kerkraad in die kerkraadsbanke moet sit of dat hulle by hul families mag sit. Later was daar die stryd oor kleredrag in die kerk. Jy moes altyd op jou beste kerk toe gaan. Ander het weer geoordeel, dat jy met enige klere kan kerk toe kom.
Baie dinge het verander. Wat die kerk eers gesê is reg, is nou nie meer reg nie. Die uitsprake van die kerk het verander. Die NG Kerk het eers gesê dat apartheid Bybels is, in “Ras, volk en nasie”. Later het die kerk uitgesproke teen apartheid gedraai en daarteen gepraat en dit so verwoord in “Kerk en samelewing.” Die NG Kerk het selfs ook skuldbelydenis gedoen oor besluite en uitsprake van vroeër. Die kerk het hier ten goede verander.
Natuurlik gebeur daar ook nuwe sieninge in die kerk, wat die kerk ten kwade kan verander. Gedurig is daar ’n aanval op Skrifgesag en Skrifbeskouing wat nie vir God en die kerk tot verheerliking lei nie. Menseregte word opgehemel ten koste van die Bybel en die wil van God. Teen hierdie goed moet ons waak.

Die kerk het die peiltjiebord of die “daart-board” geword van gelowiges, maar ook van die wêreld. Die jagseisoen is oop vir mense om jag te maak op die NG Kerk. Veral vir talle jongmense is dit op die oomblik ’n ernstige vraag hoe om die kerk te beskou en of die kerk nog geglo en vertrou en gevolg kan word.
Kleredrag, ampsdrag, my sitplek in die kerk en die formele swaar liturgie het immers vir dekades, die kerk laat voel dit is mos kerk. Tog het Christus Jesus geen klere gehad wat hom onderskei het van ander mense nie. Hy het geen belangrike sitplek gehad nie en in sy dienste kon die kinders maar lag en huil. Hy was informeel ’n vriend vir die sondaars. Inderdaad het hulle die Here Jesus nie herken aan sy kleredrag, of sy sitplek in die sinagoge of aan sy stemtoon nie, maar hulle het hom herken in die dade wat hy gedoen het en die radikale goed wat hy gesê het. Sy lewe en nie sy klere, sy woorde en nie sy sitplek in die sinagoge het die mense laat besef dat Hy die Messias is. Hoe dikwels kan ons in ons kerk aan mensgemaakte formele uiterlike dinge vashou, maar die wesenlike die getrouheid aan die Evangelie gaan by ons verby nie.
Die NG Kerk het inderdaad baie van sy uiterlike formaliteite, aansien en status in die samelewing verloor. Ons kan selfs sê die kerk het swak geword. Die kerk het ten goede verander.
Kan ’n mens sê die afgelope 30 jaar was ’n terugslag vir die kerk gewees. Ja, dit was ’n terugslag. Maar dank God, die NG Kerk het swak geword. Dank God dat die NG Kerk weer ’n dienskneg-gestalte gekry het en nie meer ’n heersers-gestalte nie.
Die NG Kerk het swakker, broser en minder selfversekerd geword. Die kerk wil nie meer heers nie, maar eerder dien.
In ons gelese gedeelte word die kerk opgeroep om gereed te wees vir die koms van die bruidegom, die Seun van die Mens.

Die kerk vervul in Luk 12:42 die rol van die bestuurder van God. Die kerk moet God se sake bestuur en administreer totdat God kom. ’n Bestuurder in die Bybelse sin van die Woord is geen heerser nie, maar ’n dienskneg met ’n bepaalde opdrag. Die Griekse woord vir bestuurder dui nie op iemand wat bo-oor die ander werknemers gestel is nie, maar eerder op een wat self ook ’n werknemer is. ’n Slaaf onder slawe. ’n Dienskneg onder diensknegte. Een wat dieselfde dienskneg-gestalte as die ander het, maar bloot vir die ander verantwoordelik gemaak is. Wat vir die ander diensknegte moet sorg.
Daarom mag die kerk nooit heers nie, noot magsbehep word nie.
Die kerk word ontrou soos die ontroue bestuurder as die kerk begin om sy dienskneggestalte te verloor en homself begin soek en behaag. Dan volg selfdiens, selfsoeke, selfbehae, selfgesentreerdheid en selfsug. Die Here waarsku teen ’n gees van self “heer” te wil speel, in die Here se skynbare afwesigheid.
Die kerk moet soos ’n dienskneg wees wat bewustelik die Here se teenwoordigheid ervaar en juis daarom gereed is. Die kerk moet altyd “coram Deo”, voor die aangesig van God wandel. Die kerk moet altyd bewus wees van die Here se teenwoordigheid. Hy moet soos die bekende muurplakkaat se bewoording. “Christus is die Onsigbare Gas in hierdie Huis” deel van ons ervaring wees. ’n Mens wonder maar net hoeveel gesprekke en dinge sou nooit in ons huise plaas gevind het as Christus wel sigbaar sou wees.
Elke dag, elke oomblik, moet ek weet dat ek voor die aangesig van God wandel en dat God enige oomblik kan kom. Daar moet die voortdurende inskerping by ons wees dat Christus by ons is, naby aanwesig en aan die kom is. Die geestelike dissipline “practising the presence of Christ” moet ons in ons kerk ontwikkel.
Dan sal ons getrou wees, dan sal ons nie “baas-speel of wil heers nie. Wie immers weet hy leef voor die aangesig van die lewende God, kan immers nie anders wees as om nederig te wees nie.

In die twee opsommende verse 47 en 48 word iets ontsettend gesê. Dit beteken doodgewoon dat Christus sy dissipels, gelowiges en die kerk geroep het om verantwoordelikheid te neem vir die mense van die wêreld. Ons sal eendag geoordeel word of ons verantwoordelikheid geneem het vir die verspreiding van die Woord en die betoning van naastediens. Hoe meer ek die Woord ook hoor ….. des te groter word die verantwoordelikheid om daarvolgens te leef.
Daarom moet ’n kerk nie aan die formaliteite van kerkwees voldoen nie, maar aan die kwaliteite van kerkwees, naamlik gehoorsaamheid en getrouheid.
Inderdaad het die kerk verander. Ons moet juis in die kerk, waak teen selftevredenheid, teen roem, teen valse gerustheid, terwyl ons eenvoudig voortgaan met die vanselfsprekende van gister en eergister.
Die vraag is immers nie of die Seun van die mens by sy koms nog ’n kerk, of gemeente of Christenmense gaan vind nie, maar of Hy geloof gaan vind, getroue bestuurders wat diensbaar verlang om getrou Sy wil te doen.
Die NG Kerk het ten goede verander. Ons het ’n sagter kerk geword. Ons het nie meer die harde formaliteite in die kerk. Ons het weg gedoen met onbybelse wette en reëls in die kerk. So het die Heilige Gees ons gelei om ten goede te verander, maar nooit mag ons ophou om na die Lig te groei nie. Soos ’n plant na die lig groei, moet ons ook na die ewige Lig groei en al meer ten goede verander. AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)
(Gedagtes kom uit ’n preek wat ek gelees het. Dit is verwerk en baie bygewerk)