Die kerk as ons geestelike moeder


SKRIFLESING:  1 Tes 2: 1 – 9  en die Twaalf Artikels

Dit is vandag alledaagse mode om Christus Jesus los te maak van Sy kerk. Ek kan maar in my privaat lewe ’n gelowige wees, maar ek het eintlik nie die kerk nodig nie. Die kerk het vir baie mense oudmodies geraak. Hulle het Jesus nodig, maar nie Sy kerk nie. Hulle glo nog in Jesus, maar verlaat die kerk. Hulle publiseer die mooiste Christelike aanhalings op Facebook, maar jy sien hulle nooit in die kerk nie.

Augustinus het gesê daar is geen verlossing buite om die kerk nie. Augustinus skryf verder skerpsinning, dat die persoon wat nie die kerk as geestelike moeder het nie, het God nie as sy Vader nie.

Dit bely ons mos in die Twaalf Artikels, naamlik ek glo in die een heilige algemene Christelike kerk. Nog verder bely ons in dieselfde belydenis dat, ek glo in die gemeenskap van die gelowiges.   Daarom kan ons as’t ware die “geestelike moeder” as metafoor gebruik om die kerk te beskryf.

Natuurlik kan die kerk jou nie red nie! Maar die kerk is daar om jou geloof te versterk en jou tot seën van ander mense te maak. Ek gaan nie kerk toe om te ontvang nie, ek gaan kerk toe om van myself te gee vir die Here en vir my medegelowiges. Ek is tot seën van ander, as ek inskakel by die kerk.

’n Moeder het besondere kenmerke. Daar is ook altyd ’n besondere band tussen moeder en haar kind. ’n Moeder is die een wat vir haar kind van kleins as moedersmelk gee. Sy is die een wat die kind versorg, kos gee, doeke omruil en moet worstel deur die tande-kry stadium. Wanneer die kleuter val en seerkry is die ma by met die pleisters. Sy gee vir die kind liefde. Sy dissiplineer die kind. Basies doen sy alles vir die kind. Elke moeder vertroetel haar kind sag en teer.

Toe die Here Jesus Christus opgevaar het na die hemel, het Hy vir ons Sy Heilige Gees, maar ook aan ons die kerk gegee  om ons geestelike moeder te wees.  Daarom lees ons in 1 Tes 2: 7b dat die apostels liefdevol en sag teenoor die gelowiges opgetree het, soos ‘n ma wat haar kinders vertroetel.

Die kerk is dus nie die uitvindsel van mense nie, nee, die kerk is deur God gevestig om as geestelike moeder vir die gelowiges te wees. ’n Teoloog skryf tereg dat die apostels die Nuwe Testament geskryf het en dat Jesus nie een boek in die Bybel geskryf het nie. Maar sy werk na sy opstanding was om ’n kerk, die gemeenskap van gelowiges te vestig.

Daarom is ’n mens se verbintenis met die kerk ’n lewenslange verbintenis. Dit begin al die dag as die babatjie gebore en gedoop word. Daarom doop ons kleine babatjies, sodat hulle reg van die begin af aan die kerk van Jesus Christus kan behoort.  Nie die belydenisaflegging maak jou ’n lidmaat van die kerk nie, maar jou doop maak van jou ’n lidmaat. Met belydenisaflegging, neem jy net die verantwoordelikheid van jou lidmaatskap aan die kerk op.

Soos die kindjie groter word, skakel die kind mettertyd in by die Kinderkrans, die Sondagskool, die Kinderbond, die CJV en ander jeugverenigings van die kerk. Die jongmens doen op ongeveer 16 jaar belydenis van dié geloof wat God aan hom/haar geskenk het. Later trou die jongmens in die kerk. Die jong lidmaat word deel van ’n wyk en dien selfs van tyd tot tyd op die kerkraad. Elke Sondag hoor die lidmaat die Woord van die kansel af. Die leraar, ouderling en diaken besoek die lidmaat dwarsdeur sy lewe. Daar is die gewone huisbesoek, die siekebesoek en die pastorale besoek van die leraar. Die ouderlinge maak ook gereeld sy draai met Nagmaal of as daar siekte is. Die diaken sien ook om na die welsyn van die lidmaat en neem sy dankoffers op. Op die sterfbed begelei die kerk die lidmaat om maklik, sinvol en vreugdevol te sterf. Die kerk spreek ook die laaste woord by ons begrafnis eendag.

Daarom is jou verbintenis met die kerk, letterlik van doop tot graf.

Soos wat ’n moeder vir haar kindjie melk en kos gee, so gee die kerk elke Sondag vir die gelowiges melk en vaste kos van die kansel af. Die preekstoel is die bors waaraan die gemeentes elke Sondag kan kom drink. Die kerkklok is die eetklokkie wat uitbeier oor die dorp elke Sondagoggend: “ Kom eet en kom drink verniet van die geestelike brood en die geestelike water wat die kerk as ons geestelike moeder vir ons kom voorsit.”

Soos wat ’n kind verlang na die liefde en aandag van die moeder, so is die huisbesoek van die ampsdraers soos liefde en vertroeteling.

As ’n kind val en seerkry is die ma daar met die pleister. Die kerk moet daar wees as iemand langs die pad geestelik of emosioneel of andersins seergekry het. Die kerk se vertroostende woorde is soos pleisters op die wond van die lidmaat.

Somtyds is ’n kind stout en moet die ma hard praat of selfs straf uitdeel. Netso moet die kerk as ons geestelike moeder somtyds haar lidmate tugtig en vermaan in liefde omdat sy vir hulle omgee.

Daarom moet ’n ampsdraer altyd weet, dat die Here van hom of haar verwag om soos ’n liefdevolle moeder teenoor die lidmate in die gemeente of wyk op te tree. Eers dan verstaan ek wat dit beteken om ’n dienskneg van die Here te wees. ’n Dienskneg van die Here moet moederlike eienskappe hê.

Lidmate aan die anderkant moet weer leer om met respek van die kerk te praat, want die kerk het die Here aangestel om as voog, as geestelike moeder oor ons geestelike welsyn te waak. Daarom mag ek nooit platvloers van die kerk praat nie. ’n Mens maak nie ’n grap van die kerk nie, want die kerk is heilig, omdat die kerk aan die Here behoort. ’n Mens maak tog nie grappe of praat platvloers van jou ma nie, net so moet ons ook die kerk eer as ons geestelike moeder.

Ek mag ook nie dislojaal teenoor die kerk wees nie, want ’n mens is ook nie dislojaal teenoor jou aardse ma nie. Soos wat ’n mens jou aardse ma op die hart dra, moet ek die kerk as my geestelike ma op die hart dra.

’n Mens los ook nie sommer net jou kerk nie, want jy soek nie elke ander dag vir jou ’n ander ma nie. Jou verbintenis met die kerk is lewenslank, net soos wat jy net een ma het. Aardse ma’s het foute, die kerk het ook foute. Ek moet my kerk lief hê, ten spyte van haar foute en gebreke. Die Kerk is tog nie God nie, nee dit bestaan uit mensesondaars soos ek en jy.

Baie gelowiges dink vandag hulle kan die Here dien, sonder die kerk. Dit is net so goed soos ’n kind sonder ’n ma. Ons het die kerk nodig om geestelik te groei en ons geestelik te versorg.

Een kooltjie kan nie los van die ander kooltjies lê nie, hulle het mekaar nodig om mekaar warm te hou. So kan ek nie in my privaatheid vir die Here dien nie. Ek moet deel  van die kerk wees, sodat ek ook tot seën vir die ander mense in die kerk en wêreld kan wees.

Die kerk is egter meer as net ons geestelike ma, die kerk is ook ons geestelike huisgesin, waar ons almal broers en susters van mekaar is. Sonder die kerk is ek soos iemand sonder familie. Daarom vier ons gereeld die Nagmaal as een geestelike huisgesin rondom die een tafel van brood en wyn.

Die kerk is egter nie net ons geestelike moeder of ons geestelike familie nie, die kerk is ook die bruid van Christus, wat haar voorberei en versier met die oog op die wederkoms. Ons is reeds deur die doop met die bruidegom, Jesus Christus verloof. Eendag met die wederkoms sal ons die bruid wees wat deel kry aan die ewige bruilof. Daarom moet een en elk van ons elke dag geestelik groei en ons versier met geestelike deugde as blyk van dankbaarheid dat die Here ons gekies het om Sy bruid te wees.

Vir my kerk moet ek lief hê, want sien die kerk is my geestelike moeder, die kerk is my geestelike huisgesin. Ja, die kerk is die bruid van Christus! Wie hom of haar losmaak van die kerk sê eintlik ek wil nie meer deel wees van die ewige bruilof nie.

Ek het ’n Vader in die hemel wat vir my sorg en liefhet, maar Hy het aan ons die kerk gegee om ons geestelike “mamma” te wees. Hierdie einste kerk is vir Hom so belangrik dat Hy vir haar gekies het om ook die bruid van Sy enigste Seun Jesus Christus te wees.                           

Die kerk is ook soos ’n woud. Ek het ’n artikel gelees in die Readers’s Digest, wat verduidelik dat die wortels van verskillende bome van mekaar afhanklik is. Die bome gee ’n stof af wat die kompetisie tussen die bome verminder. Die wortels van die verskillende bome en verskillende spesies is selfs aan mekaar gekoppel om mekaar te help. Hulle deel die water, sonlig, die skaduwee en voedingstowwe. Dit is ’n ekologie waar die plante interafhanklik van mekaar is. In die kerklidmate moet ons ook leer om interafhanklik van mekaar te wees. Die kerklidmate moet soos in ’n ekologie van mekaar afhanklik wees.  

In die Alpe in Switserland is daar ’n klein dorpie, met ’n kasteel en ’n kerk van ruwe, gekapte klip wat slegs bereik kan word deur verslete trappe teen die berghang. Die eienaardige ding van hierdie kerk is dat dit nie ’n beligtingstelsel het nie.

’n Reisiger daar het ’n kerkklok hoor lui en mense sien uitkom uit die nou straatjies, elkeen met ’n oulike bronslampie gevul met olie en ’n pit. Sy het ‘n aanbidder genader en gesê: “Asseblief, ek is ’n vreemdeling hier, sal jy my vertel hoekom jy ’n lamp kerk toe dra?”

Die vrou het geantwoord:  “Jare gelede het ’n hertog in daardie kasteel gewoon. Hy het die kerk gebou, dit geskenk en gevra dat elke aanbidder sy eie lamp bring.” Die reisiger het geantwoord: “Ek sou dink dit sal mense daarvan weerhou om die aanddienste by te woon.”

“O, nee, dit werk net andersom. Dit word genoem Die Kerk van die Verligte Lampe. Almal wat gaan maak dit ’n bietjie helderder en wanneer iemand in die versoeking kom om by die huis te bly of iewers anders heen te gaan, onthou hy net dat die liewe ou kerk het almal se lamp nodig, en as jou lamp nie daar is nie, is daar soveel minder lig.” 1

Jou lampie sal help om die kerk te verlig. Daarom is jy nodig.        AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

BRONNELYS:

Dit is ’n verwerking van ’n preek wat ek lank gelede gelees het. Ek het bygevoeg en verander om dit vir vandag se tydsgees aktueel te maak.

  1. Bible Illustrations (AMG Internasional, Inc.)

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s