SKRIFLESING: Lukas 24: 1 – 12
Die Christendom en die wêreld maak baie van Kersfees. Alreeds weke voor Kersfees word die kersbome versier en die kersliggies opgesit. Gemeentes hou kerssangdienste en vier weke voor die tyd, gedurende die Advent handel die prediking oor die geboorte van Christus. Kersliedere word gesing en kinders sien uit na kersvader. Kersfees sit die kerke wêreldwyd stampvol en daarna eet die kersgangers hulle trommeldik aan die heerlike kersetes, wat met groot sorg en kreatiwiteit voorberei is.
Goeie Vrydag, word meer besadig gevier. Daar is die sewe Lydenssondae, waar daar oor die lyding van Christus gepreek word. Kerke word versier met kruise en palmtakke. Op Goeie Vrydag kom ook baie mense kerk toe en daar word Nagmaal gevier. “Hot Crossbuns” word verkoop, al weke voor Goeie Vrydag. Dan is daar natuurlik kerrievis, wat ‘n tradisionele ete is met Goeie Vrydag.

Maar Paassondag, waartydens die opstanding van die Here gevier word is die “aspoesterjie” van die kerklike feesdae. Op die dag is gewoonlik die minste mense van al die Sondae in die kerk. Almal is weg vir die langnaweek. Paasfees word gewoonlik paaseiers geëet en die kinders moet dit soek. Dit is die dag wat die meeste verwaarloos word op die kerkkalender.

Dietrich Bonhoëffer het geskryf, al was Jesus ’n duisend keer gebore in Bethlehem en al was Hy ’n honderd keer gekruisig op Golgota en Hy het nie een keer opgestaan nie, was ons geloof tevergeefs. Die opstanding van die Here Jesus, maak die geloof waar. Elke dag word miljoene mense gebore en elke dag sterf miljoene mense, daarom is die opstanding van die Here Jesus uniek.
Die opstanding van die Here Jesus maak die Evangelie waar. Die opstanding is die seël en waarmerk dat die Evangelie betroubaar en eg en die waarheid is.

Daar staan dat die reuse ronde klip voor die graf weggerol was en dat die graf leeg was. Die linnedoeke was netjies opgevou. As hulle Jesus sou gesteel het, sou hulle Jesus met die doeke en al steel het. Nee die doeke was netjies opgevou. Hy het regtig opgestaan.
In geen een van die ander geloofsgroepe wat ’n werklike persoon aanbid, het die persoon opgestaan nie. Die Budistiese geloof, die Mohammedane en die Konfusios en die Brahaamse geloof het al vier persone aanbid. Hulle almal is nog in hulle graf.
Net die Christelike graf is leeg. Jesus het opgestaan. Hy het waarlik opgestaan.
Daar was ’n oorvloed van getuienisse dat Jesus opgestaan het.
- Aan Maria Magdalena (Johannes 20:11-18 en Markus 16:9-11)
- Aan ’n groepie vroue (Matteus 28:9-10)
- Aan Petrus (Lukas 24:34 en 1 Korintiërs 15:5)
- Aan die twee Emmausgangers (Markus 16:12-13 en Lukas 24:13-33a)
- Aan die dissipels sonder Tomas (Lukas 24:36-43 en Johannes 20:19-25)
- Aan die dissipels saam met Tomas (Johannes 20:24-29)
- Aan sewe Apostels by die See van Tiberias (Johannes 21:1-19)
- Aan meer as vyf honderd broeders (1 Korintiërs 15:6)
- Aan Jakobus ( 1 Korintiërs 15:7)
- Aan die apostels met sy Hemelvaart (Lukas 24:44-53, Markus 16:19-20 en Handelinge 1:1-16)
Die getuienis is so oorvloediglik dat Jesus opgestaan het, dat enige wêreldse hof dit as onbetwisbaar sal aanvaar.
Al die apostels behalwe Johannes het ’n marteldood gesterf, omdat hulle in die opgestane Christus geglo het. Niemand sal tog vir ’n leuen sterf nie.
“Die dissipels se gewilligheid om te ly en te sterf vir hul oortuigings, dui daarop dat hulle daardie oortuigings waarlik as waar beskou het. Leuenaars maak swak martelare.” – Gary Habermas & Michael Licona
“Petrus (Simon), was ongeveer 66 nC ’n martelaar in Rome gedurende die bewind van keiser Nero. Na bewering het Petrus gevra om onderstebo gekruisig te word omdat hy nie gelyk aan Jesus gestel wou word nie. Jesus het twee keer voorspel dat Petrus ’n martelaarsdood sou sterf (Johannes 13:36 en 21:18-19). Dan was daar Andreas, wat na bewering gekruisig is. Jakobus is volgens Handelinge 12:1-19 op bevel van Herodus, met ’n swaard doodgemaak. (Kyk ook Matteus 20:20-23 en Markus 10:35-39.) Johannes was die enigste oorspronklike dissipel wat nie ’n geweldadige dood gesterf het nie. Hy het in Patmos gesterf ongeveer 100 nC. Filippus is in die Egiptiese stad Heliopolis geslaan, in die gevangenis gegooi en in 54 nC gekruisig. Bartlomeus is in Indië doodgemaak. Daar is twee weergawes: Ongeduldige afgodsdienaars het hom geslaan en toe gekruisig of hy is lewendig geslag en onthoof. Tomas is met ’n spies doodgemaak in Indië. Matteus (die tollenaar) het in Etiopië gesterf waar hy vermoedelik in die rug gesteek is deur ’n swaardvegter wat deur koning Hertacus gestuur is, nadat hy die koning se sedes gekritiseer het. Jakobus, seun van Alfeus is op 94-jarige ouderdom deur vervolgers geslaan en gestenig, en daarna is hy vermoor deur hom met ’n knuppel oor die kop te slaan. Judas, seun van Jakobus is volgens baie stories gekruisig by Edessa in 72 nC. Simon die fanatikus is in Engeland gekruisig 74 nC. Mattias (vervang vir Judas Iskariot) is in Sirië verbrand. Paulus het soos Petrus ongeveer in 66 nC as ’n martelaar in Rome gedurende die bewind van keiser Nero gesterf. Hy is onthoof. Lukas was ’n Griekssprekende mediese dokter en is in Griekeland gehang juis omdat hy so dikwels vir die verlorenes gepreek het.” (Glo die Bybel)
“Vandag word hierdie feite as een van die belangrikste bewyse voorgehou dat Jesus werklik uit die dood opgestaan het. Die vraag is: het God nie juis toegelaat dat hierdie mense op wreedaardige manier te sterwe moes kom om vandag vir ons as getuienis te dien nie?” (Glo die Bybel)
“I know the resurrection is a fact, and Watergate proved it to me. How? Because 12 men testified they had seen Jesus raised from the dead, then they proclaimed that truth for 40 years, never once denying it. Everyone was beaten, tortured, stoned and put in prison. They would not have endured that if it weren’t true. Watergate embroiled 12 of the most powerful men in the world – and they couldn’t keep a lie for three weeks. You’re telling me 12 apostles could keep a lie for 40 years? Absolutely impossible.” – Charles W Colson

Met soveel ooggetuies staan dit vas: Jesus Christus het waarlik opgestaan! Hy leef! En daarom kan ons bely: Ons glo in Jesus Christus, ons Here; wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria; wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en neergedaal het na die hel; wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode; wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader; van waar Hy sal kom om te oordeel die wat nog lewe, en die wat reeds gesterf het.
Jesus se opstanding sê vir ons dat Jesus die sonde en die dood oorwin het. Sy oop graf het ook ons graf oopgesluit om vir altyd die ewige lewe te hê. Daarom vrees ons nie die dood.
Prof Johan Cilliers vertel die volgende verhaal. Daar was ’n Sondagskoolklas van ’n hele paar kinders saam met hulle Sondagskooljuffrou, wat gereed gemaak het vir Paasfees. Twee Sonde voor die tyd het die juffrou vir hulle plastiese hol paaseiers gegee en hulle opdrag gegee om vir Paassondag iets in die eier te sit wat herinner aan nuwe lewe. Daar was ook in die klas ’n seun met die naam van Johny, wat ‘n Downsindroom-kind was. Op Paassondag het die kinders hulle paaseiers met groot opgewondenheid Sondagskool toe gebring. Een na die ander het hulle hul paaseiers oopgemaak. Die een kind het ’n lewende skoenlapper in sy eier gehad. ’n Ander kind het die pragtigste blommetjie is haar paaseier gehad. Nog ’n ander het ‘n groen grasspriet in sy eier gehad. Elke keer het die kinders met opgewondenheid “oe” en “aa” gesê. Laaste was Johny. Toe hy sy eier oopmaak was daar niks. Die kinders het vir Johny aangespreek en gesê: “Johny, hoekom moet jy altyd anders wees. Juffrou het mos gesê jy moet iets in jou eier sit.” Johny het op sy kenmerkende Downsindroom manier gesê: “My eier is leeg, want Jesus se graf is leeg.” Daar het ’n stilte oor die klas toegesak, want almal het geweet dit is die waarheid. ’n Paar weke later het Johny ’n infeksie opgedoen en gesterf. Met sy begrafnis was al sy maatjies van die Sondagskool daar. Hulle het almal leë paaseiers op sy kis gesit.
Daarom is Paasfees, die opstanding van die Here Jesus belangriker as die geboorte en kruisiging van die Here. Dit kom waarmerk en gee betekenis aan die geboorte en kruis van die Here Jesus Christus.
Die Here het opgestaan. Waarlik die Here het opgestaan. AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)
BRONNELYS:
Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.
https://www.preke.net/sarel-pretorius/956-die-opstanding-van-jesus-christus