Jesus skep wonings vir ons en ‘n nuwe familie


SKRIFLESING: Luk 23: 43 en Joh 19: 26 – 27

As jy ’n adres het, is jy ryk. Dit is ’n voorreg om jou eie adres te hê. Die armste onder die armes het nie ’n adres nie. Die armstes het geen adres of hulle moet iemand anders se adres opgee om bereik te word.

In die tweede en derde kruiswoord van die Here Jesus gee Hy vir die berouvolle misdadiger ’n woning in die hemel en vir Sy moeder, terwyl sy nog lewe ’n woning op aarde.

Die berouvolle misdadiger het waarskynlik geen adres op aarde gehad nie. Misdadigers wil mos nie ’n adres hê nie, want dan kan hulle gevang word. Wie nie ’n adres het nie, is arm.

Maar hy vra aan die Here aan die kruis, om aan hom te dink as Hy in sy Koninkryk kom. Dan gee die Here vir hom ’n hemelse woning, ’n hemelse adres in Luk 23: 43 – “Jesus het hom geantwoord: ‘Amen, Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die paradys wees.’” Hierdie adreslose man, sonder woning, kry skielik ’n hemelse woning met ’n adres.

Ons elkeen wat in die Here glo, sal eendag ’n ewige woning en adres ontvang. Daarom staan daar in 2 Kor 5: 1 – 2 die volgende: “Ons weet tog dat wanneer ons aardse tentwoning afgebreek word, ons ’n gebou het wat van God kom, ’n ewige woning in die hemele, wat nie met hande gemaak is nie. En daarom sug ons, want ons verlang intens daarna om met ons woning vanuit die hemel beklee te word.”

Ons kry eendag ’n hemelse woning. Ons kry eendag ’n hemelse adres. Nie ons grafnommer in die begraafplaas of ons nommer op die gedenkmuur van die kerk is ons ewige adres nie. Nee, ons het ’n hemelse woning en adres.

 Terwyl ons hier op die aarde is in ons teenswoordige lewe, het ons ook verskillende aardse wonings. Ons het ook ’n geestelike woning, wat die kerk is. In Psalm 84: 2 – 5 staan daar: “Hoe lieflik is u woning, Here, Heerser oor alle magte! My hele wese verlang, ja, smag na die voorhowe van die Here; my hart en liggaam roep uit na die lewende God. Selfs ’n mossie vind ’n tuiste, en ’n swaeltjie haar nes waarin sy haar kleintjies neerlê, by u altare, Here, Heerser oor alle magte, my Koning en my God! Gelukkig is hulle wat in u huis woon! Hulle loof U gedurig.”

Maar die Here gee ook vir ons ’n fisiese woning en adres. Jesus was bekommerd oor sy ma Maria en daarom sê Hy in Joh 19: 26 – 27 die volgende vir Johannes: “Toe Jesus sy moeder sien, asook die dissipel vir wie Hy lief was, wat by haar staan, sê Hy vir sy moeder: ‘Vrou, kyk, daar is u seun!’ Daarna sê Hy vir die dissipel: ‘Kyk, daar is jou moeder!’ En van daardie oomblik af het die dissipel haar in sy huis geneem.”

Daarom plaas die Here ons in die derde kruiswoord altyd in verhoudings met mekaar. Hy het Maria en Johannes in ’n moeder en seun verhouding geplaas. So is hy die groot Versorger, wat ons versorg in verhoudings. Daarom is verhoudings so belangrik vir die Here. Daarom bely ons ook in die Credo van die kerk: “Ek glo in die gemeenskap van gelowiges”.

 Dit simboliseer ook Jesus wat aan die kruis ’n nuwe geestelike familie (woning) skep, wat ons die kerk noem. Nou is ons nie meer vreemdelinge van mekaar nie, maar broers en susters. Jesus Christus het ons oudste broer geword en ons het ’n gemeenskaplike Vader in die hemel. Die bloed van Jesus Christus het ons as’t ware gebind as ’n geestelike familie in die woning wat ons die kerk noem.

Jare gelede, was dit gebruik gewees dat vriende wat trou deur dik en dun aan mekaar belowe het, hul elkeen hulself met ’n skerp lem gesny het aan die hand en hulle bloedwonde teen mekaar gevryf het, as teken van hulle lewenslange getrouheid aan mekaar. Daarvandaan kom die woord “bloedbroers” vandaan.

Aan die kruis was dit nie nodig, dat ons bloed hoef te vloei nie. Jesus Christus se bloed het gevloei in ons plek. Deur Sy bloed het Hy ons bloedbroers en bloedsusters van mekaar gemaak. Ons het ’n geestelike familie geword. Daarom glo ons in EEN HEILIGE ALGEMENE CHRISTELIKE KERK.

Die hartseer van die Christelike kerk, is dat mense aan Jesus wil behoort, maar nie aan die familie van Christus nie. Hulle sal God in hul persoonlike lewe aanbid, maar wil glad nie inskakel by die plaaslike gemeente se wel en weë nie. Hulle distansieer hulself van ander gelowiges en die familie van God. Dit getuig van ’n stuk meerderwaardigheid of van onbetrokkenheid. Hulle soek redes om nie in te skakel nie. Hulle soek Jesus se liefde en seën in hulle lewe, maar wil self nie ander liefhê of tot seën vir ander wees nie. Dit getuig van uiterste selfsugtigheid.

Jesus Christus kan nie in privaatheid aanbid word nie. Jesus kan net in die openbaar aanbid word saam met ander broers en susters. Die Here Jesus het ’n gemeenskap van gelowiges geskep, wat ons die kerk noem en Hy wil hê ons moet deel daarvan wees.

Jy kan nie die Here Jesus aanbid, sonder die kerk nie. Jy kan nie sonder die kerk ’n Christen wees nie. Die Here Jesus het jou geroep om as kerk, deel van Christus se liggaam te wees. (1 Kor 12) Jy is deel van die kudde van die Here. Jy kan nie as ’n enkele skaap ronddwaal nie. As jy nie deel het aan Jesus se kerk en familie nie, is jy soos ‘n los steen is, wat buite die gebou nutteloos rondlê.

Jesus het op Goeie Vrydag aan die kruis gesterf, juis om Sy volgelinge EEN te maak, een huisgesin, een familie en een geloofsfamilie. Ek kan nie buite hierdie EENHEID, myself afsonder op ’n eiland nie. Dan is ek doodeenvoudig nie ’n volgeling van Jesus Christus nie. Wie Jesus volg, moet aktief deel hê aan die Here se kerk.

Mense soek maklike verskonings om nie deel van die kerk te wees nie. Mense kan dikwels hulle medekerkgangers kritiseer as skynheilig en daarom nie kerk toe gaan nie. Wat hulle vergeet is dat die kerk juis ’n plek van sondaars is. Die kerk is ’n hospitaal vir gebroke mense. Ek hou myself beter, as ek nie my medekerkgangers omhels ten spyte van hulle foute en al.

Wie Jesus volg, moet Jesus se familie ook volg. Met die derde kruiswoord het Jesus ons juis familie van mekaar gemaak. Daarom moet ons mekaar omhels met Christelike broederskap en aanvaarding.

Die kruis van Christus, is soos ‘n magtige magneet, wat mense nader trek na Christus toe. Maar die kruis trek ons ook soos ’n magneet na mekaar toe, om ’n geestelike familie vir mekaar te wees. Sonder die magnetiese krag van die kruis, sal ons in die donker koue alleen staan.

Mag die magnetiese krag van die kruis jou na Christus en ook na jou mede gelowiges toe trek.   

Daarom het die Here vir ons aan die kruis ’n woning vir die hiernamaals en vir die hiernoumaals geskep. Ons het eendag ‘n hemelse familie, maar nou hier op die aarde het hy vir ons ’n geestelike familie geskenk.

Ons is skatryk.                                                              AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

BRONNELYS:

Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.  

www.gkpotchefstroom.co.za/die-derde-kruiswoord/

https://wordpress.com/post/ngkerkadelaide.com/1695

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s