Ons is deel van God se familie


SKRIFLESING: 1 Petrus 2: 4 – 10 en 1 Kor 12

Ons elkeen behoort aan twee families, naamlik eerstens aan ons eie familie en gesin en tweedens aan God se familie. ’n Mens kan nie ’n Christen wees en nie aan ’n kerk behoort nie. Maar nou kry ’n mens vier soorte kerklidmate, naamlik die dooie kooltjies, die klublede, die passasiers en dan die ware familie van God. Ons gaan na elkeen van hierdie vier soorte kerklidmate kyk.

  • Die dooie kooltjies

As ’n mens ’n kooltjie vuur uit die vuurherd sal haal, sal dit gou doodgaan.

Nee, dit het ander kooltjies nodig om warm te bly. Net so het ons ander Christene nodig om te kan volhard in die Christelike wandel. Iemand wat sy godsdiens op ‘n eiland of alleen by die radio beleef is ’n dooie kooltjie. Ek kan nie maar so op my eentjie my godsdiens beleef nie. Anders kan ek kerklos en onbetrokke word in die kerk. 

Petrus sê in Petrus 2: 9 dat die kerk ’n volk is, ’n gemeenskap is. Die kerk bestaan nie uit ’n klomp enkelinge wat elkeen sy godsdiens apart van die ander beleef nie. In hoofstuk 2: 5 sê Petrus nog verder dat die kerk ’n geestelike huis is wat uit baie stene bestaan. Elke steen stel ’n gelowige voor. Die sement tussen die stene, wat die stene aan mekaar bind stel ons gemeenskaplike geloof in Christus Jesus voor. Ja, dit is Christus wat gelowiges aan mekaar bind. Die fondament waarop die kerk natuurlik bou is ook Jesus Christus. God het as’t ware sy gelowiges ingemessel in ’n geestelike huis wat ons die kerk noem. Hulle is veronderstel  om saam te leef as boeties en sussies. As daar ’n steen uit ’n gebou val, sal daar ’n gat sit. Die gebou sal lelik lyk.

Probeer jou indink hoe onaantreklik ons kerkgebou sou wees as stene in die muur ontbreek. Dit sou nie net onaantreklik wees nie, maar dit sou ook vir die res van die struktuur verswak.

Simon Petrus sê vir ons dat die Here se geestelike huis (die kerk) uit “lewendige klippe” bestaan. Maar ons sien dikwels dat talle klippe in die aanbiddingsbyeenkoms ontbreek. Die resultaat is ’n uiters onaantreklike en verswakte struktuur.

Net soos elke baksteen in ons kerkgebou nodig is, so is elke lewende klip in die geestelike huis nodig. Hoe jammer as een of ander lid die idee het, “Ek is net een; ek sal nie gemis word nie!” Die Bybel leer dat elke mens sy eie deel moet doen. Ons daaglikse gebed moet wees: “Here, help my om altyd op my plek te wees en my deel vir die kerk te doen.”

Netso ook as jy probeer om jou godsdiens alleen voor die radio of TV te beleef, sal daar ’n leë plek in die kerk wees en onooglik lyk.

(b) Die klublede

Vir party is die kerk soos ’n vereniging, of ’n rugbyklub waaruit ’n mens kan bedank as jy ontevrede voel.

Die kerk word die klub wat die lede tevrede moet stel. My dankoffer word dan nie meer ’n offer van dankbaarheid nie, maar ’n klubfooi, wat ek kan opskort as ek oor iets nie tevrede is nie. Nee, die kerk is nie ’n vereniging of  ’n rugbyklub waaruit jy kan stap as jy ongelukkig voel oor iets nie. Nee, die kerk is jou familie. Soos ’n mens nie jou familie kan los nie, net so kan ’n mens ook nie die kerk los nie.

’n Bejaarde vrou is deur ’n groot katedraal in Europa gelei. Die gids het gepraat oor die skoonheid van ontwerp en die aandag gevestig op die beelde en skilderye. Die vrou was nie beïndruk nie. Aan die einde van die toer het sy vir die gids gevra: “Hoeveel siele is hierdie jaar hier gered? Hoeveel mense het hier naby God gekom?” “My liewe dame,” sê die verleë gids, “dit is ’n katedraal, nie ’n kapel nie.” Dis die moeilikheid. Ongelukkig het ons te veel katedrale en te min kapelle waar die warmte van die Gees van God gevoel word, wat bevorderlik is vir ‘n geestelike lewe wat ons kennis van God verbeter. (1)

(c) Die passasiers

Sommige kerklidmate is soos passasiers.

Hulle wil dat die kerk hulle vermaak. Hulle wil net ontvang en niks gee nie. Dit is die onbetrokke lidmate. Hulle ry op die rug van ander. Omtrent soos die passasiers op ’n passasierstrein. Die een kyk by die venster uit, die ander slaap en nog ’n ander lees. Die dominee en die kerkraadslede is al persone wat werk. Hulle is die masjinis en die kondukteur. Nee, in die kerk moet elkeen sy deeltjie doen, want die kerk is die liggaam van Christus. ’n Liggaam bestaan uit baie ledemate. Daar is arms, bene, tone, vingers, ’n neus, ore en oë. Elkeen van hierdie ledemate het ’n taak. ‘n Mens se bene is daar om te loop en sy oë is daar om te sien. Net so moet elke lidmaat in die kerk ook ’n taak hê. Daar is die wat preek, daar is die wat barmhartigheidswerk doen, daar is diegene wat siekes besoek, daar is leiers, daar is mense wat geld insamel en koek bak vir die basaar.  1 Kor 12 sê baie duidelik dat elke lidmaat ’n taak in die gemeente het. Dan word die kerk soos ’n familie waar elkeen, pa, ma, boeties en sussies elkeen sy taak het.

Wie het die vlieër gevlieg? “Ek het,” sê die stokke. “Ek het,” sê die koerant. “Ek het,” sê die seun. “Nee, ek het,” sê die wind. Maar hulle het almal saam die vlieër gevlieg. As die stokke gebreek het, die stert in ’n boom vasgehaak het, die papier geskeur het of die wind gewaai het, sou die vlieër afgekom het. Elkeen het ’n rol gehad om te speel. Die toepassing is onafwendbaar. Ons het elkeen ’n werk om te doen. As die werk van die Here ’n sukses wil wees, dan moet elkeen sy of haar deel doen. Ons het die werk om te besoek, te gee, te preek en talle ander werke om te doen om die kerk en sy werk suksesvol te maak. Ons moet almal saamwerk en elkeen doen wat hy kan om te help. Dit is ’n kwessie van spanwerk (1Kor 3:6-9). (1)

(d) Die familie van God

Wanneer ons Christene word, gee God aan ons ’n familie.

Daardie familie noem ons die kerk. In Luk 8: 19 – 21 maak Jesus van ons sy broers en susters. Dit beteken ek kan nie, alleen my godsdiens beoefen soos die dooie kooltjies nie, ek kan nie my los maak van die kerk as ek ongelukkig is nie, Die kerk is nie ’n klub nie. Ek kan nie onbetrokke wees soos passasiers nie.

In die kerk hou die familie van God hulle besig met die gemeenskap van gelowiges, getuienis, dienswerk en geestelike opbouwerk.

Het jy al ooit gewonder hoekom die Kanadese ganse net in die V-formasie vlieg?

Jare lank het spesialiste in aërodinamika dieselfde gewonder. Twee ingenieurs het in ’n windtonnel gekalibreer wat in so ‘n V-formasie gebeur. Elke gans, deur sy vlerke te klap, skep ‘n opwaartse drukking vir die gans wat volg. Wanneer al die ganse hul deel in die V-formasie doen, het die hele trop ‘n 71 persent groter vliegafstand as wanneer elke voël alleen vlieg. Elkeen hang van die ander af om by sy bestemming uit te kom. Iets anders – wanneer ‘n gans begin agterbly, moedig die ander dit terug op sy plek. Nou, laat ons leer uit God se diereskepping. Die kerk moet in ’n geestelike V-formasie vlieg en mekaar aanmoedig tot standvastigheid. En dit moet ten minste 71 persent makliker wees om die getroue Christelike lewe te lei wat saam met die kudde vlieg in plaas daarvan om dit alleen te doen. “Laat ons op mekaar ag gee, om tot liefde en goeie werke aan te spoor” (Heb 10:24). (1)

George Washington se predikant het eenkeer van hom gesê: “Geen geselskap het hom ooit van die kerk weggehou nie. Ek was dikwels op die Sondagoggend by Mount Vernon wanneer sy ontbyttafel vol gaste was. In plaas daarvan om tuis te bly uit verbeelde hoflikheid teenoor hulle, het hy hulle gedurig genooi om hom te vergesel.” (1)

“Het jy die storie van Jim Smith en Ron Jones gehoor? Jim het een Sondagoggend kerk toe gegaan. Hy hoor hoe die orrelis ‘n noot mis, en hy ruk. Hy het ‘n tiener sien praat toe almal anders gebid het. Hy was seker die diaken kyk om te sien wat hy in die offerbord sit, en dit het hom laat kook. Vyf keer, volgens werklike telling, het hy die prediker in glip-van-die-tong-foute betrap. Tydens die uitnodiging het hy by die sydeur uitgeglip, terwyl hy heeltyd vir homself prewel: “Wat ‘n mors van tyd!” Ron het ook kerk toe gegaan. Hy het die pianis ’n verwerking van “A Mighty Fortress Is Our God” hoor speel, en hy is deur die majesteit daarvan aangespoor om te aanbid. ’n Spesiale sendingoffer is ontvang, en hy was bly sy kerk doen wat hulle kan vir mense regoor die wêreld. Hy het veral die preek daardie Sondag waardeer; dit het regtig gepraat van ’n behoefte in sy lewe. Hy dink, terwyl hy die prediker se hand skud en vertrek, ‘Hoe kan iemand hier kom en nie die teenwoordigheid van die Here voel nie?’ Albei mans was dieselfde dag in dieselfde kerk. Elkeen het gevind waarna hy gesoek het. Daar is al gesê dat kerke en banke in een opsig baie dieselfde is: ‘Wat ’n mens uitkry, is, vir die grootste deel, afhanklik van wat jy insit.’” (1)

Die gebou is nie regtig die Kerk nie. God se mense is. Tog bestee die kerk vandag meer geld aan geboue as vir enigiets anders.

Toe ’n kunstenaar gevra is om ’n prentjie van ’n vervalle en dooie kerk te skilder, tot almal se verbasing, in plaas daarvan om ’n ou, wankelende ruïne op doek te plaas, het die kunstenaar ’n statige gebou van moderne grootsheid geskilder. Deur die oop portale kon die ryk gesnede preekstoel, die manjifieke orrel en die pragtige loodglasvensters gesien word. Aan die een kant was ’n keurig ontwerpte offerkis vir sending  – bedek deur ’n spinnerak! (1)

H. W. Beecher sê dat “sommige kerke soos vuurtorings is, van klip gebou, so sterk dat die donder van die see hulle nie kan beweeg nie . . .” Die lig wat uit hierdie kerke skyn, is die lig van Christus wat deur sy gelowiges skyn. Sondaars word nie net bereik deur die kerk se liturgie, praal, pragtige musiek of grootheid nie – hulle word bereik deur die Christusgelykheid van sy individuele lede. (1)

In ’n huisgesin vind daar tugtiging plaas. Die kerk kan jou ook tugtig as jy verkeerd leef. Soos ouers hulle kinders uit liefde tugtig, so kan die kerk my ook uit liefde tugtig (Hen12:7) Die kerk word wreed en liefdeloos as hy sou nalaat om sy lidmate te tug.

 Geliefdes, julle is die familie van God. Daarom moet ons as boeties en sussies saamleef as huisgesin. Julle, daarenteen, is die uitverkore volk, ’n koninklike priesterdom, ’n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Gedagtes kom uit ‘n preek waarvan die outeur onbekend is. Baie verwerkings is gedoen.

BRONNELYS

  1. Bible Illustrations (AMG Internasional, Inc.)

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s