Soutwater word vars


SKRIFLESING: Esegiël 47: 1 – 12 en Sag 14: 8 en Openbaring 22: 1 – 2 en Joh 7: 36 – 39

Port Elizabeth is in ’n erge droogte vasgevang. Die magtige Indiese Oseaan vloei langs Port Elizabeth verby, maar dit kan niks doen om die droogte te verlig nie. Om deur moderne tegnologie die seewater te ontsout, sal eenvoudig te duur wees. Dit is ’n saak van onmoontlikheid.

Soutwater kan nie lewe bring nie.

In Esegiël 47: 1 – 12 vind ook die ondenkbare plaas. Esegiël het ’n visioen gekry van hoe die Dooie See se water weer vars word. Dieselfde visioen kom ook in Sagaria 14, sowel as in Openbaring 22, voor.

Die mense in Esegiël het die Dooie See goed geken. Dit is ’n binnelandse meer met onbruikbare water as gevolg van die soutkristalle. Bykans 25% van hierdie see bestaan uit vaste stowwe. Die water is tot tien maal meer sout as gewone seewater. Die see het geen uitvloei nie en die Jordaanrivier se water verdwyn in hierdie dampkom wat 390 meter onder die seevlak lê. Amper iets van die Ou Testamentiese onderwêreld, die Dood.

Niks leef in die meer nie en niks bestaan rondom die meer nie, geen vis, geen dier, geen voël, niks nie. ’n Mens kan dit amper vergelyk met die begin van die wêreld toe alles leeg en donker en in chaos was. ’n Doodsheid, ’n leegte wat nie in woorde beskryf kan word nie.

Daarom was die Dooie See vir die mense in Esegiël se tyd ’n simbool van dood en finaliteit. Dit  was vir hulle selfs die simbool van die vernietigende oordeel van God oor Sodom en Gomorra. Die Dooie See het geen uitloop nie. Dit is ’n doodloopstraat.

Met hierdie beeld voor oë praat Esegiël nou oor Lewe en oor God se lewegewende water wat alles verander. Esegiël sien ’n visioen. Wanneer God op die toneel verskyn en Hy die tempel vul met sy magtige teenwoordigheid soos dit in verse 1 tot 5 uitgedruk word, gebeur daar dinge wat die mense gedink het onmoontlik blyk te wees.

Uit  die tempel begin ’n stroom water vloei wat alles verander waar dit kom. Die water vloei onder die drumpel van die tempel uit na die ooste in die rigting van die Dooie See. Die betekenis van die water, wat onder die drumpel van die tempel vloei, is dat alle geestelike lewe net vanuit God se teenwoordigheid kan kom. Dit vloei deur die droë streke van die Judese woestyn af na die Soutsee. In plaas daarvan dat die water in die droë grond wegsyfer, begin dit egter al breër en breër vloei. In ’n gesig sien Esegiël hoe hyself deur die water stap – eers enkeldiep, dan kniediep, dan heupdiep en uiteindelik so diep dat ’n mens moet swem om daardeur te kom.

Ook op die oewer gebeur daar eienaardige dinge. Die omgewing verander. Groot hoë bome staan in dorre wêreld. Die ondenkbare gebeur ook, die soutwater van die Dooie See word vars en daar begin weer dierelewe en vislewe rondom en in die see bestaan – so baie dat daar ’n vissersbedryf tot stand kom. Vrugtebome wat elke maand vrug dra, staan op die oewer.

Uit die dooie niks bring God se stroom lewe en oorvloed. Waar God in sy tempel inkom en die lewegewende water uit die tempel stroom, verander alles. Dood en dorheid maak plek vir lewe. Sout maak plek vir soet. Dood maak plek vir genesing.

Hierdie boodskap gee Esegiël vir sy mense, wat in ballingskap sit, vir wie dit lyk asof alles tot ’n einde gekom het, wat dink dat daar vir hulle niks anders oorgebly het as die dood nie. Maar God kan en sal alles ten goede verander. Die ballinge se doodsbestaan sal deur God verander word in ’n lewegewende toekoms.

Ook Joël verkondig in dieselfde idioom dat daar volop wyn sal wees op die berge en oorvloed melk op die heuwels die dag as die Here na Sy tempel kom. Joël 3: 17 – 19 lees: “In al die strate van Juda sal daar water loop, ’n fontein sal uit die huis van die Here borrel en die Sittimdal natlei.”

Ook Sagaria praat van ’n vars stroom water wat uit Jerusalem vloei, een helfte na die see in die Ooste en een helfte na die see in die Weste, somer en winter konstant.

Ook in Openbaring sien Johannes ’n rivier met die water van die lewe wat uit die troon van God en van die Lam vloei. Op die oewer van hierdie rivier staan die boom van die Lewe (van die Paradys) en dra twaalf keer per jaar elke maand sy vrugte. Die blare van die boom bring genesing vir die nasies.

Oral in die Bybel kom die gedagte voor dat as God in Sy MAGTIGE TEENWOORDIGHEID verskyn, daar ’n wending na lewe en oorvloed kom.  Toe Hy die chaos by die skepping aangespreek het, het daar orde en lewe gekom. Toe Hy Abraham geroep het, het daar ’n volk en ’n land gekom wat uniek was in die wêreld. Toe hierdie volk in selfopgelegde ballingskap verkeer, was dit telkens God se magtige teenwoordigheid wat hulle gered het.

Hierdie teksgedeelte is vanoggend ’n volledige troos vir gelowiges in Suid-Afrika. Ons land is brak en dood van al die korrupsie, staatskaping, moorde, verkragtings, ekonomiese insinking, die kragkrisis, swak menseverhoudinge,  en so kan die lysie aangaan. Maar die kerkegemeenskap in ons land kan fonteine van lewende water word, wat vloei vanaf God na elke deel van ons gebroke land. Die water van die Evangelie kan die sout en brakheid uitvars, sodat daar vir ons almal hoop in hierdie land is.   

Jesus het self gesê dat diegene wat in Hom glo, is soos die Skrif sê: “Strome van lewende water sal uit sy binneste vloei.” Daarmee het Hy na die Gees verwys, want die mense wat tot geloof  in Hom kom, ontvang die Gees van God. (Joh 7: 36 – 39)

Mense wat gevul word met God se magtige teenwoordigheid, wat gevul word met God se Gees, word be-Geester om hulself as nuwe mense te sien wat in diens van God is. Hulle word God se tempel waar Hy gedien en geëer word. God kom met Sy magtige teenwoordigheid in hulle lewe in. Uit hulle vloei nou ’n stroom van lewende water van God se Gees.  Hulle word nou vrugtebome van genesing wat dwarsdeur die jaar vrugte dra.  

Ons moet ’n lewende stroom word in ’n brak wêreld. Uit onsself moet ’n stroom vloei, wat die brakwater verander in lewende water.

Deur God se MAGTIGE TEENWOORDIGHEID word die dooie werke van die mens, woorde en dade wat van liefde en oorvloed getuig.

Deur God se MAGTIGE TEENWOORDIGHEID, word ook diegene wat op die ashoop van die lewe beland het, se lewe verander tot ware lewensin.

Deur God se MAGTIGE TEENWOORDIGHEID word huwelike en gesinne nuut gemaak.

Deur God se MAGTIGE TEENWOORDIGHEID word moedeloses en siekes opgebeur.

Deur God se MAGTIGE TEENWOORDIGHEID verander lewens wat vasgeloop het in doodloopstrate,  in uitlope en riviere wat niks en niemand kan keer nie.

Deur God se MAGTIGE TEENWOORDIGHEID wil hy ons denke verander om nuut te dink, om blymoedig te lewe en vergenoegd te wees in alle omstandighede.

Uit onsself moet ons ’n fontein van lewe word wat opborrel. So kom daar ’n verskil in ons lewe en maak ons ’n verskil in ander se lewe.

Deur God se MAGTIGE TEENWOORDIGHEID wil Hy ons be-Geester om ’n oorvloedige lewe te lewe, om self ’n borrelende fontein te wees, ’n Tempel te wees, wat gevoed word deur die magtige rivier van God se teenwoordigheid.

Die Here wil ons lewe ontsout met sy magtige teenwoordigheid, sodat ons soet strome van seën word vir die wêreld.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

(Daar is gebruik gemaak van ‘n preek van ‘n onbekende skrywer, wat ek verwerk het.)

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s