Die mens wil wegkruip en God wil in die oopte bring


SKRIFLESING:  Gen 3 – 4 en Ps 51

Om weg te kruip is ’n eeue-oue gebruik by mens en dier.

Diere en insekte kruip gewoonlik weg vir oorlewing. Party spinnekoppe grawe vir hulle gaatjies in die grond, met ’n dekseltjie wat hul oor die gaatjie plaas, waarin hulle kan wegkruip. Eekhorinkies kruip in bome weg. Baie diere, insekte en visse kamoefleer hulself deur die kleur of die vorm van die omliggende natuur aan te neem. Ons ken almal die verkleurmannetjie wat verkleur deur die kleur van die blare of die stam aan te neem en sodoende weg te kruip.

Die mensdom het baie by die diere geleer. Die eerste mensepaar het die diere goed nagevors en geleer om hulself te kan wegsteek. Toe Adam en Eva sonde doen en God hulle kom soek, voel hulle skielik skuldig. Skuldige gewetes sien vyande. Skielik is God hulle grootste vyand. Nou moet hulle vir God wegkruip.

Wat doen hulle om weg te kruip? Hulle kruip weg tussen die bosse en die bome van die tuin van Eden. Hulle kamoefleer hulle skaamte met vyeblare. Hulle ontken dat hulle die skuldiges is, deur die skuld te verplaas.

Van toe af sou wegkruip, kamoefleer en ontkenning die oorlewingstegnieke van die mens word om te vlug voor God. Voortaan sou die mens die vlugtende mens word.

Vandag kruip mense vir God weg agter hulle besige programme en agter hulle goeie werke. ’n Mens kan selfs vir God wegkruip binne jou godsdiens. ’n Mens kan so besig raak met die diens in godsdiens, dat jy nie meer tyd het vir die God van die godsdiens nie.

Vandag kamoefleer die mens homself agter maskers. Maskers van valse bravade, geleerdheid, ordentlikheid, beskaafdheid, geld, besittings, skoonheid, ambisie en so meer. Ons sien nie eers meer ons eie skande, ons eie sonde en sondigheid raak nie. Ons vergeet daar is iets soos beskaafde barbare of geleerde monsters of skone ondiere of ryk rowers of ambisieuse selfgode.

Om jou skuld te kan bely is nie so maklik nie. Niemand wil graag sê ek is die skuldige nie. Ons verplaas liewer die skuld op ’n ander een. So speel ons vroteier. Ons plaas die sakdoek agter iemand anders se rug. Adam en Eva het net so vroteier gespeel. (Ds. Neels du Plooy se gedagte) Die Here kom eerste na Adam en vra wat hy gedoen het. Adam gee toe sommer vir Eva en vir God die skuld, deur te sê dit is Eva, die vrou wat God vir hom gegee het, se skuld  en Eva sê dis die slang, en so gaan die bose kringloop aan.

Vandag ontken die mens sy skuld deur alle skuld na God te verplaas. Waar was God? Hoekom het God dit toegelaat? Is God dood? Waarom is God afwesig? Ons verplaas ons skuld so gerieflik na God toe. God word die vroteier. Daarom het ons God ook gekruisig. Maar elke dag kruisig ons die Here nog steeds deur die skuld op Hom te plaas.

Gelukkig het God hierdie bose kringloop kom deurbreek toe Hy aan die kruis kom sterwe het. Hy het die vroteier geword wat in die middel kom staan het. Die skande en die stank van die hele wêreld se sondes het op Hom neergekom. Hy het die vroteier van die wêreld geword, waarvoor almal hulle koppe weggedraai het. Die Bybel sê hy was die sondebok op wie die skuld neergekom het.

Dit was gebruik in die Joodse tradisie om ’n bok simbolies te belaai (te besprinkel) met die skuld van die Israeliete in die kamp en dan die bok alleen die woestyn in te stuur om as’t ware die sonde van die volk weg te dra. Later is die bok selfs van ’n hoë krans in die woestyn afgestoot om ’n einde te maak aan die sondes van die volk.

Die Here Jesus was dus die vroteier, die sondebok, die Lam sonder gebrek wat geslag is om die bose kringloop van skuld te verbreek om versoening en vergifnis moontlik te maak.

Aan die kruis het die Here Jesus ’n nuwe kringloop laat begin, naamlik die kringloop van vergifnis. Aan die kruis het hy geprewel: “Vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.”

Helmut Thielicke, die bekende Duitse teoloog en skrywer, sê dat die Here Jesus as’t ware vir ons daar aan die kruis ’n aflosstokkie van vergifnis aangee, met die opdrag om daarmee te hardloop en dit aan te gee na ons skuldenaars. Daarom leer Hy ons om te bid: “Vergewe ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe.” Ons moet met die aflosstokkie van vergifnis hardloop en dit aangee vir ons huweliksmaats, ons kollegas, ons politieke opponente en vyande. As ek nie bereid is om dit te doen nie, word ek gediskwalifiseer, net soos ’n atleet wat die stokkie laat val of weier om die stokkie aan te gee aan die volgende atleet.

Vrees vir God en vrees vir my medemens sou die mens se lewe oorheers. Daarom kruip ons weg, kamoefleer ons onsself en ontken ons alle skuld om onsself te beskerm teen God en teen ons medemens.

Maar geen mens kan oorleef teen God nie. Ek kan nêrens wegkruip nie, want God is alomteenwoordig. Ek kan my nêrens kamoefleer teen God nie, want hy is alsiende. Ek is soos ’n goudvis in ’n ronde bolglashouer. Die goudvis kan nêrens wegkruip nie. Van alle kante kan die goudvis beskou word, selfs van onder ook.  Ek kan niks ontken nie, want God is alwetend.

Op ’n stadium het koning Dawid ook probeer om sy sondes (sy owerspel met Batseba en sy moord op Urija) weg te steek, en te ontken dat dit bestaan. Tot die profeet Natan na hom toe gekom het en vir hom – deur ’n storie te vertel –herinner het aan sy sonde.  Toe Dawid dit bely en in die oopte daarmee kom, toe herstel God hom, toe word hy die man “na aan die hart van God”.

’n Mufreuk of ’n stankreuk kan alleen verdwyn as dit in die oopte kom. As daar vensters oopgemaak word. Juis daarom wil die Here hê ons moet ons sondes bely teenoor Hom en teenoor mekaar.

Adam en Eva het vir God heeltemal verkeerd verstaan.

Adam en Eva vlug van God, hulle kruip weg … terwyl God op soek was daarna om hulle te red. Adam en Eva kamoefleer hulle skande met vyeblare wat kan verdroog en afval, terwyl God hulle wil bedek met klere wat van die velle van ’n dier, ’n bok, gemaak is. Ja, later sou God die volmaakte sondebok op Golgota slag wat die skande van die mensdom vir altyd sou bedek. Hy sou self die bruilofskleed voorsien. Adam en Eva ontken hulle sonde, ja verplaas dit na ’n ander een, terwyl God in Gen 3: 15 die sonde op Homself plaas.

Die mens wil vlug, wegkruip … God soek. Die mens kamoefleer … God bedek. Die mens ontken en verplaas … God plaas die skuld op Homself.   Hoe misverstaan ons nie vir God nie.

Wanneer God na die mens kom in die aandwindjie, kom soek Hy om te red, nie om te veroordeel nie.

’n Mens kan jou lewe slegs oorleef as jy jouself in God se hande oorgee. Dit is beter om in die hande van die lewende God te val, as om uit die hande van die lewende God te val.

In die ooptes sal jy God vind.

AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s