SKRIFLESING: Handelinge 1: 6 – 14
Tot voor 1994 se demokratiese verkiesing was Hemelvaart ’n openbare vakansiedag.

Daarna het dit ’n gewone werksdag geword. Hemelvaart is die stiefsuster van die reeks van kerklike feesdae. Kerkbywoning van Hemelvaart-dienste in die NG Kerk is landswyd swak. Daar word nie soveel waarde aan die dag geheg nie. Maar dit is ’n fout. Hemelvaart het ’n sleutelbetekenis in die teologie van die kerk. Die Hemelvaart is geen geringe saak nie. Die belangrikheid van Hemelvaart word duidelik in al drie die ekumeniese belydenisskrifte uitgespel. Dit lees as volg:
Die Apostoliese Geloofsbelydenis bely:
“Ek glo in Jesus Christus… wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die Almagtige Vader, van waar hy sal kom om te oordeel die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het.”
Geloofsbelydenis van Nicea:
“Ons glo in een Heer Jesus Christus, die eniggebore Seun van God… wat opgevaar het na die hemel, en sit aan die regterhand van die Vader; wat weer sal kom met heerlikheid om te oordeel die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het, wie se koningsheerskappy geen einde sal hê nie.”
Geloofsbelydenis van Athanasius:
“Ons glo in die Here Jesus Christus wat opgevaar het na die hemel, aan die regterhand van die Vader sit en van daar sal kom om hulle wat nog lewe en hulle wat reeds gesterf het, te oordeel.”
’n Predikant (onbekend) van die NG Kerk Kraggakamma het geskryf “die Hemelvaart lei ’n nuwe era binne.”
Dan verduidelik die predikant dat die “nuwe era” as volg verdeel kan word.
- Die nuwe era van Jesus se heerskappy
- Die era van die Gees
- Die era van die kerk
- Die era van verwagting
Ek gaan oor elkeen van die vierdeling van die nuwe era ’n paar van my eie gedagtes uitlig:
- Die Hemelvaart lei die nuwe era van Jesus se heerskappy in
Met Jesus se menswording is Hy verneder en die mense het nie van Hom gehou nie. Hy is vervolg en het later gesterf aan die kruis. Die kruisdood was die laagtepunt van Sy vernedering.

Met Sy Hemelvaart is Hy verhoog tot die hemel en het Hy gaan sit aan die regterkant van Sy Vader. Die regterkant beteken Jesus het ’n ereposisie ingeneem langs Sy Vader. Jesus heers oor die hemel en die aarde. Hy heers dus ook oor die kerk. Aan die regterkant van Sy Vader het Hy ook ons advokaat en Parakleet (voorspraak) geword. Ons het nou ’n direkte lyn na God deur gebed. Die hemel is ook ’n onsigbare dimensie, waar daar geen lyding, seer en hartseer is nie. Daarom het Hy deur Sy Hemelvaart vir ons die hemel oopgesluit, sodat as ons sterwe ons by Hom sal wees in ’n nuwe geestelike liggaam. Dan sal ons ook verheerlik word voor die troon van die Vader.
- Die Hemelvaart lei die era van die Gees in
Na die Hemelvaart was die dissipels ’n groep verskrikte mense. Hulle het gevoel dat hulle as weeskinders agtergelaat is. Hulle het die Evangelie geglo, maar hulle het nie die krag gehad om daaroor te getuig nie.

Hulle was te bang vir die Jode en die Romeine. Tien dae later het God Sy Gees op hulle uitgestort. Hulle is met die Gees vervul en kon skielik kragdadig getuig aangaande die Evangelie van Jesus Christus. Op Pinkstersondag het 3000 mense kragdadig tot bekering gekom deur die prediking van Petrus. Met die uitstorting van die Gees is al die geestelike gawes op God se kinders en die kerk uitgestort. Die gawes van uitverkiesing, roeping, wedergeboorte, bekering, regverdigmaking, heiligmaking, volharding en verheerliking is aan die kerk gegee. Daar is ook spesifieke gawes aan die kerk gegee soos die gawe van prediking, lering, gesondmaking en ook ander gawes.
So het die era van die Gees aangebreek. Met die uitstorting van die Gees was daar ’n skouspel met die spreek in tale, vuurtonge en die wind. Dit was soos ’n reuse-waterval wat skouspelagtig afkom. Daarna het die Gees se werk geword soos ’n magtige rivier wat rustig afkom. Deur die eeue het God se Gees in die kerk gewerk en miljoene het tot bekering en geloof gekom. Deur die Gees se werking is daar vandag kerke in die meeste plekke in die wêreld. In Suid-Afrika het selfs die kleinste dorpies Christelike kerke. Die Gees werk magtig en kragtig in die geskiedenis en in die lewe van die kerk en die gelowiges.
- Die Hemelvaart lei die nuwe era van die kerk in
In die Ou Testament het die kerk nie bestaan nie. Dit was ’n teologie van Israel as die uitverkore volk van God. Dit was amper iets van ’n volksteologie.

Maar Jesus Christus het vir die wêreld gesterf. In Hom is al die nasies van die aarde geseënd. (Joh 3:16) Daarom was die laaste opdrag van die Here Jesus toe Hy opgevaar het na die hemel, dat die dissipels na die hele wêreld moet gaan en die Evangelie moet verkondig. Jesus het as’t ware met Sy Hemelvaart die aarde fisies verlaat en Sy werk oorgegee aan die kerk. Daarom het die Evangelie so sterk gegroei in die vroeë kerk, maar ook deur die eeue. Die apostels het die Bybelboeke geskryf, maar Jesus het die kerk gestig en met sy Hemelvaart die aflosstokkie van die verkondiging en diakonaat aan die kerk oorgegee.
- Die Hemelvaart lei die era van verwagting in
Met Sy Hemelvaart het die Here Jesus beloof dat Hy net so sal terugkom as wat Hy hulle verlaat. Dan gaan Hy sy bruid (die kerk) ontmoet.

Daarom, soos daar by ’n bruidegom en ’n bruid in die maande voor hulle trou, ’n verwagting en ’n afwagting is, net so leef die kerk ook in die toekomsverwagting van die wederkoms van die Here Jesus Christus. Daar is ook met die Hemelvaart die verwagting geskep dat ons deel sal hê aan die heerlikheid wat op ons wag, as ons tot sterwe kom. Soos wat ’n bruid haar gereed maak, so moet die kerk haar ook gereedmaak vir die wederkoms van Jesus Christus. Dit sal ’n blye en heerlike dag wees.
Verskeie tekens word voorgehou as voorspellers van die wederkoms. Onder andere word voorspel dat met die eindtyd daar ’n “groot afvalligheid” sal wees. Hoe sien ons dit nie raak in die wêreld nie! Selfs bekende teoloë het die kerk vaarwel geroep en verval in ateïsme.
Daarom het die Hemelvaart vir ons groot betekenis. Die Hemelvaart is deel van ons belydenis as kerk. Daarom is die Hemelvaart geen geringe saak nie. Die Hemelvaart het die begin van ’n nuwe era ingelui. Daarom moet Hemelvaart deur alle Christene gevier word as kerklike feesdag.
AMEN
(Ds. Paul Odendaal is die leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)