SKRIFLESING: Luk 3: 1 – 20
Willem Nicol skryf in sy boek “Gebed van die hart”: “Diep in ons weet ons dat ons moet soek wat ons verloor het.” Augustinus was ook bekend vir sy woorde: “By God alleen het ek rus gevind.”

Woestyne vorm ’n belangrike deel van die Bybelse teologie. Telkemale lees ons in die Bybel van woestynervarings wat die volk Israel of sekere indiwidue deurgegaan het. Die 40 jaar wat die volk Israel deur die woestyn getrek het, was ’n suiweringsproses, sodat die volk kon leer om net van God afhanklik te wees. Die verhaal van Johannes die Doper in die woestyn is ook ’n verhaal van suiwering. Johannes die Doper het homself afgesonder in die woestyn, sodat hy God helder kon hoor en sy prediking van bekering onverstoord kon bring na die skare. Sy klere was kameelhare en sy kos was sprinkane en heuning. Die mense het gestroom om na sy prediking te luister, wat eg, anders en deur God geïnspireer was.
Johannes die Doper se unieke lewe en lewensomstandighede, sy wysheid en sy prediking het meegewerk tot die ontstaan van die woestynvaders. In vandag se preek gaan ek aan u verduidelik hoe die era van die woestynvaders ontstaan het.

In die Middeleeue was Vader Wetenskap en Moeder Kerk met mekaar getroud. Die wetenskap kon niks sê wat die kerk nie eers gesanksioneer het nie. Daar was dus nie ruimte vir objektiewe selfstandige wetenskapbeoefening nie.
As die wetenskap iets nuuts op die tafel plaas en die kerk was nie daarmee gelukkig nie, is sodanige wetenskaplikes maklik gebrandmerk as ketters en ook vervolg. Toe kom daar ná die Donker Middeleeue ’n groot egskeiding tussen Wetenskap en Kerk.
Ons noem dit die Verligting. Die paaie van die wetenskap en die kerk het nou geskei en wetenskaplikes het hulle nie meer gesteur aan die sanksionering deur die kerk nie. Dit was die begin van die ontstaan van Universiteite wat met objektiewe maatstawwe nuwe kennis gegenereer het. Daar het as’t ware ’n skeiding gekom tussen brein en hartsdinge. Dit was ’n positiewe ontwikkeling, maar dit het nie die mens se soeke na God, na die misterie, minder gemaak nie. Inteendeel die soeke na God word net al groter en daarom is daar wêreldwyd ’n ontwaking van spiritualiteit. Een van die sogenaamde Godsbewyse is dat die mens in homself / haarself ’n behoefte het na ’n hoër misterie, wat ons God noem.
Daarom is dit ’n ernstige fout om brein en hartsdinge van mekaar te skei. Eintlik moet alles, die brein én hartsdinge, deel wees van spiritualiteit. Thomas Merton, die Katolieke teoloog, skryf: “How mistaken I was to make contemplation only a part of […] life. For a contemplative his whole life is contemplation.”
Ronell Bezuidenhout skryf: “Alles wat ek doen, doen ek as ’n spirituele mens. Alles wat spiritueel is, doen ek as ’n denkende mens.” Daarom behoort daar nie ’n kloof te wees tussen die wetenskap en die kerk nie. Ook die wetenskap getuig van die misterie van God. Daarom praat ons van die CORAM DEO – dit is om alles voor die aangesig van God te beleef.
Maar ons moet nog verder teruggaan om die era van die woestynvaders te verstaan. Aanvanklik was die vroeë kerk erg vervolg, omdat hulle nie die keiser aanbid het nie. Keiser Domitianus het byvoorbeeld ekonomiese sanksies ingestel teenoor enigiemand wat hom nie as “kurios” aanbid het nie. Eers as jy voor die beeld van die keiser buig en ’n offer bring, het jy ’n merkteken gekry op jou hand of voorkop, wat jou toestemming verleen het om in die stad handel te dryf. Die Christene kon dus inderdaad nie voor die keiser buig nie, want hulle kon slegs buig voor die “Kurios” van die kuriosse. Dit het daartoe gelei dat hulle letterlik “ ’n stryd ten brode” gevoer het om aan die lewe te bly.
Hulle het hulleself inderdaad as vreemdelinge en bywoners in die wêreld beskou. Diognetus het geskryf (vrylik vertaal): “Alhoewel hierdie mense (die Christene), net soos ons, in huise bly, is hul gedrag meer soos dié van onbekende mense. Hulle neem deel aan die aktiwiteite van die stad, net soos ons, maar in alles is hulle vreemdelinge. Enige vreemde land is vir hulle ’n moederland, en enige moederland is vir hulle ’n vreemde land.”
In die vierde eeu het keiser Konstantyn hom tot die Christelike geloof bekeer. Hy het staatsveiligheid aan al die Christene gewaarborg en dit het ’n einde gebring aan die swaarkry en vervolging van Christene. Dit was enersyds ’n wonderlike ontwikkeling, maar dit het ook slegte nuus vir die Christene beteken. Hulle het verleer om te ly en swaar te kry vir hulle geloof. Die betekenis om “vreemdeling” en “bywoner” te wees, het vervaag. Dit het so goed met die Christendom gegaan dat hulle spoedig in hulle geloofslewe vervlak het.
Vir duisende Christene was die vervlakking van die geloofslewe vir hulle onaanvaarbaar. Hulle het toe hulle toevlug geneem tot woestyne, om weer te ervaar wat dit beteken om ’n “vreemdeling” of ’n “bywoner” te wees. Hulle wou wegvlug van die oppervlakkigheid en die vervlakking van die alledaagse lewe. Hulle wou God diep en intiem ervaar. Daarom het hulle na woestyne toe gevlug. Woestyne is plekke van stilte. In die stilte kon hulle God se stem weer hoor. Woestyne speel ’n belangrike rol as ’n tussentydperk vir “tussen-in-mense”. Ons leef tussen Oos van Eden en die hemelstad. Ons moet ons nie te gemaklik maak in hierdie lewe nie. Daarom speel woestyne ’n belangrike rol in die Bybelse geskiedenis.
- Die verhaal van Abraham die aartsvader speel af in die woestyn.
- Moses leef in die woestyn, om hom gereed te maak om die volk uit Egipte te verlos.
- Die volk Israel trek 40 jaar deur die woestyn.
- Elia vlug na die woestyn toe Isebel hom wou doodmaak, omdat hy die Baälprofete uitgeroei het.
- Johannes die Doper het in die woestyn die pad vir die Here gelyk gemaak.
- Jesus Christus was vir 40 dae in die woestyn, om Hom gereed te maak vir Sy aardse bediening.
Woestyne is plekke van stroping, van stryd, van afsondering, van nuwe ontmoetings, van lewensverdieping en ’n plek van geboorte. In woestyne word jy gevorm tot ’n beter kwaliteit lewe.

Daarom ervaar mense wat deur woestyn-tye in hulle lewe gaan, dat dit van die beste tye in hulle lewe was. Hulle het weer geleer om afhanklik van God te wees. Woestyn-tye kan wees ernstige siekte, kanker, finansiële nood, alleenheid, egskeiding, dood van ’n geliefde of enige ander stuk swaarkry wat oor ’n mens se lewenspad kom. Woestyn-tye stroop jou van trots en selfversekering, soos wat die herfs die bome stroop van hulle blare. Daarom is daar ook in die herfs- en wintertye van jou lewe ’n unieke skoonheid en verdieping, wat jou nader aan die Here bring.
Die vroegste woestynbewoners het nie gevlug uit die dorpe om niks vir die samelewing te beteken nie. Nee, hulle het juis woestyne toe getrek om hulself geestelik te verdiep, ten einde geestelike begeleiers te word vir ander.
In die embrio-fase van die Monastiese fase van die kloosterlewe het monnike en nonne buite die dorpe in die begraafplase gewoon, om die demone te beveg en so die dorp te beskerm. Daar was die bygeloof dat demone deur die dag die dorp invaar om die dorpelinge te teister en dan snags na die grafte terugkeer om te “rus”, want demone moet darem ook rus. Die woestynbewoners het dan deur gebed en afsondering in die nag die demone beveg.

Later het hulle kloosters opgerig in woestyne, wat ’n plek was van studie, wysheid, geleerdheid, toewyding, egtheid, en uiterste geloofsdissiplines. Mense van die dorpe en stede het na hulle gestroom om wysheid en geestelike begeleiding. Kloosters in die woestyne het plekke geword van diep nadenke oor God. Daar was geen plek vir oppervlakkigheid en vervlakking nie. Gelowiges is gevorm om unieke Geesvervulde lewens van oorgawe te leef.
Ronell Bezuidenhout skryf: “Die ou kerkvaders en -moeders het geweet dat om die ‘gestalte van Jesus’ aan te neem – om die mens te word soos God menswees oorspronklik bedoel het om te wees – nie vanself gebeur nie. Die gawe van kindskap van God word gratis aan jou gebied. Met ander woorde, jy is dit! Maar dan impliseer dit steeds dat jy, in die woorde van die Hebreërskrywer, jou babakos moet los en vaste kos moet begin eet. Jy kan nie in jou ‘baba-fase’ van kindskap bly nie. Min dinge in hierdie lewe kom sonder inspanning.”
Is jy en ek bereid om in hierdie tyd van Pinkster, onsself weer opnuut toe te wy om die Here met die nodige inspanning te dien, soos wat die woestynvaders vir ons die voorbeeld gestel het?
Gestroop van alles, was Johannes die Doper ’n besondere werktuig in die hande van die Here. Mag ons ook gestroop word van dit wat in die pad staan van die egtheid van ons geloof. AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)
BRONNELYS:
Bezuidenhout, Ronel (2015-02-18). Woestynwysheid. Ervaar God opnuut (Afrikaanse uitgawe). Lux Verbi. Kindle Edition.