Lok Vlinders, Nie Brommers nie


SKRIFLESING: 2 Kor 2: 14 – 17

Wonderskone blomme met ’n aangename reuk lok pragtige skoenlappers wat help om die blomme te bestuif.

Ons as kinders het altyd met die vlinders gespeel en hulle probeer vang met ’n sagte net, maar ons mag hulle nie seermaak nie. Ons mag hulle net versigtig vashou en dan weer loslaat, om hulle goeie werk voort te sit, naamlik om die blomme in my ouers se tuin te bestuif.

Vetplante se blomme wat sleg ruik soos vrot vleis, lok weer die vuil brommers wat die vetplante bestuif. Ons is altyd gewaarsku om weg te bly van brommers en vlieë. Hulle dra kieme en siektes. Hulle moet met die vlieëplak doodgeslaan word en dan moet jy jou hande gaan was voor jy tafel toe gaan om te eet.

’n Aangename reuk lok vlinders en ’n slegte reuk lok brommers.

Paulus sê as’t ware in 2 Kor 2: 14 – 17 dat ’n mens uitwendig mooi kan lyk, maar dat jou siel stink. Jou siel stink as jy in onvrede, bitterheid, kwaadwilligheid, onvergewensgesindheid en in sonde lewe. Die agtergrond van ons gelese gedeelte gaan oor die vraag of jy sonde in jou lewe oorwin het. In die voorafgaande verse word melding gemaak van liefde en vergifnis vir die oortreder. Daarom moedig Paulus ons aan om sonde in ons lewe te oorkom. Dan is ons op ’n triomftog en versprei ons ’n aangename geur. Die konteks van die gedeelte gaan oor die Romeinse gebruik om na ’n oorwinning deur die stad te marsjeer met groot vertoon. Gewoonlik word die vyand met minagting deur die strate aangejaag. Óf die vyand word slawe óf hulle word doodgemaak in die openbaar. Met so ’n triomftog word gewoonlik ook wierook gebrand. Vir die oorwinnaars is dit ’n aangename reuk. Maar vir die vyand wat verslaan is, is dit ’n doodsreuk. Hulle verwag die ergste, naamlik die dood. Net so, as die gelowige die sonde in sy of haar lewe oorwin, word ’n aangename geur versprei vir almal om te ruik. Maar as jy in die sonde volhard, versprei jy ’n doodsreuk, ’n stinkende slegte reuk.

In vers 17 word in die heel nuutste Afrikaanse vertaling gepraat van mense wat met die Woord “smous”. Dit beteken om die Evangelie af te water. Dit is soos ’n mes of swaard wat stomp geword het. Gelowiges kan dikwels die skerp kante van die Evangelie stomp maak. Dit beteken dat die tweesnydende Woord van die Here sy skerp kante verloor en as’t ware nutteloos word. So kan die mens die Woord van die Here afstomp en verwater.

Hoor wat sê Eugene Peterson in The Message: No – but at least we don’t take God’s Word, water it down, and then take it to the streets to sell it cheap. We stand in Christ’s presence when we speak; God looks us in the face. We get what we say straight from God and say it as honestly as we can. Dit is die probleem van die post-moderne mens, ons maak die Woord stomp, omdat ons die Evangelie afwater om akkommoderend te wees.

Dan versprei ons ’n stinkende onaangename reuk. Alles word as reg en aanvaarbaar voorgehou. Die Evangelie word afgewater as ’n “ou boek” wat vandag niks meer sê nie. Mense se etiese waardes het verwater. Die Here se naam word misbruik as ’n vloekwoord, om elke draai en hoek. Godsdienstige waardes word as outyds voorgehou. Uitwendig is ons dikwels soos pragtige vetplantblomme, maar inwendig kan ons siele stink van ’n afgewaterde Evangelie, wat al sy skerpte verloor het.

Die ergste is dat mense met hierdie Evangelie smous vir geld – dit noem ons die sogenaamde Welvaartsteologie of kultus-predikers. Predikers verkondig nie die Woord om siele te bekeer nie, maar om ryk, skatryk te word. Welvaartsteologie verkondig net rykdom, gesondheid en voorspoed. As jy arm of siek is, sê hulle dit is omdat jy sonde in jou lewe het of nie reg glo nie. Jou verlossing word dan aan jou geloof en goeie lewe gekoppel.

Die kerk word dan soos ’n besigheid bestuur om ’n sekere winsgrens te behaal, sodat die charismatiese prediker met duur karre, baie spoghuise, spoggerige klere  en ’n straalvliegtuig ’n uitspattige lewe kan leef. Die charismatiese prediker manipuleer gelowiges, deur te smous met die Woord. Hulle verkondig net voorspoed en nie dissipelskap nie.

Eenmaal het die Here Jesus Christus, in Johannes 13, die stinkende voete van die dissipels gewas. Hy het van stinkende voet na stinkende voet beweeg en elke voet gewas, om die Joodse reinigingswet te onderhou. Eintlik was dit die simbool dat Jesus aan die kruis ons stinkende harte en lewens sal skoonwas, sodat ons weer welriekend kan wees.

Ek het êrens gelees dat die gebruik van ’n bruidsruiker sy ontstaan in die Romeinse Ryk gehad het, maar dat dit in die Middeleeue die doel gehad het dat die bruid lekker kan ruik, omdat daar in daardie tyd nie seep en parfuum was nie. Mense het in daardie tyd ook baie minder gebad as vandag. So kon die bruid lekker geruik het vir haar bruidegom op hul groot dag. Nie Old Spice of Jóvan se Black Musk, kan ons siele laat lekker ruik nie. Geen bruidsruiker kan ons stink lewe verdryf nie. Die teksgedeelte sê uitdruklik Christus neem ons op ’n triomftog. Hy verlos ons. Hy maak ons weer welriekend. Wanneer ons die sonde in ons lewe oorwin, dan versprei ons ’n welriekende geur. Daarom mag ons nie gemaklik in ons eie sonde voortploeter nie. Christus neem ons mee op Sy triomftog.

Sommige vetplante se blomme ruik baie sleg om brommers aan te trek om hulle te bevrug. ’n Slegte reuk trek brommer- en vlieë-vriende, nie egte ware vriende nie. Wanneer jy ’n slegte reuk versprei, versamel jy soos in Psalm 1 die spotters, wat met God en ander mense spot. Psalm 1 noem hulle die goddeloses.

Blomme wat aangenaam ruik, trek skoenlappers aan, wat ware en goeie vriende is. Vers 17 sê ons moet in opregtheid praat en leef, asof dit vanuit God kom. Dit beteken om geen kompromieë te maak nie. Watter reuk versprei jy? Ruik jy lekker vir jou man of vrou? Ruik jy lekker vir jou gesin of vir jou ouers? Ruik jy lekker vir jou werksmense of kollegas? Versprei jy ’n aangename geur in die Adelaide- en Fort Beaufort-gemeenskap? Old Spice, Lux of Jóvan se Black Musk gaan jou nie red nie. Dit gaan jou siel, woorde, dade en optrede nie laat lekker ruik nie. Net Christus kan jou vernuwe om totaal nuut en vars te ruik. In Christus is jy ’n nuwe mens, wat anders en welriekend leef.

Somtyds word ons as volwassenes en kinders gespot oor ons geloof. Daar is ook elke dag Christene wat doodgemaak en onthoof word in Arabiese Moslemlande. As ons opstaan en bereid is om gespot en verneder te word, is ons soos blomme wat gekneus word om ’n aangename geur te versprei. Ons word as’t ware soos potpouri-blare gekneus en gedroog, om ’n welriekende geur vir Christus te versprei. Dit is juis die martelare in die vroeë kerk wat die wonderlike geur van Christus versprei het oor die hele wêreld.

By my ouerhuis van jare gelede het daar ‘n katjiepieringstruik gestaan, by die voordeur. Op somersnagte het dit die heerlikse geur versprei. Jy kon dit meters van die struik al ruik. Dit was vir my ‘n wonderlike ervaring. So moet ons ook katjiepieringstruike wees wat ’n welriekende geur versprei, wat op ’n afstand geruik kan word deur almal rondom jou. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is die leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)

Erkenning: In die voorbereiding van hierdie preek is ChatGPT (OpenAI) as navorsings- en taalhulpmiddel onder andere gebruik. Verskeie teologiese en akademiese bronne en kommentare, wat wetenskaplik artikels insluit, is ook gebruik.   Alle eksegese, hermeneutiek, teologiese beoordeling, en finale formulering bly die verantwoordelikheid van die prediker. Sommige fotos kan ook deur ChatGPT  (OpenAI) gegenereer wees.

Lewer kommentaar