HEMEL OP AARDE !
Ons dink dat die hemel eers eendag kom. Ons vergeet dat ons nou alreeds “iets” van die hemel, ‘n “stukkie” van die hemel moet laat kom in mekaar se lewens.
In plaas van vir mekaar ‘n stukkie “hemel” te gee, gee ons vir mekaar “hel op aarde”. Ja, elke dag stuur ons mense in hulle hel in. So word hierdie lewe vir baie mense “hel op aarde”. In plaas van “hemel op aarde”, ervaar ons net “hel op aarde”. Ons leef vir die hiernamaals, terwyl ons vergeet van die hiernoumaals. Ons leef vertikaal in plaas van horisontaal. Ons kyk op, sonder om rond te lyk en af te kyk.
In die Middeleeue, met die hoogbloei van die slawehandel, was daar ‘n slawekaptein wat slawe aan die kus van Wes – Afrika gevang het en per skip na Amerika geneem het. Hy was ‘n godvresende man, wat graag op die dek van die skip gesange gesing het tot eer van God. Tog was daar ‘n ernstige godsdiens-probleem by hom. Hy het die slawe onder in die dek van die skip baie swak behandel. Hy het vir hulle niks gevoel nie. Hy het slegs ‘n godsdiens van “bo” gehad, maar nie ‘n godsdiens wat “rond kyk” na mense nie. Hy het vergeet van die baie Lasarusse onder in die skip. Hy het met mense handel gedrywe en hulle boonop sleg behandel. Hy is die ryk man in ons geleeste gedeelte, wat ryk geword het uit ander mense.
In die gelykenis van die ryk man en Lasarus, het die ryk man ‘n stukkie hemel weerhou van Lasarus. Hy was ryk, hy kon iets vir Lasarus beteken. Tog het hy niks gedoen nie. Hy het Lasarus in die aardse hel gelos. Sekerlik kon hy nie die swere op Lasarus se liggaam gesond maak nie, tog kon hy verligting gee. Net so kan ons ook nie al die probleme van hierdie wêreld oplos nie. Tog kan ons verligting gee, mense se hel verlig, vir mense ‘n stukkie hoop gee en vir mense ‘n stukkie van die hemel laat sien. Op aarde kan mense nog iets vir mekaar beteken, want Lasarus het by die deur van die ryk man gelê. In die hemel is daar ‘n kloof, dan is dit te laat om vir iemand iets te beteken. As’t ware struikel die ryk man by sy deur oor Lasarus en beland in die hel. Daar is vandag baie Lasarusse in my lewe. Lasarus is enige mens vir wie ek iets kan beteken. Lasarus kan wees, my lewensmaat, my kinders, my ouers, my bediendes, die bejaardes en die armes en die siekes in my gemeenskap, die vreemdeling by my voordeur, die straatkinders, die ongelowige mens en in vele meer gestaltes.
Lasarus kan self die natuur rondom my wees. Ons mense word ryk uit die natuur, terwyl die natuur soos Lasarus vol swere is. Die natuur is so verniel en bedreig. Wat kan ek doen om die natuur te help?
Die ryk man het sy geleenthede verspeel. Soveel geleenthede by my voordeur, na aan my ……… tog word dit dikwels verspeelde geleenthede. Dikwels leef ons net vir onsself, soos wat die ryk man net vir homself geleef het. Telkens wil die Bybel die vraag vra: “Vir wie leef jy jou lewe? Vir jouself, jou eie gerief, jou eie sekuriteit of vir ander?
Die profeet Miga gee die korrekte antwoord vir ons in Miga 6: 8 “ Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is: Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor God.”
Die ergste is ‘n lewe wat nooit gelewe is. Eintlik het die ryk man in ons gelykenis nooit gelewe nie. Met die lewe kan dit maklik gebeur, soos met ‘n kosbare kledingstuk, wat suinig in die kas weggebêre word, sonder om gebruik te word. Op die einde het die motte dit opgevreet. Die kledingstuk het vergaan, sonder dat dit enige waarde vir iemand gehad het.
‘n Mens kry twee soorte mense, middelpuntvliedende mense en middelpuntsoekende mense.
Middelpuntsoekende mense is soos ‘n maalkolk in ‘n rivier of by ‘n badprop. Die water beweeg na die senter toe. Ons almal weet dat as jy in ‘n maalkolk beland, dan kan jy maklik verdrink.
Dit is ‘n vernietigende krag. So is mense wat net op hulself fokus en sentreer, besig om hulself met selfsug te vernietig.
Middelpuntvliedende krag is soos die planete wat rondom die son wentel. Hulle beweeg weg van die kern en skep lewe. Mense wat middelpuntvliedend altyd ander se belange hoër ag as hulself, kry dit reg om te lewe.
Hulle kan die lewe in oorvloed geniet.
Moeder Theressa, die Katolieke non van Kalkutta het haar lewe opgeleef. Sommige mense beskuldig haar dat sy ‘n hoogs immorele dame was. Sy kon haar lewe eerder gewy het om by die skatrykes van Amerika geld in te samel vir die armes van hierdie wêreld.
Sy kon dan tien keer meer vermag het. Tog het sy verkies en was sy op haar gelukkigste as sy in die drek van Indië, ‘n sterwende kind se hand vashou. By haar kan ons leer van empatie en deernis. Medemenslikheid is om iemand se hand vas te hou, letterlik of deur my woorde. Ek glo Moeder Theressa sou bereid wees om die hemel mis te loop, solank sy net ‘n stukkie hemel in die oë van ellendige mense kan bring.
Die hemel begin nou ……. ons moet nou al in die hiernoumaals, hemel skep in ander mense se lewens.
Die troos van die Here is dat hulle wat “afkyk” en “rondkyk” na hulle medemens, mag ook “opkyk” na hulle hemelse Vader. Jesus het ook “afgekyk” en “rondgekyk” na die mense, daarom kon Hy “opkyk” en na sy Vader gaan.
Christenwees beteken om met erbarming die liefde van die Here in woord en daad met jou medemens te deel. Eers dan het jy gehoorsaam aan die Heilige Gees geword. Dan is jy eers ‘n Pinkstermens.
Wanneer ons die Nagmaal gebruik, deel ons ook die brood en wyn. Net so moet ek ook my lewe deel met ander op my lewenspad. Ek moet ‘n “engel” vir ander mense word!
Maak iets van die hemel op aarde waar ! AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)