SKRIFLESING: Mark 8: 31 – 38 en Luk 14: 25 – 35
Die verhaal van John Griffith, operateur van die Spoorweë se valbrug oor die Mississippi rivier in die VSA, word vir die waarheid vertel.

Dit was die somervakansie van 1937 en John het dié dag sy agtjarige seun, Greg, saam met hom werk toe geneem. Vir klein Greg was dit ‘n fassinerende ervaring om te sien hoe sy pa middae van 12h00 die meganisme aanskakel wat die valbrug waaroor ’n treinspoor geloop het, ophys sodat die skepe onder in die rivier kon deurvaar. Die brug met die treinspoor kon in die middel oopmaak en na die kante opgelig word om die skepe onder deur te laat. John en Greg is daarna na die observasie toring om dié skouspel dop te hou terwyl hulle middagete geniet. So met die dophou van die skepe het die tyd verbygevlieg.
Skielik is John na sy werksituasie terug geruk toe hy ‘n trein veraf hoor fluit. Hy het op sy horlosie gekyk – dit was 13h07. Die Memphis-sneltrein met 400 passasiers het aangesnel gekom na die spoorwegbrug wat nog steeds opgehys was vir die skepe se deurtog. Griffith is inderhaas weg na die beheertoring om betyds die brug te laat sak sodat die trein veilig die rivier kon oorsteek oor die treinspoor op die brug.
Net voor hy die hefboom trek om die brug weer in plek te plaas, kyk hy vir oulaas of daar geen skepe aankom nie. Toe vang sy oog ’n beweging wat sy bloed laat stol. Sy seun het blykbaar te ver oorgeleun om na die skepe daar onder te kyk en oor die reling van die toring geval – reg in die massiewe ratte wat die brug laat werk. Greg se linkerbeen is vasgevang en hy kon nie wegkom nie. Sy pa kon hom nie betyds bereik nie.
Terwyl hy magteloos die trein sien nader snel, maak Griffeth die verskriklikste keuse van sy lewe. Toe bedek hy sy oë met sy linkerarm en met die ander hand trek hy die beheerhefboom. Die massiewe valbrug sal in plek sekondes voordat die Memphis-trein met sy honderde passasier die brug bereik.
Toe John Griffith sy kop optel, was sy gesig nat van sweet en trane. Deur die vensters van die verbysnellende trein sien hy die passasiers sit – gesellig geselsend, besig om koerant te lees, na-ete koffie te drink, aan kaas en beskuitjies te peusel. Niemand het eens in die rigting van die beheertoring gekyk nie. Met pynverwronge stem het John Griffith geskreeu: “ Ek het my seun vir julle geoffer! En julle drink koffie!”
Sou God dit soms ook van ons ongeërgde dissipelskap sê?
DISSIPELSKAP BETEKEN NIE ’N GEMAKSONE NIE, MAAR OPOFFERING! BEREKEN EERS DIE PRYS!
Ons dissipelskap is dikwels afgewater, omdat ons nie ons kan indink wat God vir ons opgeoffer het nie. As dissipels van die Here weet ons nie meer wat opoffering beteken nie.

Ons verval in gemaksones. Godsdiens word aangepas by mense se behoeftes en gemak. Mense het verleer om volgens die eise van die Evangelie te lewe. As die Evangelie en die kerk hierdie gemaksones van die mens aanspreek, sal die Evangelie verkoop en die kerk groei, altans so glo die mens.
Die ooreiste mense van hierdie eeu soek ‘n godsdiens wat werk:
Godsdiens moet nie veeleisend wees nie …………… eeu van gemak.
Godsdiens moet vir my sekuriteit in hou ……………. dit moet vir my “’n alles in een polis” wees.
Godsdiens moet hoë rente verseker …………….. dit moet met my altyd goedgaan en natuurlik die belofte van die hemel.
Godsdiens moet lekker wees ………………………. emosioneel bevredig.
Die kerk is daar om my te dien. (gemaksugtigheid bevredig)
Vandag word kerke gebou met opgestopte stoele, liedere word gepubliseer wat die emosies van die mens bevredig en die Evangelieboodskap word afgewater sodat dit nie vir die mens aanstoot mag gee nie. Die probleem is dat mense geloof en godsdiens goedkoop maak en nie bereid is om iets daarvoor op te offer nie.
GODSDIENS MAG NOOIT ’N GEMAKSONE WEES NIE, DIT VRA ALGEHELE TOEWYDING EN OPOFFERING
Stefanus, is oor sy geloof met klippe gestenig. Petrus, het onderstebo aan ‘n kruis gesterf vir sy geloof in die Here Jesus Christus. Paulus, het vele ontberinge, vervolging en tronkstraf uitgedien, tydens sy verkondiging van die Evangelie.
Ek wil ’n stukkie van die vroeë Europa se geskiedenis vir u vertel. Ek verwys na die jare 1522 tot 1573.

Die jare staan bekend as die Kontra – Reformasie of die sogenaamde “Swart Terreur”. Gedurende die tyd het die Inkwisisie Protestante vervolg en doodgemaak oor die hele Europa, maar veral in Italië, Spanje, Nederland en Frankryk. Protestante is gemartel op pynbanke, in donker kelders gedurende die middernagtelike ure. Manne, vroue en jong meisies en seuns is nakend op pynbanke vasgemaak en gemartel met water, skroewe, vuur en gewigte. Die spiere is uitgerek, sonder om hulle te skeur en die beendere gekneus, sonder om hulle te breek. Die pynbanke is gevolg deur hulle helder oordag op brandstapels te laat sterf.
Volgens Crespin het daar in hierdie tyd net in Frankryk die volgende getalle Protestante gesterf: Parys 10468 en in die hele Frankryk 30 000. Die Inkwisisie het gespog met hoeveel Protestante per nag per man uitgemoor kon word. Die Franse stede Lyon, Dyon, Orleans, Tours en vele ander het in vlamme opgegaan.
In Nederland het dit net so beroerd gegaan. Op die helige Bartholomeus – nag is tienduisende Nederlandse Protestante doodgemaak. Die geskiedskrywers sê dat honderde lyke het met die Sein-rivier afgespoel en die rivier het plek-plek rooi verkleur van al die bloed. Die Heilige Bartholomeus – nag word beskou as die grootste misdaad in die moderne geskiedenis. Op ander plekke in Nederland is Protestantse kerke, terwyl hulle besig was met eredienste afgebrand en lidmate met sabels doodgemaak.
Terwyl die Sein-rivier met bloedbevlek is, stede in vlamme opgegaan en die stank van duisende lyke swaar gehang het oor die Protestantse stede en mense in hulle duisende gevlug het is die Nederlandse Geloofsbelydenis (1561) en die Heidelbergse Kategismus (1567) geskryf. Die was die tyd van die groot Belydenisskrifte van die Protestantse kerke. As’t ware het die Sinodes van daardie tyd hierdie geskrifte geskryf onder die vlammelig van die brandstapels.
Teen hierdie agtergrond begin die Heidelbergse Kategismus met sy Eerste Vraag: Wat is jou enigste troos in lewe en in dood?

En dan antwoord die Kategismus “My enigste troos in lewe en dood, is dat ek met liggaam en siel, in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort. Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos. Hy bewaar my op so ’n wyse, dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie. Alles moet inderdaad tot my saligheid dien. Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe.”
Dit is geloofsmoed. In hierdie tyd was Psalm 46 die martelaarslied, maar ook die lied van vertroue vir die Protestante kerk. Daarom het Luther dan ook die Psalm berym in die woorde van die beroemde Duitse gesang: “Ein feste brug ist unser Gott.” In hier die Psalm word verklaar dat God die enigste TROOS is, die enigste BRUG is, die enigste TOEVLUG is, die enigste BESKERMER is. As God dit nie vir u is nie, glo u nog nie.
God is alles of Hy is niks in jou lewe, daar is nie ’n middeweg nie, daar mag nie meer kompromieë wees nie. Daarom beteken dissipelskap opoffering, kruisdra en ’n lewe van algehele toewyding. Godsdiens is ’n duur saak, waarvan jy eers die koste moet bereken voor jy sê: “ja, Here!” Wanneer godsdiens ’n gemaksone is, is dit goedkoop, as dit alles van my vra word dit ’n duur saak.

Om te dink of te doen alles wat die mense wil hê is egter gevaarlik. In vers 33 sê die Here aan Petrus dat hy nie moet dink aan wat die mense wil hê nie. Wanneer ’n predikant of ’n kerk of ’n gelowige slegs dit doen en sê wat die mense wil hê, speel hy/sy in die hand van die duiwel – staan hy/sy in die pad van God.
In vers 31 het die Here Jesus aan sy dissipels aangetoon dat Hy baie sal moet ly en uiteindelik doodgemaak sal word. Dit was egter vir Petrus eens te veel. Hy berispe die Here Jesus hieroor in vers 32. Volgens Petrus was die Here te gewild om doodgemaak te word. Inteendeel die storie het rondgeloop dat die Here Jesus die Messias is wat hulle van die Romeinse juk sou bevry. Hoe kan die Here Jesus dan nou praat van ly en van doodgemaak word.
Daarom was dit vir die Here Jesus nodig gewees om Petrus te tugtig. Petrus jy dink aan wat die mense wil hê en nie wat God wil nie. Daarom sê die Here vir Petrus: “Moenie in my pad staan nie, Satan.”
Die mense in die tyd van Jesus Christus het bevryding en glorie en minder Romeinse belasting gesoek. Daarom was dit vir hulle onaanvaarbaar dat Jesus kon ly en doodgemaak word. So het wat die mense wou hê in die pad van God gestaan. Ja, hierdie mense het eintlik in die hand van die duiwel gespeel.
Wanneer die kerk trap in die slagyster om vir mense te doen wat hulle wil hê (GEMAKSONE) staan die kerk in die pad van die duiwel.
Ons moet as’t ware vra maar wat wil God hê? God se wil vir sy Seun was nie om ’n Politieke Bevryder te wees of om glorie aan die Joodse volk te bring nie. God se wil vir sy Seun was dat Hy moes ly en doodgemaak word, sodat hy die wêreld kon red. Christus Jesus moes homself verloën, sy kruis, die kruis van die wêreld dra en sy Vader in die hemel navolg.
God se wil vir ons is nie om gemaklik agteroor te sit en God te vertrou om ons koninkryke te beskerm en ons emosionele lewe te “boost” nie.
God se wil vir ons is dat ons onsself moet verloën, ons kruis moet dra en die Here moet volg sodat God deur ons die wêreld kan heel. (Sien vers 34)

Bonhoeffer het in sy boek “Nachfolge” gesê: “Wanneer Christus ’n mens roep, Hy jou roep om te kom sterf. Vir die gelowige moet dit nie gaan oor glorie, gemaksug, emosionele “boost”, en ’n godsdiens van sekuriteite nie.
Dit moet gaan oor selfverloëning, oor kruis dra en navolging.
Met selfverloëning word bedoel om my eie opinies en idees oor sake en mense te verander. Om altyd die minste te wees. Dit beteken om nie meer die gewilde vriend van die wêreld te wees nie. Dit beteken dat ek nou die wil van God doen, en nie meer die wil van die mense nie. Ek vrees God meer as die mense. Ek steur my nie meer daaraan om aanvaarbaar en gewild te wees onder die mense nie.
Om nederig en diensbaar voor God en my medemens te leef. Om nie meer vir myself en my eie koninkrykie te leef nie. Nou is ek nie meer die “heer” of die “dame” nie – nee, nou is ek die slaaf van Christus.
Nou gee ek myself weg vir ander, stukkie vir stukkie: my tyd, talente, besittings ens.
Met kruis dra word nie bedoel om die daaglikse angs, nood en ongerief van my eie natuurlike lewe te verduur nie, Nee, dit beteken om die angs, nood en ongerief van ander te verduur. Die kruis van die arme word my kruis, die kruis van die beproefde word my kruis en die kruis van die sosiaal uitgestote word my kruis. Met ander woorde, kruis dra beteken om die kruis van my naaste op te neem en myself daarmee te vereenselwig.
Pascal het gesê: “It is so difficult to believe because it is so difficult to suffer.”
Met navolging word bedoel om te stap in die voetspore van die Here. Ek moet daar wees waar die Here Jesus ook sou wees. Waar sou die Here Jesus wees?

Hy sou op ’n stil plek wees om te bid. Hy sou daar op my plaas wees tussen my werkers om die Skrifte vir hul uit te lê, Hy sou by die bejaarde en sieke wees, Hy sou daar by die beproefdes wees, Hy sou daar by die Kinderhuis wees, Hy sou daar by die gevangenis wees, Hy sou daar in die Adelaide se hospitaal wees, Hy sou daar in die plakkerskamp wees om vir mense raad te gee en hul nood te verlig. Wie Christus navolg, is daar waar Christus sou wees.
U sien dus, wat die mense wil hê is anders as dit wat God wil hê? Mense wil hê: gemak, sekuriteite en die “boost” van my eie emosionele lewe. Die Evangelie moet my genees en niks verder nie.

God wil hê: Deur selfverloëning, kruisdra en navolging wil God my gebruik om die wêreld te help heel. Daar is nie plek vir glorie, gemaksug of die vertroeteling van my eie emosies nie. Daarom moet ons nie bang wees vir mense of ons skaam wees vir God nie. Ons moenie die dinge sê en doen wat mense graag wil hê nie, want dan verloën ons die Here Jesus Christus. Daarom sê die Here Jesus in vers 38 dat die een wat hom skaam vir die Here, vir hom sal die Here skaam wanneer die wederkoms aanbreek. Vrees God meer as vir die mens.
Moet ons onsself verloën, ons kruisdra en Christus navolg asof dit ’n las is. Nee, ons moet dit met blydskap doen. Navolging, kruis dra en selfverloëning moet ons nie negatief ervaar nie, maar met blydskap. Wanneer Paulus in die tronk sit vir die Here Jesus sê hy: “Wees bly in die Here, ek herhaal wees bly!”
Met blydskap moet ons leer om voluit vir die Here te lewe, al kos dit wat, ja, selfs my lewe!
Want Hy het mos alles vir my opgeoffer!
Amen
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)