Om eensgesind te wees.


SKRIFLESING: Ps. 133: 1 – 3

Twee broers het saam op ‘n familieplaas gewerk. Die een was ongetroud en die ander een getroud met kinders. Hulle het dit wat hulle geproduseer het en die profyt wat hulle gemaak het, presies om die helfte gedeel. Een dag het die alleenloper vir homself gesê: “ Dis nie reg dat ons alles om die helfte deel nie. Ek is ‘n alleenloper en my behoeftes is min. Daar is my arme broer egter, met ‘n vrou en al die kinders”. In die middel van die nag het hy dus gereeld ‘n sak koring uit sy skuur geneem, die veld tussen hulle huise oorgesteek, en dit in sy broer se skuur gaan neersit.

Sonder dat hy dit geweet het, het sy broer dieselfde gedink: “Dis nie reg om alles om die helfte te deel nie. Ek is getroud en my vrou sorg vir my. My kinders sal na my omsien op my oudag. My broer het niemand nie, en wie gaan in die toekoms na hom kyk?” Hy het toe ook gereeld ‘n sak koring uit sy skuur geneem, die veld tussen hulle huise oorgesteek, en dit in sy broer se skuur geplaas. Al twee het jarelank met die gebruik voortgegaan om ‘n ekstra sak koring in mekaar se skuur te gaan pak. Wat hulle nie kon verstaan nie, was waarom hulle sakke koring nie minder word nie. Wel, een nag het dit so gebeur dat hulle dieselfde tyd van die nag na mekaar se huise toe afgesit het met ‘n sak koring op hul skouer.  In die donker het hulle in mekaar vasgeloop, met die sakke koring nog so op hul skouers. Elkeen was verbaas maar geleidelik het die waarheid tot hulle deurgedring. Hulle het hulle sakke op die grond gegooi en mekaar omhels. Skielik is die naghemel verlig en het ‘n stem uit die hemel gesê: “Hier is uiteindelik die plek waar Ek my tempel gaan bou. Want, waar broers in liefde saamwoon, daar sal Ek ook teenwoordig wees.” Die kerk is daar waar mense om Christus ontwil mekaar liefhet.

Die Here het vandag ook vir Sy gemeente in Ps. 133 ‘n wens, naamlik dat ons eensgesind met mekaar moet saamleef. In ons huwelike, in ons gesinne, in ons kerk en in ons gemeenskap moet ons mekaar liefhê en eensgesind saamleef. Daarom sê die Spreuke digter in 17:1 : “Liewer ‘n stukkie droë brood met vrede daarby as ‘n huis vol kos met ‘n getwis daarby.”

In ons teksgedeelte word gepraat van broers. Dit kan beteken bloedbroers of vriende of ons broers in die geloof. Want is dit nie waar dat elke mens op jou pad eintlik maar jou broer en suster moet wees nie.

Die Psalmdigter sê dit is vir hom goed, dit is vir hom mooi as mense eensgesind kan saamleef. In Hebreeus staan daar eintlik hoe “goed” en “aangenaam” dit is as mense in liefde kan saamwoon.

Die Psalmdigter gebruik twee illustrasies om die aangenaamheid van eensgesindheid tussen broers te beskryf. Die eerste illustrasie kom uit ‘n godsdienstige plegtigheid, naamlik die wyding van ‘n hoëpriester en die tweede beeld uit die natuur.

Die eerste illustrasie in vers 2 beskryf die eensgesindheid tussen broers in die beeld van ‘n godsdienstige plegtigheid, naamlik die wyding van die hoëpriester. ‘n Hoëpriester word gesalf met olie. Olie het in die algemeen die betekenis van vreugde, dit verskaf geur en dit verlig pyn. So word broederskap tussen mense beleef.

Dit bring vreugde – teenoor die bedompigheid van selfsug wat eensgesindheid versteur.

Dit verskaf geur – teenoor die bedompigheid van selfsug wat eensgesindheid versteur.

Dit verlig pyn – met ‘n ware broer kan ek my pyn deel. Hy sal verstaan en onderskraag.

Die tweede illustrasie kom uit die natuur, waar die harmonie tussen broers met die dou van die Hermonberg vergelyk word. Dou is as teken van goddelike seën beskou, dit is ‘n goddelike gawe van lewe en vrugbaarheid. Na die hitte van die dag is die dou in die nag verfrissend en as ‘n besondere seën beskou.

Beide die olie en die dou drup. Die olie drup af oor Aäron se baard, dit drup af oor sy klere en selfs die dou van die Hermon drup af oor die berge van Sion. Dit simboliseer die oorvloedige seën wat broederskap en eensgesindheid tussen mense bring. Baie van ons menslike spanning en stres is te wyte aan swak menseverhoudings tussen mense. Ons stres omdat ons nie met mekaar oor die weg kom nie. Ons wil nie as broers saamwoon en eensgesind saamleef nie. Ons is krities teen alles en almal. Ons is klein geestelik met mekaar. Skinder en vetes maak ons af as klein-dorpie-politiek.

Wie skinder en krities is teen alles en almal, is so goed soos die rower in die “gelykenis van die barmhartige samaritaan”. So iemand beroof ‘n ander een van sy menswaardigheid en lewe. Dit verbreek die eensgesindheid tussen mense.

Esopus was in diens van die filosoof  Xantus. Een dag wou Xantus sy vriende onthaal, en beveel vir Esopus om die beste produkte op die mark vir aandete te laat gaarmaak. Esopus laat maak die kok toe net ‘n klomp tonge gaar, en laat dit voorsit met verskillende souse. Die aand bestaan die voorgereg, hoofgereg, bykosse en poeding uit tong. Xantus was woedend :”Het ek jou nie gesê om die beste produkte op die mark te koop nie?”

“En het ek nie gedoen wat u beveel het nie?” het Esopus gevra. “Daar is tog niks beter as die tong nie: Dis die gom van ‘n beskaafde samelewing, die sleutel van die wetenskap, en die medium van die waarheid en die rede. Deur die tong word stede opgerig en regerings gevestig en geadministreer: met die tong onderrig mense, redeneer en word vergaderings gelei. Dis die instrument waarmee ons sing en God aanbid en prys.” “Nou ja”, het Xantus geantwoord, “ek sien ek kan jou nie antwoord nie, maar gaan nou môre mark toe en koop die slegste goed wat jy kan kry. Ek gaan dieselfde vriende oornooi, en wil hulle ‘n bietjie op ‘n ander manier vermaak en vir hulle ‘n poets bak.” Maar toe aandete voortgesit word, het Esopus presies dieselfde disse as die vorige aand laat maak.

“Het ek jou nie gesê om vir vanaand se onthaal die slegste produkte op die mark te soek nie?” het Xantus uitgeroep. “Hoe is dit dan dat jy dieselfde geregte laat maak het? Jy het dan net gisteraand gesê dat die tonge die beste produk op die mark is?”

Heel kalm het Esopus verduidelik: “ Die tong is die beste ding in die wêreld, maar ook die slegste. Want dis ook die instrument van twis en tweedrag, die aanstoker van regsgedinge, die bron van verdeeldheid en oorlog, die medium van vrees, skinder en leuens – selfs van godslastering.” Sy baas – en die se vriende – moes saamstem met Esopus se redenasie, en met sy illustrasie van die groot waarheid oor die voordeel en die gevaar van die tong.

As ons so ons tonge verkeerd gebruik het ons nie meer deel aan die seën van die Here nie. Die Here wil ons seën, maar dan veral daar waar ons in broederskap met mekaar saamleef.

Geliefdes, u mag nooit toelaat dat haat in julle harte posvat nie. Wanneer iets tragies en afskuwelik gebeur, soos wanneer iemand vermoor word of iemand besteel word is ‘n mens geneig om die “ander mense” en “ander volke” te wantrou. Goeie mense kry ons onder elke volk in die wêreld. Ja, die meerderheid van die Duitse volk in die Tweede wêreldoorlog het niks geweet van die gaskamers nie. Inteendeel sommige Duitsers het hul lewe gewaag om ander Jode te red.

Daarom mag ons nie onsself toelaat, om ander mense van ander volke te haat nie – want dan sou ons in die hande van die duiwel speel. Die duiwel wil die harmonie tussen mense versteur. Hy wil die eensgesindheid tussen mense versteur. Hy wil hê ons moet mekaar wantrou. Wie homself toelaat om te haat, is die ellendigste van alle mense. Sy eie haat gaan hom verslind.

Die Here wil hê dat ons in eensgesindheid moet saamleef met my lewensmaat, my kinders, my vriende, my volksgenote en ook met die een wat nie my volksgenoot is nie. Dan sal die salfolie en die dou van die Here oor ons lewens en oor ons dorp drup. Dan sal die genade van die Here weer ons gekneusde gemoedere genees en ons dorp weer heel. Waar ons eensgesind saamleef, kom die Evangelie in werking. Waarlik, die Kerk is daar waar mense om Christus ontwil mekaar liefhet. As die Here afkyk uit die hemel oor ons huwelike, ons gesinne, ons gemeente, ons dorp mag Hy ook sê: “Hier is uiteindelik die plek waar Ek my tempel gaan bou. Want waar broers in liefde saamwoon, daar sal Ek ook teenwoordig wees.”

Wie deel is van die kerk het geen keuse nie, u moet liefhê! U moet die vrede met u naaste najaag. U moet werk daaraan om eensgesind met ander te leef. Dan sal die seën van die Here oor u drup.    AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s