SKRIFLESING: Jakobus 4: 3 en Jakobus 5: 13 – 20
As ’n outydse waterpomp gereeld gebruik word, is min inspanning nodig om water te pomp; die water stort met die eerste probeerslag uit, want die watervlak is hoog. Maar as die pomp vir ’n lang tyd nie gebruik is nie, daal die watervlak en as jy dan water wil hê, moet jy ’n lang ruk pomp voordat die water uitkom, na groot inspanning. Dit is so met gebed ook; as ons ’n gereelde gebedslewe het, dan maak elke klein omstandigheid die ingesteldheid om te bid wakker, en ons begeertes en ons woorde is altyd gereed. Maar as ons ons gebedslewe verwaarloos, is dit vir ons moeilik om te bid, want die water in die put raak laag. Baie van ons se gebedslewe is ook soos ’n waterput waaruit lanklaas gepomp is. Gebed kom nie so maklik as jy nie gereeld bid nie.
Die Heidelbergse Kategismus beskryf gebed as die vernaamste element van ’n mens se dankbaarheid. Gebed is een van die vernaamste dissiplines in ’n mens se geloofslewe.

Om te bid, is om te verander. God gebruik gebed nie net om sake te verander nie, maar ook om ons te verander. Opregte gebed spreek die sake aan waarvoor ons bid, maar dit verander ons lewe ook. Jakobus 4:3 sê dat ons dikwels verkeerd bid: “As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig.” Ons moet nie net bid soos van ’n inkopielys af nie, maar ons moet ook bid vir ander mense, vir lewensverandering in ons lewe en dat God se wil al meer sigbaar sal word in ons lewe. Hoe nader ons aan die hartklop van God kom in ons gebedslewe, hoe meer sal ons verander word na die beeld van God. Ek moet ook teen myself en my vleeslike begeertes bid en vir God vra om vir my die geestelike gawes te gee wat ek kortkom. In opregte gebed, begin ons die dinge begeer wat God begeer, om die dinge lief te hê wat Hy liefhet en die dinge te wil wat Hy wil.
Gebed vereis verandering by jou. Wanneer ons bid: “Lord, let your Kingdom COME”, moet ons daarmee saam bid: “Lord, let my Kingdom GO.” Gebed vra aksie. Ek moet die goed doen waarvoor ek bid. As ek vir die armes bid, moet ek ook iets doen aan die armes se nood. Gebed vra persoonlike commitment en toewyding.

Sφren Kierkegaard het een maal opgemerk dat hy eers gedink het om te bid is om net te praat. Tot hy die geheim van gebed geleer het en dit was om ook te luister. Om na God te luister en te luister daar waar daar nood is. Dikwels kort ons medelye in ons gebedslewe. Daar moet opregte empatie wees tussen die bidder en die een vir wie gebid word. Daarom moet ons mense opreg liefhê om regtig vir hulle te bid.
Daar is ook iets soos “flitsgebede”; dit is wanneer jy iemand deur die dag raakloop wat ’n gebed benodig. Dit is om tussen jou aktiwiteite deur vir iemand te bid, selfs al is jou oë oop. As ’n taxibestuurder onverskillig bestuur en ’n sperstreep op ’n hoogte verbygaan, kan jy vir hom bid vir insig en dat hy veilig mag wees. In die proses vat dit ook jou padwoede weg. As jy voel jy ervaar padwoede oor ander mense se onverskillige bestuursvermoë, moet jy net bid. Dit bring kalmte in jou gemoed.
Almal wat in ’n diep verhouding met God was, het gebed as die hoofsaak in hulle lewens beskou. Die Here Jesus stel self vir ons daarin ’n voorbeeld in Mark 1:35 wat as volg lees: “Die môre vroeg, toe dit nog nag was, het Hy opgestaan en buitentoe gegaan na ’n eensame plek en daar gebid.”
Martin Luther het verklaar: “Ek het so baie sake om af te handel dat ek nie kan vordering maak as ek nie elke dag drie ure lank bid nie.”

Soms bid ons net vir dinge. Die verhaal word vertel van ’n predikant wat na Johnnie se huis gekom het, en tydens die gesprek het hy hom gevra: “Bid jy elke aand, my seuntjie?” “Nee,” antwoord Johnnie, “sommige aande wil ek niks hê nie.” Sommige mense deel hierdie selfsugtige siening van gebed. Gebed is nie net vir persoonlike versoeke nie – dit is vir belydenis, lof, danksegging, aanbidding en voorbidding vir ander. Gebed is ’n bediening van smeking vir ander en aanbidding van God, sowel as versoeke vir myself.

In ons teksgedeelte staan die gemeenskaplike verantwoordelikheid uit. Gelowiges moet vir mekaar bid. Wanneer iemand siek is, moet die ouderling ontbied word om vir die sieke te bid. Verder sê Jakobus in hoofstuk 5:16 die volgende: “Bely dan julle sondes teenoor mekaar, en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word.” Met hierdie “gesond word” word bedoel die gebrokenheid in die gemeenskap wat gesond moet word. In Jakobus se tyd was daar in die vroeë kerk baie spanning rondom klasseverskille, kultuurverskille, ryk en arm, die veragting van die weerloses en die misbruik van die tong. Dan moedig Jakobus die gelowiges aan om te bid, dat die spanning en verskeurdheid tussen die gelowiges gesond sal word.
Augustinus die kerkvader, was in sy kinder- en jongman-jare ’n onverskillige rebel wat gebaljaar het onder die verkeerde vriende, meisies en in die kroeë van sy tyd. Sy moeder Monica het egter getrou gebid dat God tog haar seun Augustinus se lewe moet aanraak en verander. Die Here het na haar gebed geluister en die Heilige Gees het Augustinus se hart verander. Met Augustinus en sy buite-egtelike seun se doop en belydenisaflegging het die priester gesê dat Monica se gebede Augustinus se lewe verander het. Augustinus het een van die grootste kerkvaders van alle tye geword.
Ons moet nie wag om so te “voel” voor ons bid nie. Gebed is soos enige ander werk. In die begin voel ons nie lus nie, maar ons dwing onsself om dit te doen. Na ’n rukkie word dit lekker en jy geniet dit. Daarom is gebed ’n geestelike dissipline. Daarom moet ons gebedspiere opgewarm word, sodat wanneer die bloedvloei van voorbidding eers begin het, ons dit sal geniet.
Ek hoef nie soos ’n Concorde-vliegtuig, grasieus en voortreflik, te bid nie. Al sukkel jou gebed ook om van die grond af te kom – God luister. God oordeel nie ons gebede op grond van die korrektheid daarvan nie.

Te midde van ’n menigte aktiwiteite, moet ons nie toelaat dat enigiets ons gebedstyd indring nie. Die duiwel sal ons so besig hou, dat hy ons net nie biddend kry nie. Hy weet dat hy geen wapen teen gebed het nie. Hou u gebedstyd met alle ywer, soos Daniël, wat drie keer per dag tot die Here gebid het.
In Openbaring 8:4 staan daar: “Die rook van die wierook wat deur die engel geoffer is, het saam met die gebede van die gelowiges opgestyg voor God.” Ons swakke gebede is soos wierook wat deur God aanvaar word. Ons swakke gebede word deur die Gees vertaal in gebede wat vir God aanneemlik is.
AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort)
BRONNELYS:
Foster, R. 1992. ’n Tyd vir toewyding. Kaapstad, Struik Christelike Boeke (Edms) Bpk.
Paul dankie vir die gebeds roetine.Het baie geleer oor bid.
LikeLike