Hoe sal die mense my eendag onthou? (Hand 9: 36 – 43)
Aan die begin van die 20 ste eeu het ‘n man een oggend die koerant oopgevou en tot sy verskrikking sy eie doodsberig in die koerant gelees. Daar was blykbaar ‘n vergissing van name gewees, want hier was ‘n dooie man besig om ‘n nadoodse huldeblyk oor homself te lees. Nietemin het hy verder gelees om te sien wat die mense oor hom te sê gehad het. Die opskrif het gelui: “Plofstofkoning sterf.”
Dit was al erg genoeg gewees, maar toe hy verder lees, moes hy telkens tot sy ontsteltenis lees dat hulle van hom praat as die “handelaar van die dood”. Hy was erg ontstel gewees. Die beriggewing oor sy lewe was egter korrek gewees, want hy was immers die uitvinder van dinamiet. En het baie ryk geword uit die vervaardiging van plofstof en die verkope van allerlei vernietigende wapens.
Die berig het hom diep geraak. Hy wil immers nie onthou word as die “handelaar van die dood” nie. Eensklaps het hy besef dat hy ‘n tweede kans gekry het. Hy kan nog sy grafskrif verander. Na ‘n geestelike diepgang in sy lewe het hy al sy tyd en geld gespandeer om oral in die wêreld waar daar oorlog was, ofheffingswerk tot stand te bring en vrede tussen strydende groepe te bevorder.
Vandag word Alfred Nobel nie meer onthou as die “plofstofkoning” of die “handelaar van die dood” nie. Ons ken hom as die stigter van die Nobelprys vir Vrede. Sy grafskrif praat ook van vrede en plaas van plofstof en dood.
Hoe sal die mense eendag vir ons onthou? Wat sal daar eendag op ons graf geskryf staan? Wat sal die mense van ons sê?
In ons gelese gedeelte lees ons van ‘n vrou met die naam Tabita of ook Dorkas wat gesterf het. Haar afsterwe is wyd betreur en almal Jood en Griek het van haar goed gepraat. Hulle het die volgende oor haar gesê:” Sy was altyd besig om goed te doen en die armes te help.”
Hulle het selfs die klere wat sy vir die armes gemaak het as getuienis voorgehou van haar voorbeeldige lewe.
Sy was as Tabita en as Dorkas bekend. Tabita was haar Joodse naam en Dorkas was haar Griekse naam. Sy het letterlik in die Joodse en Griekse gemeenskap bekend gewees as ‘n goeie en barmhartige vrou. Sy het goed gedoen aan die Joodse en Griekse weduwees. Sy het nie onderskeid gemaak nie.
In die Bybel was ‘n weduwee werklik uitgelewer aan die aalmoese van ander. In daardie tyd was daar nog nie staatstoelaes en pensioenfondse nie. Wanneer ‘n vrou se man sterf, was sy werklik arm en hulpbehoewend gewees. ‘n Weduwee is gereken as die armste onder die armes. Oor hierdie vroue het Tabita haar bekommer.
Toe Talita tot sterwe kom, was daar hartseeer gewees onder die Joodse en Griekse gemeenskap. Almal het haar gemis. Deur haar barmhartigheidswerk het sy as’t ware Jood en Griek by mekaar gebring. Almal het met lof van haar gepraat.
Talita het ‘n spoor nagelaat van Christelike barmhartigheid en deernis. Sy het haar eie grafskrif geskryf met die woorde:” Sy was altyd besig om goed te doen en die armes te help.”
So laat ons elkeen ‘n spoor of ‘n reuk agter. Somtyds is dit ‘n doodsreuk, somtyds is dit ‘n reuk van lewe.
Wanneer ons kwaad doen, skinder, kwaadpraat, selfsugtig optree en die dinge doen wat die Gees van God bedroef dan laat ons ‘n spoor van die dood agter. Ja, ons laat ‘n doodsreuk agter. Maar as ons die Gawes van God se Gees doen, soos byvoorbeeld liefde, vriendelikheid, gasvryheid, nederigheid, ensovoorts versprei ons ‘n reuk van lewe. Ja, ons laat ‘n goeie spoor agter.
God roep ons juis op deur die voorbeeld van Tabita om ‘n goeie spoor na te laat. Ja, om ‘n aangename geur van lewe te versprei, sodat ons iets vir ander mense kan beteken.
Hoe wil u hê moet die mense u eendag onthou? As ‘n moeilike humeurige, selfsugtige mens of as ‘n aangename vriendelike en nederige mens. Wil u onthou word as iemand wat die pad van kwaad geken het óf iemand wat die goeie pad bewandel het.
Wêreldleiers laat ook ‘n spoor of reuk agter. U weet self watter negatiewe spoor en reuk mense soos Adolf Hitler en Robert Mugabe agter hulle nagelaat het. Maar ons weet ook hoe iemand soos Moeder Theresa weer ‘n aangename reuk vir ons nagelaat het.
Ouers laat ook ‘n spoor vir hulle kinders na. Wanneer ons eendag dood is, sal die spore van ons opvoeding, liefde, dissipline en voorbeeld in hulle lewe gesien kan word.
Wat belangrik is, is dat ons net soos Tabita ‘n goeie spoor moet agterlaat vir alle mense. Tabita het goed gedoen aan Jood en Griek. Net so moet ons ook goed doen aan alle mense sonder onderskeid. Om waarlik goed te doen, beteken om geen onderskeid te maak nie, maar onvoorwaardelik te dien.
Ware heiliges is mense soos Talita, wat dit vir ander mense makliker maak om in Jesus Christus te glo. Die vraag is óf ons lewe van so ‘n aard is dat ons dit vir ander mense makliker maak om in Jesus Christus te glo. Want sien as ons ‘n verkeerde voorbeeld stel, maak ons dit vir ander mense moeiliker om te glo.
Natuurlik kan ons regte spore en die aangename reuk wat ons versprei nie vir ons red nie. Daar is slegs een weg wat ons kan red en dit is die spoor van Jesus Christus. Sy spoor is langs die Via Dolarossa, die kruis die oop graf en die Olyfberg. Slegs as ons in die voetspoor van Jesus Christus bly, sal ons goeie voetspore kan nalaat, ook vir ander mense om te volg.
Uitendelik het die mense vir Alfred Nobel onthou vir die goeie wat hy verrig het en nie vir die slegte nie. Hoe sal die mense eendag vir ons onthou? Laat ons ‘n spoor en ‘n reuk agter, wat dit vir ander makliker maak om vir Jesus te kan volg?
Geseënd is jy as jy die mense jou sal onthou as ‘n deurleefde kind van die Here. Voorwaar jy sal baie na die Here lei!
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)