Getroue gemeente, met donker kant.

Getroue gemeente, met donker kant.

Tiatira was die vierde brief wat die apostel Paulus geskryf het van die eiland Patmos aan die sewe gemeentes in Klein Asië. Hierdie is dan ook die langste van al 7 briewe. In 190 vC is Tiatira deur die Romeine verower as ‘n ‘n militêre stad uitgebou.

Thyatira-RuinsTalita was veral bekend as ‘n nywerheidstad, waarin vele ambagte bedryf was. Daar was tekstielwerkers, skoenmakers, werkers met gekleurde materiaal en bronssmede.

Die vakbonde was die spil gewees van die sosiale, politieke en godsdienstige lewe van Tiatira. Die bekende Lidia, die purperverkoopste van Hand 16: 12 – 15 was van Tiatira afkomstig en het handel gedrywe in pers wolmateriaal.

Elke vakbond of gilde het ‘n eie god of godin as beskermer gehad aan wie groot feeste gewy is. Wanneer Christene geweier het om aan die feeste deel te neem, is hulle toegang tot die gildes geweier. Hulle het dus twee keuses gehad. Of hulle het aan die gilde behoort en kompromieë met die heidense gode aangegaan of hulle het nie aan die gildes behoort nie, getrou gebly aan Christus, maar arm en werkloos gewees. Daarom was dit moeilik in ‘n nywerheidstad soos Tiatira om ‘n deerleefte Christen te wees.

apollon-01Die songod Apollo, seun van Zeus (die hoofgod) is in Tiatira aanbid. Daar was egter nie ‘n groot mate van keiserverering of aanbidding gewees in Tiatira nie. Die grootste goedsdienstige groep, was die wat aanbidders van Apollo was.

Daar was ook ‘n redelike sterk groep Jode in die stad.

In die inleiding van die brief staan Apollo, as die seun van Zeus teenoor Jesus Christus as die Seun van God. Nie Apollo regeer nie, maar Jesus Christus.

Die beskrywing van Jesus as Seun van God was ook gerig teenoor die Jode, wat nie Christus erken het as Seun van God nie.

Die seun van God wie se oë vuur vlam en sy voete soos geelkoper is, herinner dat niks God se aandag ontsnap nie en dat geelkopervoete simboliseer standvastigheid en duursaamheid. Veral die kopersmede van Tiatira sou die beeld duidelik verstaan het.

christaan church tiatiraGod se vlymskerk oë wat soos vuur vlam het die gemeente van Tiatira se liefde, geloof, diensvaardigheid en volharding raak gesien. Dit is ‘n positiewe getuienis van die kwaliteit van hulle geloofslewe. Die gemeente van Tiatira het geweet van die liefde as vertikale verhouding met God, maar ook horisontaal met die medegelowige en die wêreld. Die grootste kompliment wat die gelowiges in Tiatira ontvang het, is dat hulle geestelike grafiek ‘n opwaartse lyn gehad het. Dus het hulle ten spyte van ‘n heidense onmgewing geestelik gegroei en nie uitgesak nie. Teenoor Efese het Tiatira gevorder en gegroei en nie uitgesak in die geloof nie. (vers 19b)

Maar Tiatira het ook ‘n donker kant gehad. Daar was ‘n geraamte in die kas van Tiatira. Daar was sommiges wat waarskynlik ‘n vroulike leiersfiguur in die gemeente aangehang het en op ‘n sinkretistiese manier die gemeente van Tiatira ondergrawe het. Die vals leer en heidense dwaling word verbind aan die vrou Isebel, wat ons ook leer ken het uit die Ou Testamentiese boeke 1 en 2 Konings. Sy was die Fenisiese vrou van koning Agab, wat die Noodryk tot afgodery en die Kanaänitiese god Baäl verlei het. Afgodery en onsedelikheid het hoogty gevier in die heidense praktyk. Hierdie heidense praktyk het ook die gemeente van Tiatira en die sakelui van die gildes infiltreer. By die gildes se feeste is afgodsvleis geëet en onsedelikheid bedryf. Daar het Isebel met haar listigheid die sakelui verlei. Isebel het as’t ware ontug gepleeg teen God, deur God se kinders te verlei.

In vers 22 – 23 word geskryf dat aanhangers van die dwaling swaar gestraf sal word. Vir Isebel wag daar ‘n fatale siekbed. Op die bed waarop sy haar onsedelikheid pleeg sal sy ook sterf. Haar meelopers sal deur dodelike lyding en pessiektes getref word.

In vers 23 word gestel, dat God die gedagtes (letterlik niere) en die begeertes (letterlik hart) deurgrond. Die nier is die setel van emosie en gevoel en die hart is die setel van die intellek en denke. So “oudit” Christus, as’t ware die diepste wese van die mens.

Vir hulle wat in Tiatira hulself nie skuldig maak aan die dwaling van Isebel nie, word geskryf dat hulle met volharding moet vashou aan die goeie leer. Hulle wat die oorwinning behaal, sal saam met Christus regeer. Hulle sal ‘n ystersepter kry, wat eerder ‘n herderstaf was, wat met yster beslaan was en waarmee die herder die skape teen die wilde diere en bedreigings beskerm het. Saam met Christus sal hulle regeer en alle teenstand en weerstand sal soos kleipotte uitmekaar geslaan word. Die Christene sal saam met die oorwinnende Christus, alle vyande vermorsel.

In vers 28 word belowe dat elkeen wat die oorwinning behaal, die môrester sal ontvang. Na die donker nag van vervolging en swaarkry, sal God se kinders saam met Christus deel aan die Môrester, die aankondiging van ‘n nuwe dag en ‘n nuwe era.

Die brief word afgesluit met die bekende woorde wat in elke brief voorkom, naamlik dat die gemeente moet luister na die Gees. Die sewe gemeentes van klein Asië, maar daarmee saam alle kerke oor die wêreld moet leef vanuit die kragveld van die Pinkster Gees.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Kerk en wêreld kan nie in dieselfe bed wees nie.

Die derde brief wat Johannes van Patmos geskryf het aan die 7 gemeentes in Klein Asië was Pergamum. Dit was ‘n Romeinse hoofstad.

Acropolis_of_Pergamon_-_Friedrich_Thierch_-_1882

Die bekendste argitektuur was die Akropolis wat in die tweede eeu voor Christus gebou is saam met ‘n tempel ter ere vir Atena. ‘n reuse altaar vir Zeus en ‘n biblioteek van 200 000 boekrolle.

Dit was dan ook ‘n sentrum van geleerdheid. Die stad Pergamum kry sy naam van die perkamentrolle wat in die stad vervaardig is en die destydse wêreld van skryfmateriaal voorsien het.

Pergamum was ook die godsdienssentrum van Asië. Die tempels, altare en heiligdomme was langs mekaar ingeryg. Daar was heiligdomme van Zeus (die hoofgod), van Dionusius (beskermgod met bul as simbool) en Asklepius (die god van genesing met ‘n slang as simbool.)

bergama-asklepionDie Asklepion was ‘n wêreldberoemde geneeskundige sentrum, wat mense van heinde en verre getrek het. Jy moes daar oornag het. Die slange was nie giftig gewees nie.

Sou ‘n slang aan jou raak, was dit ‘n teken dat Asklepius jou gaan gesond maak. Die volgende oggend kry jy jou behandeling en dan moes jy die deel van jou liggaam wat skiek was, namaak met klei en die kleifiguur offer aan Asklepius. Vandaar die slang wat vandag nog gebruik word op mediese wapens.

Teenoor die bygelowige genesende krag van Asklepius, staan Christus as die ware groot Geneesheer.

Op ‘n hoë terras het die pragtige altaar van Zeus as baken van die stad gestaan. Daar is ook ‘n tempel gebou ter ere van keiser Augustus en daarom was die stad ook die hoofsentrum van die keiserkultus. Christene is deur die Romeine “Christiani” genoem, wat ‘n spotnaam was. Die Jode het weer van die Christene gepraat as “Nasareners”.

Die Christene is mateloos vervolg. Om te weier om aan die keiserkultus toe te gee, was ‘n teken van burgerelike ongehoorsaamheid. In die brief word melding gemaak van Antipas wat die hoogste prys betaal het deur op die altaar van Zeus te sterf.

Rousanu19Die altaar was ‘n reuse bronspot met ‘n bulkop. Die persoon wat tereg gestel word, word in die pot vasgemaak, met sy kop in die kop van die bul. ‘n Groot vuur word onder die pot aan die brand gesteek. Wanneer die slagoffer dan van pyn skree het die onderaardse geluid deur die pype van pot gegalm.

Dit het kompleet geklink of die beeld lewendig geword het en self die onderaardse geluide maak. Die Griekse geskiedskrywer Eusebius noem ook onder andere die volgende bekende getuies wat doodgemaak is soos Karpus, Papulus en Agatonike.

In die brief word egter ook negatief genoem dat sommige van die Christene kompromieë met die wêreld gesluit het, en sodanig afvallig geword het. Hulle het die leer van Bileam en die leer van die Nikolaïete aangehang. In kort kom die afvalligheid neer op afgodery en onsedelikheid. Hulle was soos tweegat jakkalse wat in twee gate wou bly. Met die een voet in die kerk en met die ander voet in die wêreld. So is daar gate in die geestelike heining van Pergamum toegelaat, waardeer die klein jakkalsies sluip en verwarring gebring het in die gemeente.

Tereg skryf Johannes dat Christus met die sweesnydende swaard van sy mond hulle veroordeel. God se woord sny tweekantig. Christus oordeel positief oor hulle wat ten spyte van vervolging getrou bly aan die Here, maar Hy spreek ook negatief teenoor hulle wat afvallig geword het en die leer van Bileam en die Nikolaïete aanhang.

Daarom word daar gepraat in vers 16 dat die afvalliges hulle moet bekeer. Hulle moet luister na die Gees en weer terug keer na die suiwere aanbidding van Jesus, sonder enige kompromieë. Kerk en wêreld kan nie dieselfde bed deel nie.

As beloning vir hulle wat volhard, word aan die oorwinnaars die volgende twee beloftes gemaak. Eerstens sal hulle van die verborge manna eet. Hulle sal met ander woorde deel hê aan die groot Messiaanse maaltyd wanneer Christus kom. Hierdie geestelike manna is weggesteek vir die ongelowige, maar vir die gelowige is dit die brood wat lewe gee. God sorg met ander woorde vir hulle wat nou swaarkry en ly vir die Evangelie.

Tweedens sal die volhardende gelowiges ‘n wit steentjie ontvang, met ‘n nuwe naam daarop gegraveer. Verskillende betekenisse word voorgestel, maar diue beste verklaring is die volgende: Daar was ‘n destydse gewoonte om ‘n hangertjie van klip, hout of ivoor om die nek te dra.. Op so ‘n hangertjie is dan ‘n geheime naam (dikwels van ander gode) gegraveer wat die draer daarvan moes beskerm. Die heidense gebruik is met nuwe betekenis gevul deurdat ‘n nuwe naam daarop (natuurlik van Christus) daarop gegraveer is. Christus word dus ons beskermer in ‘n wêreld van vervolging en martelaarskap. Die wit steentjie beteken Christus se vryspraak oor ons.

3f04f22cf110d2b9dcddc7315c086d8c

Interresant is dat die tempel van Zeus in 1913 van Pergamum verskuif is en gerestoureer is in Berlyn se Pergamum museum. Hitler was een van die eerste bewonderaars van die tempel van Zeus in Berlyn. Omdat hy baie belang gestel het in argitektuur was die tempel van Zeus waarskynlik die inspirasie vir sy eie verhoog wat hy gebruik het as Duitse Kanselier. Natuurlik weet ons dat Hitler een van die wreedse diktators was in die moderne geskiedenis. Is dit blote toeval? 

Daarom is die sentrale boodskap van die brief aan Pergamum, dat die kerk nie mag toelaat dat die wêreldse gees die kerk moet invloei nie. Dit is om klein jakkalsies in die kerk groot te maak. Later verslind dit die gelowiges en lei tot die verwatering van die Christelike geloof en getuienis. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Veredelde geloof uit lyding.

Veredelde geloof uit lyding.

Die hawestad Smirna (die huidige Ismir) was 56 kilometer van Efese geleë. Die bynaam van die stad was “Die eerste in Asië” en het 100 000 inwoners gehad. Tempels vir die godin Roma, die god Asklepius, keiser Augustus, en die keiser Tiberias, en Zeus het die stad versier. Dit was die hoofsentrum van die keiserkultus, waar die keisers as gode verklaar en vereer is.

800px-Izmir023

Tydens die Romeinse tydvak was Smirna ‘n sentrum van goeie wyn, wetenskapbeoefening en die mediese wetenskap.

Smirna het ‘n groot Joodse bevolking gehad. Hierdie Jode was die Christene nie goedgesind nie en het gereeld die Christene by die Romeinse owerheid verkla. Dit het daartoe gely dat die Christene gereeld vir hulle geloof vervolg is. Die Christene is ook deur die Jode as ketters gebrandmerk en uit die Sinagoges verban.

Die Christene van Smirna moes oorleef in tye van swaar vervolging. Die gemeente in Smirna is gestig deur Joodse pinkstergangers wat terug gekeer het van Jerusalem en bekeerlinge tydens Paulus se derde sendingreis.

Die brief begin in vers 8 met Christus wat voorgestel word as die Eerste en die Laaste, wat dood was en weer lewend geword het. Teenoor Smirna wat bekend was as “Die eerste in Asië”, word Christus bekend gestel as die EERSTE. Slegs Christus kan die Eerste wees.

Die Christene van Smirna het geweet wat dit beteken om te sterf en weer lewendig gemaak te word, want die stad is drie keer herbou, nadat dit elke keer totaal vernietig was. Netso het Christus letterlik gesterf en het Hy letterlik uit die dood opgestaan. Hy was die tempel wat in een dag afgebreek is en in drie dae weer opgebou is.

Die sogenaamde Romeinse vrede of “pax romana” het die inwoners van Smirna skatryk laat word. Die Jode het in hierdie weelde gedeel en het belangrike posisies in die samelewing beklee. In Smirna was daar vir die verskillende ambagte gildes gewees. Jy moet tot die gilde behoort om jou ambag te kon bedryf. Daarteenoor het die Christene verarm, want hulle is nie toegelaat om deel van die gildes (vakbonde) te word nie. Die Christene was die randfigure van Smirna en het baie swaar gekry. Smirna se Christene was gekenmerk deur drie eienskappe, naamlik verdrukking, armoede en kwaadstokery.

Tog het die lyding van die Christene en hulle armoede veroorsaak dat hulle in solidariteit met Christus geleef het. Daarom staan daar dat hoewel die Christene ekonomies en fisies arm was, hulle tog geestelik ryk was. Dit staan teenoor die brief aan Laodisea, waar die Christene ekonomies ryk en geestelik arm was.

God was aan die kant van die vervolgde Christene en het die Joodse sinagoges ontbloot as die sinagoge van die Satan. Hulle is Satanskinders genoem omdat die Jode teenstaanders van Christus was. Eintlik was die Jode net so erg as die Romeine met hul keiserverering. Beide die Jode en die Romeine het die Christene van Smirna vervolg.

Polycarp burningDie Christene van Smirna word daarop voorberei dat die vervolging nog erger sal raak en dat hulle in tronk gegooi sal word en vir 10 dae baie sal ly. Die tien dae was ‘n afgemete tyd, bedoelende die lyding sal ook verby gaan. Inderdaad het die lyding van Smirna se Christene toegeneem. Die bekendste verhaal was Polikarpus, wat as biskop van Smirna vir sy geloof vervolg is en in die tronk gegooi is. In 155 nC is hy doodgemaak deur hom lewend te verbrand op ‘n brandstapel. Hy het geweier om vir Jesus te verloën. Die Jode het op die Sabbat gehelp om vuurmaakhout bymekaar te maak om die Romeinse owerheid te help om Polikarpus te verbrand.

Daarom roep die brief vir die Christene van Smirna op om getrou te bly tot die dood toe. As beloning sal die Christene nie die tweede dood sterf nie, maar vir altyd saam met Christus lewe.

Lyding kom nie uit die hand van God nie, maar God kan lyding gebruik tot ons voordeel. So het die lyding van Smirna die gelowiges se geloof veredel. Soos wat goud uit ystererts ontgin word deur dit aan buitengewone hoë temperature bloot te stel, so is die geloof van Smirna se gelowiges veredel. Hulle geloof was so suiwer, dat niks negatief gesê kan word van die gemeente in Smirna nie.

polycarpusDaarom kan die skopus van die brief aan Smirna as volg saamgevat word: Veredelde geloof uit lyding.

Wanneer ‘n vrugteboom of ‘n wingerd aan stres blootgestel word deur dit byvoorbeeld te snoei, dra dit meer vrug. Daarom het Jesus ook die beeld van die wingerd wat gesnoei word gebruik, om aan ons te toon dat lyding en stres, die beste in ons kan voortbring.

Christene wat lyding verduur se geloof word getoets. Soos Eugene Peterson dit stel, “to come at the end of your robe”, beteken dat niks anders oorbly as om in AFHANKLIKHEID van God te leef.

Die Christelike kerk het in die eerste eeue dramaties gegroei. Vervolging het die kerk net sterker gemaak. Daar word tereg verwys na die bloed van die martelare, as die saad van die Evangelie. Toe Konstantyn die Christelike geloof tot staatsgodsdiens verklaar het, het die Christene se geloof begin verflou. ‘n Wêreldse gees het begin insluip in die Christendom, wat baie meer skade gebring het aan die kerk as toe die kerk in martelaarskap was.

Daar word baie gesê oor die Christelike geloof wat uit skole gehaal word. Dit is nie noodwendig ‘n slegte ding nie. Die Christelike geloof het dit nie nodig om deur wetgewing beskerm te word nie. Die Christelike geloof word juis verdiep wanneer dit nie in watte toegedraai word nie. Voorspoed was nog nooit goed vir die kerk gewees nie. Voorspoed bring verwatering van geloof mee. Voorspoed kweek naam-Christene en nie ware dissipels nie.

Smirna was as gemeente vlekkeloos gewees voor God. Hulle geloof was veredel gewees deur hul lyding. Dit bring vir ons troos as ons ook soms moet ly vir Christus. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

Wittebroodsliefde wat afgekoel het …..

Wittebroodsliefde wat afgekoel het …..

Die sewe briewe aan die sewe gemeentes in Klein Asië is ook vir ons ‘n herinnering en ‘n oproep om wakker te word en God met nuwe toewyding en oorgawe te dien. Die eerste van die sewe briewe is geskryf aan die gemeente Efese. Dit was in die eerste eeu vC die tweede grootste stad in die Romeinse Ryk en ook die tweede grootste stad in die wêreld met ‘n inwonerstal van 250 000 inwoners.

C7Yb4kUW4AEtqoO

Dit was ‘n bekende hawestad in die westelike deel van Klein Asië, waar die Kaisterrivier in die Egeïse See invloei. Daarom was die stad ook op drie belangrike handelsroetes van die antieke tyd gewees.

Efese was bekend gewees vir sy Tempel van Artemis, die Celsus biblioteek en die amfiteater wat 44 000 mense kon huisves. Efese het nie net op ekonomiese en administratiewe gebied uitgeblink nie, maar het ook godsdienstige gebied ‘n leidende rol gespeel.

temple_of_artemisDie tempel vir die vrugbaarheisgodin Artemis (Romeinse Diana) het duisende priesters, priesteresse en prostitute gehuisves. Afgodery en sedeloosheid het hoogty gevier.

Ook die keiserkultus het gedurende die bewind van Domitianus gefloreer en daar is selfs ‘n tempel vir Domitianus opgerig. Efese het ook ‘n belangstelling in toorkunste geopenbaar. Die Joodse bevolking was ook ‘n faktor gewees vir die Christene van Efese.

celsus_library_ephesus_turkeyDie bekende Celsus biblioteek was ook in die stad Efese gewees en het op ‘n stadium 12 000 perkamentrolle gehad. Dit is in 125 nC gebou met leeskamers wat na die ooste kyk, sodat die kamers die beste oggendlig gekry het.

Efese was in die 50′s nC ‘n belangrike sentrum vir die vroeë Christendom. Priscilla en Akwila het die gemeente gestig en Apollos het hulle gehelp. Vanaf 52 – 54 nC het Paulus in die stad gewoon en met die gemeente gewerk en sendingwerk gedoen. Aanvanklik het Paulus in die sinagoge gepreek, maar na drie maande het hy gefrusteerd geraak met die Joodse kunstenaars wat hul brood en botter verdien het deur beelde van Artemis te maak en dan in die godin se tempel verkoop het. Hy het toe na die saal van Tirannus verskuif. Tussen 53 en 57 nC het Paulus die brief 1 Korinthiërs vanaf Efese geskryf. Dit was moontlik in die Paulus toring, naby die hawe waar hy ‘n kort rukkie gevange gehou is. Later, terwyl hy in Rome in die tronk was het hy die brief aan die Efesiërs geskryf.

Die Evangelie van Johannes is moontlik in Efese deur Johannes geskryf omstreeks 90 – 100 nC. Efese was so prominent in Klein Asië, dat Efese een van die stede was wat deur Johannes in Openbaring aangespreek word.

800px-Tomb_of_Saint_John_the_ApostleDaar word ook beweer dat Johannes in Efese begrawe is, vandaar die Johannes basilika wat die die 6 de eeu in Efese gebou is.

Met dit as agtergrond het het Johannes sy eerste brief aan die gemeente in Efese geskryf. Hy begin sy brief met die volgende woorde: “Hy wat die sewe sterre in sy regterhand vashou en wat tussen die sewe goue lampe rondgaan.” Die sewe sterre beteken die sewe leraars en die sewe goue lampe beteken die 7 gemeentes aan wie die briewe gerig is. Sewe is hier die volmaakte getal en beteken dit al die gemeentes en leraars in Klein Asië, is in die beskermende hand van God self. Christus self is in beheer van sy gemeentes en daarom praat ons van Christologie. Nie wette of tradies bepaal of beheer nie, maar Christus self.

Dan verwys Johannes heel eerste na die positiewe in die gemeente van Efese. So is God altyd. Hy sien altyd heel eerste die goeie raak, voor Hy die slegte raaksien. Die gemeente van Efese het hule ingespan en volhardend die goeie gedoen en hulle nie laat mislei met die dwaalleringe wat in daardie tyd hoogty gevier het nie. Die slegte mense waarvan Johannes hier praat is die vals profete en die die Nikolaïete. Hulle het die waarheid dat Jesus die Messias en Verlosser is verdraai. Die Nikolaïete stam af van Nikolaus, een van die sewe diakens van Handelinge 6: 5. Nikolaus het gnosties geword, wat met ander woorde ontken het dat Jesus Christus mens geword het. Die Nikolaïete was soortgelyk aan die navolgers van Bileam en Isebel. Die wandade van Bileam en Isebel het gefokus op afgodery en onsedelikheid. So het hulle sinkristies aansluiting gevind by die heidense leefstyl en keiserkultus.

So moet ons ook die dwaalleer van ons tyd beveg en volhard in die goeie leer. Vandag is daar ook mense wat die maagdelike geboorte of opstanding van Jesus bevraagteken. Ons moet dit uitwys as dwaling en daarop konsentreer om vas en volhardend die gesonde leer te bevestig met ons woorde en dade.

In vers 4 skryf Johannes dat die gemeente van Efese die Here nie meer lief gehad het soos in die begin nie. Hulle het waarskynlik hulle eerste wittebroodsliefde vir die Here verloor en hulle liefde vir hulle naaste het plek gemaak vir ‘n na binne gerigtheid. Hulle was ywerig in die handhawing van die ware leer, maar die suiwer liefde vir God het ontbreek. Efese was missionaal strategies geleë op die belangrikste handelsroetes in Klein Asië. Maar die wittebroodspassie en wittebroodsliefde het ontbreek. Hulle het begin gewoond raak aan die Evangelie. Hulle het ywerig, maar passieloos die Here aanbid.

Daarom word hulle opgeroep om hulle te bekeer en weer die dinge te doen wat hulle eerste gedoen het toe die gemeente pas gestig was. Hulle moet met oorgawe en passie God liefhê. Goeie gewoontes is goed, maar gewoontes kan die passie doodmaak.

Die passie kan alleen terug kom, as die Gees van God weer sy plek in die gemeente kry. Smeulende kole word vinnig opgeflam as as die wind daaroor waai. Net so moet ons ook deur die wind van die Gees ontflam word om weer knetterend vir die Here te brand. Daarom sê vers 7, dat elkeen wat kan hoor moet luister na wat die Gees sê. ‘n Geesvervulde gemeente is ‘n passievolle gemeente wat met passie die Evangelie missionaal uitdra na die wêreld.

Anders word die gevolg van ‘n passielose volg van Christus uitgespel. Die gemeente sal as lamp verskuif en weg gevat word. Die taal was bekend gewees aan die inwoners van Efesieës want hulle stad is drie keer verskuif gewees, onder andere toe die hawe toegeslik en versand het.

Godsdiens uit gewoonte laat die passie verflou en laat jou godsdiens versand. As die passie eers verflou het, verloor ‘n gemeente sy energie en kan die lamp weg gevat word, sodat die gemeente nie meer die lig van God is nie. Volgens die geskrifte van die vroeë kerkvaders het die gemeente van Efese hulle egter reg geruk en weer ‘n inspirerende gemeente in die vroeë kerk geword.

Dan word die brief afgesluit met die wonderlike versekering dat elkeen wat die oorwinning behaal, sal God te ete gee van die “boom van die lewe” in die middel van die tuin, wat in die paradys van God is. Dit beteken die ewige en volmaakte saamwees met God. Die paradys is ‘n Persiese woord wat “omheinde tuin” aandui en wat beteken om deel te wees van God se nuwe Jerusalem as die ewige bestemming.

colossae-patmos-islandDie sentrale boodskap van die brief aan Efese is dus dat ‘n mens korrek en uit gewoonte en met leersuiwerheid die Christelike godsdiens kan lewe. Dit beteken egter nie dat ‘n mens passievol is nie. Goeie gewoontes kan die passie doodmaak. Dan is godsdiens net kopkennis en nie hartservaring nie.

Alleen as ‘n mens weer na die Gees van God luister, sal die passie en die hartservaring terugkeer, sodat God se gemeente oorwinnend kan lewe. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

VOORWAARTS CHRISTENSTRYDERS !

VOORWAARTS CHRISTENSTRYDERS

Dikwels kan ‘n mens in kunsgalerye, skilderye vind van ossewaens wat oor die kontinent van Amerika, die wilde Weste in getrek het. As hulle elke dag tyd afgestaan het om te bereken hoeveel hulle gereis het en hoeveel hulle nog moes reis, sou hulle nooit hulle bestemming bereik het nie.

Dag na dag het die osse geduldig aangestap en in die aand het die waens stilgehou, is die vee kos gegee en die vure aangesteek. So is vir weke en baie maande  aangehou, oor vlaktes en bergpasse, tot hulle uiteindelik die weskus aan die Stille oseaan bereik het. Dit het eindelose deursettingsvermoë gevat. Neem die destyse lang seereise van Portugal na Indië of die ontdekking van Antartika. Die leraars van die ou dae het gepraat van “eerbaarheid deur volharding’. Alles wat die moeite werd is in die lewe kom met gewag, deursettingsvermoë en volharding mee.

Mat 25: 1 – 13 roep ons juis op om in die geestelike lewe te volhard en nie tou op te gooi langs die pad nie. So dikwels sien ‘n mens in gelowiges se lewe dat hulle die Here met groot ywer dien, om net later uit te sak en ophou om die Here te dien. Dit is soos ‘n alteet wat te vinnig wegspring en later in die wedloop heeltemal uitsak en die baan verlaat nog voordat hy of sy die wedloop voltooi het. Dikwels sien ‘n mens hoe iemand vir ‘n tyd lank gereeld kerk toe gaan. Dan minder en later kom die persoon glad nie meer kerk toe nie. Daarom praat ons in die geestelike lewe van volharding en dit is een van die elemente van die heilsorde. Dit beteken om aanhoudend en konstant die Here te dien tot die einde van jou lewe.

In Mat 25: 1 – 13 lees ons van 10 maagde, wat wag op die bruidegom. Die 10 maagde is simbool van die volmaakte en wagtende kerk van die Here Jesus Christus. Die bruidegom is natuurlik die Here Jesus Christus wat gaan kom om met Sy kerk verenig te wees.  Van die 10 maagde lees ons dat 5 verstandig was en 5 was onverstandig.

The Message van Eugene Peterson vertaal dit met: Mat 25:2  “Five were silly and five were smart.” Die vyf verstandiges het ekstra olie saamgeneem, maar die onverstandiges het slegs die olie in hulle lampe gehad. Die vyf verstandiges was dus voorbereid om dalk lank te wag op die bruidegom. Die onverstandiges het nie met die lang wag tydperk rekening gehou nie.

Om te wag is moeite, maar dit is die moeite werd. Daarom sal Jesus se koms wees op die mees onvoorspelbare tyd, wanneer mense dit die minste verwag. Ons lees al tien maagde het al aan die slaap geval. Dan in die middel van die nag, kom die uitroep: ”Hier kom die bruidegom. Gaan hom tegemoet.” Die vyf onverstandige meisies se olie het opgebrand deur die nag. Hulle moes ‘n winkel gaan soek om te koop. Waar kry jy in die middel van die nag ‘n winkel oop. Die vyf verstandiges het net hulle lampe aangevul met die ekstra olie wat hulle saamgedra het.

olie lamp

Die olie is ‘n simbool van gereedheid. Dit beteken om Jesus se onderrig ernstig te neem. Dit beteken om te volhard in die doen van die goeie. Daarom kan die wyse meisies nie vir die onverstandiges van hulle olie gee nie. Jy kan nie besluit om vir iemand anders gehoorsaam te wees nie. Gehoorsaamheid is ‘n persoonlike keuse en is nie oordraagbaar nie.

Daarom beteken die ekstra olie, om vir “Jesus ernstig op te neem”. Wie Jesus nie ernstig opneem nie, sal uit olie loop.

Ekstra olie beteken om volhardend aan te hou om die goeie te doen. Dit beteken om volhardend vir Jesus ernstig op te neem en te leef volgens sy voorskrifte. Dit is mense wat ekstra energie met hulle saamneem, om te kan volhard tot die einde. Hulle hardloop nie uit energie vir Jesus nie. Hulle volhard tot die einde. Hulle bou vir hulself geestelike spaarenergie op, vir die dae wat hulle dit nodig kan hê. Juis daarom moet ons geestelike reserwe energie opbou om volhardend die Here te kan dien.

Somtyds raak ‘n mens ontmoedig, omdat jy nie die doel in jou roeping bereik nie. Dan moet jy gaan kyk na ‘n beeldhouer. ‘n Beeldhouer sal die blok graniet omtrent 100 keer met sy hamer en beitel bykom voordat die eerste krakie verskyn. Dan moet ek onthou dit was nie daardie een spesifieke hou wat die deurbraak gegee het nie, maar ook elke hou wat dit vooruit gegaan het.

Volharding

Volharding en deursettingsvermoë is ‘n van die mooiste eienskappe wat ‘n mens in iemand se lewe kan teëkom. Dit geld nie net vir die geestelike en spirituele lewe nie. Dit is ook van toepassing op jou beroep, jou studies, jou sport, jou huwelik en verhoudings en om elke keer na ‘n teleurstelling weer op te staan en aan te gaan. Daarom moet ons, ons nie deur teenslae laat onderkry nie. Staan op en gaan volhardend aan met jou reis. Treë vir treë kom jy by jou bestemming uit.

Die teenpool is natuurlik om te volhard in die sonde. Dit is maklik, want dit vra nie inspanning nie. Om die duiwel te volg vra geen inspanning nie. Om Jesus Christus egter te volg vra die uiterste inspanning. Daarom is die pad van die kruis die moeisame pad. Dit is die smal kronkelende pad opdraend na die kruis. Volharding vra dapperheid.

Die VG Kerk het ‘n pragtige lied: “Voorwaarts Christenstryders” in hulle Sionsgesange boek. Op die maat van marsmusiek sing hulle die pragtige lied. Die lied roep jou op om te volhard in die Christelike lewe.

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Ons lewe tussen die wolke

Toe ek ‘n kind was, het ek altyd op my rug op die gras gelê en gekyk na die wolke. Dan het ek gekyk na watter figuur ek in die wolk kan raaksien.

wolke-7

Somtyds sien jy ‘n perd, ‘n hasie, ‘n besem, ‘n ou man of ‘n kabouter raak. Wolke het positiewe konnektasies by my. Wolke bring reën. Wolke bring altyd die hoop dat die droogte binnekort gebreek kan word. ‘n Bewolkte dag is gewoonlik koel. Wolkformasies is mooi en aanskoulik. Elke dag lyk die wolke anders. Wolke kan ook onheilspellend lyk. Somtyds maak wolke jou bang, veral as daar hael in die wolke is. Dan soek jy gou parkering om jou voertuig teen moontlike haelskade te beskerm. Die mooiste is as die sonstrale sulke strepe deur die wolke maak, dan lyk dit kompleet of God met ons praat.

In die Bybelse tyd was wolke ook simbole gewees van die vaartuie, waarop God se boodskappers vervoer is.

In Handelinge 1: 9 – 11 het wolke beide ‘n negatiewe en ‘n positiewe assosiasie. Die wolk neem Jesus van ons af weg, maar die belofte word ook gemaak dat Jesus weer op die wolke gaan kom. Daarom lewe ons as’t ware tussen die wolke. Ons lewe tussen Jesus se hemelvaartswolk en sy wederkomswolk.

Maar dit is verkeerd om die wolk met hemelvaat net as ‘n negatiewe assosiasie te sien. Jesus se hemelvaart het vir ons net voordeel, geen verlies gebring nie. Deur Jesus se hemelvaart het die Heilige Gees gekom om in persoon by ons almal tegelyk te wees. Daarom leef ons in die kragveld van die Heilige Gees. Jesus Christus is ook in ‘n regeringsposisie aan die regterhand van die Vader geplaas, waar Hy saam met die Vader oor Sy skepping en Sy kinders regeer. Christus het ook opgevaar om vir ons plek in die hemel voor te berei. Christus is ook ons Voorspraak (ons Advokaat) aan die regterhand van die Vader, waar Hy vir ons pleit en ons saak voor God stel. Christus leef ook IN ons, deur Sy Gees.

Daarom is ons nie as weeskinders alleen agter gelaat nie. Nee, God het vir ons Sy Gees gegee om by ons te wees. Ons leef tussen die hemelvaartswolk en die wederkomswolk. Hierdie tussen-tydperk is Gees -vervulde tyd. Daarom word die hemelvaart opgevolg met die Pinkstertyd en met Pinkster Sondag. Die dissipels was tydens die tien dae van Pinkster eendragtig bymekaar gewees in volhardende gebed. Daarom gaan Heilige Gees en gebed altyd saam.

Wie bid, ontvang die Heilige Gees. Wie die Heilige Gees ontvang het, bid volhardend. Die gebedslewe en die werking van die Heilige Gees gaan saam. Die Heilige Gees leer ons om te bid.

In hierdie tussen -tydperk tussen die twee ankers, die hemelvaart en die wederkoms, is die twee kenmerke van die kerk tussen die wolke:

  1. Geesvervuld

  2. Biddend

Daarom moet ons Geesvervuld en biddende die wederkomswolk afwag. Ons moet met reikhalsende verlange op die wederkoms van die Here wag.

Richard Bohren, vertel as teoloog hoe hy en sy vrou een middag gaan stap het in die woud. Terwyl hulle gestap het, was die lug oopgetrek sonder enige wolke. Hulle het ver gestap. Hulle het meer gedrentel as gestap, want niks het hulle aangejaag nie. By die omdraaipunt het die weer skielik verander. Die wolke is deur die wind aangedryf en was vol water. Hoe meer die wolke saamgepak het, hoe vinniger en haastiger het hulle gestap. Toe die eerste druppels dreigend neerplons, het hulle begin hardloop om betyds in die huis te kom. So sê hy is dit ook met die gelowige. Hoe groter jou bewustheid van die wederkomswolk wat kom, hoe haastiger lewe jy om die wil van God te doen.

Netso, moet ons wat die wederkomswolk verwag, ons haas om in God se teenwoordigheid te kom. Vir die gelowige is die wederkomswolk soos reënwolke, gevul met God se seëninge en uitkoms.

cumulonimbus_noaa

Maar vir die ongelowige is die wederkoms wolk egter soos haelwolke vol van Goddelike oordeel en bedreiging.

Wie op die wederkomswolk wag, is soos ‘n bruid wat haarself gereed maak en mooi maak om haar bruidegom by die bruilof te ontmoet. Sy klee haarself metskoonheid. Daarom is die kerk van die Here, die bruid van Christus. Op die wederkomswolk, kom haal Christus Sy kerk om vir altyd met hom verenig te wees.

Daarom leef ons in die tussen-tydperk tussen die wolke. Daarom moet ons Geesvervuld tussen die wolke leef. Biddend moet ons wag op die wederkomswolk wat ons meeneem op Christus se triomftog. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)