SKRIFLESING: Jak 3: 1 – 18
Wat is die verskil tussen ’n wilde perd en ’n mak perd?

’n Wilde perd laat homself nie inperk deur ’n stang of stiebeuel en leisels nie. Hy wil maak soos hy goeddink. ’n Mak perd laat hom weer inperk deur ’n stang. Juis omdat die wilde perd hom nie wil laat inperk nie, is hy onbruikbaar. ’n Mak perd wat ingeperk is, is bruikbaar.
Is ons bruikbaar vir Christus? Om bruikbaar te wees vir Christus moet ek ook bereid wees om ingeperk te word. Ek moet ook ’n stang in die mond kry.
Die boodskap vanoggend is: Die tong is ’n sleutel.

Jakobus beskryf die tong as ’n vuurhoutjie wat die hele wêreld aan die brand kan steek. Om af te breek met die tong is makliker as om op te bou. Jakobus wil nie hê dat ons tonge skinder, en vuiltaal of liefdelose woorde uiter nie. Ek moet nie ’n karikatuur maak van my politieke opponent of persoonlike vyand nie.
’n Wetenskaplike het uitgevind dat gif uit die vel van ’n klein Suid-Amerikaanse boompadda baie giftiger is as enige ander bekende gif. Reënwoud-Indiane gebruik die gif van die vel van die kokoi-padda om hul blaasgeweerpyle te vergiftig. Daar is ’n gif wat selfs dodeliker is – die gif van ’n bose tong. Is jy as ’n Christen in staat om jou tong te beheer? Indien wel, is jy ’n volwasse Christen. “Want in baie dinge laat ons almal struikel. As iemand nie in woord struikel nie, is hy ’n volmaakte man en in staat om ook die hele liggaam in toom te hou” (Jak 3:2).

George Morrison het hierdie pragtige gedeelte geskryf wat handel oor die gevare van ’n onnadenkende tong: “Een van die eerste dinge wat vir sosiale vrede sorg, is ’n waaksame en liefdadige stilte. Geen man of vrou wat nie geleer het om ’n toom op sy lippe te sit, kan ooit ’n vredemaker wees nie. Dink aan die oneindige skade wat deur ’n kwaadwillige of ’n onnadenkende tong aangerig kan word; dink aan die ontelbare harte wat dit verskeur; dink aan die gelukkige vriendskappe wat dit verkoel. En soms is daar nie eers kwaadwilligheid in dit nie – net die dwase begeerte om te praat, want boosheid word bewerk deur gebrek aan gedagte sowel as gebrek aan hart. Al wat ek weet, is dat een van die magtigste dinge wat vir sosiale vrede sorg, ’n wyse en liefdadige stilte is. Om nie alles te glo wat ons hoor nie, om nie alles wat ons hoor te herhaal nie, tensy ons deur die gewete geroep word om dit te verkondig.

Iemand beskryf dat ons elkeen ons eie persoonlike begraafplaas het, waar ons mense met ’n geskinder of woorde doodgemaak het.
Daar is geen twyfel dat laster seermaak nie. Sir Francis Bacon het ’n diepgaande waarheid uitgespreek toe hy gesê het: “Die waardigste persone word gereeld deur laster aangeval, aangesien ons oor die algemeen vind dat dit die beste vrugte is waarna die voëls sal pik.”
Eenkeer het ’n jong man na daardie groot filosoof Sokrates gekom om in redenering onderrig te word. Die oomblik toe die jong man voorgestel word, het hy begin praat, en daar was vir ’n geruime tyd ’n onophoudelike stroom woorde. Toe Sokrates ’n woord kon inkry, het hy gesê: “Jong, ek sal jou ’n dubbele fooi moet hef.”
“ ’n Dubbele fooi, hoekom is dit?”
Die ou wyse het geantwoord: “Ek sal jou twee lesse moet leer. Eerstens hoe om jou tong in toom te hou, en dan, hoe om dit te gebruik.” Wat ’n kuns vir ons almal om te leer, veral vir Christene.
Het jy al ooit opgelet dat daar gewoonlik ’n gebrek aan goeie, vriendelike woorde vir die afwesige persoon is wanneer sy naam in ’n gesprek genoem word? Daar mag woorde van kritiek en foutvindery wees, maar hoe min is die woorde van lof! Die goue reël stel voor dat ons van die afwesige praat soos ons wil hê ander van ons moet praat.

’n Vrou wat sleg gevoel het oor haar geskinder het eendag by die priester raad gevra oor hoe om dit onklaar te maak. Hy het vir die vrou gesê om op ’n winderige dag op die straathoek te staan en ’n verekussing stukkend te sny. Sy het dit gedoen. Hy sê toe vir haar om nou al die vere bymekaar te maak. Sy kon nie. Hy antwoord toe dat netso ’n mens nie ’n skinderstorie kan stop nie. Dit saai onomkeerbare verwoesting oral waar dit gaan.
Waarom skinder mense? Meestal is dit omdat hulle ’n swak selfbeeld het en ander mense wil laat slegter lyk, om hulleself beter te vertoon.
As jy by iemand is wat van ander skinder, weet verseker hy of sy gaan van jou ook skinder.
Die tong is ontembaar, dit is soos ’n wilde dier wat jy nooit heeltemal mak kry nie. Dit behou daardie wilde streep. Die tong saai gif tussen mense en maak dat daar verwydering tussen mense kom.
Daarom is dit belangrik om mense nie as dinge te behandel nie, maar as persone. Ons moet ons toelê op persoonsbehartiging, waar ek elke mens met wie ek in kontak kom, laat goed voel. Om iemand soos ’n mens te laat voel, moet ek mense met respek, eer en gelykwaardigheid behandel, en hulle goed laat voel. Ek moet mense bevestig met my woorde.
Jakobus skryf dat ’n mens dikwels soos ’n tweegatjakkals is, wat God in die kerk loof, maar buite die kerkgebou ander mense beskinder.

Die gelowige se tong is in diens van Christus. Soos die mak perd ’n stang in die bek het, so word ons ingebreek deur die Woord en die Gees om ’n lewe van selfbeheersing te leef. Ons woorde moet van selfbeheersing getuig.
Ons tong moet ons stuur, soos die roer van ’n skip, om goed van ander te praat en nie sleg nie. Ons tonge moet ons soos ’n skip se roer na rustige waters stuur. Jakobus sê dit is die bewys van ons geloof. By ’n heilige God pas heilige onderdane wie se tonge geheilig is.
Wanneer ons die tong reg gebruik, sal ons wysheid bekom.
Daarom moet jy jou doelbewus instel om in alles wat jy doen ’n keuse vir Christus uit te oefen. Ek moet ’n wag voor my mond sit en ’n keuse uitoefen om altyd die regte woorde te uiter.
Is jou tong bruikbaar vir God?
Is jou lewe beheers?
’n Christen se lewe is ’n beheerste lewe, deur die krag van die Heilige Gees.
Jou tong is ’n sleutel. Dit kan goedheid of boosheid oopsluit.
Hoe gebruik ek en jy ons tonge? AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)