SKRIFLESING: Luk 13: 6 – 9
’n Arm Duitse meisie het aangekondig dat sy ’n klavierkonsert gaan gee. Om mense te lok om te kom, het sy in die advertensies genoem dat sy die student van die beroemde Hongaarse professor, Franz Liszt, was. Maar dit was ’n leuen. Tot haar ontsteltenis het sy verneem die professor gaan haar dorp die dag voor die konsert besoek. Wat moes sy nou doen? Sy het hom gaan ontmoet, haar skuld beken en hom gevra om haar te vergewe. Die professor het geantwoord: “Jy het ’n fout gemaak. Almal van ons maak foute. Die enigste ding wat jy nou kan doen, is om te bekeer; en ek glo dat jy reeds berou het. Sit en speel.” Aan die begin het sy met baie vrees gespeel. Die professor het ’n paar van haar foute reggestel en gesê: “Nou kan jy regtig sê dat ek jou geleer het. Gaan speel môreaand by jou konsert, en die laaste stuk sal nie deur jou gespeel word nie, maar deur jou onderwyser.” Jy is soos hierdie meisie. Jy het gesondig. Daar is niks anders wat jy kan doen as om jou te bekeer nie. Dan sal jy die rol van jou lewe speel onder toesig van Christus self. Die laaste en die beste stuk sal deur Hom gespeel word.
Die gelykenis van die vyeboom gaan oor die Here wat vrugte van bekering soek by die mens. Wat voorop staan, is die geduld van God met die wederstrewige sondaar, wat hom / haar nie wil bekeer nie.

Willie Jonker het in 1957 in ’n preek geskryf van die onverdiende ontferming van God. Dit is nie ’n vyeboom wat êrens in die wildernis opgeskiet het nie. Hy staan geplant, deur die sorg van sy eienaar daar waar die grond sag en vrugbaar is, in die wingerd. Die wingerd is die trots van die eienaar. Die vyeboom is in ’n begunstigde posisie. Met reg kan die eienaar van hom vrug verwag. Wie is hierdie vyeboom? Dit is die mens wat deur God bevoorreg is om aan die verbond te behoort. Christus dink by die vertelling van die gelykenis aan Israel, die volk van God, wat in die bevoorregte posisie is, wat die wet en profete het en wat die menswording van Christus aanskou. Van sulke mense kan daar met reg vrug verwag word, die vrug van geloof. Die vrug wat God soek, is nie ons goeie werke of ons geld nie, maar harte wat in geloof aan Hom oorgegee is.

Dié vrug verwag God van elke kerkmens, van elke gedoopte mens wat deur Gods genade gebore is op die akker van die Kerk en in God se verbond, sê Jonker. Maar helaas, die vyeboom wat hier geskets word, is die beeld van die kerkmens wat ten spyte van die voorregte, nog steeds onvrugbaar bly. God het oor ’n lang tydperk (drie jaar) tevergeefs vrugte van bekering verwag by die kerkmens. Die kerkmens wat maklik toegang het tot die Woord, deur middel van die Bybel, die eredienste en digitale preekuitsendings en die toegang tot geestelike literatuur en geestelike boeke – se hart bly verhard. Die Here roep dikwels deur een of ander beproewing of gebeurtenis hard tot ons uit, maar steeds dra ons geen vrugte van bekering nie. Inteendeel, in plaas van vrug te dra, maak die vyeboom die grond waarin dit staan onvrugbaar (vers 7). Elke kerkmens wat nie bekeer nie, maak dit vir ander moeiliker om Christus te vind. Jonker skryf: “Hy (die onbekeerde sondaar) verlaag die geestelike temperatuur in die Kerk, hy smoor die getuienis van die Kerk na buite en hy trek ander eerder weg van Jesus af as wat hy vir hulle iets beteken.”

So is die toestand van die vyeboom. So is die toestand van die onbekeerde kerkmens. Die eienaar wil die vyeboom uitkap na drie jaar, maar die tuinier vra vir nog ’n jaar van genade. Die tuinier wil die grond omspit en mis gee. Die tuinier wil nog ekstra moeite doen. Die tuinier laat nie die vyeboom aan sy eie lot oor nie. Hy bewerk die boom opnuut en wel met noukeurigheid en sorg. So is God se geduld met die ongehoorsame kerkmens; altyd vol werksame liefde, skryf Jonker. Hy gee die ongehoorsame verbondskind nog ’n kans, sonder om hom aan homself oor te laat.
Maar hierdie geduld het ’n grens. Die tuinier kan die vyeboom nie vir altyd in sy tuin duld as hy onvrugbaar bly nie. Die pleitstem tot bekering hou op ’n dag op. As dit nie so was nie, sou dit swakheid aan Gods kant wees, en sou sy Woord wat dreig met ondergang vir elke onbekeerde, onwaar wees. (Aldus Jonker) Genadetyd hou op. Miskien bring ’n skielike dood ’n einde aan die geleentheid tot bekering.
Bekering is ’n 180° grade omdraai op die verkeerde pad. Die Griekse woord is “metanoia”, wat beteken omdraai. Die Heidelbergse Kategismus beskryf dit is die “inkeer, omkeer en terugkeer” na God. Soos wat die verlore seun by die varkhok tot inkeer gekom het en verlang het na sy vaderhuis, so begin bekering met ’n opregte begeerte om terug na God te gaan. Dit is om ’n daadwerklike omkeer te maak en terug te keer na God.
God het, toe Hy die wêreld geskep het, beveel dat alles vrugbaar moet wees en vrug moet voortbring. ’n Vyeboom kan daarom net vye en nie perskes voortbring nie. Ons moet daarom ons eie lewe ondersoek na die tipe vrug wat ons voortbring.
Tommy Lessing vertel van die verhaaltjie wat hy gelees het van die tipe vrug wat ons moet dra. Die persoon vertel dat wanneer hulle broers stout was en na hulle kamers gestuur was, het hulle ’n geheim gehad. Net buite die venster het ’n ou vrugteboom gestaan. Die seuns sou saggies die venster oopmaak, in die boom klim en in die veld agter die huis gaan speel. Na ’n rukkie sou hulle weer terug in die boom klim, na binne glip en die venster toemaak.
Eendag het hulle gehoor dat hulle pa vir hulle ma sê dat hy beplan om die boom af te kap, want dit het in jare geen vrugte gedra nie. Die seuns het paniekbevange hulle spaargeld geneem, winkel toe gehardloop waar hulle appels en ’n tolletjie swart gare gekoop het. Daardie aand het hulle by die venster uitgeklim en die appels orals aan die boom vasgemaak. Die volgende oggend het hulle gretig gewag vir hulle pa se reaksie. Gou was hulle bly om hom te hoor roep: “Maria, kom kyk! Dis ’n wonderwerk! Die boom is vol appels!” Die seuns het hulself gelukgewens, maar toe hoor hulle hoedat hulle pa sê: “Dit is regtig ’n wonderwerk … want dit is ’n peerboom.” (Die ouers het darem die wysheid en goeie humor gehad om die boom te laat oorleef.)
Net soos ’n goeie boom nie slegte vrugte kan dra nie, kan ’n vyeboom ook nie appels dra nie. Ons lees in Gal 5: 22 watter vrugte die Here aan die vyeboom soek, naamlik: “Maar die vrug van die Gees is: liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.”

Die dooie werke waarvan ons onsself moet bekeer staan in Gal 5: 19 – 21, naamlik: “Die praktyke van ons vlees is goed bekend, naamlik onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloesie, woede, selfsug, tweespalt, skeuring, afguns, dronkenskap, gefuif, en hierdie soort dinge – waarteen ek julle nou weer waarsku, soos ek julle vroeër gewaarsku het, naamlik dat diegene wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërf nie.”
Soos wat God met Sy skepping beveel het dat alles vrugbaar moet wees en moet vrugte dra, so gebied God ook in Sy herskepping dat ons vrugte moet dra van bekering. Daarom is die gelykenis van die vyeboom vir ons ’n oproep om voortdurend tot bekering te kom.
Die baie vals profete van vandag verkondig net God se liefde, sonder die oproep tot bekering. So word baie sondes goedgepraat deur die oorbeklemtoning van God se liefde ten koste van die feit dat God ook ’n regverdige regter is wat oordeel oor sondes. Sondes kan nie maar net goedgepraat word, omdat God liefde is nie. Ons moet ook rekenskap gee van ons dade.
Bekering is nie ’n eenmalige gebeurtenis nie. Verbondsbekering is om elke dag opnuut tot bekering te kom. Dit is om my elke dag opnuut te laat snoei deur die Woord en die Gees. Dit is al hoe ’n mens die vorm van die boom en die drakrag van vrugte kan verseker.
Mag ons elkeen elke dag in gehoorsaamheid tot bekering kom. Mag die vyeboom van God vrugte dra op sy tyd.
Luister ons na God se dringende stem? AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)