Om in jou element te wees, beteken om ’n opofferende lewe te leef .


SKRIFLESING: Luk 15: 11 – 31

Het u al gesien hoe ’n hond ’n rob jaag op die seestrand? Dit is te potsierlik. Iemand het dit so mooi as volg beskryf.

Die pogings van die rob om weg te hardloop van die hond was potsierlik, bespotlik en lagwekkend. Met patetiese inspanning het hy die water probeer haal. Elke maal as die hond naderkom, het dit vir ’n oomblik gelyk asof hy weer na die sandduine toe wou uitwyk, om dan maar weer te besluit dat dit veiliger is water toe! Met flappende voorvoete wat dreig om onder hom dubbeld te vou, het hy die vlak water bereik. Die geringste klammigheid het ’n verbasende metamorfose veroorsaak, sy sanderige robvel het skielik skitterend geblink en ’n ongelooflike soepelheid het oor sy liggaam gekom. Weg was die potsierlike lompheid. Toe hy die diep water bereik, was die gedaanteverwisseling volkome. Met grasieuse hale het hy die water deurklief en ’n satynswart streep deur die water gevorm, diepsee toe!

Toe was die hond weer verleë en potsierlik. Hy ploeter in die vlak water rond en hardloop vir elke brander weg, want hy is ontuis daarin. Die rob, egter, het die water in beweeg, baldadig en behendig soos ’n saamgeperste bondel energie wat skielik ontplof het. ’n Swemmende rob is ’n sonderlinge gesig. Dis byna asof ek ’n juigkreet vanuit die water kon hoor – die rob was weer in sy element!

Robbe is nie gemaak vir sandduine en skoorsoekende honde nie. Robbe is gemaak vir die water. Dit is die omgewing waarin hulle tuis voel en die beste aard. Daar kom hulle ongelooflike swemvermoë ten volle na vore. Daar bestaan hulle nie maar net nie – daar leef hulle.

Die parallel kan ’n mens deurtrek na die verlore seun. By sy vader was hy “in die water, in sy element.” Toe hy egter wegloop, sy vader verlaat, was hy te bespotlik en potsierlik. Hy het by ’n varkplaas beland waar hy gewens het hy kon van die varke se kos eet. Varke is inderdaad vir die Jode onrein en so het hierdie verlore seun in der waarheid onrein geword.

Eers nadat hy teruggekeer het na sy vader, was hy weer in die water, in sy “element”.

Buite Christus om, is ons soos ’n rob wat dit op die seestrand waag – te potsierlik en bespotlik. Ons is buite ons element. Ons ontdek telkens weer dat daar in die ver land van sonde vir ons net vodde en varkkos wag.

Dan ervaar ons die skrynende verlange om terug te keer na die Here, waar daar lewe, lig en vreugde is. Daarom bely Augustinus: “Ons is vir God geskape en ons vind nêrens in die groot heelal rus, voordat ons rus gevind het in Hom nie.”

By Hom word ons “nuwe mense”. Daarom sê Christus in Johannes 15: 4 – 5 die volgende: Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot nie uit sy eie vrug kan dra as dit nie in die druiwestok bly nie, so julle ook nie as julle nie in My bly nie.  Ek is die druiwestok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, hy dra baie vrug, want sonder My kan julle niks doen nie.”

In Christus is ons in ons “element”.

Waar wil u wees in 2022? Wil u soos die rob buite u element wees of wil u die rob wees binne u element? Wil u grasieus lewe in 2022? Dan moet u en ek in Christus wees.

Wat beteken dit om “in Christus” te wees?” Dit is om ’n opofferende lewe te lewe.

Twee ploegskare is van dieselfde ru-yster gemaak. Een is aan ’n boer verkoop wat dit voortdurend gebruik het. Die ander een het op die rak van die hardewarewinkel gebly, onverkoop totdat dit met roes bedek was. Die boer het sy ou ploegskaar saamgebring om nog een soos dit te kry. Die gebruikte ploegskaar het soos ’n silwer spieël geblink, terwyl die ongebruikte een heeltemal opgeroes was.   “Hoe is dit,” vra die geroeste een, “dat jy so blink geword het en ek so lelik geword het, ten spyte van my maklike lewe hier op die winkelrak? Eens was ons eenders.” Die blink ploegskaar sê: “Maar ek het my lewe opgeoffer in die landerye.”

Is u “in Christus?” As u “in Christus” is, dan moet u en ek ’n opofferende lewe leef. Ek moet soos die blink ploegskaar wees, wat myself offer vir die Here.

Offer ek myself in my binnekamer? Offer ek myself deur kerk toe te gaan? Offer ek myself deur die wyksbyeenkomste by te woon?  Offer ek myself deur my dankoffer gereeld te gee? Offer ek myself deur  die armes te help? Offer ek myself deur ’n voorbeeldige lewe te leef?

Is ek vanoggend ’n silwer blink ploegskaar of is ek ’n geroeste ploegskaar?

Die verlore seun het homself nie geoffer nie. Hy wou nie vir sy vader werk nie. Hy wou sy lewe verkwis deur ’n maklike lewe te leef in ’n ver land sonder enige opofferings vir sy vader.  Daarom het hy geroes van die los lewe wat hy geleef het.

Daar is ’n verskil tussen ’n bydrae en totale toewyding. ’n Hoender en ’n vark het eendag verby ’n kerkgebou gestap toe hulle die Sondagoggend-preek op die buite-bulletinbord opgemerk het, “Help die Armes.” Hulle het aangestap met die pad toe die hoender skielik met ’n voorstel gekom het. “Sê my, broer vark, hoekom gee ons nie vir al die arm mense ’n lekker ontbyt van ham en eiers nie?” Die vark het ’n oomblik gedink en geantwoord: “Dit is reg vir jou om te sê, want vir jou is dit net ’n bydrae, maar vir my is dit totale toewyding!”

Jesus het in Sy sending geslaag omdat Hy totaal toegewyd was aan die taak voor Hom. Hy was bereid om alles prys te gee, selfs Sy lewe. Niemand slaag regtig in die lewe totdat hy die punt bereik waar hy bereid is om sy lewe af te lê nie. Jesus het gesê: “As ’n koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit alleen.”

Almal kla so oor die kerk wat leeg is en kyk na die ander op ’n beskuldigende wyse. Die arme predikant voel later as’t ware skuldig. Gypsy Smith is eenkeer gevra hoe om ’n herlewing te begin. Hy het geantwoord: “Gaan huis toe, sluit jouself toe in jou kamer en kniel in die middel van jou vloer. Trek ’n krytmerk reg rondom jouself en vra God om die herlewing binne daardie krytmerk te begin. Wanneer hy jou gebed verhoor het, sal die herlewing daar wees”.

Die verlore seun het opgeroes as gevolg van sy sonde in die vreemde land weg van sy vader af. Wie weg van Christus lewe, sal roes. Wees eerder in Christus. Dan sal jy soos ’n rob in die see wees. Dit vra egter van jou ’n opofferende lewe.

Is jy bereid om in 2022 jou lewe te offer aan Christus?            AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s