SKRIFLESING: Gen 17: 1 – 11 en Gen 17: 15 – 27
’n Paar dekades gelede was daar ’n besoekende Engelse minister, Macmillan, wat ’n toespraak in Suid-Afrika gemaak het wat destyds absoluut opslae gemaak het. Hy het naamlik gepraat van “the winds of change”, wat volgens hom oor Suid-Afrika gewaai het. En vandag is “change” ook juis ’n tipiese eienskap van die kerk. Alles verander. Niks bly dieselfde nie. ’n Mens kan vandag van niks meer seker wees nie. Politiek verander, politieke stelsels kom en gaan, regerings kom aan bewind en kom weer tot ’n val. Bekende name van bekende bakens en plekke verander, modes verander, die vorm van karre verander, kommunikasiestelsels verander, gewoontes en kulture van mense verander, ons as mense verander, ja, alles verander. Selfs die gebruike in die kerk verander. Ons leef in ’n snel-veranderende wêreld, en juis dit maak ons dikwels baie onseker.
Tog is daar een onveranderlike, naamlik die beloftes van God. Dit is die een absolute waarheid, wat vasstaan bo alles.
Ja, God se beloftes loop soos ’n goue draad deur die geskiedenis. Daar is bykans 7 000 van God se beloftes in die Bybel. Op een of ander manier is hulle almal aan mekaar verbind. Christus is natuurlik nie net die sentrum van God se beloftes nie, maar alles kom ook in Hom bymekaar.

Een so ’n belofte is natuurlik God se belofte in Genesis 17. Aan ’n stokoue man Abram wat 99 jaar oud is, wie se 90-jarige vrou Sarai haar lewe lank onvrugbaar was, word ’n kind van hul eie beloof. Ja, God maak ’n belofte dat Hy aan Abram ’n groot nageslag sal skenk. Natuurlik het God die belofte van ’n groot nageslag al heelwat vroeër ook aan Abram gemaak.
Daarom het Abram op 86 al ’n plan gemaak om God te help met sy belofte deur vir hom ’n nageslag te verwek, deur ’n kind by een van Sarai se slavinne, naamlik Hagar, te verwek. Die kind se naam is Ismael.
Toe God aan Abram verskyn en aan hom ’n kind op 99-jarige ouderdom beloof, kon Abraham nie anders as om ’n laggie van twyfel te gee nie. Hy is bykans 100 en sy vrou 90 en sy was nog nooit vrugbaar nie. Abram het sekerlik gedink God weerspreek Homself. God bedoel seker dat Ismael vir hom ’n groot nageslag sal verseker. In plaas van aan God se beloftes vas te hou, hou hy aan Ismael vas. Maar dan verseker God vir hom dat Hy vir Abram ’n kind wil gee by Sarai.
Abram twyfel, Abram wil al laggende probeer om God te aanbid. Maar wat God belowe het, het God belowe. Om Abram te help, gee God selfs ’n verbondsteken, naamlik die besnydenis. As Abraham en sy manlike nageslag na hulle liggame kyk, herinner dit hulle aan God se beloftes. God wil hul twyfel in sekerheid verander. God gee aan hulle ’n nuwe identiteit: Abram word nou Abraham en Sarai word nou Sara.

Uit Abraham en Sara is Isak gebore, wat beteken “hy lag”. In Isak het die onmoontlike gebeur.
Maar hierdie belofte het soos ’n goue draad deur die geskiedenis geloop en is vervul in Christus Jesus. In Christus het ons deel gekry aan hierdie verbond en het ons die doop ontvang as teken van die nuwe verbond, naamlik dat ons in Christus gered en verlos is.
Hierdie verbond wil vir ons sê dat in die verlossingsplan God die aktiewe is en ons mense die passiewe:
- By die verbondsluiting in Gen 15: 12 was Abraham die slapende en het God alleen in die gedaante van ’n oond wat rook en ’n fakkel wat brand tussen die stukke vleis deurbeweeg.
- Abraham was kinderloos. God het vir hom ’n kind gegee op ’n hoë ouderdom.
- Die besnydenis is as teken gegee vir seuntjies van agt dae oud. Wat weet hulle dan en wat verstaan hulle hiervan?
God is die handelende een. God red en ons is passiewe toeskouers. Ons ontvang net die genade. God kom verbind Hom aan ons. Hy neem ons aan.
Tog maak ons dieselfde fout as Abraham wat na Ismael gekyk het in plaas van na God se beloftes. Ons wil “the winds of change” aanbring, en die Here help, soos Abraham ook vir God wou help.
Ons wil onsself aan God verbind deur ’n handjie by te sit.
- Ons roem oor ons groot geloof.
- Ons roem daarin dat ons die Here aangeneem het.
- Ons roem in ons bekeerdatum.
- Ons roem in ons goeie werke.
- Mense wil weer gedoop word as bevestiging van hulle aandeel aan hulle eie verlossing.
Maar al bogenoemde goed is alles gawes van die Here aan ons. Hy skenk vir ons die geloof, die Here neem vir ons aan, die Here wek die bekering in ons harte. Dit is nie die mense se trou nie, maar God se trou, wat vasstaan.
As ons somtyds wil twyfel aan ons kindskap van die Here, is dit omdat ons ons sekerheid soek in ons eie goeie kwaliteite. Nee, ons sekerheid lê buite onsself in wat God vir ons gedoen het.

Wanneer ’n mens op ’n boot is en die boot skud gevaarlik rond in die stormwind, dan moet jy die anker uitgooi. Maar jy gooi nie die anker op die boot se dek nie, jy gooi dit buite die boot in die dieptes van die see. Dit is geanker buite die skip. Netso, moet ek my saligheid nie in myself soek nie, maar buite myself in wat Jesus Christus vir my gedoen het. Nie my emosies is my anker nie, maar Jesus Christus is my anker.
Johannes 3: 16 lees as volg: “Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy unieke Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.” Die vetgedrukte gedeelte verduidelik dat nie die onderwerp van die sinsnede my red nie. Nee, die objek van die sinsnede is my redding. Die woordjie “in” is in die Grieks in die instrumentele datief geskryf wat beteken: Christus is die instrument waardeur ek gered is.
Daarom hoef ek nooit te twyfel in my geloof, of bekering of aanneming van die Here nie, want dit is nie ek wat dit doen nie, maar God self wat dit bewerk in ons lewens.
Daarom moet ons versigtig wees vir ons emosies, aangesien ons emosies so wisselvallig kan wees. Wanneer ons sekerheid soek, moet ons dit soek in die beloftes van God se Woord wat vasstaan. Somtyds gaan ’n mens deur twyfel in jou lewe. Dan wonder ’n mens byvoorbeeld of God ’n mens se gebed verhoor het, of jy wonder waarom jy so swaar moet kry.
In sulke tye moet ons vashou aan God se ewige beloftes. Ek moet aan die teksverse van die Bybel vashou, soos wat ’n mens aan ’n reddingstou vashou. Ek voel nie elke dag dieselfde nie, maar God is elke dag dieselfde.
Daarom hou ek, deur my twyfel, aan Jesus Christus vas! AMEN
(Erkenning word gegee aan Dr Andries Cilliers vir gedeeltelike gebruik van sy preekskets. Die res is my persoonlike inspirasie en werk)
[Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide]