SKRIFLESING: Mat 5: 13 – 16
Eugene Peterson in The Message, vertaal Mat 5: 13 – 16 as volg: “Let me tell you why you are here. You’re here to be salt-seasoning that brings out the God-flavors of this earth. If you lose your saltiness, how will people taste godliness? You’ve lost your usefulness and will end up in the garbage. Here’s another way to put it: You’re here to be light, bringing out the God-colors in the world.

God is not a secret to be kept. We’re going public with this, as public as a city on a hill. If I make you light-bearers, you don’t think I’m going to hide you under a bucket, do you? I’m putting you on a light stand. Now that I’ve put you there on a hilltop, on a light stand—shine! Keep open house; be generous with your lives. By opening up to others, you’ll prompt people to open up with God, this generous Father in heaven.”.
Dr. Chris van Wyk lig twee sake uit. Die sout-metafoor word vertaal met “God-flavors” en die lig-metafoor word vertaal met “God-colors”. Ons moet met ander woorde God se geure en kleure wees in hierdie wêreld. Ons moet geur en kleur gee aan hierdie wêreld.
Ons roeping in die lewe kom daarop neer dat:
- mense God moet kan proe in hoe ons lewe en hoe ons optree.
- mense God moet kan sien in hoe ons optree.
Dit is twee van ons vernaamste sintuie, naamlik om te kan proe en te kan sien.
- ) Die eerste oproep is, dat ons “God-flavors” sal versprei:
Ons praat van “sout van die aarde mense”. Dan bedoel ons dit is goeie mense. Maar voordat ek dit kan word, moet ek eers “sout vir die aarde” word.

Sout is iets alledaags en baie goed bekend. In die antieke wêreld het sout selfs meer funksies as vandag gehad. Hier is ’n paar eienskappe van sout:
Sout gee smaak. Deur ’n bietjie sout by kos te gooi, kry die voedsel smaak. Net so bring gelowiges smaak in die wêreld.
Sout preserveer. Voordat vrieskaste beskikbaar was, is sout gebruik om vleis te bewaar. Biltong en snoek is ’n lekkerny, omdat dit gesout word! Sout preserveer. As gelowiges is ons soos sout wat die lewe preserveer. Die wêreld word ’n veiliger plek waar mense wat die dinge van die Here doen, hulle invloed uitoefen. Misdaad daal, respek vir lewe neem toe, en die waardes van integriteit, liefde, omgee en beskerming styg.
Sout genees bederf en verrotting. In die ou tyd is wonde met sout uitgewas om infeksie te verhoed. Na jou tand getrek is, kan jy jou mond gereeld met soutwater uitspoel. Mense met sinusprobleme gebruik gereeld ’n bietjie soutwater. Ons gooi sout in ons skottelgoedwassers om dit skoon te maak. Sout se krag lê daarin dat dit ’n verskil maak in ’n wêreld waar bedorwenheid en verrotting so maklik plaasvind. Christene moet die agteruitgang van die samelewing keer en help stuit, deur hulle getuienis.
Sout offer sigself op. Sout werk net as dit uit die soutpot gegooi word. Sout kry sy bestaansreg net as dit gebruik word. Sout moet oplos voordat dit voordeel en smaak kan bring.
In die destydse Palestina was die kwaliteit van sout wisselvallig. Nie alle sout was ewe goed nie Die swak sout gaan af, en het geen krag nie. Dit word weggegooi en vertrap.
Jesus gebruik die beeld van sout wat verslaan om die godsdiens van die Fariseërs en Skrifgeleerdes te beskryf. Jesus kon sien hoe die Fariseërs en die Skrifgeleerdes godsdiens op ’n manier bedryf het wat sy krag verloor het, deur mensgemaakte, wettiese prosedures voorop te stel.
’n Mens kry tot vandag toe mense wat die dien van die Here verwar met tradisie. Ten diepste is dit ’n selfgesentreerde vorm van godsdiens eerder as die uitgiet van jou lewe in diens van ander.
2.) Die tweede oproep is dat ons “God-colors” sal versprei:
Lig is ’n basiese element van die lewe. Met die skepping het God lig geskep. Die duisternis was voor die lig. Maar God het lig in die duisternis geskep, sodat daar dag en nag kan wees. Christus het ook gekom as Lig vir die wêreld wat in sonde-duisternis verkeer.

Ferdinand Deist skryf treffend oor die ligmetafoor: “Waar Hy ook al gaan, bring Hy lig, bring Hy lewensruimte en lewensvreugde. Elkeen wat met Hom in kontak kom, se lewe kry nuwe sin en betekenis: Saggeus, Nikodemus, Maria, Magdalena, Petrus, Thomas, almal. Oral is Jesus besig om God se skeppingslig aan te steek.” Daarom, as ons die waardes van God se Koninkryk uitlewe, verdryf ons ook die duisternis uit ons huise en uit die wêreld uit.
Mense kom na lig toe. Soos ’n kers motte aantrek, trek lig ook mense nader. Lig skep gemeenskap tussen mense. Jesus Christus het ook bedoel dat Sy lig die nasies van die wêreld moet nadertrek.
Jesus se lig moet ook ons huise verlig. In die Bybelse tyd was daar net een-vertrek huise. Die lig het in die hele huis geskyn. Daar was nie donker plekkies in die huis nie. So moet Jesus se lig ook lig kom gee in ons huise, huwelike en gesinne. Natuurlik sê ons skrifgedeelte dat Jesus se lig bedoel is vir die hele wêreld. Dit is ’n verskriklike slegte advertensie vir die Christendom as Christene nie sigbaar in die wêreld is nie. Spurgeon het treffend opgemerk dat Christus in die woonvertrek moet skyn, eerder as die gastekamer. Daarmee bedoel hy dat Christus elke dag gelewe moet word en nie slegs by spesiale geleenthede om ons beter te laat vertoon nie. Ons is nie geheime diens-agente van die Here nie.
Gerard Hennig skryf dat ’n dissipel sy dissipelskap net so min kan wegsteek as wat ’n lig sy strale kan wegsteek. ’n Christen hoort in die middel van die wêreld soos ’n lamp in die middel van ’n vertrek.
Mag ons soos Eugene Petersen skryf, “God-flavors” en “God-colors” op hierdie aarde en in die wêreld wees. AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)