SKRIFLESING: Amos 4: 1 – 5, Amos 5: 4 – 6 en Amos 5: 18 – 24
Watse pretbederwer is Amos tog nie! Hoor wat sê hy: “As jy wil sonde doen, moet jy kerk toe gaan. En as jy miskien nog meer sonde wil doen, gaan na die Nagmaal.”

Sondig en sondig lustig voort in die kerk, want so hou julle mos daarvan. Dit was die gevolgtrekking wat Amos gemaak het oor die toestand van die geloofslewe van Israel. Amos sê eintlik maar: Israel, julle is geestelik bankrot, al is julle sulke getroue kerkgangers.
God wil deur die profeet Amos die skietlood, die waterpas, aanlê teen die geloofslewe van hierdie gemeente, en teen die geloofslewe van elke gelowige afsonderlik.
Wil u die preek onthou – onthou dan die beeld van ’n muntstuk. ’n Muntstuk bestaan uit twee kante, naamlik ’n kopkant en ’n stertkant. Egte godsdiens het twee kante: Liefde tot God en liefde tot my medemens. Ja, ons het ons Here lief, maar ai, dis so moeilik om my naaste lief te hê.
Kom ek vertel eers vir u die agtergrond van die gelese gedeelte. ’n Groot godsdienstige fees was aan die gang daar in Israel toe Amos hom op die preekstoel waag. Dan lees ons hoe Amos in die eerste drie hoofstukke van sy preek, al Israel se buurvolke aanval. Ja Amos verkondig God se oordeel teen die Noorde, die Ooste, die Suide en die Weste. Dan trek Amos die net nouer. Ook Edom, die broedervolk van Israel en Juda, die noordelike stam, loop deur. Net Israel nie. In hulle feesgeroes het Israel seker hande saamgeslaan en uitgeroep: Alle volke word veroordeel, behalwe ons. Hoe anders dan: Ons is dan so godsdienstig… Ons het ons heiligdomme by Bet-el, Gilgal en Berseba. Ons bring ons offers in die môre en ons tiendes elke derde dag en dit terwyl daar dié is wat sê ons hoef dit al om die derde maand te bring. Ons gee selfs vrywillige offers. Ons hou ons feestye gereeld. Ons bring vetgemaakte kalwers en ons sing ons liedere voor God. Met ons harpmusiek plesier ons God. Voorwaar, Israel kon sê: “Ons het God lief met ons hele hart, verstand en wil.”
En natuurlik, geliefdes, het ek en u ook die Here lief. Ons kan net soos Israel sê, ons het die Here lief met ons hart, siel en verstand.
Daarom kom ons mos kerk toe, gee ons dankoffers, dien die Here op die kerkraad en onderhou ’n mooi kerkgebou vir die Here se eer. Ja, ons het die Here lief.

Dan preek Amos die tweede gedeelte van sy preek. Die feesrumoer word al stiller tot jy ’n speld kan hoor val, want hoor wat sê Amos: “ Daar kom dae oor hierdie godsdienstige volk dat hulle met hakke opgetel sal word en met dorings van agter aangejaag sal word”. Waarom klink Amos so kwaai? Israel het God lief – maar nie hul naaste nie.
Ons het God lief, maar die doen van reg aan die naaste, ontbreek. U sien dus, die rooi flikkerligte daar in die gemeente van Israel was ’n gebrek aan naasteliefde. Israel het sy mede-broeder in die grond vertrap, soos wat ’n mens ’n gogga vertrap in die grond.
En gemeente ek praat nie nou van politieke of maatskaplike onreg nie, ook nie van die Joodse vervolging onder Nazi-Duitsland nie. Nee, ek praat van alledaagse onreg wat ek en jy teen ons mede-broer en -suster pleeg, terwyl ons kerkmense is.
Ons het God lief, maar ons laat dit na om in liefde reg te laat geskied aan ander. Adrio König sê, as Amos op hierdie preekstoel van Adelaide sou geklim het, sou dit so iets klink: “Kom na die kerk, as julle wil sonde doen, na die Nagmaalstafel as julle nog meer sonde wil doen. Bring julle kollekte vroegmôre, julle maandelikse dankoffer elke derde dag. Gee julle Tiendemaand-dankoffer en deel basaarlyste uit en laat mense dit hoor. So hou julle mos daarvan, gemeente van Adelaide,” sê die Here my God.
Maar wat sê God van sulke valse godsdiens – ’n godsdiens wat net vir God liefhet, maar nie my naaste nie. Kom ons lees weer Amos 5: 21: “Ek haat, Ek verafsku julle Kersfees en Paasfees en ek het niks aan julle Nagmaalsfeeste nie. Al bring julle vir my maandelikse dankoffers en tiendemaanddankoffers, dit is nie vir my aanneemlik nie. En ek kyk nie eers na julle basaar se baie tafels nie. Gee pad voor my met die rumoer van julle liedere. En julle orrelmusiek wil ek nie hoor nie”.
Verskriklike woorde, gemeente!

U sien dus, dit gaan om die muntstuk. Hierdie muntstuk is eers eg as die kopkant en die stertkant bymekaar pas. So nie, is dit vals.
Godsdiens is eers eg as die kopkant bestaan uit liefde tot God en die stertkant bestaan uit die doen van reg aan jou naaste. Om jou naaste lief te hê beteken inderdaad om reg te laat geskied aan jou naaste. So nie, is ons godsdiens vals.
Maar luister wat sê God in Amos 5:4 – “Vra na my wil, dan sal julle lewe.”
Moenie in die kerk gaan raad soek nie, moenie na die Nagmaal gaan of verbygaan na die verootmoedigingsdiens nie. Want sê God: Bet-el, wat beteken die huis van God, sal word die huis van niks. En Gilgal sal in ballingskap gaan. In die Hebreeuse taal klink dit amper so iets: “God sal met Gilgal se gal werk.”

Eintlik sê God: Moenie die kerk se drumpel deurloop en moenie die Nagmaal bywoon as jy nie eers jou naaste leer liefkry het nie. Soek my wil, en my wil is dat jy jou naaste sal liefhê sodat jy kan lewe. Maar gemeente, dit is nou maar eenmaal so dat ek en jy nie op ons eie in staat is om ons wil na Sy wil te verander nie. Nee, daarvoor moet ons bid vir die werk van die Heilige Gees in ons lewe.
Dit is vreeslik, gemeente, as God in Sy toorn losbrand. Want God kan dit nie verdra dat ons die reg van mense in die grond vertrap nie. God sê dit is vir Hom ’n bitter saak in vers 7 van hoofstuk 5.

Hoe vertrap ek die regte van ander mense? Tieners en jongmense kan dalk met hul opstandigheid hulle ouers nie eer nie. Ons kan met ons tonge mense beskinder en beswadder. Ons het elkeen ’n begraafplaas, waar ons mense begrawe wat deur ons beskinder is. Ons ontneem mense geleenthede deur hulle nie in hul nood by te staan nie. Ons ontneem hulle die reg om te lewe. Dikwels vertrap ons ons lewensmaat se emosionele behoeftes deur hom of haar nie te waardeer nie. Om jou werkgewer se tyd te steel of jou werknemer nie te betaal wat hom toekom nie, vertrap jy die ander mens. Wanneer ’n mens onregverdige wins maak of onbillike rente vra, is dit ’n gruwel in die oë van die Here. Jy steel as jy nie sorg vir ordentlike huisvesting en geriewe vir jou werkers op die plaas nie. Jy vertrap regte as jy valse getuienisse in bring om jou kollega in ’n slegte lig te stel. Amos sê ons pleeg onreg as ons altyd die verkeerde begeerte het om voor in die koor te sing en nie ruimte maak vir ander mense nie. Subtiel vertrap ons die reg van ander mense deur hulle te gebruik en te hanteer soos wat ’n mens ’n kitsbank hanteer. Ons kan inderdaad praat van jou kitsbankwerknemers, kitsbankouers, kitsbankkassier of kitsbank lewensmaat.

Ons is te bang om in die oë van die armes en verontregtes te kyk, omdat ons bang is om ’n mens met behoeftes raak te sien. Ja, die grootste behoefte van die randfiguurmense, naamlik om raakgesien en respekteer te word, kyk ons mis. Om van mense kitsbanke te maak, wat net vir jou nut daar is, is sosiale onreg. Dit is om op die reg van elke mens om as mens behandel te word, te trap. Christus Jesus het mense nie as kitsbanke behandel nie. Christus het in die oë van hierdie wêreld gekyk en die nood raakgesien. Christus is in beroering gebring deur die nood van ander. As hemelkoning het Christus hom nie verhewe teruggetrek in die kerk of op die berge nie.
Nee, as Christus by die sinagoge uitgestap het, het Hy Sy hande omhelsend na hierdie wêreld uitgesteek. Siekes is gesond gemaak, kreupeles loop, dowes hoor en sondaars word verlos.

In die oë van hierdie wêreld moet jy Christus raaksien (Mat 25: 35 – 40). As iemand dors het, of iemand is honger of naak of behoeftig, dan sê Christus: Sien my in daardie persoon raak. Want vir sover as julle dit aan een van hierdie geringste broeders gedoen het, het julle dit aan my gedoen.
Christus in die oë van die bedelaar, die kassier wat jou help of jou bediende. In daardie oë van die mens wat stink en vuil is, moet jy dieper kyk – behandel hom soos jy Christus sou behandel het.
Dan die triomfantelike vers 24 van hoofstuk 5: “… maar laat die reg en geregtigheid aanrol soos watergolwe, soos ’n standhoudende stroom.” Die beelde wat Amos hier gebruik kom uit sy ervaring as boer. Watergolwe wat skielik in ’n droë loop afkom na ’n stortbui, spoel al die gemors wat daarin opgegaar is gedurende die droë maande, weg.
So moet die reg ook wees. Dit moet alle vooroordeel en verkeerde gesindhede en haat wegspoel. Ook in ons landsopset. Dit is nie die taak van die kerk om politieke stelsels uit te werk nie. Dáár moet die geregtigheid wees wat uit wedergebore kinders van God se hart vloei om die gemors van rassevooroordeel, seksisme, minagting en verkeerde gesindhede weg te spoel. Maar Amos sê, die reg moet nie net soos ’n watergolf kom en verdwyn nie. Dit moet soos ’n standhoudende stroom water aanhoudend vloei. Dit moet oorgaan in hande-uitreiking.
Christus sê: “Jy is my arms in hierdie wêreld. Jy is my verteenwoordiger in die nood van mense. Jy moet ’n verskil maak in hierdie wêreld”. U sien dus: God vra nie hoe lief het jy my nie? God sal sien hoe lief jy Hom het in die manier waarop jy jou naaste behandel.
Moenie kerk toe kom, moenie Nagmaal toe kom, moenie jou dankoffer gee nie, moenie tot my bid nie. Gaan maak eers reg met jou medemens. Kom dan kerk toe, kom dan Nagmaal toe en bring dan jou dankoffers. Dan kan jy eers werklik bid.
Weer eens die les van die muntstuk. Die muntstuk is eers eg as die muntstuk bestaan uit ’n egte kopkant en ’n egte stertkant. Egte godsdiens is liefde tot God en liefde tot jou medemens. Kom gerus kerk toe en sondig nie meer nie. Kom gerus Nagmaal toe, maar as jy by die kerkdeur uitstap, omhels hierdie stukkende wêreld in God se liefde. Die Christusbeeld sonder arms daar in ’n Europese oorlogsbegraafplaas sê vir ons: “Jy is my arms in hierdie wêreld. Deur jou wil ek die wêreld, hierdie stukkende wêreld, in my liefde heel.” AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)