SKRIFLESING: Luk 15:20-24
Die wêreld kort goeie vaders. Ons lewe in ’n wêreld waar ons die rolmodel van goeie vaders kort. Die samelewing word gekenmerk deur vaderlose kinders en afwesige vaders. In baie huise is daar wel vaders, maar dit gebeur te dikwels dat vaders nie goeie rolmodelle is nie.
’n Vaderlose samelewing veroorsaak allerlei gemeenskapsprobleme soos misdaad, dwelmmisbruik, afhanklikheidsverslawing, geweld teen vroue en kinders, gedragsprobleme, bendegeweld en nog vele ander euwels.

Kom, laat ons sommer reg aan die begin sê dat goeie pa’s net so belangrik soos goeie ma’s is. Vaders het ’n enorme invloed op hulle seuns en dogters se lewens. Dogters moet droom om eendag te trou met mans soos hulle pa’s. Seuns, weer, moet begeer om eendag volwasse mans te word soos hulle vaders se voorbeeld. Pa’s speel ’n enorme rol in hulle kinders se emosionele welsyn.
In die ouer samelewings is gesinne gedefinieer as ’n huis met ’n pa en ’n ma en kinders wat saamgebly het. Maar baie dinge het verander.
Dekades gelede was die swart bevolking in Suid-Afrika se gesinslewe baie gesond. Toe kom die myne en tienduisende mans moet in kampongs lewe ver van hulle gesinne af. Vir die myne was dit ’n goedkoper opsie as om vir elke gesin van ’n mynhuis te voorsien. Dit het tot gevolg gehad dat die swart gesinne hulle vaders net so twee keer per jaar gesien het. Die kinders het pa-loos grootgeword. Die kinders het hulle identiteit verloor en so het misdaad en geweld deel van die Suid-Afrikaanse samelewing geword.
Die onlangse wetgewing dat elke ma R350 per kind ontvang as ’n kindertoelaag, was ook ’n verkeerde besluit. Jong tienermeisies sorg dat hulle swanger word om die R350 se kindertoelaag te ontvang. Die kinders word gebore sonder ’n huis en sonder ’n pa. Jong manne loop rond om meisies swanger te maak, maar wil nie die verantwoordelikheid van ouerskap aanvaar nie. Daar word bitter min kinders binne die huwelik in Suid-Afrika gebore. Die meeste is buite-egtelik en waarvan die pa’s wegstap van hulle verantwoordelikheid.
Die Westerse samelewing wat geskoei is op produktiwiteit, het ook die gevolg dat vaders lang ure werk en dikwels min tyd het vir hulle kinders. Dit skep ook weer sy eie probleme.
Ons land beleef ’n groot maatskaplike probleem wat misdaad, geweld, dwelmsindikate, afhanklikheidsverslawing, verkragting en geweld teenoor vroue en kinders betref. Die rede daarvoor is hoofsaaklik omdat kinders nie meer die gesonde rolmodel van ’n vader het nie.
Deur navorsing is gevind dat 99% van misdadigers wat in Amerikaanse tronke vir ernstige misdaad is, geen goeie verhouding met hulle pa’s gehad het nie.

Pa’s wat liefdevol betrokke is by die opvoeding van hulle kinders, skep jongmense wat stewig op die grond staan. Pa’s is vir die samelewing lewensbelangrik. Ons moet die waarde van vaders herontdek. Die Here het beslis nie net vaders gemaak om kinders voort te plant nie. ’n Pa het ’n morele verantwoordelikheid vir elke kind wat hy in die wêreld gebring het. Dit is sy heerlike voorreg om hulle vader genoem te word.
Ons gaan vanoggend in Lukas 15 kyk na die gelykenis van die verlore seun. Baie word gemaak van die verlore seun en ook selfs van die opstandige seun wat nie bly was oor sy broer se terugkoms nie. Vandag gaan ons na die vader kyk. Elkeen van die karakters leer belangrike lesse vir Christene. In Luk 15:20-24 leer ons ’n paar dinge oor die vader wat Christenvaders moet navolg terwyl hulle probeer om hul kinders groot te maak in die opvoeding en vermaning van die Here.
1. Die vader was geduldig – Alhoewel die seun lankal weg was, het die pa nog steeds na hom gesoek en was hy voortdurend op die uitkyk vir hom. Die vader se oë was gedurig op die pad, daarom kon hy toe sy seun nog van ver aankom, na die seun toe hardloop. Sy oë het nooit moeg geword daarvoor om na sy eiesinnige seun te soek nie.
2. Die vader was liefdevol – Toe hy sy seun sien kom, het hy na hom gehardloop. Hy kon nie wag dat sy seun na hom toe kom nie. Hy het dadelik sy seun omhels en gesoen. Die pa het nie eens gevra vir ’n verduideliking van waar hy was of wat hy gedoen het nie. Hy het nie vir hom ’n lesing gegee oor “jy moes van beter geweet het,” of “ek hoop jy het jou les geleer,” nie. Die vader was buitengewoon liefdevol teenoor sy seun. Dit was nie ’n voorwaardelike liefde nie, maar totaal onvoorwaardelike liefde wat geen grense ken nie.
3. Die vader was vergewensgesind – Ons weet hy was vergewensgesind omdat sy optrede dit gedemonstreer het. So angstig was hy om sy seun te vergewe dat hy sy seun nie toegelaat het om sy pleidooi te voltooi nie. (In Luk 15:18-19 beplan die seun om sy pa te vra om hom ’n dienskneg te maak. Maar die pa verhoed hom om verder te praat in Luk 15:21-22). Die vader het sy eiesinnige seun op sy oorspronklike plek herstel. Vergifnis is die belangrikste element in verhoudings. As daar nie vergifnis is nie, word wrokke gekoester, wat jou lewenslank kan treiter.
4. Die vader het sy prioriteite op die regte plek gehad – Die belangrikste ding was nie dat sy seun gesondig het nie, nie dat hy sy vader uitgebuit het nie, nie dat hy sy vader ongekende hartseer veroorsaak het nie; die belangrikste was dat sy seun gelewe het en huis toe gekom het. Die terugkeer van die verlore seun was die enigste fokus van die vader. Daarin het sy blydskap gelê.

Johannes Calvyn het gesê kinders het behoefte aan GEBORGENHEID en SEKURITEIT. Om geborgenheid te verseker, moet jy baie LIEFDE gee. Om sekuriteit te gee, moet jy STRENG wees. ’n Kind moet weet dat daar grense is. Binne hierdie grense is hy of sy veilig. Daarom moet ons ook die kind kweek in God se geborgenheid en sekuriteit. Die kind moet die liefde van God ervaar, om geborgenheid te ervaar. Die kind moet ook God se sekuriteit kan ervaar, deur streng binne God se wil te leef. Daarom moet die kind al van kleins af grootgemaak word met die gebruik dat dit Sondagoggende die Here se erediens is en die Here met ons ’n afspraak het. Die kind moet leer dat daar ’n oggendgebed is en dat daar in die aand boeke gevat word, deur stiltetyd te hou. Die vader as geestelike leier van sy huis moet hierin die voorbeeld vir sy kinders wees.

’n Klein seuntjie het gefrustreerd en naby aan trane gesit. Hy het probeer om ’n vlieër te bou, maar hy kon dit nie in die lug kry nie. Sy pa het gekom en tydsaam die vlieër reggemaak en vir sy seun geleer om die vlieër in die lug te kry. Die seuntjie was dankbaar vir die liefdevolle en hulpvaardige belangstelling wat sy pa getoon het. Vir die res van sy lewe sal hy daardie dag van kwaliteit-aandag van sy vader onthou.
Ons sal in hierdie wye en droewige land moet leer om die Rubicon oor te steek, waar vaders weer hulle regmatige plek inneem, om weer pa te wees vir hulle kinders in die volste sin van die woord. (“Rubicon” beteken om ’n grens oor te steek wat dapperheid vra en waar daar geen terugdraai is nie – die woord het sy oorsprong in Julius Caesar se geskiedenis.) Alleen dan sal Suid-Afrika gered kan word van sy totale maatskaplike verval.
Afwesige vaders = maatskaplike verval. Betrokke vaders = maatskaplike opbou.
Cecil Taylor het die volgende gesê oor om ’n Rubicon oor te steek: “Een enkele besluit kan toekomstige geslagte beïnvloed. In 1940 het my ma en pa Christene geword. My pa het gesê: “Wat my en my huis betref, ons sal die Here dien!” Omdat my pa besluit het om Christus te volg, het ek ’n Christen geword. Omdat ek ’n Christen is, het my kinders Christene geword. Omdat my kinders Christene is, word my kleinkinders Christene. Een besluit wat in 1940 geneem is, het vier generasies en 75 jaar en waarskynlik meer beïnvloed. ’n Besluit wat vandag geneem word, kan dinge vir toekomstige geslagte bepaal.”

Daar word gesê dat enige man ’n pa kan word, maar dat dit ’n spesiale soort man vra om ’n Pa te wees! Die ideale vader is meer as om bloot deel te hê aan die voortplanting van die kind; hy help om die kind regdeur sy groeijare te vorm deur ruim hoeveelhede kwaliteit liefde, leiding, regstelling, vergifnis en lof uit te deel. Gelukkig is diegene wat ’n pa gehad het met wie hulle so ’n persoonlike verhouding gehad het.
Pa’s moet so leef dat hulle kinders op hulle trots is. Dit is nie ’n trots gebou op sukses, geleerdheid of finansiële welvaart nie, maar eerder ’n trots op die karakter van hulle pa.
Ons kan nou al die vader-kind-verhouding ervaar wanneer ons God as ons hemelse Vader ervaar. Daarom leer die Onse Vader vir ons: “Ons Vader wat in die hemel is ……”
Wees ’n pa en ’n oupa wat ’n persoonlike verhouding met jou kind of kleinkind het. AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)
BRONNELYS:
Bible Illustrations (AMG International Inc)
Taylor, Cecil. Cross this Rubicon!