SKRIFLESING: Mat 5: 27 – 30 en Mat 5: 8
In Richard Foster se bekende boek “Sex, money and power”, beskryf hy die drie gode van ons tyd.

Dit is die drie gode wat die hele wêreld beheer. Een daarvan gaan ons vanaand behandel, naamlik seks in ’n negatiewe sin, soos wanneer dit wellus word.
Deel van die ondergang van die volk Israel was dat hulle gedurig afgode aanbid het, onder andere Baäl. Baäl was ’n vrugbaarheidsgod en die godsdiens het self ook baie tempelprostitute gehad en menigtes het hulle rug op God gedraai en hulle na wellus gewend. Lees onder andere hoe Elia die Baälprofete doodgemaak het en Isebel gepoog het om ook Elia se lewe te neem.
Baäl-aanbidding was meer ’n kultus as ’n godsdiens. Seksuele orgies het plaasgevind in die naam van godsdiens. Daarom het God telkemale vir Israel gestraf.

Een so ’n keer was die jaar 586 v.C. toe leërs uit Babilon Juda binnegekom het. Die Babiloniërs het twee jaar lank vir Jerusalem beleër en die stad uitgehonger. Hulle het toe die stad ingeneem, die Joodse tempel vernietig en die stad aan die brand gesteek.
“ Die Babiloniërs het die koning van Juda gevange geneem, wat die laaste afstammeling van Dawid was wat oor Israel geregeer het. Hulle het die koning se seuns voor hom doodgemaak, toe sy oë uitgesny en hom in kettings na Babel vervoer. Na al die bloedvergieting is die liggame van die gesneuwelde Hebreërs – van wie baie God vir Baäl verwerp het – in die Ben-Hinnom-vallei gegooi, dieselfde vallei waar Baäl-aanbidders kinders vermoor het en hul bose praktyke uitgevoer het.

Teen Jesus se tyd is die naam van hierdie vallei tot Gehenna verkort. Gehenna het as die plaaslike stortingsterrein gedien. Al die stad se afval en puin is daar verbrand. Tereggestelde misdadigers en onbegrawe liggame is dikwels in Gehenna gegooi, wat die kloof sy reputasie gegee het as die plek van die verdoemdes en die verlate. Die brande van die vallei het ’n stank geskep wat die hele gebied laat sleg ruik het. Diegene in die stad kon sy rook sien, en die besoedeling was ’n herinnering aan al die skande van die verlede. In Jesus se gedagtes was Gehenna ‘n plek van ontrouheid, waar diegene wat geroep is om iets groots te wees, hulle rug op God gedraai het. By Gehenna het opstandige Hebreërs hulle kinders aan die vuur van Baäl geoffer. By Gehenna het buitelandse leërs duisende lyke opgestapel terwyl die oorlewende Israeliete in ballingskap gelei was.” (JF Cook)
Gehenna is letterlik ’n plek van brandende liggame en smeulende afval, wat ’n verduideliking bied oor wat Jesus oor losbandige seksuele lewens gesê het. Jesus het bedoel dit is beter om ’n oog of ’n hand te verloor as om in die hel (Gehenna) te kom, oor seksuele sondes. Jesus het dus geleer dat Gehenna so aaklig is dat ’n wyse persoon met graagte ’n oog sal verruil om te verhoed dat hy in die aakligheid van Gehanna beland.

Wellus is die lewe van gedisoriënteerde drange. Dit kom uit in dinge soos owerspel, ontrouheid, flirtasies, om klere van ’n vrou se lyf af te kyk, pornografie, molestering, seksisme en enige ander vorm van seksuele losbandigheid. Wellus is ook om vuil seksuele grappe te vertel. Menige huweliksonthaal is al ontsier deur vuil seksuele grappies.
Wat ook vandag op sosiale media ’n ondeug is, is die stuur van wulpse boodskappe of foto’s oor sosiale media. Jou selfoon en jou rekenaar moet so skoon wees, dat jy jou lewensmaat enige tyd toelaat om daarin te kyk.

Pornografie sien altyd die ander persoon as ’n objek en nie as ’n persoon nie en die pornografiese handeling is meganies, maar nie liefdevol of outentiek menslik nie. Wellus is in wese ’n ingebuigdheid op die self.
Sondes van onwelvoeglike wellus kan baie verleentheid en skande bring, want daarin laat mense hulle toe om op diervlak te funksioneer, gelei deur die genot van sensasie, eerder as die redelikheid van gesonde en mooi seks, wat menslik is.

Seks is iets skoons, iets van die hemel, maar dit hoort net in die huwelik. Daarbuite is dit wellus, wat uitloop op die “hel” (Gehenna.) Die Bybel vra nooit vir ’n mens om nie te begeer nie. Maar ons begeertes moet reg en skoon wees. Ons is nie Platoniste nie en beslis nie Gnostici nie. Daarom mag ons begeer, maar moet ons begeertes skoon wees, dan sal ons vir God sien, soos die Saligspreking lei.
Ons liggame is tempels van die Heilige Gees. Daarom mag ons nie ons liggame opoffer vir onwelvoeglike wellus nie.
Mense het seksuele behoeftes, wat goed en reg en mooi is. Maar as dit nie getem is nie, sal dit jou soos ’n perd afgooi. Jy sal seerkry.
Die Onse Vader-gebed is ook ’n kragtige wapen teen wellus. Christus beveel ons om te bid: “Lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose.”
CS Lewis beskryf die tempering van wellus in sy boek The Great Divorce as volg: “ ’n Man naby die hel staan met ’n klein rooi akkedis (wellus) op sy skouer.

Die akkedis verlei die man met wellustige seksuele plesier, maar hulle laat hom ook swak en vasgeketting aan ’n lewe wat hy haat. Die akkedis verteenwoordig skynbaar wellus en onwelvoeglike seks en fluister allerhande sielvernietigende dinge in die man se gedagtes in. Die man is gedurig op ’n fantasie van seksuele begeertes. In hierdie verhaal konfronteer ’n engel die man en vra toestemming om die akkedis dood te maak. Die man, aanvanklik hoopvol, vra of die akkedis se dood hom sal seermaak, en die engel knik. Dit is ongewens; die man wil nie die pyn hê nie. Hy wil nie die angs van amputasie hê nie, en hy begin verskoning na verskoning voorhou. Die akkedis rig ook sy pleidooi, beding vir sy toekoms – trouens, skree om gespaar te word. Maar die engele kom terug na dieselfde vraag: “Mag ek dit doodmaak?” “Mag ek dit doodmaak?” Uiteindelik gee die man toe en die swaard val op die wellus-akkedis. In ’n fantastiese wending sterf die akkedis nie. Dit muteer. Dit begin groei tot ’n lewende, energieke hings. Die perd staan sterk en koninklik, en die man, wat voorheen ’n slaaf was, word moreel verander terwyl hy agter-op die hings klim en na ’n groot lig ry. Nou versterk, nou ten volle lewend, reis hy na die plek van vreugde, na die berge waar hy die aangesig van God kan sien. “(JV Cook)
“What is a Lizard compared to a Stallion? Lust is a poor, weak, whimpering, whispering thing compared with that richness and energy of desire which will arise when lust has been killed. (CS Lewis)
Daarom moet elke gelowige elke dag bid in die woorde van Ps 51:10–12: “Create in me a clean heart, oh God, and put a new and right spirit within me. Do not cast me away from your presence. And do not take your Holy Spirit from me. Restore to me the joy of your salvation and sustain in me a willing spirit”
In Mat 4: 8 staan daar: “Gelukkig is dié wat suiwer van hart (begeerte) is, want hulle sal God sien.” AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)
BRONNELYS:
Cook, Jeff V. Seven: The Deadly Sins and The Beattitudes. Zondervan. Kindle Edition.
Lewis, Great Divorce, 99-107.
Cunningham, Lawrence S. The Seven Deadly Sins: A Visitor’s Guide. Ave Maria Press. Kindle Edition.
Kevin, Vost. Seven Deadly Sins. Sophia Institute Press. Kindle Edition.
Foster, Richard. Sex, money and power.
Cook, Jeff V. Seven: The Deadly Sins and The Beattitudes. Zondervan. Kindle Edition.
Bible Society of South Africa; Bible Society of South Africa. Die Bybel 2020-vertaling met Deuterokanonieke boeke (Afrikaans Edition). Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Kindle Edition.