SKRIFLESING: Mat 19: 30 – 20:16
Die Here Jesus het dikwels vir die mense stories vertel as Hy hulle iets wou leer. Jesus was ‘n bobaas-storieverteller. Maar snaaks, baie mense het glad nie van Sy stories gehou nie, want of hulle het dit nie verstaan nie of hulle het wel verstaan, maar kwaad geword.

So ‘n storie. So ‘n gelykenis was die gelykenis van die arbeiders in die wingerd. Kom ons vertel weer die gelykenis, maar dan in ‘n taal wat by ons streek pas.
‘n Boer moes ‘n klomp skape skeer. Hy het skeerders nodig gehad. Vroegoggend, dou voor dag staan hy op en neem ‘n paar skeerders op die dorp in diens teen ‘n vasgestelde loon van R200 ‘n dag. Teen 11h00 gaan hy weer dorp toe, om nog skeerders te gaan haal. Teen 12h00 gaan hy weer dorp toe om nog skeerders te gaan haal. Teen 15h00 gaan hy weer dorp toe, om nog skeerders te gaan haal. Teen 17h00 gaan hy weer dorp toe om nog skeerders te gaan haal. Teen 18h00 stop die boer die skeerdery en roep almal byeen om hul daaglikse loon te betaal. Almal kry R200. Ook die wat laaste kom werk het, kry ook R200. Die skeerders, veral die wat eerste ingeval het, was vir die boer woedend kwaad gewees. Soos ek ook kwaad word as ek in ‘n ry staan in ‘n groot winkel en iemand kom druk voor my in. Ons glo mos in geregtigheid. Elkeen moet kry wat hy verdien. Elkeen moet sy beurt afwag.
In die lewe staan ons mos altyd in rye voor en agter mekaar. In die skool staan die slimste eerste. Ons onderskei tussen geleerd en ongeleerd. Ons klassifiseer mekaar op grond van jou aansien in die gemeenskap. Jou velkleur, jou gewig, jou skoonheid, jou bekendheid en nog vele ander eienskappe, maak dat ons mense in rye plaas van voor na agter.
In die kerk staan ons nie in rye voor die kruis van Jesus Christus nie. Want luister wat sê Mat 20:16: … die eerstes sal laaste wees en die laastes eerste.”

Kom ek verduidelik vir u: As ek ‘n paar kinders vorentoe roep en vir hulle sou sê om ‘n kring te vorm en mekaar se hande te vat. Watter een is eerste, en watter een is laaste? Dan sal u sê: Eintlik is niemand eerste of laaste nie! Almal is ook eerste en laaste! ‘n Mens sou by enige plek in die kring kon begin en sê daardie een is eerste, of sou net sowel kon sê hy is laaste.
Almal in die kring is eerste en almal is laaste. Almal is gelyk.
Netso, as ek in die middel van die kring staan, sal almal ewe ver en ewe naby my staan. Niemand sal nader of verder staan nie. Netso, staan Jesus Christus in die middel van die kring. Hy is die koning van die kerk en almal staan ewe ver en ewe naby aan hom. Hy is die Verlosser wat almal gelyk behandel. Die Vader is die Vader van al sy kinders.

Daar is ‘n Joodse geskrif wat sê dat mense in ‘n kring dans, dan is die laaste een nie agter nie en die eerste een nie voor nie. Die Jode het in van hulle Joodse vieringe ‘n dans waar die mans in kringe dans, met hulle hande op die volgende persoon se skouer.
So werk dit ook in die Koninkryk van God: “Die eerste sal laaste wees en die laastes eerste. Geliefdes in die kerk van Jesus staan ons nie in rye voor die kruis van Jesus nie – sommiges is nie voor en sommiges nie agter nie.

In die kerk van Jesus vat ons almal hande en maak ‘n kringetjie rondom die kruis. Onder God se kinders is daar nie witbroodjies nie, maar ook nie swartskape nie.
Want Hy handel met ons, nie volgens wat ons verdien nie, maar uit genade. Hy gee ons nie ons verdiende loon nie, Hy gee ons genadebrood omdat Hy goed is. Niemand is geregtig op voorkeurbehandeling nie.
Vir iemand wat reken op voorkeurbehandeling is hierdie natuurlik nie ‘n lekker storie nie. Interessant Petrus het hierdie voorkeur-behandeling verwag. Luister wat sê hy in Mat 19: 27: Toe sê Petrus vir Hom: “Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg. Wat sal ons daarvoor kry?”
Jesus ontken nie dat daar loon sal wees nie, maar let wel: Nie verdiende loon nie, maar genadeloon. Vir ons wat miskien onbewustelik tog reeds ‘n bietjie gedink het dat ons senior amptenare in die Koninkryk van God is, is dit natuurlik nie ‘n lekker storie nie. Ja, die vreemde geregtigheid van God gee sommer aan daardie laatkommer aan die kruis, ‘n man wat nooit in ‘n kerk of ‘n biduur was nie, sommer die paradys verniet weg.
U sien genade maak ons gelyk met die grond. En as almal in die kerk eers gelyk is met die grond, dan is ons uiteraard ook gelyk met mekaar.
Juis daarom is ons mekaar se broers en susters en mag ons nie oor mekaar baasspeel nie. Die kerk is nie ‘n plek van magspeletjies nie. Die kerk is ‘n plek van verlostes wat mekaar dien.
Pinksterfees beteken ons is almal deur dieselfde Gees gedrenk. Deur dieselfde Gees moet ons nie die een op die ander neersien nie. Daarom maak die Pinkstergees onder nederig aan mekaar.
AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)