Gesag is die beginsel vir ‘n ordelike samelewing.


SKRIFLESING: Rom 13: 1 – 7

God is ‘n God van orde. ‘n Mens sien dit alreeds op die eerste bladsy van die Bybel.

Uit die chaos van die wêreld wat eers woes en leeg was in Gen 1:1, skep God orde vir sy skepping. God skep orde en ritme. God se ritme sien ‘n mens oral. God se orde is oral oor die skepping. Ons sien dit in: Die skeiding van see en land. Die skeiding tussen dag en nag. Die hemelliggame op hul vaste bane. Die eb en vloed van die oseane. Die siklus en ritme van wolke, reën, riviere, oseane en weer wolke. Ons sien dit in die seisoene wat mekaar gereeld afwissel. Ons sien dit in die natuurwette, die fisika wette en in die wette van die chemie.

Ook in die samelewing het God ‘n orde geplaas. Daar is ‘n verskeidenheid roepings, rolle en take. In familieverband, is daar die rolle van vaders, moeders, broers, susters, ooms, tannies en natuurlik ook van oupas en oumas.

In die samelewing vind jy wetstoepassers, staatsinstansies en nog vele ander instansies wat help om orde in die samelewing te verseker.   

Die 5de gebod is ‘n gebod vir orde en teen chaos. Dit lui: “Eer jou vader en jou moeder.”  EER beteken om jou vader en moeder se leiding te ag as belangrik. Om hulle met gesag te bejeën en hulle ouerskap as gewigtig te beskou.

Wanneer die 5de gebod begin respek vir jou ouers, beteken dit ook om alle mense in gesagsposisies met eer en respek te behandel. Die polisieman, die verkeerskonstabel en die howe moet jy met gesag bejeën.

Gesag begin altyd in die ouerhuis. Die ouerhuis is die voorbereiding vir die lewe. ‘n Simfoniekonsert het ‘n periode waartydens die musici hulle instrumente instem. Eers daarna begin hulle te speel. Orde word ingeoefen in die gesin. As die gesinsdissipline slaag, kry jy kinders wat met respek hulle onderwysers eer en ook suksesvolle grootmense word. Tuimel die gesin en die dissipline in die huis, dan tuimel alles.

Die gesin is in ‘n sekere sin so ‘n voorspel tot die lewe, so ‘n inoefening in ritme en orde, sodat daar uiteindelik sinvol, harmonies meegedoen kan word aan die ordeninge van God in die breër samelewing. Ordelose mense word ingebreek om ordelik en gedissiplineerd te leef.

Die 5de gebod is nie om dowe neute die eerste gebod van die tweede tafel van die wet nie – die tafel wat die onderlinge verhoudinge tussen mense onderling reël.

Die 5de gebod word gevolg deur ‘n belofte van seën – “dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee.” Figuurlik beteken dit, as jy jou ouers eer, sal jy lewenskwaliteit hê. Jy sal veiligheid en sekuriteit ervaar. Letterlik beteken dit ook dat die respek vir ouers en ouer mense, sal lei tot ‘n lang volksbestaan. Veral die Chinese met hulle absolute respek vir ouers het gemaak dat die Chinese van die volke in die wêreld is met ‘n lang volksbestaan.

Prof. Johan Heyns het gepraat van die gesin as die byekorf-sel van die byekorf (die samelewing). Wanneer die selle siek word, word die hele byekorf siek.

Wanneer die gesinne disintegreer, disintegreer  die hele samelewing.

In die moderne samelewing verkies mense dikwels die chaos bo God se orde. Ons bestorm God se orde, takel dit af of ons vergryp ons daaraan. In die moderne samelewing verafgod ons die indiwidu, terwyl die gesagsfiguur dikwels bespotlik en pateties voorgestel word. Ons lewe in ‘n ere van “I am me ….”

In Rom 8 beveel Paulus die inwoners van Rome en ook ons om aan die swaardmag van die staat gehoorsaam te wees. Maar wat daarvan as die swaardmag, kommunisties is en nie vir God erken as God nie. Moet ek nog steeds aan hulle gehoorsaam wees. Paulus skryf aan die eerste Christene, wat swaar gekry het onder die Romeinse oorheersing. Die Romeinse ryk het Ceasar as god beskou. Die Jode het begeer om van die Romeinse owerheid verlos te word. Daarom het hulle aanvanklik gedink dat Jesus, gekom het om die Jode van die Romeinse juk te verlos.

Tog moedig Jesus die Jode aan om belasting te betaal aan die goddelose Romeinse owerheid. Daarom vra hy hulle wie se kop verskyn op die Romeinse geldeenheid. As hulle dan sê, die Keiser s’n dan antwoord Jesus: Betaal aan die Keiser, wat die keiser toekom.

Daarom ten spyte van die goddeloosheid van die Romeinse owerheid, beklemtoon Hy dat hulle die swaardmag (die regering en Romeinse weermag moet gehoorsaam.

U sien Jesus is teen anargie. Anargie skep chaos. Anargie is om olie op die vuur te gooi. Daarom moet ons as Afrikaanse gemeenskap, al is ons ook hoe verontreg, nooit anargie veroorsaak nie. Die omgooi van ‘n SAPD voertuig en die uitbranding van dié voertuig op Senekal is nie Jesus se manier van dinge doen nie. Om die landroskantoor van Senekal aan te val, is nie ordelike vreedsame protes nie. Dit is anargie. Dit bevorder chaos. Dit strek nie God en ook nie vir ons tot eer nie. Dit het ons verleentheid geword.      

Op vreedsame manier kan ons, ons griewe onder die aandag van die openbare publiek en die internasionele wêreld bring. Vreedsame protes, wat nie gepaardgaan met anargie en die omverwerping van die swaardmag van die staat is die Christen se manier van protes van sy frustrasies.

Ghandi het Indië bevry van die Britse kolonialisme sonder om ‘n enkele skoot af te vuur. Hy het sy volgelinge aangesê om lydelike verset toe te pas.

Die Jode het eenmaal die groot Ordegewer uit ons ordelose wêreld weggewerk. Die Sanhedrin , die hoogste Joodse orde het Jesus van ordeloosheid, naamlik van godslastering beskuldig. Hulle het die Romeinse keiserryk, die hoogste politieke orde aangemoedig om Hom te veroordeel vir “opstand teen die orde.” Tog het Pontius Pilatus Hom onskuldig verklaar van wetteloosheid. Jesus het Hom nie verset nie.

Jesus is veroordeel volgens die hofprosedure van sy tyd en is tereggestel volgens die metode wat aan die orde was. Saam met orde-loses is Hy opgehang. In die naam van orde is die spykers ingeslaan.

Die valse ritme van die bose het skynbaar oorgeneem. Selfs die natuur is versteur, want daar was van 12h00 tot 15h00 ‘n drie ure duisternis. Maar dit was net vir 3 dae. God of chaos? Wie het gewen? God! Sy ritme word nie deurbreek nie, hoogstens drie dae in rus geplaas. Op die derde dag het Jesus Christus die dood oorwin en die orde weer herstel.

God belowe vir ons, dat alhoewel ons nou nog ‘n ‘n ordelose samelewing lewe, dat Hy eenmaal gaan kom met die Wederkoms om alles nuut en weer ordelik te maak. Die nuwe hemel en aarde is aan die kom, waar daar nie meer ordeloosheid sal wees nie, maar waar die wil en orde van God sal heers.

Nou is ons egter alreeds burgers van God se nuwe Koninkryk om al meer orde te bring in hierdie gebroke skepping waarbinne ons nou lewe.   AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s