DRIE MAAL DIE HERE SE EIENDOM.
Teks: Genesis 1: 26 – 31; Romeine 8: 31 – 39 en Mattheus 10: 29 – 31.
Die Here het ons drie keer Syne gemaak. Ons almal hou van stories. Seker een van die beste maniere om ‘n boodskap tuis te bring is deur ‘n storie.
Eenmaal wat daar ‘n seuntjie wat vir hom self die pragtigste draadkar gemaak het. Met sy eie hande het hy die draadkar gemaak. Toe hy egter eendag met die draadkar in die veld speel, het die draadkar weggeraak in ‘n diep donga. Hy het baie gehuil oor sy kar. Die volgende week gaan besoek hy saam met sy ouers die winkel op die dorp. Daar in die winkel-venster sien hy toe sy eie draadkar staan. Hy sê toe vir die winkelier: “Oom, daardie draadkar in die venster is my draadkar. Ek het homself gemaak. Mag ek hom asseblief terug kry?” Die winkelier sê toe: “Nee ou seun, dit is nou my kar. As jy die kar wil terughê moet jy vir hom betaal.” Die seun is toe weg huis toe om sy geld te gaan haal. Hy het al sy geld gaan haal. Toe hy terug is by die winkel het hy al sy geld vir die winkelier gegee. Die winkelier gee toe die draadkar vir die seun. Toe die seun uitstap by die winkel se deur, druk hy die draadkar teen sy bors en sê: “Draadkar, jy is nou tweemaal myne. Ek het jou gemaak en toe jy weggeraak het, het ek jou teruggekoop. Ek het jou dus baie lief.” Toe hy by die huis kom vind hy uit dat die draadkar darem baie verniel is. Hy buig die drade toe weer reg en nadat hy die draadkar reggemaak het, sê hy: “Draadkar, jy is nou drie keer myne. Ek het jou GEMAAK, GEKOOP en HEELGEMAAK. Ek het jou baie lief. Dit is ‘n baie mooi storie. Maar weet julle ons is ook drie keer die Here s’n.
- Die Vader het ons gemaak.
- Die Seun het ons gekoop met sy kosbare bloed.
- Die Heilige Gees wil ons heelmaak.
Ons kyk na al drie hierdie sake:
- DIE VADER HET ONS GEMAAK:
In Genesis 1: 26 – 31 lees ons hoe God die mens gemaak het. God het die mens goed en mooi gemaak. Ons is gemaak na die beeld van God. Dit beteken ons vertoon sommige eienskappe van God. Die mens kan byvoorbeeld dink, liefhê, en onderskei tussen goed en kwaad. Verder het God die een mens verskillend van die ander een gemaak. God wat ons gemaak het, staan ook Pa vir ons. Hy is ons Vader. God is nie soos sommige aardse pa’s nie. Sommige aardse vaders maak kinders maar loop dan weg. Nee, God het die mens gemaak en in Mattheus 10: 29 – 31 lees ons hoedat God Vader oor ons lewe is. Hy versorg en beskerm ons. Hy lei vir ons. Soos die seuntjie sy eie draadkar gemaak het, het God dus die mens self gemaak. Maar soos die draadkar verlore geraak het in ‘n diep donga, so het die mens weggeloop van God. Die mens het sonde gedoen. So het die mens verlore geraak. Wie sal tog die mens verlos en terug koop uit die sonde?
Dit bring ons by die tweede saak:
- DIE SEUN, JESUS CHRISTUS HET ONS GEKOOP MET SY KOSBARE BLOED:
Toe die draadkar wegraak moes die seuntjie daarvoor betaal in die winkel. Hy moes met al sy geld betaal. Toe ons weggeraak het in ons eie sonde en ons eie pad geloop het, moet God ‘n duur prys betaal om ons terug te kry. Hy het betaal met sy Seun, Jesus Christus. Jesus Christus het vir ons sondes betaal met sy kruisdood. Dit was ‘n duur prys, sodat ons losgekoop kan word vanuit die sonde en doodsbestaan.
Nou vir die derde saak:
- DIE HEILIGE GEES WIL ONS HEELMAAK
Nadat die seuntjie sy draadkar weer gekoop het, het hy dit heelgemaak. In Galasiërs 5 lees ons hoedat die Heilige Gees ons lewe weer wil heelmaak. In Galasiërs 5: 19 – 21 lees ons hoe die sonde ons lewe verniel het. Dit het haat, naywer, jaloesie, dronkenskap en verdeeldheid gebring. Die Heilige Gees wil egter weer ons lewe heelmaak, sodat daar vrede, liefde, vreugde, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing in ons lewe kan wees (Galasiërs 5: 22 – 26). God wil vir jou vasdruk teen Hom en vir jou sê:
My kind ek het jou baie lief! Jy is drie keer myne.
- Ek het jou gemaak.
- Ek het jou gekoop.
- Ek is besig om jou heel te maak.
Ons het dus gesien: Die Vader het ons gemaak. Die Seun het ons gekoop met sy kosbare bloed. Die Heilige Gees wil ons heelmaak. Voorwaar, die Here het ons baie lief.
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)