Geseënd is dié wat barmhartig is ……. (Mat 5: 7)


Geseënd is dié wat barmhartig is ……. (Mat 5: 7)

Die beste nuus wat ‘n mens van God kan hoor, skryf Dirkie Smit is dat God nie ‘n masjien of ‘n beginsel is nie, maar ‘n Persoon met ‘n hart.

387349_302544479777278_1189170209_n_0

Daarom is God, ‘n God van barmhartigheid. Dit is waaroor die vyfde saligspreking gaan, naamlik om barmhartig te wees. Die teoloog Antonie van Ruler beskryf barmhartigheid as drie uitkringende sirkels. Barmhartigheid sê hy is mildheid, ontferming en vergewing.

Die eerste is mildheid. Dit beteken om ruimte vir ander mense te maak. Om vir ander mense ook vreugde en blydskap te gun. Daarom moet ons in barmhartigheid ruimte  maak vir almal in die land. Daar moet ruimte wees en ruimte gemaak word vir swart, wit, bruin en Indiërmense.  Daar is nie plek vir haatspraak teenoor ander nasies nie.

Ontferming, weer beteken om betrokke te raak by mense wat my nodig het en te help waar ek kan. Selfs minderhede is geroepe om ‘n verskil te maak in Suid Afrika. Dit is ons Godgegewe roeping.

Vergewing, is waar mense vir hulle eie ellende verantwoordelik is en ek nogtans help, omdat ek hulle vergewe het.   Ons vind talle insidente van vergewing in die Bybel. Dink aan Josef wat sy broers vergewe het, wat hom as ‘n slaaf verkoop het aan slawehandelaars. Later toe hy die tweede magtigste man in Egipte is red hy sy broers en sy pa van ‘n gewisse hongersnood.   Moses het vir  Miriam vergewe wat teen hom in opstand gekom het. Toe sy melaats word, bid Moses vir haar gesondmaking. Dawid het twee keer Saul se lewe gespaar, al het Saul gesoek om Dawid dood te maak. Barmhartigheid is om mekaar in die land te vergewe.

Ten tye van Jesus se prediking van die Saligsprekinge, was die Romeinse owerheid die heersende wêreldmag. Dit was ‘n wêreldmag waar dapperheid, dissipline, mag en wreedheid die botoon gevoer het. Een Romeinse filosoof het barmhartigheid as ‘n siekte van die siel beskryf of as ‘n teken van swakheid. Wanneer ‘n kind gebore is het die Romeinse vader die reg van  “patria potestas” gehad. Hy kon sy duim optel en die kind leef of sy duim afhou en die kind word dadelik verdrink. ‘n Romein kon as dit sy wil is, sy slawe laat doodmaak, sonder dat daar enige regsimplikasies was. ‘n Romeinse man kon selfs sy vrou laat doodmaak. Dit was ‘n wrede, harde en ongenaakbare stelsel.

Selfs die Jode is die tyd van Jesus het die wet slaafs nagekom sonder om die gees van die wet, naamlik geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid na te kom soos in Mat 23:23 beskryf word. Daarom het Jesus gesê dat die Joodse Farisieërs is soos witgepleisterde grafte. Buitekant wit, maar binne vol doodsbeendere. Of soos ‘n beker, aan die buitekant skoon, maar aan die binnekant vuil. Dit was te midde van die twee hartelose sisteme, waar die Jode en die Romeine vir Jesus gekruisig het.

In die 5 de saligspreking gaan dit oor mense. Martin Luther het in sy beroemde geskrif oor die Vryheid van die Christenmens dit so helder gesê: “ ‘n Gelowige is vry van reëls en wette, nooit vry van die naaste nie.” Daarom is die Christendom anders as ander godsdienste. Dit gaan nie oor reëls nie, maar om mense.  

Maar wie is my naaste? Alle mense! In ‘n sekere sin kan jou eie vriende nie regtig die egtheid en diepte van jou naasteliefde en barmhartigheid toets nie. Want selfs die goddeloses het hulle eie vriende lief. Eers as jy dié liefhet wat verder van jou staan, slaag jy die toets van ware barmhartigheid. Jou naastes – in – nood is diegene wat op die moment, die naaste aan jou is, wat honger en dors is, wat siek is, wat sonder klere is of in die gevangenis is. Jou naaste is dié mense wat jou nodig het, sonder dat jy hulle nodig het.

Barmhartigheid moet natuurlik ook aan die vyand betoon word. Dit is die heel moeilikste. Daar staan in  Mat 5:43 – 45: “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jou naaste moet jy liefhê en jou vyand moet jy haat.’ Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen.  Daarom kan ons praat van grenslose barmhartigheid, wat nie aan bande gelê word deur politieke of sosiale  afkeure of voorkeure nie.

Vader Kestell het in die Anglo Boere Oorlog vir Boer en vyand gehelp. Toe hy na ‘n veldslag ‘n Engelse soldaat gehelp het, het die man vir Vader Kestell gesê dat hy sy beste preek gelewer het.

Jesus Christus was en is die groot Barmhartige. Hy het uitgereik na siekes, malaatses, randfigure, tollenaars, kinders, prostitute, die hongeriges, die owerspelige vrou, die Samaritaanse vrou by die put van Sigar, na vroue, die ongehoorsame dissipels, na sondaars en almal wat Sy pad gekruis het.

Ons moet ook barmhartigheid teenoor die natuur beoefen. Die natuur is onder geweldige stres as gevolg van besoedeling en aardverwarming. Daarom moet ons ook teenoor die natuur en die ekologie met baie barmhartig optree en probeer om die natuur te herstel, om weer gesond te kan word.

Ek sluit met die ware verhaal uit die kinderdae van Ds. Walther Lüthi wat appels wou afpluk, maar toe is sy arms te kort. Die appelboom was egter op die buurman se erf. Die buurman het hom gesien, maar was nie kwaad vir hom nie. Hy het vir Walther afgepluk tot hy later te veel gehad het. Toe hy wou begin keer sê die buurman: “Kom, ek gee vir jou regtig genoeg, sodat jy jou trommeldik kan eet en daar nog oorbly vir jou broers en susters ook …”         AMEN

BRONNELYS

MacArthur, John. The Only Way To Happiness (Foundations of the Faith). Moody Publishers: Kindle Edition.

Smit, Dirkie 1989. Vreemde geluk. Goodwood: Nasionale Boekdrukkery.

 (Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s