Geseënd is dié wat rein van hart is …….    (Mat 5: 8)


Geseënd is dié wat rein van hart is …….    (Mat 5: 8)

Dikwels verstaan mense die 6 de saligspreking  baie negatief. So asof  jy ‘n klomp goed nie mag doen nie. Beteken dit om rein van hart te wees, om ‘n “nerd” te wees?

Die ou Joodse reinigingswette in Deuternomium het baie bepalinge en regulasies gehad oor die aanraking van dooies, siekes,  melaatses, onrein diere en so baie meer. Wanneer ‘n vrou byvoorbeeld menstrueer was sy vir ‘n paar dae onrein. So was daar honderde wette wat bepalings gehad het, wanneer jy rein is of wanneer jy onrein is.

Dit verklaar ook waarom in die gelykenis van die barmhartige Samaritaan, die priester en die profeet wat op pad tempel toe was, verby die man gestap het wat beroof was. Veronderstel dat die beroofde man dood was en hulle het hom aangeraak, dan kon hulle nie in die tempel ingaan nie.

Daarom was reinheid in die Ou Testament veral ‘n uitwendige handeling. Daar teenoor het Jesus in die Nuwe Testament klem gelê om innerlike reinheid. Daarom sê Jesus in  Mat 23:26 en 27: “Blinde Fariseër, maak eers die binnekant van die beker skoon, dan sal sy buitekant ook skoon wees.  Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! Julle is soos witgeverfde grafte, wat van buite mooi lyk maar daarbinne vol doodsbene en allerhande onsuiwerheid is.” Jou hart, jou innerlike moet aan God veranker wees.

Eintlik gaan dit oor ‘n totale “commitment” aan die Here! Om die Here met ‘n onverdeelde hart te dien. Daarom as koning Dawid bid: “Here, gee vir my ‘n rein hart”, bedoel hy ‘n  onverdeelde hart wat net aan die Here behoort. Ons harte kan dikwels verdeel wees tussen baie afgode. Calvyn het gesê ons hart is ‘n afgodefabriek. Ons produseer gedurig vir ons nuwe afgodjies wat ons aanbid. Ons kan verskillende wêreldse goed hê, wat vir ons afgode word. Ons hunker na nog goed, na nog iets in die lewe. Ons harte word onrein van te veel goed in ons harte. Te veel goed wat ons aandag aflei van die Here.

Daarom sê die eerste gebod: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en jou hele siel en jou hele verstand.” Daar moet nie plek wees vir verdeeldheid met ander afgode nie. Anders word jou hart onrein van die afgode. 

Ons is so gejaagd, soos ‘n muis op een van hierdie ronde wieletjies wat in die rondte hardloop. Hoe meer ons hardloop, hoe minder kom ons êrens. Hoe kom ek los van al hierdie afgode en gejaagdheid na wind?

Dit kan alleen plaasvind deur ‘n baie ingrypende vereenvoudiging van ons lewe. So kan my hart weer rein word.

less-is-more-graphic

Daar is ‘n uitdrukking “Less is more!” Ek moet weer leer om op die regte goed te konsentreer. Ek moet my lewe herprioriseer, sodat ek met die belangrikste goed besig is.

Daar is die bekende Paretto beginsel. Dit gaan daaroor dat ‘n mens jou dikwels kan besig hou met 80% onbelangrike goed en slegs ‘n uitset van 20% kry. Maar as jy slegs 20% tyd spandeer aan die belangrikste goed het jy ‘n uitset van 80%.

Die eerste Christine het ‘n baie eenvoudige lewe gelewe. Hulle het ‘n sobere lewe gehad. Hulle het die basiese belangrikste 20 % gedoen en die wêreld verander. Daarom het Richard Foster ‘n boek geskryf met die bekende titel “Freedom of simplicity”. Die kern van sy boek gaan oor minimalisme. Ons moet ons lewens vereenvoudig. Ons kan met minder goed, ‘n baie eenvoudiger lewe voer. Hoe eenvoudiger, minder stres, minder foute, minder ingewikkeld, minder gejaagd en ‘n minder komplekse lewe.

Daarom gaan  ‘n werklike diep en rein verhouding met die Here, altyd gepaard gaan met eenvoud. Reiniging van die hart ‘n pynlike operasie is, omdat ‘n hele klomp van ons ydel begeertes, wense en drome moet sterf in die proses. Wat is die wins: Dat ons God helder kan sien.

Moeder Theresa het ten spyte van haar roem eenvoudig gelewe. En as ‘n mens na haar kyk, kan jy in haar oë sien dat sy in haar eenvoud – regtig gelukkig en tevrede is. 

BRONNELYS

Smit, Dirkie 1989. Vreemde geluk. Goodwood: Nasionale Boekdrukkery.

 (Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s