Geseënd is die vredemakers …  (Mat 5: 9)

Geseënd is die vredemakers …  (Mat 5: 9)

Wanneer laas het ons werklik vrede gehad? Die laaste keer was in die tuin van Eden gewees. In die Paradys, voor die sondeval was Adam en Eva in volkome harmonie met mekaar gewees. Hulle was naak, maar was nie vir mekaar skaam gewees nie. Hulle was ook in volkome harmonie gewees met God, want God het hulle elke aand in die aandwind opgesoek. Toe gebeur die sondeval. Dit was die begin van konflik en onvrede. Dit was ook direk daarna dat Kain vir Abel doodgemaak het omdat hy op hom jaloers was. Sedertdien leef ons ‘n wêreld van konflik en onvrede. Op Golgota het Jesus Christus die groot Vredemaker geword, wat mens en God versoen het en ook mense met mekaar versoen het. Wanneer hy weer kom met die wederkoms as die “Prins van vrede” sal  die werklike vrederyk aanbreek.

Maar hier tussen die vrede van die Paradys en die vrede van die vrederyk wat nog kom, leef ons in ‘n tyd van konflik, oorlog en stryd tussen mense. Dit is die gevalle engele en die sondige mensdom wat die konflik en oorlog veroorsaak. God is nie in konflik en oorlog met die mens of die gevalle engele nie.   Dikwels word God blameer in oorlogstye vir die ellende van oorloë. Maar God is nie die Een wat oorloë veroorsaak nie. God het mense nie programmeer as robotte nie. God het vir die mens die keuse gegee om in elke stuasie te kies. Maar ons kies gewoonlik die slegte, die konflik, die onvrede en die oorlog.

Die vrede wat die mens skep is dikwels soos sandkastele, wat met die eerste teken van hooggety weggespoel word. Dit is so vir politieke vrede, ekonomiese vrede, sosiale vrede en huishoudelike vrede. Washington DC het ‘n klomp vredesmonumente, wat gebou is na elke oorlog. In 1945 is die die Verenigde Nasies gestig om toekomstige oorloë te verhoed. Desnieteenstaande was daar nie ‘n enkele jaar, waar daar nie êrens in die wêreld ‘n oorlog gewoede het nie. Vir die mens om vrede op aarde te vestig is dagdromery. Elke verhouding waarin die mens staan is broos en breekbaar.

shalom peace

Dan kom ons by die sewende saligspreking, waar Jesus sê: “Geseënd is die vredemakers ….” Die Hebreeuse word “sjalom” is ‘n sentrale begrip in die Ou Testament. Dit is ‘n word wat die volheid en omvang van God se bedoelde heil vir mens en wêreld die beste beskryf. Dirkie Smit skryf: “Sjalom gaan oor die heel maak, die herstel van die totale wêreld wat God gemaak het en vandag nog onderhou omdat Hy dit liefhet met ‘n groot en verterende vuur.” Daarom gaan die sjalom nie net oor die verlossing van siele nie, maar die herstel van die hele aarde.

Gavin Reid sê tereg dat ons nie sjalom moet verstaan as iets wat weggeneem moet word om vrede te veroorsaak nie, maar eerder iets wat toegevoeg moet word om vrede te veroorsaak. Dit neem nie noodwendig al die stryd weg nie, maar dit verander die situasie deur die toevoeging van liefde, sorg en hulp.  Vredemakers skep ‘n positiewe lewensruimte vir ander mense, sodat almal gelukkig onder God se son van genade kan leef.

Wanneer ons oor politieke vrede praat moet ons versigtig wees. Sommige mense maak politieke vrede die alfa en die omega van die sjalom. Dan kan jy jou maklik vasloop in bevrydingsteologie. Dit is dieselfe verwagting wat die Jode van Jesus gehad het. Jesus moet hulle net verlos van die Romeinse oorheersing. Jesus word dan ‘n tipe van ‘n politieke Messias. Dit is baie gevaarlik, want dan verskraal jy die Evangelie. Maar ‘n mens kan ook die fout maak, om te dink dat die sjalom niks te doen het met politieke lewe. Natuurlik het die Evangelie inplikasies vir die politiek, menseregte en geregtigheid.

‘n Goedkoop vrede sonder geregtigheid is ook nie ware vrede nie. Daarom vra vrede dat die geregtigheid herstel moet word.

Soms kan ons Jesus se vrede ook verskraal, deur net bereid te wees om net met sekere mense in vrede te lewe. Jy kan van jou volksidentiteit so ‘n afgod maak, dat jy nie bereid is om met alle ander nasies, kulture en volkere in vrede te lewe nie.

Die heel gevaarlikste is as ons vredeliewende mense verwar met vredemakende mense. Vredeliewende mense soek vrede, solank dit net nie iets van hulle vra nie. Vredemakende mense sal hulle moue oprol, in die situasie inloop en vrede bewerk, selfs ten koste van hulself, terwille van die Evangelie. Kodjak sê dat vredemakende mense bereid is om persoonlke opofferings te maak ter wille van Christus. Jy kan eers ‘n vredemaker wees as jy die die vorige 6 saligsprekinge ingeoefen het. Om ‘n vredemaker te wees kom nie vanself nie. Jy moet kan treur oor die wêreld, jy moet sagmoedigheid aanleer en soek na geregtigheid. Jy moet barmharig en rein van hart wees. In die inoefening van die saligsprekinge, kan jy ‘n vredemaker word.

Dirkie Smit skryf dat ons moet waak teen ‘n “negatiewe” Christendom wat teen alles en almal is. Ons soek as’t ware vir ons vyande uit. Dit is nie wat die Evangelie van ons vra nie. Ons moet eerder die wêreld verander met Jesus se liefde. Ons moet op ‘n positiewe wyse die Evangelie van Jesus verkondig aan hulle wat ver is en aan hulle wat naby is.   

Om vrede te maak is ‘n voorwaarde van ware dissipelskap. Hoor wat sê Jesus in Mat 5: 23 – 24: “Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al strafbaar voor die regbank. Verder, elkeen wat sy broer uitskel vir ‘n gek, is strafbaar voor die Joodse Raad; en wie hom uitskel vir ‘n idioot, is strafbaar met die helse vuur. As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe.”

Maar somtyds gebeur dit dat jy alles moontlik doen om vrede te herstel, maar die ander party wil in vyandskap bly leef. Solank jy jou deel gedoen het om die vrede te herstel is dit goed. Hoor wat sê Rom 12: 17 – 18: “Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Wees goedgesind teenoor alle mense. As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.” 

Somtyds kan ‘n situasie so toksies wees, dat enige bydrae wat jy maak net die situasie sal vererger. Dan is dit beter om weg te stap om nie verder skade te veroorsaak nie. Jy kan op die agtergrond die situasie ontlont deur die toevoeging van liefde, sorg en hulp. Jy kan bid dat die situasie sal verander.

Mourning-Dove

William Jennings Bryan vertel ‘n sprokie oor vrede: “Vertel my wat is die gewig van ‘n sneeuvlokkie” het die mossie aan die wilde duif gevra.Die duif het geantwoord: “Niks meer as niks.” “In daardie geval gaan ek vir jou ‘n wonderlike verhaal vertel.” Het die mossie gesê: “Ek het op ‘n tak gesit terwyl die sneeu. Dit was nie ‘n storm nie. Dit het net so saggies gedriesel, sonder enige geluid of klank. Ek het die sneeuvlokkies getel wat op die tak geval het. Dit was 3 741 962. Niks meer as niks – soos jy gesê het – toe breek die tak.” Die mossie het toe weggevlieg. Die duif wat ‘n outoriteit op vrede is sedert Noag se tyd het hieroor nagedink. Hy het tot die slotsom gekom: “Miskien kom net een mens se stem kort om vrede op aarde te laat kom.”

Pous Johannes Paulus het gesê: “ Vrede word nie in raadsale of deur ooreenkomste gesluit nie. Vrede is ‘n blom wat in die harte van mense wat deur die Gees aangeraak is, begin groei.”

AMEN

BRONNELYS

MacArthur, John. The Only Way To Happiness (Foundations of the Faith). Moody Publishers: Kindle Edition.

Smit, Dirkie 1989. Vreemde geluk. Goodwood: Nasionale Boekdrukkery.

 Ds. Paul Odendaal

PASTOR LOCI

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s