DROOGTE 2019


DROOGTE 2019

Die jaar 2019 sal ingekerf wees op ons geheue soos die droogtes en depressiejare van die vorige eeu.

imagesAlmal is dit eens dat die droogte van 2019, wat al oor ‘n paar jare kom, die ergste droogte die afgelope 100 jaar is. Meer as ‘n derde van die land is in die wurggreep van hierdie droogte. Dit is uitmergelend op die siel en emosie van elke boer. Dorpe soos Adelaide, Bedford en Graaff Reinet en ander dorpe het ook feitlik geen water nie en die inwoners van die dorpe kry baie swaar.

In die Tweede Wêreldoorlog (1939 – 1945) het die Joodse psigiater Victor Frankl sy medegevangenisse in Auschwitz deeglik dopgehou. Daar was van die gevangenisse wat in die aand in die slaaplokale vir mekaar stories van hoop vertel het. Hulle het vir mekaar vertel  watter besighede hulle gaan oopmaak na die oorlog. Hulle het hulle drome gedeel met mekaar van hoe hulle besighede gaan lyk en wat hulle gaan verkoop en hoe die planne van hulle winkels gaan lyk. Feitlik al die gevangenisse wat so stories van hoop met mekaar gedeel het, het die oorlog oorleef. Hulle het iets gehad om oor te droom.

Ander gevangenisse het geen drome van hoop gehad nie. Al wat hulle gesien het was die oorlog, die gaskamers en die dood. Vir hulle was dit emosioneel die einde. In die oggende het hulle nie eers opgestaan om toilet toe te gaan nie. Hulle het sommer in hulle urine bevlekte komberse doodgegaan. Dit was dan ook hulle einde. Omdat hulle sonder hoop was, het hulle geen stories van hoop met mekaar gedeel nie. Hulle het niks gehad om voor te lewe nie. Hulle het siek en swak geword. Die reël van die konsentrasiekampe was, dat as jy siek en swak word, moet jy na die gaskamers toe gaan om te sterf.  Auschwitzwas hulle einde.

Die verskil tussen die twee groepe gevangenisse was dat een groep stories van hoop vertel het en bly lewe het. Dié wat geen stories van hoop gehad het nie, het almal gesterf. Daarom moet ons die droogte nie sien as die einde nie. Daar is lewe na die droogte. Ons moet nou al droom, watter nuwe planne en verbeterings ek gaan aanbring op my plaas na die droogte. Hierdie waarnemings het Victor Frankl geboekstaaf in sy beroemde boek: “Search for meaning.” Hy het dan ook gesê dat elke mens die keuse het, hoe hy/sy wil reageer in elke bepaalde situasie en niemand kan jou keuse van jou wegneem nie.  Daarom het ons elkeen ook ‘n keuse van hoe ons op die droogte gaan reageer.

Swaarkry kweek karakter. Ek het al dikwels in my lewe gevind dat mense met die mooiste karakter en integriteit, almal lewensverhale van swaarkry in hulle lewe geken het. Ek onthou vir Oom Jan van Wyk van Strydenburg. Hy was ‘n man van vlekkelose karakter. Rondom 1913 was hy en sy broer baie arm gewees, as gevolg van die “verskroeide aarde” beleid van die Engelse in die Anglo Boereoorlog. Daar was baie arm blankes. So was Oom Jan van Wyk en sy broer ook arm. Hulle het ‘n paar skape gehad wat hulle laat wei het op huurgrond. Toe kom die groot droogte van 1913 en die weiding raak op en hulle moes met hulle skape trek na Kenhardt se wêreld. Hulle het die skape laat wei al langs die pad en die heinings. Hulle het nie eers geld gehad om iewers te oornag nie. Hulle het in die nag saam met hulle skape in die veld geslaap. Maar hulle karakter is gevorm deur die swaarkry. Later het dit beter gegaan, hulle het grond gekoop en uitgebrei en later selfs ook welgesteld geword. Die twee broers het alles saam gekoop, die eerste motorkar, die eerste trekker, hulle grond en landbouimplemente. Hulle het nooit vasgesit nie. Hulle het letterlik alles gedeel, behalwe hulle vrouens. Op 65 jarige ouderdom het die prokureur hulle raad gegee om hulle goed te verdeel, terwille van die boedel eendag. Hulle het ook toe nooit gestry oor aardse goed nie. Oom Jan was later burgemeester van Hopetown. Almal het hom gerespekteer. Hy het soveel respek en karakter uitgestraal, dat hy ‘n hele gemeenskap se standpunt oor moeilike kwessies kon draai. Swaarkry het hom ‘n man van karakter gemaak. So word ons elkeen ook gevorm deur swaarkry.

Om ‘n soldaat te word moet jy eers deur die moeilike basiese opleiding gaan. Die Amerikaanse “Navy Seals” se opleiding is hel op aarde. Dié wat dit slaag, kan die gerespekteerde kenteken van die “Navy Seals” dra.

Die Here straf ons nie deur droogtes nie. Hy het eenmaal, 2000 jaar gelede al ons skuld gedra en weggeneem op Golgota. Daarom kan ons nie sê dat God ons straf nie.

Luister wat sê Jak 1:2 – 4: “My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming.”

Beproewinge kom van God om ons sterk te maak. Versoekinge kom van die duiwel om ons af te breek. Daarom is beproewinge om ons geloof sterk te maak, ons te leer om te volhard en ons te bring tot volle geestelike rypheid en karakter. Wanneer Jakobus die brief skryf, was dit in ‘n tydperk toe die Christene moeilik werk gekry het. Elke dorp het sy gildes gehad vir elke ambag. Om ‘n skoenmaker te wees in Jerusalem, moes jy ‘n lisensie kry van die gilde. Die Romeine en die Jode het lisensies gekry, maar nie die Christene nie. Daarom was die meeste Christene werkloos. Verder was daar ook ‘n droogte en hongersnood in die tyd toe Jakobus die brief geskryf het. Christene is ook oor hulle geloof vervolg. Desnieteenstaande al die beproewinge, skryf Jakobus dat die swaarkry ten doel het om by ons volharding, geestelike rypheid en karakter te kweek.

Alle droogtes gaan verby. Al die baie droogtes in die Bybel het verbygegaan. Al die baie droogtes van die afgelope 100 jaar het verby gegaan. Die droogte van 2019 sal ook verbygaan. Ons moet moed hou. Ons moet die droogte gebruik om ons taai te maak, om ons karakter te leer en om ons geestelik ryp te maak.

Vorentoe sal ons terugkyk op die droogte van 2019 en wonder hoe het ons deur die droogte gekom. Dan sal ons besef die Here se genade was vir ons genoeg.

 (Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s