OM TE KAN SKEP IS GENESEND ….
Die mens is gemaak na die beeld van God. God is die Skeppergod, uit wie en deur wie alle dinge ontstaan het. Daarom is die mens ten diepste ook ‘n kreatiewe wese wat sy sin en betekenis vind om te skep. Wanneer die mens bloot lewe om te oorleef is hy niks beter as die diere en plante van die natuur nie. Maar God het aan die mens die besondere gawe gegee om kreatief besig te wees. Wanneer mense intense emosionele pyn ervaar vind hul gewoonlik diepe genesing daarin om “iets te skep”. Daarom het die meeste psigiatriese hospitale elke dag ‘n tydsgleuf waarin pasiënte aangemoedig word om in die kunsklas iets te skep. Dit kan verf, naaldwerk, skryf, krale of enigiets wees wat weer vir hul ‘n gevoel van “sukses” gee. In die meeste mense se alledaagse lewe is hul vasgevang in die sleur van die instandhouding van die lewe dat mense doodgewoon verveeld raak en hul energie vir die lewe verloor. Wanneer jy worstel met min lewensenergie is dit ‘n baie goeie begin deur die vraag te vra: “ Wat het ek die afgelope dag of week geskep?” Gewoonlik is die antwoord negatief, want instandhouding van die lewe het niks tyd gelaat vir kreatiwiteit nie. Die herstel van lewensenergie begin deur vir jouself duidelike doelwitte te stel om weer jou kreatiewe self te ontdek. Elke mens het ‘n kreatiewe self, want jy is gemaak na die beeld van God. In God se ryke verskeidenheid verskil ons egter in kreatiewe talente. Sommige vind hul kreatiwiteit in naadwerk, houtwerk, krale, skryf, kosmaak, tuinmaak, skilder, verf, binneshuisversiering, navorsing of enigiets onder die son, wat geboorte gee aan iets nuuts.
Wie leer om te kreatief te skep, skep vir homself nuwe sin en betekenis in die lewe. Kreatiewe energie is positiewe energie, dit genees emosioneel. Gewoonlik sneeubal energie in iets groter, ‘n nuwe JY. Ons samelewing plaas ‘n groot klem op gewigsbeheer, fiksheid, fisiese voorkoms en diëte. Ongelukkig plaas ons min klem op emosionele lewensenergie. Tog is dit dikwels juis ons lewensenergie wat vreugde in die lewe stimuleer en van ons gelukkige mense maak.
Oorleef jy of leef jy ? Skeppende kreatiwiteit laat jou LEEF !
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)