Lewensvreugde in die lewe word aangeleer ….

Lewensvreugde in die lewe word aangeleer ….

527811_379128178830333_591703830_nDie vrouehumoris Erma Bombeck vertel van die dag toe sy in die kerk amper gehuil het. Sy het dié Sondag in die kerk gesit en net voor haar het ‘n vriendelike kind gesit, wat vir almal rondom hom geglimlag het . Hy was nie stout nie – hy het nie geskop met sy voetjies, of gesangeboeke opgeskeur of geluide gemaak, of gesigte getrek nie – al wat hy gedoen het was om vir almal te glimlag, Na ‘n ruk het sy ma hom omgepluk en gefluister, so dat almal rondom hul dit kon hoor: “ Hou op met glimlag. Jy is in die kerk.” Sy het hom ‘n hou gegee en die trane het van sy wange afgeloop. Sy sê toe: “Dis beter.” Toe gaan die moeder voort met haar gebede. Bombeck vertel hoe sy graag die betraande kind teen haar wou vasdruk en vertel van die vriendelike glimlaggende God en van die vreugde wat Hy gebring het. Sy wou hom vertel dat vriendelikheid ‘n gawe van die Gees is. Sy vra toe die vraag: “As die kind nie eers in die kerk kan glimlag nie, waar ander sal die kind kan glimlag in hierdie harde en wrede wêreld.” (1) Johan Cilliers: Het God ‘n handvatsel ? (2003)

Die Here Jesus Christus het gekom om vreugde te bring. Sy eerste wonderteken was toe Hy water in wyn verander het op die bruilof te Kana. In die antieke tyd het die lengte van ‘n huwelik gewissel. Dit het oor dae plaasgevind. As die wyn opraak, het dit beteken die bruilof is nou verby en almal moes huis toe gaan. Met die bruilofsfees in Kana, was die opraak van die wyn ‘n groot verleentheid – die vreugde moet nou kort geknip word. Dan verander die Here Jesus die verleentheid in ‘n geleentheid, hy bring nuwe vreugde in die bruilofsfees. Hy laat die bruilofsfees voortgaan. Inteendeel die vreugde is groter, want die wyn is beter ! Juis daarom wil Jesus die “alledaagse” soos water verander in iets beter. Natuurlik is die wonderverhaal ook ‘n vooruit verkondiging van Jesus Christus se tweede koms (die groot bruilofsfees waarvan Openbaring praat).

Die punt is egter, dat Christus Jesus gekom het om vreugde en blydskap en dankbaarheid in oorvloed te bring. En God wil hê om moet deel daarin hê. Daarom is godsdiens en die lewe nie ‘n klomp strak gesigte soos in die verlede tyd toe mense nie geglimlag het op fotos nie. Vyftig jaar gelede was dit ‘n “sonde” om te glimlag op ‘n foto of selfs in die kerk. Deesdae hou ons van natuurlike fotos met lewensaksie. “Freezing moments” wat vertel van menslike emosie. Emosies het deel geword van briljante fotografie.

Daarom is blydskap, dankbaarheid en vreugde iets wat aangeleer word. Dit kom nie vanself nie. Dit is ‘n gawe van die Gees. Sommige mense het die dapperheid om selfs in die moeilikste omstandighede hul dankbaarheid vir die lewe en hul innerlike lewensvreugde te lééf. Victor Frankl vertel in sy boek “Search for Meaning” hoe hy in die Duitse konsentrasiekamp van Auscwitz vreugde gevind het in ‘n enkele veldblom wat uit die digte sneeu uitgebeur het na die sonlig. Of van sy vreugde tydens koue winteraaande as dit sy beurt was om die donkie deur die nag te stook vir warm water vir die Duitse soldate die volgende oggend. Hoe hy mielies gesteel het en dit oor die kole gaargemaak het en op ‘n bondeltjie voor die vuur gelê het en die saligheid van die enkele ure van die nag geniet het, voor die wreedheid van die volgende dag weer aanbreek.

Hoe skaarser iets word, hoe meer waardeer jy dit ! Dalk het ons te veel, om werklik die klein goedjies van die lewe te waardeer.

Selfbejammering is van die duiwel. Dit is ons menslike natuur om ons te vergelyk met wat ander het en ons nie het nie. Ons koop dikwels goed om ander mense te beïndruk, eerder as om iets te koop wat ons werklik nodig het. Ons kan onsself maklik jammer kry en dan leef uit ‘n “slagoffermentaliteit”, van die wêreld en ander en selfs God skuld ons iets. So word ons die patetiese klakouse wat gedurig aan ons eie behoeftes dink. In die post – apartheid era kan die verskillende bevolkingsgroepe van ons land, bruin, wit en swart maklik leef uit die “slagoffermentaliteit”, van êrens is ek benadeel. Of apartheid, of regstellende aksie kan die fort word, waarin ons uit selfbejammering ons wonde lek. Wie uit selfbejammering leef, sal nooit ‘n leier kan word, wat die “maatskappy” kan verander nie.  Eers wanneer jy jouself uit die ellende kan lig en kan opstaan – kan jy ander inspireer tot verandering en ‘n nuwe  vreugde en dankbaarheid vir die lewe.

Vreugde en dankbaarheid is ‘n KEUSE. Dit is nie ‘n toestand in positiewe tye nie. Dit is ‘n KEUSE, selfs in die moeilikste lewensomstandighede.

  (Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

w

Connecting to %s