SKRIFLESING: Ps 23: 1 – 6
’n Teoloog het Psalm 23 al as die piekniek van die Evangelie beskryf. Al die elemente van ‘n piekniek word hier beskryf, naamlik ’n groen stukkie gras by waters waar daar ’n rusplek is. In die Psalm word ‘n plek van vrede geskilder, saam met ‘n piekniekmandjie, in die vorm van ‘n feestafel. Inderdaad is ‘n lewe saam met die Here ’n piekniek. In die Engelse vertaling word geskryf: “I shall not want.” As die Here jou Herder is, sal die begeertes om alles te wil hê ophou. In die Here sal jy vind alles wat jy nodig het.
Gewoonlik word die Psalm geskilder met Jesus Christus in spierwit klere, met spierwit skapies ‘n omgewing wat soos Switserland lyk. Maar dit is ‘n verkeerde voorstelling van Psalm 23. Wanneer koning Dawid, wat self die herder in die gedeelte is, dit beskryf, vind dit plaas in die harde woestynagtige Palestina met min groen gras en water. Die dae is verskriklik warm en die nagte koud.

Vandag sal ons ‘n trop skape los in ‘n kamp wat volop goeie weiding het. In die Bybelse tyd was daar nie kampe met groen wyding nie. Die herder moes elke dag saam met sy skape loop en êrens groen weiding gaan soek. Hulle het rondgetrek, elke dag op soek na ‘n stukkie weiding. Daar was ook nie volop weiding beskikbaar nie. Nee, net genoeg vir daardie dag. Môre en oormôre moes hulle verder trek op soek na weiding. Dit was die herder se taak om weiding te soek en dan sy skape daarnatoe te lei. Gewoonlik in klipperige gedeeltes het die dou afgeloop van die klippe en die grond rondom die klip nat gemaak. Dan het daar tussen die klippe graspolletjies opgeskiet, wat weiding was vir die skape. Sonder die herder wat soek, was die skape uitgelewer aan die elemente van die natuur en die dood. Netso lei die Here ons ook elke dag van een groen graspolletjie na die volgende groen graspolletjie.
Ons is daagliks van die goeie herder afhanklik. Elke dag gee ons hemelse Vader vir ons, ons daaglikse brood. Psalm 23 wil ons leer om daagliks van God afhanklik te wees, vir ons daaglikse benodigdhede.

Die ou vissermanne van Paternoster het ook so van die hand na die mond gelewe. Die Here was ook hul goeie herder wat hulle elke dag gelei het na die seewater, waar daar vis is. Daar was storms, partykeer het ‘n skuit nie teruggekom nie. Somtyds was daar baie vis, ander dae niks nie. Soms was die see vir dae stormagtig gewees en kon hulle nie uitgaan met hulle bote nie. Hulle was so afhanklik van die Here, dat hulle hul dorpie se naam “Paternoster” gegee het, wat beteken in Latyn “Onse Vader”. So was die skape van Psalm 23 ook daagliks afhanklik van die goeie herder, die hemelse Vader.

Vers 1 tot 3 gaan oor die daaglikse versorging van die Here. Vers 4 gaan oor die versorging van die Here in moeilike tye van my lewe. Daar staan: “Selfs as ek in die donkerste kloof ingaan, is ek nie bang vir gevaar nie,want U is by my. Dit is u staf en u stok wat my gerusstel.” Dawid het waarskynlik in die laatmiddag, wanneer dit skemer word, deur ‘n donker kloof met sy skape getrek na die klipkraal. Gewoonlik het die struikrowers of wilde diere daar in die donker klowe, waar dit eerste donker word geskuil. Dit was ‘n plek van gevaar. Dan sê die psalmdigter, dat hy nie bang is nie, want die herder se “stok” en “staf” stel hom gerus. Die stok het die doel gedien om roofdiere en rowers te verwilder. Die staf met sy een punt wat ‘n boogvorm het, kon die skaapherder sy skape aan hulle agterpote nadertrek, weg van die gevaar. So wil die Here ons ook elke dag van gevaar beskerm.
In vers 5 – 6, verander die beeld of metafoor waarmee die mens beskryf word. In verse 1 – 4 is die mens soos ‘n hulpelose en afhanklike skaap, wat wag op die leiding van die goeie herder, die Here Jesus Christus. In verse 5 – 6 word die mens in die metafoor van ‘n eregas beskryf, wat sit aan die tafel van die Here, ten spyte van konflik. ‘n Mens kan die Here se vrede beleef selfs ten spyte van konflik en “teenstaanders” in jou lewe.

Die Midde Oosterse mense het gewoonlik net twee etes per dag gehad. Daar was so teen 10h00 ‘n “brunch”, wat hulle geëet het om krag te kry vir die dag se werk. Die hoofete was in die aand, wanneer die dagtaak voltooi is. Dan is daar tydsaam geëet, wyn gedrink, stories vertel, gedans en gekuier. So wag daar aan die einde van ons lewensdag, wanneer dit aand word en ons sterf vir ons ook ‘n ewige feesmaal voor aan die tafel van die Here. Ons kop sal verfris word met olie en ons beker sal oorloop. Die goedheid en troue liefde van die Here, sal ons volg.
In vers 6 (b) staan daar en ek sal terugkeer na die huis van die Here. In hierdie lewe is ons net reisigers. Ons is bywoners. Ons is tydelik hier. Totius het so mooi geskryf dat “hierdie wêreld is nie ons tuiste nie.” Hier kry mense swaar, word siek, gaan dood, maar na hierdie lewe is ons die huis van die Here tot in lengte van dae. Daar staan ons sal terugkeer na die huis van die Here. Ons sal met ander woorde tuiskom by die Here.
Die Here sal ons met sy “stok” en “staf” beskerm, terwyl ons op pad terug gaan na die huis van die Here. Sy sekuriteit is by ons. Ons is veilig.
Amen
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)