SKRIFLESING: Lukas 2: 8 – 12
Die volgende interpretasie van die geboorteverhaal van Jesus Christus, word lewend gehou deur Jode wat Christene geword het. Hulle het dan veral die Joodse gebruike baie goed geken en gee ’n unieke interpretasie van die krip in Bethlehem.

Jesus is in Bethlehem in ’n stal, waarskynlik naby Migdal Eder gebore en is in ’n klipkrip (krip uitgekap uit klip) geplaas, wat slegs vir die geboorte van offerlammers gebruik word. God wou hê dat Sy Seun in ’n klipkrip op ’n baie spesiale plek gebore moet word: Migdal Eder, die Toring van die Kudde, as die Paaslam van God.
Ten tye van Jesus se geboorte het Bethlehem ’n bevolking van ongeveer driehonderd gehad en was dit die gebied waar Levitiese herders lammers grootgemaak het vir offers by die Tempel in Jerusalem. Hierdie spesiale herders is opgelei en het die verantwoordelikheid gehad om te onderskei watter lammers geskik is om te offer aangesien slegs ’n onbevlekte lam aanvaarbaar was.
Om die jong lammers veilig en skoon te hou, was nie ’n maklike taak in hierdie klipperige area nie, daarom is die gekose lammers beskerm deur hulle in repies lap wat bekend staan as doeke, toe te draai. Die lappe of bande het die lam warm gehou. Enige defek van ’n skraap of besering sal vereis dat die lam afgekeur word en saam met die ander lammers en skape wat net gewone vee was, uitgestuur word. ’n Gedeelte in die Misjna bevestig ook die gevolgtrekking dat die troppe skape vir tempeloffers bestem was. Die Levitiese herders het dus offerlammers wat volmaak is, geteel en dan verkoop aan Jode wat op pad was na Jerusalem om te gaan offer.

Terwyl ons aan daardie nag dink meer as 2 000 jaar gelede, het Josef en Maria in die dorp Bethlehem aangekom toe Maria op die punt was om geboorte te skenk. Daar was geen hotelle of herberge soos ons vandag ken nie. Hulle enigste opsie was om ’n familielid te vind wat hulle dalk sou verwelkom het of om ’n vreemdeling te vind wat vir hulle ’n kamer teen ’n prys kon aangebied het. Maar ons weet dit het nie gebeur nie. Die oorbevolking in Bethlehem weens die sensus, was ’n groot probleem vir die jong egpaar. Boonop sou Maria binnekort geboorte skenk, en dit het beteken dat daar bloeding sou wees, wat hul gasheer se huis seremonieel onrein sou maak volgens Joodse wette. Maria en Josef se opsie was om die enigste beskikbare verblyf te aanvaar: ’n stal of ’n grot van een of ander aard. Maar God het dit so beskik dat Jesus in ’n stal gebore moes word.

Migdal Eder, sowat 2 000 treë van Bethlehem geleë, was ’n toring op die pad tussen Bethlehem en Jerusalem en word in die Ou Testament genoem deur die profeet Miga wat voorspel het dat die Messias in Bethlehem gebore sou word, en Hy sou kom na “die toring van die kudde.”
Miga 4:8 “En jy, wagtoring van die kudde, vesting van die dogter van Sion, na jou sal dit kom, ja, die vroeëre heerskappy is op pad – die koningskap vir die dogter van Jerusalem.”
Jesus, die Messias, is as ’n offerlam gebore op dieselfde plek waar alle ander onbevlekte en onbeseerde lammers gebore is en dan ingewy is vir offer. Jesus sou in soortgelyke doeke toegedraai word as dié waarin die offerdiere toegedraai is. Daarom verklaar dit die skrifgedeelte, dat die engele net aan die herders openbaar het dat die Kind gebore is in ‘n krip. Die engele het nie vir hulle die ligging van die krip bekend gemaak nie, want hulle ken Migdal Eder, as die geboorteplek van die lammers. Daarom het hulle geweet waar om vir Jesus te soek.
Johannes die Doper het grootgeword met ’n kennis van die verhale en profesieë aangaande Jesus, sy neef. Toe hy Jesus sien, sê hy: “Daar is die Lam van God.”

Die Skriftuur, geskiedenis en omgewing pas alles perfek by die geboorteverhaal in. Jesus sou in Bethlehem, by Migdal Eder, gebore word en dan in die klipkrip geplaas word wat slegs vir die geboorte van offerlammers gebruik word. Die belang van Jesus se geboorte is dat die Seun presies gekom het soos, wanneer en waar die Vader lank terug belowe het. Die herders van die eerste tot vierde eeue het die ligging lewendig gehou in hul verhale en ’n Bisantynse klooster is in die vierde eeu oor Migdal Eder gebou.
Die wonder van die volmaakte offer in die krip was dat die Kind uit ’n maagd gebore is. Ons moet hierdie Kersfees ons ook hieraan verwonder. Dít was deel van die plan sodat die Jesuskind die perfekte Lam van God sou wees. Dit was ’n maagdelike geboorte, sonder die toedoen van ’n man. Daarom is Jesus Christus die perfekte offer in die krip, want Hy was sonder die letsels van sonde.
Jesus Christus was sondeloos.
Die wonder van die maagdelike geboorte is die hart van ons belydenis. Daarvan mag ons nie afwyk nie. Gewoonlik het Joodse meisies op 13 tot 15 jaar verloof geraak aan ’n man. Maria was aan Josef verloof. Voor hulle kon trou, word Maria maagdelik swanger en die engel troos Maria en Josef dat die geboorte bonatuurlik is en van God kom. Nogtans moes hulle trou, want God wou Sy Seun in die geborgenheid van ’n huwelik laat groot word, wat kom onderstreep hoe belangrik die huwelik vir God is, as die “opgroei” plek vir kinders.

Thomas Watson skryf as volg: “That man should be made in God’s image was a wonder, but that God should be made in man’s image is a greater wonder. That the Ancient of Days should be born, that he who thunders in the heavens should cry in the cradle… that he who rules the stars should suck the breast; that a virgin should conceive; that Christ should be made of a woman, and of that woman which [He] himself made; that the branch should bear the vine; that the mother should be younger than the child she bore, and the child in the womb bigger than the mother; that the human nature should not be God, yet one with God; this was not only mirum [Eng. surprise] but miraculum [Eng. miracle]. Christ taking flesh is a mystery we shall never fully understand till we come to heaven…”
Verder skryf Thomas Watson die volgende: “[Christ] was born of a virgin, that we might be born of God. He took our flesh, that He might give us his Spirit. He lay in the manger that we might lie in paradise. He came down from heaven, that He might bring us to heaven.”
Die maagdelike geboorte, wat Jesus die perfekte Lam sonder die letsels van sonde gemaak het, is te groot vir ons om te verstaan. Ons kan dit alleen maar kinderlik gelowig bely. Die Lam was perfek, sonder sonde, want dit was ’n maagdelike geboorte.
Die diere kom nie in die Kersevangelie voor nie, maar kom uit die Ou Testament. Soos die profeet Jesaja gesê het: “’n Bees ken sy eienaar en ‘n donkie die krip van sy besitter. Israel het egter nie kennis nie, my volk toon geen insig nie.” (Jesaja 1: 3)

Later word die diere ook genoem as simbole vir Judaïsme (die bees) en heidendom (die donkie). Omdat die os ook as ’n “skoon” dier gesien word, word dit gewoonlik aan die kant van Maria in die stal gesit en die donkie saam met Josef. Jesaja vermaan as’t ware vir Israel oor hulle ontrou. Die bees en donkie ken hulle eienaar en die krip waaruit hulle eet, maar God se volk ken nie die krip nie. Die bees en donkie staan vir onnoselheid. Mag ons in ons wysheid reg kies, om te buig voor die krip waarin die volmaakte offer lê.
Vir eeue het die Jode op pad na Jerusalem vir hulle offerdiere by Migdal Eder in Bethlehem gekoop om te offer by die tempel in Jerusalem. Toe Jesus Christus in die krip van die offerdiere lê, het Hy die volmaakte Paaslam geword. In Hom en deur Hom, sou die bloed van offerdiere ophou vloei, want Hy het Sy bloed laat vloei op Golgota.
Van krip tot kruis was Jesus Christus die volmaakte Lam van God. Sy geboorte was maagdelik, sodat Hy sonder sonde en enige beletsel aanvaar sou word as die offer wat geslag is vir die sonde van die wêreld.
Kyk, in die krip van Bethlehem lê dié volmaakte offer. Die bees en die donkie ken die krip van hulle eienaar.
Ken jy die krip van dié Een wat vir jou lief is? Buig jy ook vandag by dié krip?
Amen.
(Ds. Paul Odendaal is die leraar van die NG Kerk Adelaide.)
BRONNELYS
- Vertellings van die gids by Bethlehem in Israel met die naam van Lahdo L Shio. (Dit is soos die Joodse Christene dit verstaan.)
- Navorsing en artikel deur Donna Gawell
- Negev, A. (1990). In The Archaeological Encyclopedia of the Holy Land (3rd ed.). New York: Prentice Hall Press
- The Sign Given to the Shepherds (Dec 25, 2019) Bible.org
- A Visual Guide to Bible Events (2009) Martin, Beck and Hansen, Baker Publishing
- Holy Land Lecture Series by Pastor Dan Travis, Blacklick, Ohio
- Thomas Watson, A Body of Divinity (Edinburgh: The Banner of Truth Trust, 1958, 1965 [1692, 1890]), 198