SKRIFLESING: Deut 32: 11 – 12
Die winde van verandering waai stormsterkte oor Suid-Afrika en oor die wêreld. Die wêreld is in die wurggreep van verskillende oorloë en baie lande verkeer in ’n resessie. Die naderende verkiesing op 29 Mei 2024 kan ook die politieke landskap van Suid-Afrika totaal verander. Ons almal vrees die uitslag en ook die toekoms van minderheidsgroepe in Suid-Afrika. Ons is bang vir die Bela-wetgewing in skole wat Afrikaans gaan bedreig. Ons is bang vir grondonteiening en die nasionalisering van die Reserwebank. Om nie eers te praat van die nuwe nasionalisering van die gesondheidstelsel (NGV) nie, waar jy mediese belasting moet betaal. Ons is van baie dinge onseker. Almal is bang en onseker. Wat gaan van ons word? Wat hou die toekoms in? Ons weet nie eers hoe dinge die volgende paar maande en jare gaan lyk nie.

Natuurkenners sal jou vertel: Arende maak baie hoog in die berge nes. Wanneer hulle hul kuikens wil leer om te vlieg, skop hulle doodeenvoudig die kuikens uit die nes. Nadat die kuikens ’n ent geval het, swiep die ma-arend onder haar kuikens in en vang hulle met haar vlerke en dra hulle terug tot in die nes. Die proses word ’n paar keer herhaal totdat die kuikens geleer het om te vlieg.

Die skrywer gebruik die beeld van die arende om te beskryf hoe God met Israel en met ons as Sy kinders doen. Hy verwys dan ook spesifiek na die volk Israel wat God uit Egipte geskop het, weg van die vleispotte van Egipte.
Die Israeliete het in vrees verval. Die Rooi See was voor hulle, die vyand agter hulle; daar was broodsgebrek, watertekorte, verdwaling, sonsteek en talle vyandelike volke. Die val uit Egipte was vreesaanjaend.
Maar telkens het Jahweh onder hulle ingeswiep en hulle gevang. Elke keer het God hulle gevang. Hy het die Rooi See oopgemaak, Hy het die Egiptenare laat verdrink, Hy het manna en kwartels gestuur en water uit ’n rots. Hy het ’n vuurkolom snags gestuur en ’n wolkkolom in die dag. Hy het vir hulle oorwinning oor vyandelike volke gegee.
Die Here wou vir Israel leer om Sy gehoorsame volk te wees. Daarom het Hy die volk op ’n ompad van 40 jaar deur die woestyn geplaas. Hulle moes leer om Hom as die enigste Heer en God te bely.
Miskien voel dit vir u of ons ook uit die nes geskop word. Die afgelope paar jaar het ons baie verskillende soorte trauma beleef. Ons het die ergste droogte in 100 jaar gehad in 2018 – 2019. Ons is deur die tydperk van COVID-19. Ons het bek-en-klouseer gehad. Die wol- en vleispryse het in 2024 in duie gestort. Die insetkoste vir boerdery neem net elke jaar toe. Om produktief te boer, word al hoe moeiliker. Boere is moedeloos. Werkloosheid en armoede neem met rasse skrede toe. Die werkloosheidsyfer was nog nooit so hoog nie.
Ja, die Here het ons ’n bietjie uit ons nes geskop, want Hy wil vir ons leer dat geestelike waardes belangriker is as wêreldse sekuriteite. Hy wil ons leer wat die woord “afhanklikheid” beteken. Ons was te selfversekerd, te seker van ons eie kragte en vermoëns. Die goeie jare in die boerdery van 2011 tot 2017 het ons te versekerd gemaak. Die afgelope tyd het God ons geleer om met minder tevrede te wees. God het vir ons geleer om weer te gee en vir mekaar om te gee. Die Here het ons weer geleer om nie te afhanklik van ons eie planne te wees nie. Ons moet eerder sê D.V. (Deo Volente), as dit die wil van die Here is, sal ons dit of dat doen.
Beteken dit dat God ons vergeet het? Allermins! Kom ek verduidelik dit so vir u. Dit is nie God se wil dat daar droogtes, armoede en siektes soos COVID-19 en ander slegte dinge oor ons kom nie. God is immers ’n God van liefde. Hy het dit nie daar gestel nie. Ons lewe in ’n gebroke wêreld as gevolg van die sondeval.
Maar God draai ons nie in watte toe nie. Hy oorbeskerm ons nie. Hy stel ons daaraan bloot, om ons sterker te maak. Daar word vertel dat Koning Henry VII van Engeland as kind nooit blootgestel is aan kieme nie. Hy het nooit ’n weerstand ontwikkel nie. Hy is toe jonk in sy lewe oorlede van ’n eenvoudige siekte, omdat hy geen weerstand ontwikkel het nie.
In Psalm 103: 5b staan daar: “Soos ’n arend word jou jeug dan weer nuut.” In Jesaja 40:31 staan daar: “Maar wie op die Here wag, herwin hulle krag; hulle kry nuwe vere soos arende. Hulle hardloop, maar raak nie afgemat nie, hulle loop, maar word nie moeg nie.”

Bogenoemde verse verwys na die arende se “tweede” lewe. Arende kan 30 – 40 jaar oud word. Wanneer arende ’n sekere ouderdom bereik, word hulle vere te dik en te swaar. Die naels van hulle kloue en hul snawels word te lank en daarom kan hulle nie meer so hoog vlieg en hul prooi so maklik vang nie. Op daardie tydstip gaan die arend na ’n waterstroom op ’n afgesonderde plek, hoog in die berge. Hy begin sy vere uitpluk tot niks oorbly nie. Hy trek al sy naels uit en kap sy snawel teen ’n rots totdat dit ook afbreek. Vir baie dae sit die arend by die stroom. Ander arende sal hoog verbyvlieg en vir hom stukkies vleis afgooi. Soos hy in die water sit en vir lang tye na die son kyk, kom daar trane uit sy oë uit totdat die oliesakkies by sy oë weer begin om olie te produseer. Stadig begin die nuwe vere, nuwe naels en ’n snawel uitkom. Na 30 tot 40 dae is die arend weer vernuwe met energie om die hoogtes aan te durf. Dit is ’n totale vernuwingsproses. (Inligting gekry by Belinda Paar)
So kom daar ook laagtepunte in ons lewe, waar ons onsself moet afsonder en wag dat God se Gees ons aanraak en vernuwe vir ons lewenspad.

Arende hou van storms. Hulle kan baie hoog vlieg, drie tot vyf kilometers bokant die storms. Daarom het kinders van die Here ook die krag om bokant die storms van hulle lewe uit te vlieg en die genade van die Here te beleef, te midde van die storms in hulle lewe.
Jakobus praat in hoofstuk 1 van beproewinge wat ons soos gelouterde staal sterk maak. Goud kom uit goud-erts wat teen hewige temperature verhit word. Daarom stel God ons bloot aan allerlei beproewinge, omdat Hy ons sterker wil maak en in die proses iets wil laat leer. Daarom moet ons ook in hierdie tyd van ’n veranderende politieke landskap ’n leerbare gees hê, om te leer om iets goeds te neem uit hierdie beproewings. Johannes Calvyn het gesê ons moet altyd “a teachable mind” hê. Dan kan ons groei in Godsvrug en in geestelike rypheid.
Ja, God skop sy kinders uit die nes, ook in hierdie tyd van ’n veranderende politieke landskap met die doel om ons iets te leer. Hy stel ons bloot aan die gevaar en die swaar, sodat ons dieper en meer Geesvervulde mense sal wees. Ons vier immers binnekort Pinksterfees. Maar Hy sal ons nooit laat val, te pletter teen die grond nie. Hy sal telkens inswiep en ons vang as ons besig is om te val. God skop ons uit ons gemaksones, sodat Hy ons kan leer om te vlieg. Hy wil ons geloofsvlerke sterker maak, sodat ons geloofsvolwasse kan word.
Maar onthou die woorde van die Here Jesus Christus, dat Hy ons nooit sal verlaat nie. Dat Hy al die dae van die wêreld tot die voleinding by ons sal wees.
Hoor wat sê Jesaja 43: 1 – 2: “Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel: Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne. As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie”
Liewe gemeente, julle is God se verbondskinders. God se beloftes geld vir een en elk van julle. Julle is God se arendskuikens.
Klein kuddetjie van Adelaide en Fort Beaufort, moenie vrees nie. God sal altyd by julle wees. Julle sal op arendsvlerke veilig gedra word.
AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerke Adelaide en Fort Beaufort.)
