Papirusmandjie en krip ….


SKRIFLESING: Eks 2: 1 – 4 en Mat 2: 13 – 15

Die uittogverhaal uit Egipte begin met ’n kind en die uittogverhaal uit die sonde begin ook met ’n Kind.

In Egipte was die Israeliete in slawerny. Hulle was slawe van die Egiptenare. In die uittogverhaal uit sonde, is ons weer slawe van die sonde. Die twee uittogverhale het ’n interessante parallel. 

Die geboorte van Jesus Christus is amper ’n parallel van die geboorte van Moses. Ook vir Hom sou daar nie plek wees nie en hy is in ’n stal in ’n diere-krip in Betlehem geplaas na sy geboorte.  In Moses se tyd was die Farao en die Egiptenare die bedreiging wat alle seuntjies wou doodmaak. In Jesus Christus se tyd het Herodus en die Romeinse Ryk regeer. Herodus die Grote het ook opdrag gegee dat alle seuntjies van twee jaar en onder in Betlehem se distrik doodgemaak moes word. Daarom het Josef en Maria volgens die engel se instruksies na Egipte gevlug en daar geskuil tot Herodus die Grote dood is. 

Hosea 11: 1 het al voorspel “Toe Israel ‘n kind was, het Ek hom al liefgehad,  en uit Egipte het Ek my seun geroep.” Moses het die volk Israel uit Egipte verlos en die Verlosser van sonde, Jesus Christus het ook uit Egipte gekom. So het beide verlossings uit Egipte gekom.

Dus is daar ’n duidelike parallel tussen die geboortes van Moses en Jesus Christus. Albei was verlossers. Die een is geplaas in ’n papirusmandjie en die ander een in ’n krip wat vir diere gebruik is.

Albei uittogverhale, die uittog uit Egipte en die uittog uit sonde, het ’n groot en duur prys gevra.

Toe Moses die volk uit Egipte gelei het, het dit gepaard gegaan met tien plae, en die Egiptenare wat hulle agtervolg het, het die volk vasgekeer teen die Rooi See.  Die Here moes die Rooi See vir hulle oopmaak. Vir 40 jaar moes hulle swerwe in die woestyn, voordat hulle die beloofde land kon ingaan. Hulle moes van water uit ’n rots lewe en van ’n daaglikse porsie van manna en kwartels. ’n Hele geslag mense moes uitsterf voordat hulle in die beloofde land kon intrek. Dit was ’n saak van daaglikse geloofsvertroue. 

Maar Kersfees is ook duur. Dit het Maria en Josef die gemak van die huis gekos tydens ‘n lang tydperk van ballingskap in Egipte om die klein Jesuskind te beskerm. Dit het moeders in en om Bethlehem die bloedbad van hul babas gekos deur die wrede bevel van Herodes die Grote. Dit het die herders ’n reis gekos, met die oproep na die krip en om die goeie nuus te vertel. Dit het die wyse manne ’n lang reis en duur geskenke gekos.

Sonder Moses in die papirusmandjie in die Nyl, sou daar geen verlossing gewees het uit Egipte nie.

Sonder Jesus Christus in die krip in die stal, sou daar geen verlossing uit sonde gewees het nie. Daarom skryf Dietrich Bonhoeffer in sy boek “God Is In the Manger” die volgende woorde:  “Holy theology arises from knees bent before the mystery of the divine child in the stable. Without the holy night, there is no theology.”

Sonder die papirusmandjie sou daar geen uittog uit Egipte gewees het nie. Sonder die krip in die stal, sou daar geen verlossing uit sonde gekom het nie. Daarom is Kersfees spesiaal. Met Goeie Vrydag buig ons voor die kruis, maar met Kersfees buig ons voor die krip.

Daarom is Jesus Christus se menswording ‘n liefdesdaad van die Vader. Die Vader het Sy Seun vir die wêreld gegee. Dietrich Bonhoeffer skryf: “It is only because he became like us that we can become like him.” Wat ‘n heerlike uitdaging is dit nie vir ons nie. Ons kan deur heiligmaking strewe om “Christ like” te word.

Die krip is die begin van die Nuwe Testament, die begin waar God Sy beloftes waar maak, die begin van die verlossing. Daarom kan ons kersliedere sing, want die krip is vir ons ’n simbool van verlossing, soos die papirusmandjie in die Ou Testament die simbool van verlossing uit slawerny was.

Plaas onder jou kersboom dié Kersfees ’n krip!

Amen

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide.)

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s