NEDERIGHEID BRING EENSGESINDHEID.
Die meeste probleme in die wêreld word veroorsaak deur mense wat belangrik wil wees.
Ons lewe in ‘n wêreld van konflik, waar elkeen belangrik wil wees en self die kitaar wil slaan. Ons kry konflik in huwelike, gesinne, werksplekke, die samelewing en in die politiek. Faksie geweld binne politieke partye is algemeen.
Dié wêreld is ook vol van binne politiek in die werksplek en organisasies. Van die begin van die wêreld wou die mens belangrik wees, daarom het Eva toegegee aan die duiwel se versoeking om “ook soos God te wees” en het sy die verbode vrug geëet. Om belangrik te wil probeer wees, maak van jou ‘n dwarstrekker wat konflik aantrek, omdat jy alles volgens jou sin wil hê.
Daarom skryf Paulus aan die Fillipense in hoofstuk 2 om vir hulle Jesus Christus voor te hou as die een wat homself verneder het en die gestalte van ‘n slaaf aan te neem. Jesus Christus het homself verneder deur aan ‘n kruishout te sterf. In Johannes 13 lees ons van die voetewas episode. Die dissipels was in die bovertrek bymekaar en het onder mekaar baklei wie die belangrikste een is en wie aan Jesus se regterhand en wie aan Jesus se linkerhand gaan sit. In plaas van om meegevoer te word oor die naderende lyding van Jesus Christus, is hulle bekommerd oor posisies. Die 12 “ekke” was met hul “12” selwe besig daar rondom die eerste Nagmaalstafel. Daar was geen slaaf nie en niemand was bereid om die plig op hom te neem om die ander se voete te was nie. Dit was ‘n skaakmat – situasie, want eersug het die oorhand gekry.
Dan kom stel Jesus die voorbeeld. Hy kruip van stinkende voet tot stinkende voet en was al sy dissipels se voete. Dan gee die Here die opdrag, dat ons sy voorbeeld moet navolg.
Konflik ontlonting vind plaas, waar mense nederig word en mekaar se voete was, in plaas van mekaar se koppe te was.
Paulus vra in Fil 2: 2 dat die gemeente in Fillipense sy blydskap volmaak moet maak, deur eensgesind te wees in : een in liefde, een van hart en een in strewe. Die onderlinge eensgesinde “koinonia” is een van die vernaamste kenmerke van die kerk. Ons bely mos in die Credo van die kerk, dat ons glo in “een, heilige algemene Christelike kerk”. Verder bely ons ook in die “gemeenskap van gelowiges”. Vers 1 beskryf hierdie “koinonia” waaraan ons deel het met woorde soos liefde, meegevoel en meelewing. Vers 1 sê verder ons kan dit beleef omdat ons die troos in Christus beleef.
Daar is ‘n Latynse spreekwoord: “Unus pro omnibus, omnes pro uno”, wat beteken “One for all, all for one“. Dit was die motto gewees van die Franse boek: “The Three Musketeers” waar ‘n groep van Franse Musketiere, naamlik Athos, Porthos, Aramis en d’Artagnan saam gestaan het deur dik en dun. Die boek is die eerste keer gepubliseer in 1844 deur Alexandre Dumas.
“One for all, all for one“, is die gees van die Christelike eensgesindheid waarvan Paulus praat in Fil 2: 2. Christus het vir almal gesterf en die troos gebring. Daarom word almal in ‘n hegte eenheid saamgesnoer, deur Christus wat die eenheid gebring het.
Opregte Christene gaan afstand doen van hul belangrike troontjies ter wille van die eenheid in Christus.
Daar was ‘n ou Joodse gebruik waar mense in ‘n sirkel gedans het by Joodse feeste. In ‘n sirkel is daar nie eerste en laaste soos in ‘n ry nie. Almal in die ry is gelyk, almal is tegelyk eerste en tegelyk laaste.
Daarom moet dit vir Christene gaan oor dienswerk en nie posisies nie.
Wanneer ‘n gelowige in ‘n posisie van gesag geplaas word, moet die motief van diensbaarheid, jou ‘n dienskneg en slaaf maak van ander. Dit is waartoe Paulus die gemeente in Fillipense oproep.
Gelowiges wat bereid is om selfloos, sonder eie belang bereid is om te dien, sal self deur God vereer word. Paulus maak Christus Jesus ‘n voorbeeld van die een wat ‘n dienskneg en ‘n slaaf geword het. Op die regte tyd het God vir Jesus tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee, wat bo elke naam is.
Owen Feltham skryf: “ Ek merk dat God van al die plante die eenvoudige wynstok gekies het wat gestut moet word; en van al die diere, die onskuldige lam; en van die voëls, die onskuldige duif. Christus is die roos van die veld en die lelie van die dale. Toe God aan Moses verskyn het, was dit nie in die trotse seder of in die kragtige eiekeboom nie, maar in ‘n nederige en eenvoudige braambossie, asof Hy deur hierdie keuses die hoogmoed en die verwaandheid van die mens in toom wil hou.”
Ons verwag ‘n koninklike bababedjie, maar vind ‘n krip.
Ons verwag dat Jesus op ‘n perd sal ry, maar vind Hom op ‘n donkie.
Ons verwag lojaliteit, maar vind verraad.
Ons verwag ‘n Halleluja – koor, maar vind ‘n kreet: “Kruisig Hom!”
Ons verwag ‘n koninklike kleed, maar vind naaktheid.
Ons verwag ‘n kroon, maar vind ‘n doringkroon.
Ons verwag ‘n septer in die hand, maar vind spykers in Jesus se hand.
Ons verwag ‘n troon, maar vind ‘n kruis.
Deur nederigheid het Jesus die wêreld kom verlos.
Andrew Murray beskryf nederigheid as die grootste deug, die wortel waaruit alle ander deugde groei.
Waar vloei die riviere wat ons landerye vrugbaar maak? Op die bergtoppe? Nee, in die valleie. As jy verlang na die strome van seën van Bo, moet jy in die valleie van nederigheid vertoef. AMEN
(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)