Christus het die angel van die duiwel getrek. (1 Kor 15: 55 – 58)


CHRISTUS HET DIE ANGEL VAN DIE DUIWEL GETREK.

Wayne Rice vertel van die gesin wat op pad was met hul motor na hulle somervakansie. Dit was baie warm en hulle het die vensters afgedraai vir koel lug. Hulle het heerlike koeldrank gedrink.

SONY DSC

Die soet koeldrank het toe ‘n by laat invlieg by die motor se oop venster. Die dogtertjie in die motor was hoogs allergies vir bysteke. Sou die by haar steek, sou sy binne minute dood gewees het. Sy skree toe hard vir haar pa: “Pappa, daar is ‘n by in die kar. Hy gaan my steek. Help!” Die pa het toe dadelik die motor tot stilstand gebring en toe die by gelok na die voorkant van die kar. Teen die voorruit van die kar het die pa die by met sy kaal hand gevang. Die by het onmiddelik die pa gesteek, maar het ongelukkig los gekom. Dadelik het die pa se hand begin swel van die bysteek. Die by het toe weer na die agterkant van die motor gevlieg, al rondom die dogtertjie. Weer roep die dogtertjie: ” Pappa, die by is weer by my. Hy gaan my steek. Help!” Die pa sê toe vir die dogtertjie: “Wees kalm my kind. Die by het pa klaar gesteek. Sy angel sit in my hand. Hy kan jou nie meer byt nie. Al wat hy kan doen is buzz. Netnou gaan die by in elk geval vrek, want toe hy sy angel verloor het, het hy ‘n deel van sy binnegoed ook verloor. Hy gaan netnou vrek.”

Ons weet natuurlik uit die biologie, dat ‘n by jou net een keer kan steek. Hy verloor sy angel, wanneer hy jou steek en saam met die verlore angel, verloor hy ook ‘n deel van sy binnegoed, wat natuurlik vir die by ‘n gewisse dood beteken. ‘n By wat eenkeer sy angel verloor het, kan net “buzz”, verder is hy skadeloos.

Blykbaar was die kennis alreeds in Bybelse tyd bekend, want hoor wat sê Paulus in 1 Kor 15: 55 – 58 “Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?” Die angel van die dood is die sonde, en die sonde kry sy krag uit die wet van God. Maar ons dank God dat Hy aan ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus Christus. Daarom, liewe broers, wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie.”

Ons is die dogtertjie wat so allergies is vir die sonde steek van die duiwel, dat ons die ewige dood kan sterf. Die loon van die sonde is mos die dood. Maar Christus is die pa, wat sy hande om die duiwel gevou het en die steekbyt van die duiwel op Hom geneem het, deur te sterf aan die kruis. Die angel van die duiwel is pynlik ingesteek aan Jesus op die kruis. Hy het gesterf van die angelbyt op Golgota.

Daar was die angel van Judas Iskariot wat Hom verraai het.

Daar was die angel van Petrus wat Hom verloën het.

Daar was die angel van die dissipels wat Hom verlaat het in sy lyding.

Daar was die angel van die Joodse Farisieërs wat Hom aangekla het.

Daar was die angel van die Jode, wat geskree het dat Jesus gekruisig moet word.

Daar was die angel van Herodus en Pilatus, wat nie reg laat geskied het nie.

Daar was die angel van die Romeinse soldate.

Daar was die angel van my en jou sonde wat Jesus se dood gekos het.

Hy het in ons plek die angelbyt ontvang, sodat ons nie die tweede en ewige dood hoef te vrees nie. Jesus het die angel uit die dood gehaal, sodat ons die ewige lewe kan ontvang. Jesus het ook die angel van die sonde kom wegvat, sodat ons verlossing van ons sonde kan ontvang. Nou kan die duiwel nog net “buzz” rondom ons, maar maar die duiwel kan ons nie meer doodmaak nie. Natuurlik “buzz” die duiwel elke dag rondom ons met allerlei versoekings en verleidinge. Die Here sê dit sal so wees tot met die wederkoms. Daarom ervaar ons nog elke dag die gevolge van sonde, soos moord, misdaad, droogtes, natuurrampe, ekologiese bedreiginge, pes, siekte en baie ander vorme van lyding. Maar dit is net die “buzz” van die duiwel. Die Here het die duiwel klaar verslaan.

Die duiwel is soos ‘n afkophoender. My ouma het hoenders in haar erf gehad. Wanneer dit slagtyd word, word die kop afgekap met ‘n byl. Terwyl die hoenderkop op die grond lê, spartel en hardloop die afkophoender nog ‘n paar sekondes voordat dit dood neerval. So is die duiwel ‘n afkophoender. Sy kop is vermorsel met die opstanding van Jesus uit die dood. Maar tot met die wederkoms van Jesus sal die duiwel rondspartel en probeer om soveel moontlik mense saam met hom te neem na die ewige verderf. Maar as ons in Christus bly, kan die duiwel ons nie skade aandoen nie.

Die duiwel is verslaan. Hy is angelloos. Maar dit beteken nie dat ons met die duiwel moet speel nie. Christene vier nie Halloween nie, hulle roep nie geeste op nie en hulle besoek nie “gypseys” nie. Christene glo nie in die sterretekens en voorspellings oor die toekoms op grond van sterretekens nie. Christene is ook nie bygelowig nie. Christene besoek nie sangomas en toordokters nie. Christene glo ook nie in die voorvadergeeste nie. Christene hou hulle ook nie op met sataniese speletjies en tydverdryf nie.

Luther het gesê: “Laat die duiwel met die potte en panne speel, ons hou onsself besig met die Woord van die Here.”

Die Here Jesus het die angel uit die dood en die angel uit die sonde kom uithaal. Christus het die angel uit die lewe kom haal. Dit beteken nie dat die duiwel nie “buzz” soos ‘n by rondom ons nie, maar ons vrees nie meer die duiwel nie. Die duiwel is angelloos. Ons behoort aan Christus en nie die duiwel of enige bose mag kan ons uit die Here se hand ruk nie.

Dood, waar is jou angel?

Lewe, waar is jou angel?

Die Here Jesus het die angel uit dood en lewe kom trek, deur self die slagoffer van die angel te word. Maar Jesus Christus lewe! Hy het die angeldood aan die kruis ongedaan gemaak, deur uit die dood op te staan. AMEN

(Ds. Paul Odendaal is leraar van die NG Kerk Adelaide)

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s